.
'n Afrikaanse hoekie
Haai, my naam is Maree en ek is 'n amper-verengelsde Afrikaner en woon op die Noordkus van KwaZulu Natal, Suid Afrika.
Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.
Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!
Sunday, 13 November 2016
Tuesday, 1 November 2016
Buite in die tuin...
Buite in die tuin…
twee swaeltjies in die perskeboom
::
dankbaar
Dis amper eind-Oktober en ek is SO bly my Swaeltjies is terug!
Sunday, 23 October 2016
Hoop jou lewe is eenvoudig en mooi
W&N waterverf op Bockingford 300gsm
Hoop jou lewe…
miskien net jou dag…
of ’n klein oomblikkie…
is eenvoudig en mooi
Beskikbaar as 'n Afrikaanse kaartjie in my RedBubble portefeulje.
Thursday, 8 September 2016
Is Ek Alleen?!
Ek sit hier en skryf blog- na blogpos, en partymaal voel ek of ek heeltemal alleen in die Heelal is - alleen met al my gedagtes en idees... waar is almal? Ek gee eintlik nie om dat niemand my poste blyk te lees nie, maar my ego sal darem 'n bietjie beter voel as ek darem ten minste net een navolger gehad het...
Partymaal voel dit vir my of ek te veel dink en te veel het om te sê, dat daar soveel mooi dinge in die lewe is om te deel, met die gevolg dat ek 19 blogs het (ja, 19!), plus 'n paar wat privaat is - en dan is daar nog Facebook, Twitter, Pinterest, Tumblr en Instagram waarmee ek probeer by hou.
Wat doen ander mense met hul lewens? Ek weet dat vir my, tussen my werk (wat 2 besighede behels) en skryf vir die blogs en webwerwe, 'n mens nog moet tyd inpas om met familie en vriende te konnekteer. Dan is daar ook die tuin en die diere wat ook 'n bietjie aandag soek, inkopies (ek jok, my man het dit oor geneem), stokperdjies en tye wat ek bietjie wil wegkom af kus toe of Kaap toe.
Maar ek persoonlik het geen planne om te minimaliseer nie, veral nie as dit kom by skryf nie. Al die blogs wat ek het is 'n manier om uiting te gee aan al my passies en idees en ook om met vriende en familie in kontak te bly, asook om 'n nuwe vriendekring op te bou, deur gesels en die ruil van idees, amper soos penvriende toe ek 'n kind was. Toe het ons briewe geskryf wat gepos moes word en dan die lang wag vir 'n antwoord. Nou is dit omtrent onmiddellik en kommunikasie en idees vloei deesdae maklik en vinnig.
Ek het onlangs uitgevind net hoé onseker ek eintlik van myself is, want ek was bekommerd dat ek dinge 'n bietjie "oordryf" deur soveel blogs te hê met soveel verskillende besprekingspunte. Totdat ek op iemand se blog gelees het dat dit 'n uitstekende idee is om 'n blog te hê vir elke liewe een van jou passies - dit skyn dat, deur jou passies te vertroetel,
• maak dit jou vatbaar vir nuwe idees;
• dit por jou aan om meer kennis te bekom;
• dit leer jou om die inligting en kennis wat jy bekom uit te druk in jou eie woorde;
• dit herinner jou dat jy jouself alewig kan verbeter.
So daar het jy dit! Toe voel ek sommer beter, maar moes die rieme aandraai of ek het sommer dadelik weer nog 'n paar blogs begin!
Thursday, 21 July 2016
Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie!
Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie! Het jy geweet jy kan met tee en koffie skilder? Tee (swart) gee 'n lieflike ligte agtergrond vir die skildery en koffie (swart en sterk! Ek gebruik Nescafé kitskoffie) gee die pragtigste ryk en glansende donkerbruin skakerings.
Gebruik 'n goeie gehalte waterverf papier (ek gebruik meesal Bockingford 300gsm, dis dik en frommel nie maklik wanneer dit nat word nie). Maak 'n koppie sterk, swart tee en laat afkoel. Gebruik 'n taamlike groot verfborsel en bedek die hele bladsy met die tee. Sodra dit droog is, kan jy begin met die koffie. Ek skets gewoonlik my prentjie eerste, die tee bedek nie die lyne nie.
Verf dan met jou koffie 'n stuk donkerder agtergrond (jy kan die tee-agtergrond bo links in die skildery sien uitsteek) en verf dan jou skets met die koffie waar jy gewoonlik al die kleure sou sit. Maak seker jou eerste hale is donker genoeg, die koffie hou nie daarvan om weer bo-op geverf te word as dit eers droog is nie.
