Wednesday, 23 September 2015

Verbaas en gelukkig!


Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is... Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.


Jy sou dalk lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou. Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.


Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter. 


Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...



My amper 40-jaar oue perskeboom weier om op te gee - nuwe bloeisels dui op nog baie lewe in hierdie ou dame. Verlede jaar het die regterkantste tak mee gegee onder die gewig van al haar vrugte en dit lyk of sy weer hierdie somer haar bes gaan probeer!

.

Saturday, 19 September 2015

Groen groei die akkerboom

Die akkerboom voor ons huis is jare der jare gelede deur my Ma geplant. Ek wens sy kon dit nou sien... (miskien kan sy!) Net soos die rose se heel eerste blomme in die nuwe somerseisoen die mooiste is, net so is die éérste groen blare van dié reuse boom. Ek het al verskeie verse oor my boom geskryf, ek het al honderde foto's van my boom geneem. Steeds bly dit nuut, splinternuut en so, so mooi. 'n Erfboom, 'n net buite-my-werfboom. 'n Baie spesiale boom. Drentel ek teen skemer deur die tuin en kyk ek op, kuier my oë oral tussen liggroen en donkergroen, ligbruin en donkerbruin dikker en dunner takke. Dis asof ek wegraak in die wonder daarvan. Kom kyk saam met my: 


 Erkenning

‘n Nuwe dag haal sag asem deur die oop venster
ver bo hang diamante aan ‘n donker doek
en ek hoor die eerste duiweroep
uit die akkerboom hier voor my huis
dis vroeg -
ons tuin, my man en honde slaap nog
maar my hart bokspring jubelbly
oor goeie, gawe nuus so onverwags gekry –

die lewe is so bittermooi vir my
Elizabeth Kendall ©

 Dis somer in Bronkhorstspruit. Om my is die wêreld groen. Die akkerboom het die mooiste groen rok aangetrek. Smiddae nà half vyf kom lê die sonstrale warm teen my boom se growwe takke. Duiwe sit knus en koer tussen die blare. Die klimop rank die voorste muur van ons erf toe, dit rank oor verweerde houtstompe. Dit klim teen die voorkamer se buitemuur op. Dit klou aan die rooi bakstene van die outydse vensterbank vas.  



Akkerboom.

jou takke strek tot wie-weet-waar

en duisend stories lê

in donker skadu’s opgegaar

sou die somer ooit weer kom
sien ek jou guitig in jou groen rok blom

ek hoor alreeds die duiwe sing:
koe-koer-doek 
oor die koelte wat jy bring

jy staan al donkiejare daar,
‘n vashouplek, ‘n steunpilaar,
Ma-se-akkerboom hier voor my huis
by jou is ek vir ewig tuis

Elizabeth Kendall ©


.

Friday, 18 September 2015

Somergedagtes



Aan die einde van Augustus het my perskeboom geweet ... sy het geweet die somer is om die draai en vir weke al was sy besig om haar somerdrag reg te kry - klein groen blaartjies en die mooste pienk bloeisels, takke wat sterk in gesond na die hemel strek. 

Somer is ‘n uitgeswelde, ryp, oophand seisoen. So weldadig. Dae soos heuning, het Johannes Kerkorrel se streelstem gesing. Somer is 'n ruising van lower, somer is wind, somer is ruising van lower in die wind en die wind is mooi en groot en grasieus en die wind beweeg soos ‘n vrou. So dig Sheila Cussons. En is somer nie ‘n gedig nie! ‘n Betowerende spel van lig in lower, van smake en sensasies, van lang dae en loom nagte. Sensueel. Wild. Warm. En heeltemal onontbeerlik vir volledig menswees! 

ek skep stukke son in my halwe
hande en sprinkel strooi die blokkies
warm oor my lyf oor my bene my
arms draai bollings silwer strale
van die groot geel tol in die hemel
en ek weef vir my 'n somer
sykombers

.

