Thursday, 21 July 2016

Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie!


Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie! Het jy geweet jy kan met tee en koffie skilder? Tee (swart) gee 'n lieflike ligte agtergrond vir die skildery en koffie (swart en sterk! Ek gebruik Nescafé kitskoffie) gee die pragtigste ryk en glansende donkerbruin skakerings.

Gebruik 'n goeie gehalte waterverf papier (ek gebruik meesal Bockingford 300gsm, dis dik en frommel nie maklik wanneer dit nat word nie). Maak 'n koppie sterk, swart tee en laat afkoel. Gebruik 'n taamlike groot verfborsel en bedek die hele bladsy met die tee. Sodra dit droog is, kan jy begin met die koffie. Ek skets gewoonlik my prentjie eerste, die tee bedek nie die lyne nie.

Verf dan met jou koffie 'n stuk donkerder agtergrond (jy kan die tee-agtergrond bo links in die skildery sien uitsteek) en verf dan jou skets met die koffie waar jy gewoonlik al die kleure sou sit. Maak seker jou eerste hale is donker genoeg, die koffie hou nie daarvan om weer bo-op geverf te word as dit eers droog is nie.

Eksperimenteer 'n bietjie met die tee en koffie voor jy jou skildery aanpak. Verf koffie op koffie terwyl dit nat is, verf koffie op koffie wanner dit droog is, dan kan jy die verskillende effekte waarneem.
Geniet en wys vir ons wanneer jy klaar is!

 Koffie skets met 'n wit agtergrond op Bockingford 300gsm

::

Sunday, 17 July 2016

Dis Bosveld mooi


W&N waterverf op Bockingford 300gsm en Stabilo FinePoint swart pen - ©Maree Clarkson

Daar waar die Bosveld Loerie
skugter vir my loer -
Sit ek in die skadu
van ’n wilde vyeboom…

’n Mierleeu wag in sy tregter wip…
geduldig op sy prooi -
onverwags, verseker, ongenooi…

DIT IS WONDERLIK !
DIS BOSVELD MOOI …
As die son vassteek
in ’n droë doringboom se mik

’n Ystervak pen vertel ’n storie
van ’n Jakkals se spoor ~
Pynlike onderonsie
in ’n tipiese krygverhoor …

Vlinders oor die gras probeer
vergeefs die stilte breek ~
maar dis ’n geskenk van môre
aan my dankbare siel …

DIT IS WONDERLIK!
DIS BOSVELD MOOI …
As die son vassteek
in ’n droë doringboom se mik

Met ’n vlerk klapgeluid
spring ’n sprinkaan voor my uit -
’n druppel dou
aan ’n spinnerak
die veld
se diamant…

’n Voetpad kronkel skuins na bo,
Waar die Koedoes rustig wei …
ongerepte skoonheid,
vry …

DIT IS WONDERLIK!
DIS BOSVELDMOOI ..
As die son vassteek
in ’n droë doringboom se mik…
~ Uit DOZI se Album “Kruispad”

Wednesday, 13 July 2016

'n Huisie by die see

 
Ek droom al jare van ’n huisie by die see…
My droomhuisie êrens op ’n Suid-Afrikaanse kus….. Gemengde media – Ink, W&N waterverf en Akriel op Arches 300gsm ©Maree Clarkson


Sien SONDAGSIESTA in die groep Afrikaans

Pak op, pak op,
sit jou goedjies op jou kop
Môre gaan ons weg, ver van die weg
Skipskop, Skipskop,
wanneer hou die dinge op
swaarkry lê net voor,
die blou berge oor.
Overberg se mens, is ek gebore.
Op die plek Skipskop, nes my pa en sy pa ook.
Hier deur die duine, loop ons spore
Hier op die beach, hier langs die see is ek getoeë.
Maar wat ken ek anders, as die blou dam se branders
en die wolke en winde wat hier waai
Verkoop jou bootjie, pak op jou goedjies
sê maar so long, Skipskop, Skipskop sê goodbye.
Die linkerhand, of die regterhand
watse kant lê die pad, misverstand
’seblief meneer, ag sê my tog weer
is dít die pad wat ons moet môre vat
’n stukkie lê hier, en ’n stukkie lê daar
die stukkies van my lewe, hulle lê baie deurmekaar
so tel op, tel op vir shorty, en vir pop,
gaan haal vir Apie en hou daai kindjie dop.
Maar wat ken ek anders
as die blou dam se branders
die wolke en die winde wat hier waai
verkoop jou bootjie, pak op jou goedjies,
sê maar so long,
Skipskop, skipskop
sê gooodbye

Saturday, 9 July 2016

'n Afrika collage


BOSVELDDROME
Waar haak-en-steek in louwarm
Bosveldstilte groei
en volstruise agie-grootoog
verby ons venster loop
daar trek my hart ’n punt
Ek wil weer tarentale hoor
patrys en vink
wat stukke sonlig soggens drink
en by die groot maroelaboom
of langs ’n kanniedood
wil ek die stofpad ruik
ek wil die appelbaar hoor praat
die huilboerboon se skadus
oor my skouers vou
as ek verlang na jou
en saans onder ’n sterrekombers
wil ek lê-luister na jou warm woorde
jou liefhêlied-akkoorde
ek wil dit vasbind aan my lyf
en jubelsange daaroor skryf
- Elizabeth Kendall©

Tuesday, 5 July 2016

Afrika Wildehond


Waterverf op Ashrad 200gsm – 8.5″ × 12″ - ©Maree Clarkson

Die wildehond (Lycaon pictus) is ’n karnivoor en soogdier uit die familie Canidae. Wildehonde kom slegs in Afrika voor, veral in struikvelde en ander lig beboste gebiede. Dit is die enigste spesie in die genus Lycaon. ’n Volwasse wildehond het ’n gemiddelde massa van 25 kg en ’n hoogte van tussen 60 en 75 cm. Wildehonde jag normaalweg in troppe: die prooi word gejag en in die hardloop verskeur.
.
Die wyfie is telkens vir twee maande dragtig en skenk dan gewoonlik in die winter geboorte aan twee tot ses kleintjies. ’n Wildehond het ’n moontlike lewensduur van tien jaar.