Vandag wil ek jou vertel van die pragtige skryfwerk in 'n groep waaraan ek behoort op
RedBubble.
’n Baie belangrike en interessante aspek van ons groep is ons Afrikaanse skryfwerk kategorie onder
Writing.
Ons groep het waarlik baie talentvolle skrywers en hier kan jy goeie
Afrikaanse skryfwerk in alle genres beleef – ons het iets vir almal.
Ek hou van lees. Ek hou van die gevoel wat die lees van boeke my gee.
Ek hou daarvan om ’n boek wat ek vir die eerste keer in my hande hou,
oop te maak en dan my gesig daarin te laat sak om te ruik hoe dit ruik.
En dan dwaal my gedagtes na die proses agter die boek – die ure wat die
skrywer daaraan spandeer het, die maande en partymaal jare se
naslaanwerk, die interaktiwiteit tussen die skrywer en die uitgewer. En
ek kry ’n gevoel van verwondering en eerbied vir sulke toewyding en
talent…
Ek het baie maal al gewonder, “wat maak ’n goeie skrywer?” Met ’n bietjie naslaanwerk het ek op ’n paar wenke afgekom :
- Lees, lees, lees.
- Skryf enigiets, maar skryf elke dag. As jy ʼn kampioentennisspeler wil wees, oefen jy gereeld. So ook met skryf.
- Skryf is luister en kyk. Hou jou ore en oë oop. Wees nuuskierig.
- Elke
skrywer het ʼn unieke stem. Ontdek jou stem, ontwikkel dit en bly
daarby. As jou stem regtig goed is, sal jy gepubliseer word.
- Herskryf tot sewe maal, indien nodig. Versorg jou skryfwerk tot dit eksie-perfeksie is.
- Hou aan probeer. Moenie dink jy is te jonk of te oud om te skryf nie.
- Almal het tyd om te skryf. Dit neem een minuut om ’n sin te skryf.
- Skryf oor dit wat jy ken, of ervarings wat na genoeg aan jou eie ervarings is.
- Bly getrou aan daardie passie ten spyte van moontlike terugslae.
- HOU NOOIT OP MET SKRYF NIE!
Ek sien op Facebook het die Boekrakkers van die
Lekkerlees Boekrak
almal foto’s van hul werkplekke geplaas. Al wat leef koekeloer nou of
hulle iets op daardie uitstekende skrywer se lessenaar sal kan opmerk
wat, as hulle dit sou nadoen, dit vir hulle net dalkies so ’n bietjie
van daardie glorie sal bring.
Baie groot skrywers poseer agter op hulle boeke in hul studeerkamers
waar die groot meesterstukke gebeur. Jy gryp ’n vergrootglas en kyk of
jy kan sien presies watter naslaanwerke daar op die boekrak agter die
lessenaar is wat jou dalk kan help om ook soos hulle te kan skryf.
Voel jy dat ’n indrukwekkende studeerkamer of die rakke vol goeie
naslaanwerke en die beste tegnologie tot jou beskikking eendag van jou
’n puik skrywer gaan maak?
Hier volg ’n paar voorbeelde van wat jy daar in ons groep kan ervaar :
Skadu by Rina Greeff
Hadeda Ibis by Elizabeth Kendall
’n Nuwe dag
‘n hadida skeur die nag se swart in twee
ver dreun ‘n motor op die teer
en ek sluk warm koffie
uit my boepensbeker
stadig vou die dag sy ligblou lakens oop
die mossies kwetter en vinke fluit
dorpsduiwe koer-koerdoek nog ‘n keer
as Maandagmôre goue sonstrale begin strooi
oor die liggroen van my Ma se akkerboom
en oor ons huis, so lou en loom
- Elizabeth Kendall ©
Electricity Pylon by DebbyTownsend
Die Weerkaatsing
Jy het saam met my ‘n gedagte geword, saam is daar aan ons gevryf en
geverf. Toe Hulle klaar met ons gespeel het, het glas ons geskei.
Ek het jou beny, daar binne die skoon blink glaskas, want niks kon
aan jou raak nie. Somerduiweltjies het nie jou wange drooggebraai nie,
en Winterasems kon nie jou goue hare slierte maak nie. Almal het jou
bewonder, elke Sondag na jou kom staar, want stof het nooit jou oë laat
traan nie.
