.
'n Afrikaanse hoekie
Haai, my naam is Maree en ek is 'n amper-verengelsde Afrikaner en woon op die Noordkus van KwaZulu Natal, Suid Afrika.
Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.
Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!
Saturday, 31 December 2016
Wense vir vandag en 2017
Vandag, op hierdie laaste dag van 2016
… wil ek graag ’n mooi gedig lees.
Wil ek graag ’n mooi prentjie sien.
Wil ek graag inspirerende musiek luister.
Wil ek graag iemand merkwaardig ontmoet.
Wil ek graag ’n paar verstandige woorde sê.
My wens vir jou is dat jou 2017 gevul sal wees met LIEFDE, VREUGDE en INSPIRASIE en dat jy elke dag 'n mooi gedig sal lees, 'n mooi prentjie sal sien, na inspirerende musiek sal luister, iemand merkwaardig sal ontmoet en verstandige gedagtes sal hê en mooi woorde sal uitspreek.
Gelukkige Nuwe Jaar!
.
Thursday, 1 December 2016
'n Eko-vriendelike tuin
Wanneer laas kon jy ‘n skoenlapper se pragtige kleure bewonder? Of 'n by waar hy naarstigtelik besig is om stuifmeel bymekaar te maak? Lanklaas? Waarskynlik, want deesdae word alles mos bespuit met al wat gif is. Selfs heuningbye word bedreig.
Help 'n by in nood!
Waarvan ons en ons nageslag gaan lewe as heuningbye en skoenlappers van die aarde af verdwyn, is ‘n ope vraag. Naas water en suurstof, is bye en skoenlappers onmisbaar vir oorlewing, want daar is niks wat die bestuiwingsfunksie so kan vervul nie, en niemand kan daardie funksie by hulle oorneem nie. Die goeie nuus is dat ons kan tuinmaak om skoenlappers en bye te lok. Omdat die huidige habitats en voedselbronne minder word, moet ons bestaande bye-vriendelike plante beskerm en in stand hou deur meer bye-vriendelike plante aan te plant.Hoewel bloekombome indringers kan wees, is hulle baie belangrik as 'n voedselbron vir ons inheemse bye. Die doel is om, deur goeie bestuur, bloekombome te behou as voedselbron vir ons bye.
Grondeienaars moet die spesies en ligging van bloekombome op hul plase identifiseer. Dié sonder bloekombome kan dit oorweeg om sekere nie-genoteerde spesies (bv.E. ficifolia of E. gomphocephala) te plant waar hulle nie waterbronne bedreig of 'n indringingsgevaar stel nie. In ‘n eko-vriendelike tuin is daar nie plek vir insektedoders nie. Of dit nou ‘n kontakdoder of ‘n sistemiese middel is, los dit. Aan die begin sal dit dalk moeilik wees, want die natuurlike vyande sou lankal die wyk geneem het omdat daar nie kos is nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek insekdoders in my tuin gebruik het nie. Nou die oggend sit ek en luister na die voëlgeluide. Ek besef toe dis omdat ek nie meer gif spuit nie dat hier meer goggas is, en omdat hier meer goggas is, is hier meer voëltjies, want hier is genoeg kos om te oorleef en kleintjies groot te maak.
Wanneer daar insekte in jou tuin is, is daar liefde in die lug! In die insekwêreld word klanke en geure dikwels gebruik om ’n maat te vind—wat nie ’n maklike taak is as jou lewensduur net ’n paar weke is en daar maar min voornemende maats in die omgewing is nie.
Insekte speel ’n noodsaaklike rol in ons daaglikse lewe. Trouens, ongeveer 30 persent van die voedselsoorte wat ons eet, is afhanklik van bestuiwing deur bye, waarvan die meeste wilde bye is. Maar bestuiwing is net een van die nuttige take wat insekte verrig. Insekte hou die aarde skoon deur middel van ’n doeltreffende herwinningstelsel wanneer hulle dooie plant- en dieremateriaal in bruikbare vorme omsit. Sodoende word die grond vrugbaarder gemaak, en voedingstowwe wat vrygestel word, kan dinge laat groei.
Wyfiepouoogmotte vind ’n maat deur ’n reuk af te skei wat so sterk is dat ’n mannetjie byna 11 kilometer daarvandaan die wyfie kan vind. Sy sensitiewe voelers kan ’n enkele molekule van die reuk waarneem.
Krieke, sprinkane en sonbesies verkies om hulleself hoorbaar te maak. Selfs die mens kan die minnesang van die sonbesie hoor wanneer hy sy hele liggaam in ’n klankbord verander. ’n Groot groep sonbesies wat besig is met hofmakery, kan meer geraas as ’n lugboor maak!
Drolpeer - Dombeya rotundifolia - foto vanaf Veldwagter
Halleria lucida langs 'n ou stomp en Vuurpyle
- Sommige van die inligting vanaf 'Kormorant'
Sunday, 13 November 2016
Tuesday, 1 November 2016
Buite in die tuin...
Buite in die tuin…
twee swaeltjies in die perskeboom
::
dankbaar
Dis amper eind-Oktober en ek is SO bly my Swaeltjies is terug!
Sunday, 23 October 2016
Hoop jou lewe is eenvoudig en mooi
W&N waterverf op Bockingford 300gsm
Hoop jou lewe…
miskien net jou dag…
of ’n klein oomblikkie…
is eenvoudig en mooi
Beskikbaar as 'n Afrikaanse kaartjie in my RedBubble portefeulje.
Thursday, 8 September 2016
Is Ek Alleen?!
Ek sit hier en skryf blog- na blogpos, en partymaal voel ek of ek heeltemal alleen in die Heelal is - alleen met al my gedagtes en idees... waar is almal? Ek gee eintlik nie om dat niemand my poste blyk te lees nie, maar my ego sal darem 'n bietjie beter voel as ek darem ten minste net een navolger gehad het...