Eksperimenteer 'n bietjie met die tee en koffie voor jy jou skildery aanpak. Verf koffie op koffie terwyl dit nat is, verf koffie op koffie wanner dit droog is, dan kan jy die verskillende effekte waarneem.
Geniet en wys vir ons wanneer jy klaar is!
Koffie skets met 'n wit agtergrond op Bockingford 300gsm
::
Sunday, 17 July 2016
Dis Bosveld mooi
W&N waterverf op Bockingford 300gsm en Stabilo FinePoint swart pen - ©Maree Clarkson
Daar waar die Bosveld Loerie
skugter vir my loer -
Sit ek in die skadu
van ’n wilde vyeboom…
’n Mierleeu wag in sy tregter wip…
geduldig op sy prooi -
onverwags, verseker, ongenooi…
DIT IS WONDERLIK !
DIS BOSVELD MOOI …
As die son vassteek
in ’n droë doringboom se mik
’n Ystervak pen vertel ’n storie
van ’n Jakkals se spoor ~
Pynlike onderonsie
in ’n tipiese krygverhoor …
Vlinders oor die gras probeer
vergeefs die stilte breek ~
maar dis ’n geskenk van môre
aan my dankbare siel …
DIT IS WONDERLIK!
DIS BOSVELD MOOI …
As die son vassteek
in ’n droë doringboom se mik
Met ’n vlerk klapgeluid
spring ’n sprinkaan voor my uit -
’n druppel dou
aan ’n spinnerak
die veld
se diamant…
’n Voetpad kronkel skuins na bo,
Waar die Koedoes rustig wei …
ongerepte skoonheid,
vry …
DIT IS WONDERLIK!
DIS BOSVELDMOOI ..
As die son vassteek
in ’n droë doringboom se mik…
~ Uit DOZI se Album “Kruispad”
Wednesday, 13 July 2016
'n Huisie by die see
Ek droom al jare van ’n huisie by die see…
My droomhuisie êrens op ’n Suid-Afrikaanse kus….. Gemengde media – Ink, W&N waterverf en Akriel op Arches 300gsm ©Maree Clarkson
My droomhuisie êrens op ’n Suid-Afrikaanse kus….. Gemengde media – Ink, W&N waterverf en Akriel op Arches 300gsm ©Maree Clarkson
Sien SONDAGSIESTA in die groep Afrikaans
Pak op, pak op,
sit jou goedjies op jou kop
Môre gaan ons weg, ver van die weg
Skipskop, Skipskop,
wanneer hou die dinge op
swaarkry lê net voor,
die blou berge oor.
Overberg se mens, is ek gebore.
Op die plek Skipskop, nes my pa en sy pa ook.
Hier deur die duine, loop ons spore
Hier op die beach, hier langs die see is ek getoeë.
Maar wat ken ek anders, as die blou dam se branders
en die wolke en winde wat hier waai
Verkoop jou bootjie, pak op jou goedjies
sê maar so long, Skipskop, Skipskop sê goodbye.
Die linkerhand, of die regterhand
watse kant lê die pad, misverstand
’seblief meneer, ag sê my tog weer
is dít die pad wat ons moet môre vat
’n stukkie lê hier, en ’n stukkie lê daar
die stukkies van my lewe, hulle lê baie deurmekaar
so tel op, tel op vir shorty, en vir pop,
gaan haal vir Apie en hou daai kindjie dop.
Maar wat ken ek anders
as die blou dam se branders
die wolke en die winde wat hier waai
verkoop jou bootjie, pak op jou goedjies,
sê maar so long,
Skipskop, skipskop
sê gooodbye
Saturday, 9 July 2016
'n Afrika collage
BOSVELDDROME
Waar haak-en-steek in louwarm
Bosveldstilte groei
en volstruise agie-grootoog
verby ons venster loop
daar trek my hart ’n punt
Ek wil weer tarentale hoor
patrys en vink
wat stukke sonlig soggens drink
en by die groot maroelaboom
of langs ’n kanniedood
wil ek die stofpad ruik
ek wil die appelbaar hoor praat
die huilboerboon se skadus
oor my skouers vou
as ek verlang na jou
en saans onder ’n sterrekombers
wil ek lê-luister na jou warm woorde
jou liefhêlied-akkoorde
ek wil dit vasbind aan my lyf
en jubelsange daaroor skryf
- Elizabeth Kendall©
Tuesday, 5 July 2016
Afrika Wildehond
Waterverf op Ashrad 200gsm – 8.5″ × 12″ - ©Maree Clarkson
Die wildehond (Lycaon pictus) is ’n karnivoor en soogdier uit die familie Canidae. Wildehonde kom slegs in Afrika voor, veral in struikvelde en ander lig beboste gebiede. Dit is die enigste spesie in die genus Lycaon. ’n Volwasse wildehond het ’n gemiddelde massa van 25 kg en ’n hoogte van tussen 60 en 75 cm. Wildehonde jag normaalweg in troppe: die prooi word gejag en in die hardloop verskeur.
