Showing posts with label gedagtes. Show all posts
Showing posts with label gedagtes. Show all posts

Thursday, 23 June 2016

Jy is 'n Skepper; Jy Skep Met Jou Gedagtes



Meesal skep jy outomaties want jy ontvang waaroor jy dink, of jy dit nou wil hê of nie, maar jy weet deur hoe jy voel of dít wat jy ontvang (skep) is wat jy wil hê. (Waar is jou aandag gefokus?) 

Jy is 'n Fisiese Verlenging van Dít Wat Nie-Fisies is
Alles-Wat-Is, of die Heelal, is nie klaar en wag vir jou om op te vang nie. Jy is die voorbeeld van Gedagte wat meer nastreef : meer van alles wat goed voel meer van dít wat nuut en glorieryk is. (Jy bring, in wese, hemel na aarde.)


Die Grondstuk van Jou Lewe is Vryheid; Die Doel van Jou Lewe is Vreugde
Jy kan vrylik kies om nuwe paaie van vreugde te ontdek. In vreugde sal jy groei; en in jou groei sal jy bytel tot Alles-Wat-Is. (Ewenwel is jy ook vry om gebondenheid of pyn te kies... maar enige iets wat enigeen kies is omdat hulle glo dat dit hulle beter sal laat voel.)
  
Enige Iets Wat Jy Jou Kan Voorstel is Joune om te Doen of te Besit
Sodra jy jouself vra hoekom jy dit wil hê, word die kern van jou begeerte ge-aktiveer. Hoe sterker jou positiewe gevoelens hoe vinniger ontvang jy dit. (Dit is ewe maklik om 'n kasteel to skep as is 'n knoop.)
  
Die Heelal Het Jou Lief; Want Dit ken jou Diepste Begeertes
Jy het na hierdie aarde gekom met groot en wonderlike voornemes en lei jou gedurig op jou gekose paadjie. Wanneer jy goed voel dan laat jy meer in van dít wat jy jou voorgeneem het. (Jy verpersoonlik inspirasie en lewenskrag.)

Ontspan Tot in Jou Natuurlike Welwillendheid. Alles is Volkome in Ewewig. (Regtig, dit is!)
Die kern van alles wat jy waardeer vloei gedurig tot in jou realiteit. Soos jy meer vind om te waardeer, sal jou toestand van waardering meer kanale skep om voor dankbaar te voel. (Terwyl jy dink, vibreer jy. Terwyl jy vibreer, skep jy.)

Jy is 'n Skepper van Gedagtebane Omtrent Jou Eie Pad van Vreugde
Niemand kan keer waarheen jy jou gedagtes lei nie. Daar is geen einde aan die vreugdevolle reise wat jy kan ondervind nie. Op die paadjie na jou geluk sal jy alles wat jy wil doen, wees of verlang, ontvang. (Deur ander hul eie reistog toe te laat, laat jy joune toe.)

Aksies Wat Jy Neem en Geld Wat Jy Verruil is By-produkte van Jou Fokus Op Vreugde
Op jou bewustelike genotvolle reis sal jou aksies geÏŠnspireerd wees, jou hulpbronne sal oorvloedig wees en jy sal weet deur hoe jy voel dat jy jou motief vir die lewe vervuldig.
(Meeste het dit agterstevoor, so hulle voel vreugde in hul aksies of besittings.)

Jy Kan Van Jou Liggaam Afskeid Neem Sonder Siekte of Pyn
Dit is nie nodig dat jy siekte of pyn aantrek as 'n verskoning om hierdie lewe te verlaat nie. Jou natuurlike keuse van om hierheen te kom, hier te bly of om te vertrek is een van gesondheid en welwillendheid. (Jy is vry om anders te besluit.)

Jy Kan Nie Sterf Nie; Jy is Ewige Lewe
Met genade kan jy kies om te ontspan en om saggies terug te gly in jou nie-fisiese staat van pure, positiewe Energie. Jou natuurlike staat is een van Ewigheid. (Geniet alles - verhelder! Jy kan dit nie verkeerd kry nie.)

Tuesday, 7 June 2016

Die Wet van Vergoeding



Vervang alle

minderwaardige gedagtes met meerderwaardige gedagtes
euwel gedagtes met goeie gedagtes
lelike gedagtes met wonderlike gedagtes
angs gedagtes met aangename gedagtes

en jy sal begin om die groei van alle negatiewe en verwarrende toestande van wanklank en disharmonie te oorkom.  Met ander woorde, leer om konstruktief te dink van alle mense, alle dinge, alle gebeure en alle omstandighede.