Partymaal voel dit vir my of ek te veel dink en te veel het om te sê, dat daar soveel mooi dinge in die lewe is om te deel, met die gevolg dat ek 19 blogs het (ja, 19!), plus 'n paar wat privaat is - en dan is daar nog Facebook, Twitter, Pinterest, Tumblr en Instagram waarmee ek probeer by hou.
Wat doen ander mense met hul lewens? Ek weet dat vir my, tussen my werk (wat 2 besighede behels) en skryf vir die blogs en webwerwe, 'n mens nog moet tyd inpas om met familie en vriende te konnekteer. Dan is daar ook die tuin en die diere wat ook 'n bietjie aandag soek, inkopies (ek jok, my man het dit oor geneem), stokperdjies en tye wat ek bietjie wil wegkom af kus toe of Kaap toe.
Maar ek persoonlik het geen planne om te minimaliseer nie, veral nie as dit kom by skryf nie. Al die blogs wat ek het is 'n manier om uiting te gee aan al my passies en idees en ook om met vriende en familie in kontak te bly, asook om 'n nuwe vriendekring op te bou, deur gesels en die ruil van idees, amper soos penvriende toe ek 'n kind was. Toe het ons briewe geskryf wat gepos moes word en dan die lang wag vir 'n antwoord. Nou is dit omtrent onmiddellik en kommunikasie en idees vloei deesdae maklik en vinnig.
Ek het onlangs uitgevind net hoé onseker ek eintlik van myself is, want ek was bekommerd dat ek dinge 'n bietjie "oordryf" deur soveel blogs te hê met soveel verskillende besprekingspunte. Totdat ek op iemand se blog gelees het dat dit 'n uitstekende idee is om 'n blog te hê vir elke liewe een van jou passies - dit skyn dat, deur jou passies te vertroetel,
• maak dit jou vatbaar vir nuwe idees;
• dit por jou aan om meer kennis te bekom;
• dit leer jou om die inligting en kennis wat jy bekom uit te druk in jou eie woorde;
• dit herinner jou dat jy jouself alewig kan verbeter.
So daar het jy dit! Toe voel ek sommer beter, maar moes die rieme aandraai of ek het sommer dadelik weer nog 'n paar blogs begin!
Thursday, 21 July 2016
Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie!
Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie! Het jy geweet jy kan met tee en koffie skilder? Tee (swart) gee 'n lieflike ligte agtergrond vir die skildery en koffie (swart en sterk! Ek gebruik Nescafé kitskoffie) gee die pragtigste ryk en glansende donkerbruin skakerings.
Gebruik 'n goeie gehalte waterverf papier (ek gebruik meesal Bockingford 300gsm, dis dik en frommel nie maklik wanneer dit nat word nie). Maak 'n koppie sterk, swart tee en laat afkoel. Gebruik 'n taamlike groot verfborsel en bedek die hele bladsy met die tee. Sodra dit droog is, kan jy begin met die koffie. Ek skets gewoonlik my prentjie eerste, die tee bedek nie die lyne nie.
Verf dan met jou koffie 'n stuk donkerder agtergrond (jy kan die tee-agtergrond bo links in die skildery sien uitsteek) en verf dan jou skets met die koffie waar jy gewoonlik al die kleure sou sit. Maak seker jou eerste hale is donker genoeg, die koffie hou nie daarvan om weer bo-op geverf te word as dit eers droog is nie.
Eksperimenteer 'n bietjie met die tee en koffie voor jy jou skildery aanpak. Verf koffie op koffie terwyl dit nat is, verf koffie op koffie wanner dit droog is, dan kan jy die verskillende effekte waarneem.
Geniet en wys vir ons wanneer jy klaar is!
Koffie skets met 'n wit agtergrond op Bockingford 300gsm
::
Sunday, 17 July 2016
Dis Bosveld mooi
W&N waterverf op Bockingford 300gsm en Stabilo FinePoint swart pen - ©Maree Clarkson
Daar waar die Bosveld Loerie
skugter vir my loer -
Sit ek in die skadu
van ’n wilde vyeboom…
’n Mierleeu wag in sy tregter wip…
geduldig op sy prooi -
onverwags, verseker, ongenooi…
DIT IS WONDERLIK !
DIS BOSVELD MOOI …
As die son vassteek
in ’n droë doringboom se mik
’n Ystervak pen vertel ’n storie
van ’n Jakkals se spoor ~
Pynlike onderonsie
in ’n tipiese krygverhoor …
Vlinders oor die gras probeer
vergeefs die stilte breek ~
maar dis ’n geskenk van môre
aan my dankbare siel …
DIT IS WONDERLIK!
DIS BOSVELD MOOI …
As die son vassteek
in ’n droë doringboom se mik
Met ’n vlerk klapgeluid
spring ’n sprinkaan voor my uit -
’n druppel dou
aan ’n spinnerak
die veld
se diamant…
’n Voetpad kronkel skuins na bo,
Waar die Koedoes rustig wei …
ongerepte skoonheid,
vry …
DIT IS WONDERLIK!
DIS BOSVELDMOOI ..
As die son vassteek
in ’n droë doringboom se mik…
~ Uit DOZI se Album “Kruispad”
Wednesday, 13 July 2016
'n Huisie by die see
Ek droom al jare van ’n huisie by die see…
My droomhuisie êrens op ’n Suid-Afrikaanse kus….. Gemengde media – Ink, W&N waterverf en Akriel op Arches 300gsm ©Maree Clarkson
My droomhuisie êrens op ’n Suid-Afrikaanse kus….. Gemengde media – Ink, W&N waterverf en Akriel op Arches 300gsm ©Maree Clarkson
Sien SONDAGSIESTA in die groep Afrikaans
Pak op, pak op,
sit jou goedjies op jou kop
Môre gaan ons weg, ver van die weg
Skipskop, Skipskop,
wanneer hou die dinge op
swaarkry lê net voor,
die blou berge oor.