Aanvaar dit


:: 

Partymaal gebeur daar dinge in mens se lewe wat jou heeltemal deurmekaar krap en jou laat besef dat vrede baie broos is en sommer net so omver gegooi kan word. Jy wil met alle mag terug beur na hoe dit was voordat jou dag omgekrap is en klou hardnekkig aan die gedagte dat dit wel sal gebeur. 

My pa het altyd gesê, as iets jou pla, slaap daaroor, en dis presies wat ek gedoen het. Vanoggend toe ek wakker word toe besef ek dat dit partymaal nodig is om die lewe om jou te aanvaar net soos dit is en die beste van 'n slegte saak te maak. Mag jou dag vreedsaam en gelukkig wees. 

::

Sunday, 13 September 2015

Kweek 'n Laventelbos


Elke tuin behoort ’n laventelbos te hê – dit is maklik om te kweek, het min water nodig en is ongelooflik bevredigend. En daar is soveel waarvoor mens dit kan gebruik, soos byvoorbeeld :
  • Hang bosse laventel op om droog te word in ’n donker, droë plek. Wanneer dit droog is, kan jy dit in potpourri gebruik, in die vuurmaakplek gooi vir ’n heerlike reuk of sakkies van die gedroogde blomme in jou kaste sit om motte uit te hou.
  • Laventel is ’n pragtige versiering vir koeke en nageregte, maar jy kan ook gedroogte laventelblomblaartjies by jou koekmengsel voeg. Die geur van laventel smelt baie lekker saam met sjokolade.
  • Sukkel jy om te slaap? Sit ’n vaas met laventel in jou slaapkamer. Die geur van laventel het ’n kalmerende en ontspannende uitwerking.
  •  Geborduurde sakkies met droë laventel en Laventelolie kan ook gebruik word vir vismotplae.
(Foto vanaf Pinterest)

Laventel en Byewaksseep

Hierdie is ‘n klein reseppie, maar jy kan natuurlik die mates vermeerder teen dieselfde verhoudinge soos wat jy nodig het:
  • 114g Gliserien basis-seep
  • 10 Druppels laventel botaniese (essential) olie (LW. Nie geurolie nie)
  • 1 Druppel pers/laventel kleursel
  • 1 Teelepel byewaks
Smelt die gliserien-seep op lae hitte of jy kan dit selfs in die mikrogolf doen. As dit gesmelt is, verwyder dit van die hitte, voeg die byewaks by en roer totdat dit gesmelt is en voeg dan die botaniese olie en kleursel by. Roer deur en gooi in jou gietvorms.



Sarie-tydskrif het selfs 'n Laventel-skons resep :
  • 500 ml koekmeel
  • 15 ml bakpoeier
  • 60 ml ongesoute botter
  • 60 ml suiker
  • 15 ml gekapte laventel
  • 150 ml melk
Voorverhit die oond tot 180 °C. Sif die meel en bakpoeier saam. Vryf die botter in die meel tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die suiker en gekapte laventel by die meelmengsel.

Voeg nou genoeg melk by om ’n stywe deeg te vorm. Druk die deeg plat op ’n meelbestrooide oppervlak en sny die skons uit met ’n koekiedrukker. Plaas die skons op ’n gesmeerde bakplaat en smeer ’n bietjie melk oor elkeen.  Sprinkel met suiker en sit ’n takkie laventel bo-op.

Bak vir 10 tot 12 minute. Sit voor saam met konfyt of roosblaarjellie en geklopte room.


Laventel lyk ook pragtig in potte geplant en verhelder enige hoekie van die tuin, paadjie of die stoep. Dis maklik om steggies te neem van 'n laventelbos - pluk 'n takkie en doop in hormoonpoeier en plant dan in 'n pot gevul met goeie potgrond. Sit dit op 'n plek waar dit 'n paar uur oggendson kry totdat die plantjie mooi pos gevat het voor jy dit in vol son sit.

