Sunday, 23 August 2015

'n Nuwe seisoen

Die eerste perskebloeisels van hierdie lente. - 22 Aug. 2015.
 
"Die wêreld is ‘n ontdekkingsreis en die wêreld agter ‘n kameralens is ‘n psalm, ‘n loflied." My psalms en lofliedere het gelukkig nog nie opgedroog nie, dit sal hopelik nooit. Elke seisoen het mos sy eie mooi. Lente is verruklik. Verruklik is baie mooier as "awesome"! Regtig. Ek weet. Elke nuwe dag het sy eie, warm en besondere kleure. “ Ek loop verkyk my daaraan!” sal die Kapenaars sê.  En dit gebeur dikwels  dat die kleur van elke dag 'n trooskombers is.  Ons kan onsself daarin toevou. Dankie tog dat ons kan sien, kan ruik, kan proe, sommer net kan wees. Dankie dat ons te midde van probleme en swaarkry nog kamera-in-die-hand kan rondloop en elke pasella wat direk uit die hemel kom, kan vaslê, kan deel.  Foto’s vertel mos stories. Foto’s laat mens onthou. Foto’s laat mens dink. Foto’s neem bly ‘n heerlike avontuur! Geniet dit, geniet jou dag!