Die traan was altyd daar, die blink het dit net baie goed weggesteek,
maar in die maan se sagte glimlag het jou blink verdwyn en het ek
vanaand vir die eerste maal die seer gesien…
My seer vee ek met ‘n sakdoek af, lees ek met ‘n sprokie weg, maar
jou silwer traan sal vir altyd jou wit wang versier. Môre sal ek weer
kan glimlag tot dit seer word, maar wie lag as hartseer in jou ingebrand
is?
Waarom maak hulle “altyd” so lank, nou so kort?
Netnou kon jy amper glimlag, want die glas was blink en jy was ek…
… maar hier in die maan se sagte stem hoor ek jou lag met pyn, want
porselein is veel kouer as venyn. Ek beny jou nou deur ander se oë omdat
ek in my hart kon sien hoedat jy vry wil wees. Hulle weet nie hoe graag
‘n harlekyn wil glimlag nie, vrolik wees en vlieg nie.
Dan kan ek asemhaal…
Maar jy…
As jy nie kan lag nie
Kan jy nie lewe nie.
- Joanne Sandoval
Kontrei Kiekies – Oupatjie op die stoep by Rina Greeff
Bosbede
Ek wil so graag vir jou
die môredou se kieliespoor
in ’n web vasvang -
uit my mond se silwer grot
’n skitterdraad spin
wat net vir jou sal blink
en waaraan jou voete
nie sal kleef nie.
Ek wil pangapaadjies kap,
sodat niemand wat onversigtig stap
dalk die fyn spinsel
sal breek of versteur nie.
Ek wil so graag vir jou
die wind
deur watervaltakke se ruis,
knipperlig
en die plonsglimp van vin
vir jou gewyde oë wys.
Ek wil met ’n naaldekokerlyfie
flitsend om jou bene dans
en geel en pers geblaar
jou lyf mirrerank.
Ek wil so graag
die maan se trom
tot by jou vuurtjie bring
en saam met jou
die geheimenis
van verborge lewe
in ’n hol wilger vind -
dit heilig voel klop
teen my bors.
Ek wil so graag jou oë poel
teen die hang van gladmaag rotse
en myself was
in jou klippertjie filterstroom,
sodat ons weer skoon -
in vernuwing gespoel,
die blou van vrede
kan asem.
- vanitastic
Canna indica by Elizabeth Kendall
Winterwoorde
Winter is bruin kannas teen die buitemuur. Winter is woorde in
wasemwolkies. Winter is handskoenhande en warm serpe. Winter lê wit in
die tuin tussen koue klippe en vaal gras.
Winter wag vir niemand nie. Dit kom by die voordeur, die oop vensters
en die sleutelgat ingewaai. Dit kom klim in jou bene, jou stram
vingers, jou kaal ore. Dit kom kielie jou ruggraat, jou nek, jou tone.
Winter kom vat aan ‘n mens se lyf.
Winterkos is warm kos: boontjiesop en murgbene, bekers Milo en
stomende koffie, kerriekos en warm brood, varsgebak met regte botter en
druiwekonfyt, dikgeplak.
Winter is pannekoek met baie kaneelsuiker en saans ‘n slukkie sjerrie, sommernet.
Wintersklere is toemaakklere: wolsag en warm, nog ‘n mou, laag op
laag soos die tydskrifte sê. Winter is ‘n kniekombers van sybokhaar, ‘n
gansdonsduvet oor die bed, ‘n warmwatersak vir koue voete, wonderlike
lugreëling in die voorste kamer.
Winter is omgee, dis uitdeel aan mense wat bewend op straathoeke
staan met honger oë. Dis nog ‘n dik Koöperasiesak-sak in die hond se
hok. Dis ‘n ietsie ekstra vir die getroue ou tuinjong. Dis rondkyk na
nood om jou. Winter is troos in ‘n stukkie brood of ‘n ekstra kombers,
grys soos die winterlug vanself.