Laventel se natuurlike omgewing is oop, droë en klipperige aarde. Hulle is waterwys, vaar die beste in die vol sonlig en hou van goed gedreineerde grond. Hoewel Laventel (soos alle plante) sal baat by goeie kompos, hoef die grond nie té ryk te wees nie. Laventel hou glad nie van ‘n nat, bedompige klimaat nie en is geneig om gou vrot te word. Sommige soorte groei redelik uitspattig en moet in toom gehou word as dit in ‘n meer formele omgewing geplant is. Andersyds is dit ‘n plant wat min sorg verg. Die plante kan in die lente en herfs teruggesnoei word as dit stokkerig raak of in ‘n heiningvorm gesnoei moet word. Laventel kan ligte ryp hanteer en kan matige droogte hanteer. As ‘n gemiddelde reël is die gryser soorte meer gehard as die groener variëteite.

.

Saturday, 5 September 2015

Eenvoudig en moeite vry


Tuine wat voortdurend aandag verg, word deesdae al skaarser namate mense se vrye tyd kosbaarder word. ’n Groot grasperk, oordadige blombeddings en ’n netjiese, formele uitleg verg nougesette aandag aan detail. Daar is rande om te sny, heinings om te knip, blare om te hark, dooie blomme om uit te breek, struike om te snoei, jaarplante om te saai en uit te plant, bolle om te lig en rose wat bespuit en gesnoei moet word. Ek het my grasperk gedeelte met die helfte verminder, paadjies en nog beddings aangebring  en ook van die meeste uitheemse en moeite-vergende blomme en plante ontslae geraak. Om elke jaar bolle te lig en in die lente weer te plant, is nie vir my beskore nie! Net so om plante aan te hou wat elke winter met "frost covers" toe gemaak moet word.


Ek het deesdae ook nie veel sin daaraan om plante wat gepamperlang moet word, aan te hou nie. Die Pachypodium lameri in die middel van bostaande foto was eers in 'n pot, elke jaar 'n groter pot, wat ek jaar na jaar elke winter en elke lente in en uit gedra het om dit teen die ryp te beskerm, totdat ek eendag genoeg gehad het en hom in 'n vol-son kol in die tuin geplant het. Hy het pragtig gevorder vir 'n paar seisoene totdat een partikulêre ysige winter een te veel was vir hom. Hierdie pragtige plant is vanaf Madagaskar en sal hier in Suid Afrika alleenlik in 'n ryp-vrye tuin aard.


Waterbesparing is ook nog ’n rede om jou tuin so te ontwerp dat dit die minimum onderhoud verg en wat gebruik maak van inheemse plante en materiale en strukture wat die minste moeite vereis. Aalwyne en sekere vetplante is baie geskik vir hierdie doel - verg min water en aandag en beloon mens elke jaar met die pragtigste kleur in die tuin.



Daar is selfs skadu-liewende aalwyne wat uitstekend sal groei in half-skadu, soos die pragtige A. zebrina hierbo. Hulle Koraal-pienk blomme lyk pragtig in die skaduwee.



'n Paar interessante wel-geplaasde strukture, potte en groot klippe sal ook interessantheid aan die tuin verleen sonder veel onderhoud of moeite.




Hierdie groot swamme het vanself langs my tuinpaadjie langs die groot klip opgekom en na 'n paar weke was hulle kliphard, soos pottebakkers-sampioene!

(Wikipedia sê 'n Swam of skimmel is enige lid van 'n groot groep eukariotiese organismes wat mikro-organismes soos gis en muf, asook die bekender sampioene insluit. Swamme vorm die koninkryk Fungi, 'n biologiese koninkryk wat apart is van die plante en diere. Een groot verskil tussen plante en swamme, is dat swamme se selle selwande het wat chitien bevat, terwyl plante se selwande sellulose bevat. Hierdie en ander verskille dui daarop dat swamme 'n aparte groep verwante organismes is, die sogenaamde Eumycota of "ware swamme"; 'n groep wat 'n gemeenskaplike voorouer deel. Swamme word dwarsdeur die wêreld aangetref en die meeste is onopvallend vanweë hul klein grootte en strukture, die manier waarop sommige hulself kamoefleer en as simbiote van plante, diere en ander swamme. Hulle kan opvallend word wanneer hulle "vrugte" dra: sogenaamde "sporokarpe", soos sampioene of muf. Swamme vertolk 'n belangrike rol in die ontbinding van organiese stowwe en het fundamentele rolle in die herwinning en verdeling van voedingstowwe in die natuur.)