Overberg se mens, is ek gebore.
Op die plek Skipskop, nes my pa en sy pa ook.
Hier deur die duine, loop ons spore
Hier op die beach, hier langs die see is ek getoeë.
Maar wat ken ek anders, as die blou dam se branders
en die wolke en winde wat hier waai
Verkoop jou bootjie, pak op jou goedjies
sê maar so long, Skipskop, Skipskop sê goodbye.
Die linkerhand, of die regterhand
watse kant lê die pad, misverstand
’seblief meneer, ag sê my tog weer
is dít die pad wat ons moet môre vat
’n stukkie lê hier, en ’n stukkie lê daar
die stukkies van my lewe, hulle lê baie deurmekaar
so tel op, tel op vir shorty, en vir pop,
gaan haal vir Apie en hou daai kindjie dop.
Maar wat ken ek anders
as die blou dam se branders
die wolke en die winde wat hier waai
verkoop jou bootjie, pak op jou goedjies,
sê maar so long,
Skipskop, skipskop
sê gooodbye
Saturday, 9 July 2016
'n Afrika collage
BOSVELDDROME
Waar haak-en-steek in louwarm
Bosveldstilte groei
en volstruise agie-grootoog
verby ons venster loop
daar trek my hart ’n punt
Ek wil weer tarentale hoor
patrys en vink
wat stukke sonlig soggens drink
en by die groot maroelaboom
of langs ’n kanniedood
wil ek die stofpad ruik
ek wil die appelbaar hoor praat
die huilboerboon se skadus
oor my skouers vou
as ek verlang na jou
en saans onder ’n sterrekombers
wil ek lê-luister na jou warm woorde
jou liefhêlied-akkoorde
ek wil dit vasbind aan my lyf
en jubelsange daaroor skryf
- Elizabeth Kendall©
Tuesday, 5 July 2016
Afrika Wildehond
Waterverf op Ashrad 200gsm – 8.5″ × 12″ - ©Maree Clarkson
Die wildehond (Lycaon pictus) is ’n karnivoor en soogdier uit die familie Canidae. Wildehonde kom slegs in Afrika voor, veral in struikvelde en ander lig beboste gebiede. Dit is die enigste spesie in die genus Lycaon. ’n Volwasse wildehond het ’n gemiddelde massa van 25 kg en ’n hoogte van tussen 60 en 75 cm. Wildehonde jag normaalweg in troppe: die prooi word gejag en in die hardloop verskeur.
.
Die wyfie is telkens vir twee maande dragtig en skenk dan gewoonlik in die winter geboorte aan twee tot ses kleintjies. ’n Wildehond het ’n moontlike lewensduur van tien jaar.
Monday, 27 June 2016
Dankverklaring vir wie ek is (Affirmasie)
Dankie, ek is dankbaar vir wie ek is.
Dankie, ek is dankbaar vir al my vermoëns.
Dankie, ek is dankbaar vir alles wat ek ontvang.
Dankie, ek is dankbaar vir al my vermoëns.
Dankie, ek is dankbaar vir alles wat ek ontvang.
::
Thursday, 23 June 2016
Jy is 'n Skepper; Jy Skep Met Jou Gedagtes
Meesal skep jy outomaties want jy ontvang waaroor jy dink, of jy dit nou wil hê of nie, maar jy weet deur hoe jy voel of dít wat jy ontvang (skep) is wat jy wil hê. (Waar is jou aandag gefokus?)
Jy is 'n Fisiese Verlenging van Dít Wat Nie-Fisies is
Alles-Wat-Is, of die Heelal, is nie klaar en wag vir jou om op te vang nie. Jy is die voorbeeld van Gedagte wat meer nastreef : meer van alles wat goed voel meer van dít wat nuut en glorieryk is. (Jy bring, in wese, hemel na aarde.)
Die Grondstuk van Jou Lewe is Vryheid; Die Doel van Jou Lewe is Vreugde
Jy kan vrylik kies om nuwe paaie van vreugde te ontdek. In vreugde sal jy groei; en in jou groei sal jy bytel tot Alles-Wat-Is. (Ewenwel is jy ook vry om gebondenheid of pyn te kies... maar enige iets wat enigeen kies is omdat hulle glo dat dit hulle beter sal laat voel.)
Enige Iets Wat Jy Jou Kan Voorstel is Joune om te Doen of te Besit
Sodra jy jouself vra hoekom jy dit wil hê, word die kern van jou begeerte ge-aktiveer. Hoe sterker jou positiewe gevoelens hoe vinniger ontvang jy dit. (Dit is ewe maklik om 'n kasteel to skep as is 'n knoop.)
Die Heelal Het Jou Lief; Want Dit ken jou Diepste Begeertes
Jy het na hierdie aarde gekom met groot en wonderlike voornemes en lei jou gedurig op jou gekose paadjie. Wanneer jy goed voel dan laat jy meer in van dít wat jy jou voorgeneem het. (Jy verpersoonlik inspirasie en lewenskrag.)
Ontspan Tot in Jou Natuurlike Welwillendheid. Alles is Volkome in Ewewig. (Regtig, dit is!)
Die kern van alles wat jy waardeer vloei gedurig tot in jou realiteit. Soos jy meer vind om te waardeer, sal jou toestand van waardering meer kanale skep om voor dankbaar te voel. (Terwyl jy dink, vibreer jy. Terwyl jy vibreer, skep jy.)
