Haai, my naam is Maree en ek woon op 'n 8.5ha kleinhoewe, my stukkie Afrika-aarde in Tarlton, Suid Afrika, saam met my wederhelf, verskeie geveerde vriende en Jacko, my Foxterrier x wat nie weet hy's 'n hond nie.
Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.
Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!
Deesdae dink ek baie aan luister. Hoe sleg ons dit doen, hoe alles meer lawaaierig word, hoe ons verby mekaar praat, selfs met onsself. Ons het vergeet hoe om alleen te wees met stilte.
Saturday, 31 December 2016
Wense vir vandag en 2017
Vandag, op hierdie laaste dag van 2016
… wil ek graag ’n mooi gedig lees.
Wil ek graag ’n mooi prentjie sien.
Wil ek graag inspirerende musiek luister.
Wil ek graag iemand merkwaardig ontmoet.
Wil ek graag ’n paar verstandige woorde sê.
My wens vir jou is dat jou 2017 gevul sal wees met LIEFDE, VREUGDE en INSPIRASIE en dat jy elke dag 'n mooi gedig sal lees, 'n mooi prentjie sal sien, na inspirerende musiek sal luister, iemand merkwaardig sal ontmoet en verstandige gedagtes sal hê en mooi woorde sal uitspreek.
Gelukkige Nuwe Jaar!
.