Bekyk alles vanuit 'n ideale standpunt. Soos jy dit bemagtig, sal jy stadigaan jou hele bestaan omskep in iets wonderliks. Hierdie is die wyse waarop jy bestendig en aanhoudend jou voorspoed en groei  kan verseker.

Soos jy jouself oplei om geestelik uit te kyk vir die goeie in alles, so sal jy na goed beweeg, en soos jy hoër en groter denkbeelde vorm van alles wat goed is, so sal hierdie elemente begin uiting vind in jou woorde, dade, karakter, persoonlikheid, talente, magte, bekwaamhede en kordaatstukke, d.w.s. alles in jou lewe sal begin verbeter as gevolg van jou verbeterde denkwyse.

Hierdie proses bedoel egter nie dat jy al die verkeerde dinge in die lewe moet ignoreer nie; eerder net dat jy deur dit en verby dit moet dink aan die verborge goeie dinge en die prinsiep binne-in wat allewig soek na groter en voller vervulling. 

Jy sal dus  ophou om te veroordeel en te kritiseer - in stede sal jy streef na die beste in jouself en andere en begin ontdek en ontwikkel die oneindige moontlikhede al om jou.

.

Friday, 20 November 2015

Kaalvoet in die reën


Na die eerste heerlike reën van die seisoen, is dit vandag 'n pragtige blou, koel somersdag en my gedagtes gaan terug na my jong dae in die laat 1950's toe ons as kinders na elke reënbui buite in die waterpoele gaan speel het, kaalvoet en sonder sorge. Uitbundig gelag en mekaar met die water bespat en dit het nie saak gemaak dat ons vol modder geword het of dat ons klere besmeer was nie (daar was mos ordentlike "Surf" in daardie dae) - en in daardie dae is ons gedurig aangemoedig om buite te gaan speel.

En eintlik het ons nie 'n ander keuse gehad nie - geen TV, geen rekenaars en geen selfone of X-box nie, ons moes ons self vermaak. Hop-skotch, kennetjie, leap frog, draadkarretjies wat ons self gemaak het en rond gestoot het op "dorpstrate" wat ons in die sand gemaak het, vlieërs gevlieg, bome geklim en gespeel ons is Tarzan, veldblommetjies bymekaar gemaak om huistoe te vat vir Ma is maar 'n paar van die goed waarmee ons onsself besig gehou het.

En dis hoe ek vroeg vanoggend gevoel het, lus om kaalvoet in die poele water te plas. Of 'n vlieër in die sterk briesie te vlieg. Ek het my pantoffels in die huis gelos en kaalvoet oor die gras geloop na die reënmeter om te sien hoeveel ons gehad het. Gisteraand se stormagtige 28mm reën het die aarde goed gedoen, en my siel ook. Dis sommer asof al die spinnerakke weg gewas is tesame met die verskriklike hitte wat ons die afgelope weke ondervind het. Die dor aarde verdor sommer jou menswees ook, maak dat jy lus is vir niks. Ek kon aan niks kom nie en was net so verlep soos my Krismisrose. Maar nou staan hulle almal weer regop, verfris na daai hemelse water en

Ek wil dans
kaalvoet in die reën.
wil die druppels tel
een vir een.
Die reuk van grond nat,
water wat teen die ruite spat.
Die weer se gedonder,
God se wonder.
Dan raak dit binne stil,
en laat die prag
die leemte vul.
Weg al die kommer
en seer
dan breek die strale deur.
Aangehuppel
oor die laaste druppel.
Dit lag binne my
skoongewas en vry!
-

 

Wednesday, 10 December 2014

Ek wens jou 'n rooi-tekkie dag!


Ek het 'n regte probleem om tekkies te vind waarvan ek hou met die gevolg dat, wanneer ek wel iets vind, ek sommer ses pare koop in al die kleure! Die probleem is gewoonlik dat óf die sole is te dik wat jou laat voel jy loop op "wedges", óf die tone krul op, óf hulle het liggies wat flits as jy loop óf hulle kom te hoog, tot amper by die enkel, óf hulle is in die helderste kleure van pers en lemmetjiegroen! Ek hou van plein, eenvoudige tekkies, verkieslik wit en nie met "stars and stripes" langs die kante nie.