Jy is 'n Skepper van Gedagtebane Omtrent Jou Eie Pad van Vreugde
Niemand kan keer waarheen jy jou gedagtes lei nie. Daar is geen einde aan die vreugdevolle reise wat jy kan ondervind nie. Op die paadjie na jou geluk sal jy alles wat jy wil doen, wees of verlang, ontvang. (Deur ander hul eie reistog toe te laat, laat jy joune toe.)
Aksies Wat Jy Neem en Geld Wat Jy Verruil is By-produkte van Jou Fokus Op Vreugde
Op jou bewustelike genotvolle reis sal jou aksies geϊnspireerd wees, jou hulpbronne sal oorvloedig wees en jy sal weet deur hoe jy voel dat jy jou motief vir die lewe vervuldig.
(Meeste het dit agterstevoor, so hulle voel vreugde in hul aksies of besittings.)
Jy Kan Van Jou Liggaam Afskeid Neem Sonder Siekte of Pyn
Dit is nie nodig dat jy siekte of pyn aantrek as 'n verskoning om hierdie lewe te verlaat nie. Jou natuurlike keuse van om hierheen te kom, hier te bly of om te vertrek is een van gesondheid en welwillendheid. (Jy is vry om anders te besluit.)
Jy Kan Nie Sterf Nie; Jy is Ewige Lewe
Met genade kan jy kies om te ontspan en om saggies terug te gly in jou nie-fisiese staat van pure, positiewe Energie. Jou natuurlike staat is een van Ewigheid. (Geniet alles - verhelder! Jy kan dit nie verkeerd kry nie.)
Sunday, 19 June 2016
Maak vrede met waar jy is
Weet jy wat jy wil hê?
Ewige ontplooiing?
Geniet jy die uitbreiding van jou verlange?
En sien jy dat dit uitbrei?
.
Soos jy besef dat jy dit alles besluit, en soos jy begin om die kontras, wat besluit en gevolgtrekking, of keuse meer bewustelik maak, te waardeer, dan begin jy uitermate die kontras te geniet.
.
Vra jouself: Daardie manifestasies wat jy nog nie ondervind het nie, is dit nog belangrik vir jou, ja? Party mense sal jok en ja sê, ander sal nee sê, maar ek wil hê jy moet 'ja' sê en dit waarlik bedoel.
.
"Ja, daar is dinge wat ek nog nie gemanifesteer het nie. Daar is dinge wat ek wil hê wat ek nie weet hoé dit gaan gebeur nie—maar hulle is nog steeds verfrissend en belangrik vir my. Ek voel nog steeds antisipasie. Ek voel bemoedig. Hulle voel nog vars vir my." Dit is wat jy moet sê.
.
Jou onvervulde begeertes moet goed voel vir jou, want, wel, daar is twee redes :
.
As jy nie kan vrede maak met waar jy is nie, dan sal dit baie stadig gaan vir jou onvervulde begeertes om vervul te word, want die angs wat jy voel oor dinge wat nie gebeur nie is 'n indikasie van 'n vibrasie wat dit weghou van jou.
.
So, wanneer jy siek is en jy wil gesond wees, en jy is al vir 'n lang tyd siek en dit lyk nie of dit beter gaan word nie, en as jy gediagnoseer is dat dit heelwaarskynlik nie beter gaan word nie, dan, in plaas van om hoopvol te voel , voel jy angstig—is dit moeilik vir vebetering om te gebeur. Die feit is, dit kannie gebeur onder hierdie omstandighede nie.
.
Dieselfde is waar as ons ons bekommer oor "wat in ons land aangaan". Hoe méér klem daarop gelê word, en hoe meer die saak negatief gedebateer word, hoe erger sal dinge word. Ek sê gladnie ons moet soos volstruise wees en maak asof dit die gebeur nie - wat ek wél sê is dat die aanhoudende aandag gee aan die saak is wat die vibrasie veroorsaak wat die saak in die eerste plek veroorsaak het. Oorlog veroorsaak nog meer oorlog, denke aan armoede veroorsaak nog meer armoede, et al.
.
Laat ons ophou om alles te probeer ''reg'' maak - niks is gebreek nie en als is soos dit moet wees. En moenie jouself oor ander bekommer nie - jy bekommer jouself meer as hulle ... Daar is mense besig met oorlog; hulle is op die slagveld en hulle voel meer springlewendig as ooit tevore in hul lewe! Moenie mense van die lewe probeer beskerm nie; gun hulle hul eie ondervinding terwyl jy fokus op JOU eie ervarings. Kies dít wat vir jou goed voel en hou daarby solank dit jou plesier en genot verskaf. Daardeur sal jy jouself in lyn bring met jou Bronenergie en 'n manjefieke ervaring beleef.
.
Die vibrasionele verskil tussen die gevoel van hoop en angs is die verskil tussen gesond word of siek bly. Dis die verskil van om aan hierdie kondisie te kleef of dit te laat gaan.
.
Dieselfde gaan vir jou finansiële status - hoe minder geld jy het en hoe meer rekeninge jy kry, hoe meer angstig word jy. So, dit is die realiteit van wat-is;dit is die aksie-reis waarop jy is. So jou reis kan een wees van vreesof jou reis kan een wees van hoop.
.
En die verskil tussen angsen vrees is die verskil tussen dinge wat beter gaan of nie.
.
Maak vrede met waar ookal jy is.
En hier is die belangrike deel: Wanneer jy wanhoop voel, of enigiets wat nie goed voel nie, en jy reik vir 'n gedagte wat beter voel, wat saam met dit kom is 'n bewustelike gewaarwording dat jy tog 'n mate van beheer oor jou lewe het.
.
En vriende, ek kannie genoeg beklemtoon die belangrikheid van die rol wat bewustelike gewaarwording speel in die feit dat jy iets kan doen omtrent hoe jy voel.
.