.
Die wyfie is telkens vir twee maande dragtig en skenk dan gewoonlik in die winter geboorte aan twee tot ses kleintjies. ’n Wildehond het ’n moontlike lewensduur van tien jaar.
Monday, 27 June 2016
Dankverklaring vir wie ek is (Affirmasie)
Dankie, ek is dankbaar vir wie ek is.
Dankie, ek is dankbaar vir al my vermoëns.
Dankie, ek is dankbaar vir alles wat ek ontvang.
Dankie, ek is dankbaar vir al my vermoëns.
Dankie, ek is dankbaar vir alles wat ek ontvang.
::
Thursday, 23 June 2016
Jy is 'n Skepper; Jy Skep Met Jou Gedagtes
Meesal skep jy outomaties want jy ontvang waaroor jy dink, of jy dit nou wil hê of nie, maar jy weet deur hoe jy voel of dít wat jy ontvang (skep) is wat jy wil hê. (Waar is jou aandag gefokus?)
Jy is 'n Fisiese Verlenging van Dít Wat Nie-Fisies is
Alles-Wat-Is, of die Heelal, is nie klaar en wag vir jou om op te vang nie. Jy is die voorbeeld van Gedagte wat meer nastreef : meer van alles wat goed voel meer van dít wat nuut en glorieryk is. (Jy bring, in wese, hemel na aarde.)
Die Grondstuk van Jou Lewe is Vryheid; Die Doel van Jou Lewe is Vreugde
Jy kan vrylik kies om nuwe paaie van vreugde te ontdek. In vreugde sal jy groei; en in jou groei sal jy bytel tot Alles-Wat-Is. (Ewenwel is jy ook vry om gebondenheid of pyn te kies... maar enige iets wat enigeen kies is omdat hulle glo dat dit hulle beter sal laat voel.)
Enige Iets Wat Jy Jou Kan Voorstel is Joune om te Doen of te Besit
Sodra jy jouself vra hoekom jy dit wil hê, word die kern van jou begeerte ge-aktiveer. Hoe sterker jou positiewe gevoelens hoe vinniger ontvang jy dit. (Dit is ewe maklik om 'n kasteel to skep as is 'n knoop.)
Die Heelal Het Jou Lief; Want Dit ken jou Diepste Begeertes
Jy het na hierdie aarde gekom met groot en wonderlike voornemes en lei jou gedurig op jou gekose paadjie. Wanneer jy goed voel dan laat jy meer in van dít wat jy jou voorgeneem het. (Jy verpersoonlik inspirasie en lewenskrag.)
Ontspan Tot in Jou Natuurlike Welwillendheid. Alles is Volkome in Ewewig. (Regtig, dit is!)
Die kern van alles wat jy waardeer vloei gedurig tot in jou realiteit. Soos jy meer vind om te waardeer, sal jou toestand van waardering meer kanale skep om voor dankbaar te voel. (Terwyl jy dink, vibreer jy. Terwyl jy vibreer, skep jy.)
Jy is 'n Skepper van Gedagtebane Omtrent Jou Eie Pad van Vreugde
Niemand kan keer waarheen jy jou gedagtes lei nie. Daar is geen einde aan die vreugdevolle reise wat jy kan ondervind nie. Op die paadjie na jou geluk sal jy alles wat jy wil doen, wees of verlang, ontvang. (Deur ander hul eie reistog toe te laat, laat jy joune toe.)
Aksies Wat Jy Neem en Geld Wat Jy Verruil is By-produkte van Jou Fokus Op Vreugde
Op jou bewustelike genotvolle reis sal jou aksies geϊnspireerd wees, jou hulpbronne sal oorvloedig wees en jy sal weet deur hoe jy voel dat jy jou motief vir die lewe vervuldig.
(Meeste het dit agterstevoor, so hulle voel vreugde in hul aksies of besittings.)