Hou jou tuin eenvoudig en moeite vry en vol interessanthede en jy sal nooit daardie skuldige gevoel van "O! Ek verwaarloos my tuin!" kry nie!

.

Wednesday, 26 August 2015

Kleur

Kleur maak 'n verskil. Nà 'n asvaal winter word kleur weer van vooraf waardeer. Warm-oranje aalwynblommetjies wat suikerbekkies lok. Donkerpienk, maroon petunias in die pot by die voorste hekkie, 'n welkomgroet aan elke besoeker. 


 Sagte pienk perskebloeisels wat 'n splinternuwe seisoen aankondig. Om te kan kyk en om te kan sien, dit is 'n seën!

Tuesday, 25 August 2015

Vandag is die dag!


Vandag is die dag dat ek kan huppel en spring, sing en hande klap - my jaar-einde boeke is UITEINDELIK op datum! Halleluja! Julle het geen idee hoe ek liasseerwerk haat nie, haat met 'n passie wat oorweldigend op die krop van my maag sit soos 'n maag sweer. En wat lei tot die uitstel van die boeke-doen-ding, is omdat al die liasseerwerk nie op datum is nie.

Ek stel altyd vir myself 'n doel of datum om dit makliker te maak, maar so ver moontlik in die toekoms sodat ek kans het om aan te pas - ek sal dit begin op die 1st van so-en-so maand en dit sal die EERSTE ding wees wat ek doen voordat ek by die komper gaan sit, ens. ens.

Kom dit eerste van daai maand, is dit (gelukkig!) op 'n Saterdag of 'n Sondag - nou ja, dan kan ek mos maar Maandag begin. Maandae is 'n slegte idee - van die personeel daag nie op nie of daar's 'n krisis van een of ander aard, so dis nie my skuld nie, ek sal dit môre doen...

En ons ken almal die gesegde van "moenie afstel vir môre wat jy vandag kan doen nie", en "van uitstel kom afstel". Wel, sover dit liasseerwerk aangaan, is dit die storie van my lewe...

.

Monday, 24 August 2015

'n Vrolike vers


Rooikopvink

Pienkdun is sy voëltjiebene
fyn porselein onder omkrultone
en blommetjies,
blommetjies die hele wêreld vol
pik-pik hy versigtig aan die saad
om krag te kry,
genoeg krag vir vandag
want hy wil sy vlerke sprei
en vlieg

Elizabeth Kendall ©

.

Lag tog 'n bietjie!


Tussen al die gemorspos wat ‘n mens elke dag kry, is daar party kere een wat die moeite werd is.
Ek kry die ander dag een van vriend A.W. en, met apologie aan die oorspronklike skrywer, wil ek hopelik meer as een persoon vandag laat glimlag!

Hier is twintig maniere om ‘n hoë vlak van geestesgesondheid te handhaaf:

Sit oor jou etensuur met n donkerbril op in jou motor en mik met ‘n haardroër na die aankomende verkeer. Kyk of hulle stadiger ry.

Roep jouself oor die interkom sonder om jou stem te vermom.

Elke keer as jou baas jou vra om iets te doen, vra of hy skyfies daarmee saam wil hê.

Vervang die filterkoffie in die koffiepot vir drie weke met ‘decaf.’ Sodra jou kollegas oor hulle kaffeienverslawing is, hervul die pot met espresso.