Wanneer jy 'n gedagte kies wat beter voel as die gedagte wat jy voorheen gekies het, en jy bewustelikerken dat jy die mag het om dit te doen, an dat jy dit wel gekies het, en dat dit wel jou vibrasionele frekwensie verander het—nou, is daar niks wat jy nie kan verrig nie. Nou verdwyn daardie wolk van wanhoop, die wolk dat jy nie in beheer is van jou lewe nie.
.
En alles is moontlik op hierdie emosionele skaal. En wanneer jy daar bo kom waar alles deksels wonderlik voel, dan word wonderlike dinge deel van jou daaglikse lewe!
.
Partymaal sal welmenende mense jou aanspoor om vinniger gelukkig te raak as wat jy kan—jy kan byvoorbeeld nie jou radio op 94.2FM stel en dan na 98.0 FM luister nie - die frekwensies moet dieselfde wees. As jy in wanhoop, of angs, of woede verkeer, kan jy nie al die pad spring na saligheid nie. Dit is 'n verskillende vibrasionele frekwensie. Dit is onmoontlik om van wanhoop na saligheid te gaan, en dis nie omdat jy nie kan nie; dis omdat die Wet van Aantrekkingskrag jou nie toegang sal verleen tot gedagtes of herhinneringe of gebeurtenisse of mense, wat vêr is van die vibrasie wat jy offer nie.
.
Dit is belangrik dat jy vandag besluit (wel, jy kan môre besluit, jy kan enige tyd wat jy wil besluit, maar dit is belangrik dat jy die besluit neem) dat jy nie gaan probeer om oor frekwensies te spring nie... Dit maak nie saak waar jy is nie; jy kan stadigaan na beter plekke beweeg.
.
Besluit, gou, dat jy nie jou emosionele toestand met enigiemand anders s'n gaan vergelyk nie, wat hulleemosionele toestand is hulle emosionele toestand, en dit het niks met jou te doen nie. Besluit net dat jy gaan bewus wees van hoe jy voel, en hoe jy voel maak werklik saak, en voel lewenslustig wanneer jou vibrasie skuif. Wanneer jy skuif van wanhoop na woede, voel triomfantlik, want dit is 'n belangrike vibrasionele verskuiwing, want wanneer jy woede voel, kan jy vinnig oorgaan na frustrasie, en van frustrasie, na aksie.
.
Op skool in die klaskamer gee hulle jou 'n A of 'n B vir hierdie gedrag, of 'n E of 'n F vir daardie gedrag. En so dink jy dat iemand wat vreugde behaal het 'n A moet kry, en iemand met depressie of in wanhoop moet 'n E kry. En ek wil vir jou sê, wanneer jy van depressieof angs na WOEDE beweeg, gee jouself 'n A, want hierdie beweging is die belangrikste van alles!
.
Wat dit bedoel is dat jy jou vibrasie verander het, en nou het jy toegang tot ander gedagtes en ondervindings. En natuurlik wil jy nie vassit in woede nie, maar vanaf woede het jy toegang to frustrasie.
.
En as jy terugkyk na jou ondervinding (nie te veel nie!) sal jy agterkom dat jou emosies altyd vergelyk kan word met dit waaraan jy jou aandag gee.
.
Jy kannie omstandighede beheer nie. Dit was nooit bedoel dat jy omstandighede moet beheer nie. Jou intensie was om onkondisionele liefde te ontdek. Jou bedoeling is om uit te vind hoe om goed te voel, onder ALLE omstandighede, want jy het die vaardigheid; jy het die mag; jy het die gawe om te fokus. Jy het die gawe om te KIES waar jy fokus, en dus het jy die gawe om OPSETLIK 'n vibrasie te offer, en dus het jy die gawe om te kies hoe jy voel.
.
Wednesday, 15 June 2016
Dankverklaring 2–Dankbaar vir my liggaam
Ek is so dankbaar vir my liggaam.
Dit het my goed behandel oor die jare en verouder grasieus.
Ek voel gelukkig met my voorkoms.
.
Saturday, 11 June 2016
Positiwiteit
Nou hier's die ding — elke keer as ek van hierdie "positiewe" mense êrens raakloop en ek vra, "Hoe gaan dit met jou?", is die eerste woorde wat ek gewoonlik hoor klaagliedere oor die ekonomie en hoe sleg dit met hul gesondheid gaan.
Nou wat het nou eintlik van positiwiteit geword...? Of val "dinge buite jou beheer" nie onder die opskrif van positiwiteit nie? Meeste mense sal sê DIE EKONOMIE is buite hulle beheer en dat dit 'n feit is en daar's niks wat hulle daaromtrent kan doen nie. En ek sê, dis nie DIE EKONOMIE wat belangrik is nie, maar JOU EKONOMIE, want daaraan kan jy beslis iets doen.
Miskien het jy ook al vir ‘n vriend of familielid dieselfde gesê: “Moenie so negatief wees nie, bly net positief en dinge sal sommer beter gaan.”
POSITIWITEITDit is makliker gesê as gedaan - tensy jy WAARLIK die gewoonte kan aanleer om 'positief' te bly. Positiwiteit is nie net 'n "pie-in-the-sky" idee nie - jy moet inniglik GLO, OORTUIG wees, dat die lewe meer positief as negatief is en daarvolgens jou lewe ly.
Van al die dinge wat ons lewens beϊnvloed, is ons OORTUIGINGS-SISTEEM seker die mees belangrikste.
Wat ons glo vorm ons uitkyk en gedrag en houding en as ons ons lewens wil verander en transformeer, kan ons dit nie doen sonder om ons oortuigings-stelsel te verander nie.
As ons waarlik ons lewe wil verander, moet ons leer om ons geloofstelsel te verander. Die goeie nuus is dat dit nie so moeilik is as wat dit klink nie! Vasbeslotenheid, verpligting en dedikasie is al wat dit vat.