Jy Kan Van Jou Liggaam Afskeid Neem Sonder Siekte of Pyn
Dit is nie nodig dat jy siekte of pyn aantrek as 'n verskoning om hierdie lewe te verlaat nie. Jou natuurlike keuse van om hierheen te kom, hier te bly of om te vertrek is een van gesondheid en welwillendheid. (Jy is vry om anders te besluit.)
Jy Kan Nie Sterf Nie; Jy is Ewige Lewe
Met genade kan jy kies om te ontspan en om saggies terug te gly in jou nie-fisiese staat van pure, positiewe Energie. Jou natuurlike staat is een van Ewigheid. (Geniet alles - verhelder! Jy kan dit nie verkeerd kry nie.)
Sunday, 19 June 2016
Maak vrede met waar jy is
Weet jy wat jy wil hê?
Ewige ontplooiing?
Geniet jy die uitbreiding van jou verlange?
En sien jy dat dit uitbrei?
.
Soos jy besef dat jy dit alles besluit, en soos jy begin om die kontras, wat besluit en gevolgtrekking, of keuse meer bewustelik maak, te waardeer, dan begin jy uitermate die kontras te geniet.
.
Vra jouself: Daardie manifestasies wat jy nog nie ondervind het nie, is dit nog belangrik vir jou, ja? Party mense sal jok en ja sê, ander sal nee sê, maar ek wil hê jy moet 'ja' sê en dit waarlik bedoel.
.
"Ja, daar is dinge wat ek nog nie gemanifesteer het nie. Daar is dinge wat ek wil hê wat ek nie weet hoé dit gaan gebeur nie—maar hulle is nog steeds verfrissend en belangrik vir my. Ek voel nog steeds antisipasie. Ek voel bemoedig. Hulle voel nog vars vir my." Dit is wat jy moet sê.
.
Jou onvervulde begeertes moet goed voel vir jou, want, wel, daar is twee redes :
.
As jy nie kan vrede maak met waar jy is nie, dan sal dit baie stadig gaan vir jou onvervulde begeertes om vervul te word, want die angs wat jy voel oor dinge wat nie gebeur nie is 'n indikasie van 'n vibrasie wat dit weghou van jou.
.
So, wanneer jy siek is en jy wil gesond wees, en jy is al vir 'n lang tyd siek en dit lyk nie of dit beter gaan word nie, en as jy gediagnoseer is dat dit heelwaarskynlik nie beter gaan word nie, dan, in plaas van om hoopvol te voel , voel jy angstig—is dit moeilik vir vebetering om te gebeur. Die feit is, dit kannie gebeur onder hierdie omstandighede nie.
.
Dieselfde is waar as ons ons bekommer oor "wat in ons land aangaan". Hoe méér klem daarop gelê word, en hoe meer die saak negatief gedebateer word, hoe erger sal dinge word. Ek sê gladnie ons moet soos volstruise wees en maak asof dit die gebeur nie - wat ek wél sê is dat die aanhoudende aandag gee aan die saak is wat die vibrasie veroorsaak wat die saak in die eerste plek veroorsaak het. Oorlog veroorsaak nog meer oorlog, denke aan armoede veroorsaak nog meer armoede, et al.
.
Laat ons ophou om alles te probeer ''reg'' maak - niks is gebreek nie en als is soos dit moet wees. En moenie jouself oor ander bekommer nie - jy bekommer jouself meer as hulle ... Daar is mense besig met oorlog; hulle is op die slagveld en hulle voel meer springlewendig as ooit tevore in hul lewe! Moenie mense van die lewe probeer beskerm nie; gun hulle hul eie ondervinding terwyl jy fokus op JOU eie ervarings. Kies dít wat vir jou goed voel en hou daarby solank dit jou plesier en genot verskaf. Daardeur sal jy jouself in lyn bring met jou Bronenergie en 'n manjefieke ervaring beleef.
.
Die vibrasionele verskil tussen die gevoel van hoop en angs is die verskil tussen gesond word of siek bly. Dis die verskil van om aan hierdie kondisie te kleef of dit te laat gaan.
.
Dieselfde gaan vir jou finansiële status - hoe minder geld jy het en hoe meer rekeninge jy kry, hoe meer angstig word jy. So, dit is die realiteit van wat-is;dit is die aksie-reis waarop jy is. So jou reis kan een wees van vreesof jou reis kan een wees van hoop.
.
En die verskil tussen angsen vrees is die verskil tussen dinge wat beter gaan of nie.