Begin al jou sinne met in ooreenstemming met die professie.’

Moenie loop nie. Huppel.

Vra vir mense wat hulle geslag is. Lag histeries sodra hulle antwoord.

Sing kliphard saam by opera-uitvoerings.

Span n muskietnet om jou werksarea en speel die hele dag CD’s met tropiese woudgeluide.

Wanneer jy geld by die OTM trek en dit word uitgereik, skree, “Ek het gewen! Ek het gewen!”

Woon n poësie-aand by en vra na elke voordrag waarom die gedigte nie rym nie.

Laat weet jou gasheer vyf dae voor die partytjie dat jy nie meer kom nie, want jy is nie in die regte bui nie.

Sêtydens aandete vir jou kinders dat jy weens ekonomiese redes een van hulle moet laat gaan.”

Lekker dag vir jou!

.

Sunday, 23 August 2015

Lente en Aalwyne

 "Aalwyn" potloodskets en waterverf in my Tuin-joernaal - Maree (Aloe ferox) Bitter Aalwyn 

Die Lente is definitief hier. Die Aalwyne het pragtig geblom hierdie winter, en elke winter stel hulle my nooit teleur nie met hulle pragtige blomme wat hou tot diep in die lente. Hulle is waarlik 'n lewens-redder vir al die voëls na die dorre winter, veral die Swart Suikerbekkie (Black Sunbird), wat vroeg-winter al van die heerlike nektar gebruik maak. Ek het hierdie skets van een van my aalwyne verlede maand in my Tuin-joernaal gedoen nadat ek opgemerk het hoe die bye ook om die blomme saamdrom om te drink. Die plant verskaf die meeste nektar na einde-winter se kant toe.

Vroeg-winter en die aalwyne begin net blom

Middel-winter en almal is in volle blom

Einde-winter en die blomme is vet en vol nektar

Lente en die Aalwyne is nou vol saad, 'n ware bewys dat lente uiteindelik hier is!

::

.

'n Nuwe seisoen

Die eerste perskebloeisels van hierdie lente. - 22 Aug. 2015.
 
"Die wêreld is ‘n ontdekkingsreis en die wêreld agter ‘n kameralens is ‘n psalm, ‘n loflied." My psalms en lofliedere het gelukkig nog nie opgedroog nie, dit sal hopelik nooit. Elke seisoen het mos sy eie mooi. Lente is verruklik. Verruklik is baie mooier as "awesome"! Regtig. Ek weet. Elke nuwe dag het sy eie, warm en besondere kleure. “ Ek loop verkyk my daaraan!” sal die Kapenaars sê.  En dit gebeur dikwels  dat die kleur van elke dag 'n trooskombers is.  Ons kan onsself daarin toevou. Dankie tog dat ons kan sien, kan ruik, kan proe, sommer net kan wees. Dankie dat ons te midde van probleme en swaarkry nog kamera-in-die-hand kan rondloop en elke pasella wat direk uit die hemel kom, kan vaslê, kan deel.  Foto’s vertel mos stories. Foto’s laat mens onthou. Foto’s laat mens dink. Foto’s neem bly ‘n heerlike avontuur! Geniet dit, geniet jou dag!

Saturday, 22 August 2015

Wat ek by my kleinkinders leer


·        Gebruik jou verbeelding !

·        Boomklim en kaalvoet loop is pure pret !

·        Maak jou eie wysies as jy wil sing !

·        Klere hoef nie bymekaar te pas nie !

·        Soentjies en drukkies maak alles beter!

Wednesday, 5 August 2015

Bruin skakerings kraak ondervoet


akkerblare konfetti neer
bruin skakerings kraak ondervoet
hemelhoë takke
gryp vergeefs na somer
wat wegtuimel:
arms strek dan uit
na wye herfskoepel
en gee oor aan winterskoonheid
in gestrooptheid -
wag statig
op klein, varsgroen ogies
wat
van lente gaan sing
- Uysie Alberts ©

.