Ongelukkig vir meeste van ons, het ons meer self-limitasie-oortuigings as konstruktiewe oortuigings. Ons GLO dat almal se behoeftes voor ons eie moet kom - ons kinders, ons eggenote, ons vriende - en dan is dit goed genoeg dat ons kry wat oor is. Dit is die EEN groot rede hoekom ons voel of ons vassit en asof ons 'n slagoffer van die noodlot is, dat ons nie in beheer van ons eie lewe is nie.
Die oomblik wat ons hierdie self-limiterende oortuigings verruil vir meer positiewe oortuigings, sal ons houding en gedrag outomaties verander om in te pas met ons nuwe oortuigings en nuwe en meer bevrydende moontlikhede in ons lewe aantrek.
Groete
Maree
Tuesday, 7 June 2016
Die Wet van Vergoeding
Vervang alle
minderwaardige gedagtes met meerderwaardige gedagtes
euwel gedagtes met goeie gedagtes
lelike gedagtes met wonderlike gedagtes
angs gedagtes met aangename gedagtes
en jy sal begin om die groei van alle negatiewe en verwarrende toestande van wanklank en disharmonie te oorkom. Met ander woorde, leer om konstruktief te dink van alle mense, alle dinge, alle gebeure en alle omstandighede.
Bekyk alles vanuit 'n ideale standpunt. Soos jy dit bemagtig, sal jy stadigaan jou hele bestaan omskep in iets wonderliks. Hierdie is die wyse waarop jy bestendig en aanhoudend jou voorspoed en groei kan verseker.
Soos jy jouself oplei om geestelik uit te kyk vir die goeie in alles, so sal jy na goed beweeg, en soos jy hoër en groter denkbeelde vorm van alles wat goed is, so sal hierdie elemente begin uiting vind in jou woorde, dade, karakter, persoonlikheid, talente, magte, bekwaamhede en kordaatstukke, d.w.s. alles in jou lewe sal begin verbeter as gevolg van jou verbeterde denkwyse.
Hierdie proses bedoel egter nie dat jy al die verkeerde dinge in die lewe moet ignoreer nie; eerder net dat jy deur dit en verby dit moet dink aan die verborge goeie dinge en die prinsiep binne-in wat allewig soek na groter en voller vervulling.
Jy sal dus ophou om te veroordeel en te kritiseer - in stede sal jy streef na die beste in jouself en andere en begin ontdek en ontwikkel die oneindige moontlikhede al om jou.
.
Friday, 3 June 2016
Dankverklaring 3 - Dankbaar vir my familie
Ek is dankbaar vir my wonderlike familie; vir 'n wederhelf wat my lief het en vir wonderlike kinders.
::
Tuesday, 31 May 2016
Die Wet van Voorsiening
Het jy al ooit deelgeneem aan 'n resies, of vir 'n uitgestrekte periode voluit gewerk of 'n lang distansie geswem? Onthou jy hoe, kort na jy begin het, jy moeg begin voel het? Onthou jy hoe, voordat jy 'n lang distansie afgelê het, jy gedink het jy het jou uiteinde bereik? Maar onthou jy ook hoe, toe jy aangehou het, jy weer krag gekry het, jou moegheid verdwyn het, jou spiere geklop het met energie en jy letterlik 'n stormaanval van spoed en uithoudingsvermoë beleef het? .
Binne in elke mens is magtige reserwes energie waarvan die normale individu nie bewus is nie. Meeste mense is soos die man wat sy motor in eerste rat bestuur, onbewus daarvan dat hy na 'n volgende rat kan verskuif en nie net alleenlik sy spoed kan vermeerder nie, maar ook meer krag kan bespaar.
Die Wet van die Heelal is Die Wet van Toevoer (voorsiening). Die natuur voorsien mildelik. Daar is oorvloed vir almal. Maar net soos jy moes uithou en volhou om weer krag te kry, so moet jy streef na vervulling van oorvloed vanaf die natuur.
Die wêreld behoort aan jou. Dit is jou eiendom. Dit voorsien nie alleenlik jou lewe nie, maar voorsien alles wat jy mag begeer. Maar jy moet aandring op hierdie dinge. Jy moet niks vrees nie, vir niks stop nie. Jy moet oorheers, nie ineenkrimp nie. Jy moet Die Wet van Toevoer toepas.
"Kyk hoe groei die blomme!" Die blomme, die voëls, alle kreasie, is alewig aktief. Die blomme en bome in hulle groei, die voëls en wilde diere in hul nesmaak en soektog vir kos, alewig besig maar nooit bekommerd nie. Jou geloof weet jy benodig hierdie dinge en alles sal voorsien word.
As almal sal ooreenkom om op te hou bekommer - om vlytig te wees, maar nooit angstig oor die uitslag nie - sal dit die begin van 'n nuwe era wees in menslike vooruitgang, 'n tydperk van bevryding en verlossing van gebondenheid.
Waarom is dit dan dat soveel miljoene mense deur die lewe gaan in armoede en ellende, siekte en wanhoop? Hoekom? Hoofsaaklik omdat hulle 'n realiteit maak van armoede deur die vrees daarvan. Hulle visualiseer armoede, ellende en siekte en gevolglik bring hulle dit tot verwerkliking. En tweedens kan hulle nie Die Wet van Toevoer toepas nie vir dieselfde rede dat miljoene nie algebra kan doen nie - die antwoord is eenvoudig, maar hulle is nooit gewys hoé nie. Hulle verstaan nie die Wet nie. Die mag word in hande gesit wat so besig is met ander dinge dat hulle nie tyd het om dit aan te gryp nie.
Die kern van die Wet is dat jy moet oorvloed dink, jy moet oorvloed sien, jy moet oorvloed voel, jy moet oorvloed glo. Moet gladnie aan beperking dink nie. Daar is geen wettige of regmatige begeerte van jou waarvoor, sover dit jou gedagtes aangaan, daar nie oorvloedige vervulling is nie.