Die paar wat ek hier bo geskets het is een van my gunsteling pare - eenvoudig, seildoek met veters. Ek het hulle in wit, rooi, donkerblou en swart. En ja, hulle is so skoon soos in die skets, ek haat vuil tekkies!

Variasies van rooi

 • Skarlaken - 'n rooi wat na rooi-oranje neig, en geen blou bevat nie.
 • Vermiljoen - 'n vurige rooi wat na effe meer na rooi-oranje neig as skarlaken, en wat van sinnaber, die kunsmatige rooi kwiksulfide was as pigment gebruik word, voorberei word.
 • Karmosyn - 'n rooi wat geen geel bevat nie, en na rooi-violet neig.
• Venesiaanse Rooi (ook bekend as Indiese Rooi en Indiaanse Rooi) - 'n bruinerige rooi wat van ystersulfied voorberei word.
 • Brandweerwarooi - 'n helderrooi wat gereeld op noodvoertuie gebruik word.

Rooi is darem maar mooi! Dis 'n kleur vol passie, wat liefde aandui en en wanneer jy rooi dra, sprankel jy sommer!










 (foto vanaf 'Beeld')


(Meeste foto's vanaf WikiCommons)

::

Sunday, 9 November 2014

Biltong resep


Biltong is ons eie, 'n eg-Suid-Afrikaanse peuselkos!

Biltong is baie gewild in Suid-Afrika en Namibië onder die Afrikaners, maar ook in lande waar Suid-Afrikaners hervestig het oor die afgelope jare soos Nederland, Engeland, Australië, Nieu-Seeland en in Duitsland.

Biltong word in dieselfde asem as boerewors, potjiekos, droëwors, melktert, koeksisters, afval, boerbeskuit en bobotie genoem as eg-tradisionele Afrikaanse geregte, en dit vorm 'n sosiale band tussen Afrikaners regoor die wêreld. Biltong is opgeneem as 'n verteenwoordigende Suid-Afrikaanse gereg in 'n internasionale resepteboek wat deur die Verenigde Nasies gepubliseer is.

Biltong-resep
25kg vleis van goeie gehalte  Bv. diklies of binneboud
200-400ml heel koljander
500g-1kg sout
12.5ml salpeter
25ml koeksoda
12.5ml peper
asyn
225ml suiker

Sny die vleis met die draad langs in lang stroke, so dik of dun soos jy dit verkies. Onthou hoe minder vet aan die vleis is, hoe langer kan dit gebêre word, omdat vet mettertyd galsterig word. Verhit 'n pannetjie oor matige hitte en rooster die koljander daarin, totdat dit 'n welriekende geur begin afgee. Maal en sif die geskroeide koljander. Meng die koljander, sout, suiker, salpeter, peper en koeksoda en vryf die mengsel met die hand oor elke stuk vleis.

Pak die vleis in lae in 'n houtbalie, erdehouer of plastiekhouer en strooi die orige soutmengsel tussen elke laag. Pak die dik gesnyde stukke onder en die dunner stukke bo-op. Sprinkel 'n bietjie asynbo-oor die vleis en laat dit oornag staan. Biltong met baie vet aan moet langer lê, want dit neem langer om sout te absorbeer. Meng 200ml asyn met elke 2.5 liter water en spoel elke stuk vleis vinnig daarin af voordat dit op 'n koel, droë plek gehang word. Hang die biltonge die eerste dag in die son op en daarna in die koelte, weg van mekaar af. Biltong kan ook binneshuis hang, maar dan moet daar 'n goeie trek wees. 'n Elektriese waaier kan help om die lugvloei te verbeter. Laat die biltonge hang totdat dit so droog is soos verkies.

Saturday, 21 June 2014

Saterdaggedagtes


'n Yskou Saterdagoggend hier in Tarlton (Gauteng, Suid Afrika) en vandag...

wil ek graag 'n mooi gedig of boek lees
wil ek graag 'n mooi prentjie sien
wil ek graag inspirerende musiek luister
wil ek graag iemand merkwaardig ontmoet
wil ek graag 'n paar verstandige woorde sê

en

wil ek graag my motorhuis regpak

::

Tuesday, 17 June 2014

Lied van die natuur

'n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale... 

Om 'n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome. 

:: 

Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak 
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor 
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak 
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Aan die punt van die vallei hoog in die berge 
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk 
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel 
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk 
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido) 

::



 .