.
Maak vrede met waar ookal jy is.
En hier is die belangrike deel: Wanneer jy wanhoop voel, of enigiets wat nie goed voel nie, en jy reik vir 'n gedagte wat beter voel, wat saam met dit kom is 'n bewustelike gewaarwording dat jy tog 'n mate van beheer oor jou lewe het.
.
En vriende, ek kannie genoeg beklemtoon die belangrikheid van die rol wat bewustelike gewaarwording speel in die feit dat jy iets kan doen omtrent hoe jy voel.
.
Wanneer jy 'n gedagte kies wat beter voel as die gedagte wat jy voorheen gekies het, en jy bewustelikerken dat jy die mag het om dit te doen, an dat jy dit wel gekies het, en dat dit wel jou vibrasionele frekwensie verander het—nou, is daar niks wat jy nie kan verrig nie. Nou verdwyn daardie wolk van wanhoop, die wolk dat jy nie in beheer is van jou lewe nie.
.
En alles is moontlik op hierdie emosionele skaal. En wanneer jy daar bo kom waar alles deksels wonderlik voel, dan word wonderlike dinge deel van jou daaglikse lewe!
.
Partymaal sal welmenende mense jou aanspoor om vinniger gelukkig te raak as wat jy kan—jy kan byvoorbeeld nie jou radio op 94.2FM stel en dan na 98.0 FM luister nie - die frekwensies moet dieselfde wees. As jy in wanhoop, of angs, of woede verkeer, kan jy nie al die pad spring na saligheid nie. Dit is 'n verskillende vibrasionele frekwensie. Dit is onmoontlik om van wanhoop na saligheid te gaan, en dis nie omdat jy nie kan nie; dis omdat die Wet van Aantrekkingskrag jou nie toegang sal verleen tot gedagtes of herhinneringe of gebeurtenisse of mense, wat vêr is van die vibrasie wat jy offer nie.
.
Dit is belangrik dat jy vandag besluit (wel, jy kan môre besluit, jy kan enige tyd wat jy wil besluit, maar dit is belangrik dat jy die besluit neem) dat jy nie gaan probeer om oor frekwensies te spring nie... Dit maak nie saak waar jy is nie; jy kan stadigaan na beter plekke beweeg.
.
Besluit, gou, dat jy nie jou emosionele toestand met enigiemand anders s'n gaan vergelyk nie, wat hulleemosionele toestand is hulle emosionele toestand, en dit het niks met jou te doen nie. Besluit net dat jy gaan bewus wees van hoe jy voel, en hoe jy voel maak werklik saak, en voel lewenslustig wanneer jou vibrasie skuif. Wanneer jy skuif van wanhoop na woede, voel triomfantlik, want dit is 'n belangrike vibrasionele verskuiwing, want wanneer jy woede voel, kan jy vinnig oorgaan na frustrasie, en van frustrasie, na aksie.
.
Op skool in die klaskamer gee hulle jou 'n A of 'n B vir hierdie gedrag, of 'n E of 'n F vir daardie gedrag. En so dink jy dat iemand wat vreugde behaal het 'n A moet kry, en iemand met depressie of in wanhoop moet 'n E kry. En ek wil vir jou sê, wanneer jy van depressieof angs na WOEDE beweeg, gee jouself 'n A, want hierdie beweging is die belangrikste van alles!
.
Wat dit bedoel is dat jy jou vibrasie verander het, en nou het jy toegang tot ander gedagtes en ondervindings. En natuurlik wil jy nie vassit in woede nie, maar vanaf woede het jy toegang to frustrasie.
.
En as jy terugkyk na jou ondervinding (nie te veel nie!) sal jy agterkom dat jou emosies altyd vergelyk kan word met dit waaraan jy jou aandag gee.
.
Jy kannie omstandighede beheer nie. Dit was nooit bedoel dat jy omstandighede moet beheer nie. Jou intensie was om onkondisionele liefde te ontdek. Jou bedoeling is om uit te vind hoe om goed te voel, onder ALLE omstandighede, want jy het die vaardigheid; jy het die mag; jy het die gawe om te fokus. Jy het die gawe om te KIES waar jy fokus, en dus het jy die gawe om OPSETLIK 'n vibrasie te offer, en dus het jy die gawe om te kies hoe jy voel.
.
Wednesday, 15 June 2016
Dankverklaring 2–Dankbaar vir my liggaam
Ek is so dankbaar vir my liggaam.
Dit het my goed behandel oor die jare en verouder grasieus.