En as jy dit in jou gedagtes kan visualiseer, kan jy dit 'n realiteit maak in jou daaglikse lewe.
- Maree
.
Friday, 27 May 2016
Gee jou drome vlerke!
Die lewe kan maar saai wees as jy nie gereeld vir jouself doelwitte stel nie. ’n Droom, maak nie saak hoe klein of groot nie, gee jou daardie ekstra motivering om ’n dag van roetine en ander verantwoordelikhede aan te pak. Jy weet wat ookal in die dag vir jou voorlê, sal jou nader aan jou eintlike ideale bring. Raak dus opgewonde oor die moontlikhede in die lewe en maak gereed om groot te dink en selfs nog groter te droom!
Maar sommige mense onderdruk hul drome al so lank dat hulle glad nie meer droom nie. Ander mense bestee weer so baie tyd aan hul dagdrome dat hul drome juis net dit bly: blote dagdromery. Slegs mense wat tot aksie oorgaan, het die vermoë om hul drome in realiteit te omskep.
En met aksie bedoel ek, maak tyd om uit te vind WAT jou droom is. Sit en skryf daaroor. Verander elke detail totdat dit vir jou perfek is. Probeer verskillende scenario’s en toets watter aspekte van jou drome jou die meeste opgewonde maak. Die drome waaroor jy passievol is, is meer geneig om ’n werklikheid te word.
Die volgende stap is om jou droom te beplan. Maak ’n lys van aksies wat maklik bereikbaar en doenbaar is. Maak dan daardie eerste oproep, registreer vir die kursus wat jy al so lank uitstel, of kontak ’n agent oor die moontlikheid van ’n nuwe werk.
As jy groot dinge wil bereik, moet jy besef elke dag is van belang. Doen dus elke dag iets wat jou nader aan jou droom sal bring. Só sal jy stadig maar seker al hoe nader aan jou doelwit en groot droom beweeg.
.
Monday, 23 May 2016
7 Stappe om Positief te dink
Het jy al moedeloos gevoel en lus gehad om tou op te gooi? Dan kom iemand by jou en sê: “Jy moet net positief wees.” Ja, die meeste van ons het al so ‘n boodskap van iemand gekry.
Miskien het jy ook al vir ‘n vriend of familielid dieselfde gesê: “Moenie so negatief wees nie, bly net positief en dinge sal sommer beter gaan.”
7 Stappe om Positief te dink
Ons kan ons sekerlik hiermee vereenselwig: dink positief!! Maar nou sal jy saamstem dis somtyds ‘n cliché wat ‘n mens gebruik sonder om na te dink oor hoe doen jy dit nou eintlik. Hoe moet ‘n mens nou maak om positief te dink? Hier volg sewe stappe vir ‘n positiewe uitkyk:
1. Leef dankbaarheid elke oomblik: Leer om elke oomblik te waardeer vir wat dit is. Byvoorbeeld jy gaan strand toe om ‘n heerlike dag van sonskyn, blou see, sambrele en roomys te geniet. Daar aangekom, begin die wind opkom en reën sif neer. Plaas van ongelukkig te voel, geniet eerder oomblik. Geniet die wind, sing in die reën, lag vir almal wat skarrel om ‘n skuiling te vind. Leef die intensiteit van die oomblik. Nog ‘n voorbeeld: jy ry deur die Karoo en kry ‘n papwiel. Eerder om dikbek te wees oor die ongerief wat jou tref, klim uit en gaan sit langs die pad. Luister na die groot stilte van die Karoo en trek jou vingers deur die warm sand. Wees bly jy vir so ‘n besondere oomblik wat jy in die Karoo ervaar. Ek dink hier onwillekeurig aan die woorde van Henri Matisse: “Daar is altyd blomme vir diegene wat dit graag wil sien.”
2. Leef met humor: Jy moet elke dag kan lag. Lag is helend. Lag maak gesond. Leer om humor in situasies in te sien. Oefen om iets komies te sê. Vind iets snaaks in ‘n spanningvolle moment en sê dit vir die mense rondom jou. Humor vereis kreatiwiteit. Dit maak jou denke oop. Soek humor in iets en dit dwing jou om anders te dink. Dit stimuleer jou brein, dit gee lewe.
3. Leef jou droom voluit: Instede daarvan om te kla oor wat gebeur het, skep vir jou vorentoe-kyk denke. Moenie vaskyk oor die onreg teenoor jou gedoen nie, maar fokus op jou toekoms. “Dit neem slegs een positiewe gedagte om ‘n kans te kry om te oorleef en te groei, om ‘n hele krygsmag van negatiewe gedagtes te oorrompel.” (Robert H. Schuller). Moenie neul oor verspilte kanse nie, maar ywer aan geleenthede wat nou rondom jou is. Werk onverpoosd en kreatief aan jou drome en leef jou lewe met passie.
4. Kry jou plek agtermekaar en netjies: Kry jou huis, lessenaar, leefomgewing, en jou werksruimte georden en sorteer alles uit. Wanneer dinge op hul plek is, dis netjies en jou ruimte is sistematies en goed gerangskik, voel jy sommer beter. Dit skep ‘n atmosfeer en energie om daadwerklik iets aan jou probleme te doen en om nuwe geleenthede beter te benut.
5. Omring jouself met positiewe mense: Positiewe mense stimuleer jou tot positiewe denke, terwyl die negatiwiteit van mense afbrekend op jou gestel inwerk. Wanneer jy met mense praat en handel, moenie op swartgallige en negatiewe aspekte fokus nie. Waag eerder met humor en positiwiteit en jy sal sien hoe jy die regte tipe mense nader aan jou trek.
