Showing posts with label natuur. Show all posts
Showing posts with label natuur. Show all posts

Saturday, 19 September 2015

Groen groei die akkerboom

Die akkerboom voor ons huis is jare der jare gelede deur my Ma geplant. Ek wens sy kon dit nou sien... (miskien kan sy!) Net soos die rose se heel eerste blomme in die nuwe somerseisoen die mooiste is, net so is die éérste groen blare van dié reuse boom. Ek het al verskeie verse oor my boom geskryf, ek het al honderde foto's van my boom geneem. Steeds bly dit nuut, splinternuut en so, so mooi. 'n Erfboom, 'n net buite-my-werfboom. 'n Baie spesiale boom. Drentel ek teen skemer deur die tuin en kyk ek op, kuier my oë oral tussen liggroen en donkergroen, ligbruin en donkerbruin dikker en dunner takke. Dis asof ek wegraak in die wonder daarvan. Kom kyk saam met my: 


 Erkenning

‘n Nuwe dag haal sag asem deur die oop venster
ver bo hang diamante aan ‘n donker doek
en ek hoor die eerste duiweroep
uit die akkerboom hier voor my huis
dis vroeg -
ons tuin, my man en honde slaap nog
maar my hart bokspring jubelbly
oor goeie, gawe nuus so onverwags gekry –

die lewe is so bittermooi vir my
Elizabeth Kendall ©

 Dis somer in Bronkhorstspruit. Om my is die wêreld groen. Die akkerboom het die mooiste groen rok aangetrek. Smiddae nà half vyf kom lê die sonstrale warm teen my boom se growwe takke. Duiwe sit knus en koer tussen die blare. Die klimop rank die voorste muur van ons erf toe, dit rank oor verweerde houtstompe. Dit klim teen die voorkamer se buitemuur op. Dit klou aan die rooi bakstene van die outydse vensterbank vas.  



Akkerboom.

jou takke strek tot wie-weet-waar

en duisend stories lê

in donker skadu’s opgegaar

sou die somer ooit weer kom
sien ek jou guitig in jou groen rok blom

ek hoor alreeds die duiwe sing:
koe-koer-doek 
oor die koelte wat jy bring

jy staan al donkiejare daar,
‘n vashouplek, ‘n steunpilaar,
Ma-se-akkerboom hier voor my huis
by jou is ek vir ewig tuis

Elizabeth Kendall ©


.

Tuesday, 17 June 2014

Lied van die natuur

'n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale... 

Om 'n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome. 

:: 

Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak 
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor 
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak 
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Aan die punt van die vallei hoog in die berge 
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk 
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel 
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk 
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido) 

::



 .