Ek voel gelukkig met my voorkoms.
.
Saturday, 11 June 2016
Positiwiteit
Nou hier's die ding — elke keer as ek van hierdie "positiewe" mense êrens raakloop en ek vra, "Hoe gaan dit met jou?", is die eerste woorde wat ek gewoonlik hoor klaagliedere oor die ekonomie en hoe sleg dit met hul gesondheid gaan.
Nou wat het nou eintlik van positiwiteit geword...? Of val "dinge buite jou beheer" nie onder die opskrif van positiwiteit nie? Meeste mense sal sê DIE EKONOMIE is buite hulle beheer en dat dit 'n feit is en daar's niks wat hulle daaromtrent kan doen nie. En ek sê, dis nie DIE EKONOMIE wat belangrik is nie, maar JOU EKONOMIE, want daaraan kan jy beslis iets doen.
Miskien het jy ook al vir ‘n vriend of familielid dieselfde gesê: “Moenie so negatief wees nie, bly net positief en dinge sal sommer beter gaan.”
POSITIWITEITDit is makliker gesê as gedaan - tensy jy WAARLIK die gewoonte kan aanleer om 'positief' te bly. Positiwiteit is nie net 'n "pie-in-the-sky" idee nie - jy moet inniglik GLO, OORTUIG wees, dat die lewe meer positief as negatief is en daarvolgens jou lewe ly.
Van al die dinge wat ons lewens beϊnvloed, is ons OORTUIGINGS-SISTEEM seker die mees belangrikste.
Wat ons glo vorm ons uitkyk en gedrag en houding en as ons ons lewens wil verander en transformeer, kan ons dit nie doen sonder om ons oortuigings-stelsel te verander nie.
As ons waarlik ons lewe wil verander, moet ons leer om ons geloofstelsel te verander. Die goeie nuus is dat dit nie so moeilik is as wat dit klink nie! Vasbeslotenheid, verpligting en dedikasie is al wat dit vat.
Ongelukkig vir meeste van ons, het ons meer self-limitasie-oortuigings as konstruktiewe oortuigings. Ons GLO dat almal se behoeftes voor ons eie moet kom - ons kinders, ons eggenote, ons vriende - en dan is dit goed genoeg dat ons kry wat oor is. Dit is die EEN groot rede hoekom ons voel of ons vassit en asof ons 'n slagoffer van die noodlot is, dat ons nie in beheer van ons eie lewe is nie.
Die oomblik wat ons hierdie self-limiterende oortuigings verruil vir meer positiewe oortuigings, sal ons houding en gedrag outomaties verander om in te pas met ons nuwe oortuigings en nuwe en meer bevrydende moontlikhede in ons lewe aantrek.
Groete
Maree
Tuesday, 7 June 2016
Die Wet van Vergoeding
Vervang alle
minderwaardige gedagtes met meerderwaardige gedagtes
euwel gedagtes met goeie gedagtes
lelike gedagtes met wonderlike gedagtes
angs gedagtes met aangename gedagtes
en jy sal begin om die groei van alle negatiewe en verwarrende toestande van wanklank en disharmonie te oorkom. Met ander woorde, leer om konstruktief te dink van alle mense, alle dinge, alle gebeure en alle omstandighede.
Bekyk alles vanuit 'n ideale standpunt. Soos jy dit bemagtig, sal jy stadigaan jou hele bestaan omskep in iets wonderliks. Hierdie is die wyse waarop jy bestendig en aanhoudend jou voorspoed en groei kan verseker.
Soos jy jouself oplei om geestelik uit te kyk vir die goeie in alles, so sal jy na goed beweeg, en soos jy hoër en groter denkbeelde vorm van alles wat goed is, so sal hierdie elemente begin uiting vind in jou woorde, dade, karakter, persoonlikheid, talente, magte, bekwaamhede en kordaatstukke, d.w.s. alles in jou lewe sal begin verbeter as gevolg van jou verbeterde denkwyse.
Hierdie proses bedoel egter nie dat jy al die verkeerde dinge in die lewe moet ignoreer nie; eerder net dat jy deur dit en verby dit moet dink aan die verborge goeie dinge en die prinsiep binne-in wat allewig soek na groter en voller vervulling.
Jy sal dus ophou om te veroordeel en te kritiseer - in stede sal jy streef na die beste in jouself en andere en begin ontdek en ontwikkel die oneindige moontlikhede al om jou.
.
Subscribe to:
Posts (Atom)