6. Vergeet vrees, voluit vorentoe: Vrees vir allerhande dinge maak jou depressief, gespanne, bang en negatief. Dit kan vrees wees vir finansiële probleme, ‘n knorrige baas, ‘n slegte situasie of ‘n oorlading van werk. Maar weier om te fokus op vrees. Analiseer die vrees, deurdink oplossings en doen aksiestappe om die probleem te hanteer. Konsentreer dan met alles wat jy het op jou doelwitte en die pad waarlangs jy vorentoe stap. Skuif twyfel en vrees gedagtes doelbewus uit, en gee al jou energie en denke vir jou drome. Neem een dag op ‘n keer, en hanteer daardie dag voluit en positief. Swami Vivekananda het gesê: “Wanneer jy dink oor rampspoed, dan sal jy dit kry. Broei oor die dood en jy verhaas jou afsterwe. Dink positief en meesterlik met vertroue en geloof, en die lewe word meer beskut, voller met aksie, ryker in prestasie en ondervinding.”
7. Leef met geloof: Jy het hierdie een lewe.
Glo in jouself en waag met alles wat jy het om voluit te lewe.
Glo dat jy suksesvol sal wees.
Glo dat jy jou probleme en struikelblokke in geleenthede sal omskep.
Aanvaar die uitdagings van die lewe en bou jou toekoms. Om te glo in jouself is om ‘n werklikheid te skep waarin jy met selfvertroue en positiwiteit kan funksioneer. En jy kan maar glo in jouself, want jy is mens geskape na die beeld van God. Iemand het eenkeer gesê: “Wanneer die son opkom, kom dit op vir iedereen.”
Ja, die son kom elke oggend ook vir jou op, sodat jy met positiwiteit en vreugde kan leef en werk.
Groete,
MAREE
.
Thursday, 19 May 2016
Waar kom jou hulp vandaan?
Sielkundige hulp
“Selfhelp is ’n populêre sindroom eie aan ons tydsgees van kitsoplossings en gemak. Daar is wel tye wanneer jy jouself kán help. Soos wanneer jou kar se wiel pap is. Maar as jou psige se wiele afblaas, is dit beter om ’n sielkundige te raadpleeg.” Só glo André Grundling, sielkundige met ’n privaatpraktyk in Uitenhage.
“Die mens is ’n komplekse wese. Die buiteblik van ’n professionele, neutrale persoon help jou om beter perspektief te kry oor wat jou pla. Boeke en tydksrifte kan wel troos, maar dis soos ’n pleister op die wond. Selfhelpboeke vereenvoudig probleme en bied onrealistiese kitsoplossings. Terapie breek deur die komplekse lae van jou psige. Jy het soms nodig om jouself te hoor praat.”
Wanneer gaan klop jy by ’n sielkundige aan? Jou liggaam, emosie en denke stuur dikwels boodskappe in die vorm van simptome: ’n gevoel dat jou lewe betekenis verloor het of iets meer fisies soos ’n angsaanval. Dit tas jou menswees aan en skielik voel Dr Phil vreeslik ver weg.
Wat jy nodig het voor jy ’n sielkundige besoek is waagmoed, eerlikheid, geduld en ’n bereidwilligheid om te verander. Sáám ontgin ons dan die probleem. Daarna is dit ’n stap vir stap proses. Eers herken jy jou probleem, dan erken jy jou probleem en dan takel jy hom. Hoewel ’n probleem soms nie opgelos kan word nie, kan dit wel beter bestuur word.
Terapie ’n veilige hawe waarbinne elke mens groei en ontwikkel. Daar’s niks vreemd of mal daaraan nie. Dis ook gemik op lewenskwaliteit en persoonlike verryking. Sokrates het immers nie verniet gesê die lewe wat nie ondersoek word nie is nie die moeite werd om geleef te word nie!
Selfhelp
Om jouself te help is bemagtiging op sy beste, só glo ek. As jy op ander staatmaak om jou probleme op te los, raak jy afhanklik. Jy moet leer om keuses te maak en besluite te neem oor jou eie lewe. Deur die proses van selfhelp leer jy om jouself te vertrou en dit beteken groter eiewaarde en selfvertroue. Is dit nie iets om na te streef nie?
Elke persoon kán homself help. Wees eerlik met jouself. Soms verkry ons onbewustelik voordeel uit ’n probleem en dis wat maak dat probleme voortduur. Vra jouself: ‘Hoe graag wil ek hierdie probleem oplos?’ en ‘Wat kry ek uit die probleem?’” As jy byvoorbeeld nooit nee sê nie, mag dit onderliggend wees tot die gevoel dat jy spesiaal is vir iemand of daardeur voel mense het jou nodig.
Hoekom het so party mense drama in hulle lewe en ander nie? Ons gedagtes beïnvloed elke deel van ons lewe. Wees bewus van gedagtes in jou kop en die woorde wat jy praat. Dít bepaal jou realiteit.
Die selfhelpproses behels die neerskryf van gedagtes. Wanneer jy jou gedagtes in swart en wit voor jou sien, help dit om die probleem duideliker te sien. Herskryf jou gedagtes positief. Werk met jou nuwe gedagtes en onthou verandering neem tyd.
Henry Ford het gesê het: “Of jy dink jy kan of jy kan nie, jy is reg.”
Dis só waar. Besluit self, hoe jy na die lewe wil kyk.
"Ek moet bewus wees van slegte dinge..."
Baie mense glo, "Ek moet bewus wees, en waak teen, slegte dinge en ek moet uitkyk vir slegte dinge en myself net na goeie dinge lei."
Jy kannie albei terselfdertyd doen nie. Jy kannie op die uitkyk wees vir slegte dinge en dan probeer toelaat vir net goeie dinge nie. Dit is vibrerend onmoontlik...
.
Subscribe to:
Posts (Atom)


