Winter is mooi op sy eie manier: kaal silhoeëttakke teen ‘n ysblou
lug, tortelduiwe wat wag dat die ys water moet word in die voëlbak langs
die bamboesgras. Kinders wat hande vashou en touspring, hul serpe
waaiend in die wind. Bruin blare wat stadig grond toe val en doodstil
bly lê. ‘n Gesellige vuur in die kaggel: knetterend, knus.
Maar winter is ook hoop. Wanneer alles morsdood gevries en yskoud om
jou is, kom lente sommer net weer eendag aangejubel met haar vrolike,
helderbont rok. Sy dans oor die bome, die blomme en jou bevrore
menswees. Sy huppel en jubel en verf die dae warmgeel en oranje. En
sommer so, sonder dat jy dit agtergekom het, het winter stil-stil
verdwyn, by die agterdeur uitgesluip en in ‘n ander land gaan nesskrop,
baie ver van hier.
Elizabeth Kendall ©
Kontrei Kiekies – Die Wieleman by Rina Greeff
gisteraand het die wind
gisteraand het die wind bolwang geblaas
met sy vuis teen my venster kom raas
verwoed en verward aan ‘n boom gepluk
en rukkend ‘n paar druppels gesnik
hy het eenkant gaan sit en vir ‘n wyl
om die hoek van my huis begin huil
toe ‘n hopie blare bymekaar gemaak
eindelik in die ritsel aan die slaap geraak
© Jan J van Staden
A door to the past by Rina Greeff
Die lewe gaan aan
Die koue wind huil om die verlate hoeke van die opstal en sny deur
die alleenlyf mensehopie wat hurkend teen sy aanslae skuil. Dit waai
haar hare uit haar gesig en byt aan haar nek en ore, knaag aan die
ontblote, naakte vel waar eens, in vergange passie, sy asem warm was.
Bleekwit hartseertrane yskristal op haar wange en die hande wat warm
aanslae op ‘n lyf kon maak, is in vuisies voor haar mond gedruk. Hulle
smoor die snikke wat wil uitbars. Iewers het die vol rondings van haar
lyf, wat sy sinne so bedwelm het, verander in ‘n brose, beenmaer mens
merk hy op terwyl hy stilstom na haar staar.
Sy lig haar gesig en kyk hom swyend aan. Die blinkbly oë wat hom tot
slaaf kon dwing, is nou dowwe nikssiende spieëls wat die onreg en
hartseer in sy gesig terugkaats. Geskok snak hy na sy asem toe hy in
hulle kyk. Is dit wat van haar geword het? Is dit wat oorgebly het van
die vrou wat hom verafgod het? Die vrou wat jare lank saam met hom
hierdie grond bewerk het?
Dit voel soos gister toe hy haar met trots na sy plasie gebring het.
Vol beloftes van oeste wat gaan wees en vet jare waarin hy vir haar sou
sorg. Haar vrolike lag as sy tussen die lammers is of haar singende stem
wanneer sy besig was, het hom altyd moed laat skep. Nooit het sy gekla
of iets vir haarself gevra. Net altyd aan sy sy gewerk. Saam het hulle
die lug dop gehou vir wolkie wat reën moes bring, saam gejuig die enkele
kere wat dit wel sou kom. Saam gejuig oor die seun in die wiegie en ‘n
paar maande later saam langs sy graf gestaan.
Hoe is dit dan moontlik dat hy nooit agter gekom het hoe sy vrou
onder sy oë wegkwyn nie? Was hy dan werklik so besig om ‘n verlore stryd
te stry dat hy van haar vergeet het? Hy het wel opgemerk dat sy stil
word, dat die musiek verdwyn. Hy het opgemerk dat sy nie meer vrae vra
nie. Heimlik was hy verlig, want nou was dit nie meer nodig om kortaf
antwoorde te blaf nie. Hy kon maar net swyg en treur.
Hoe meer hy dink, hoe duideliker weet hy nou dat die tekens reeds
lankal daar was. Sy vrou wat nooit ‘n rit dorp toe gemis het nie, het
skielik allerhande verskonings gehad hoekom sy nie kon saamgaan nie. Sy
het nie meer gaste oorgenooi nie. Selfs Jan, die plaashulp het nou die
dag gevra hoekom mevrou so alleen bly en met niemand praat nie. Hy het
dit as moegheid voorgehou. Jan se antwoord op sy vraag wat Mevrou dan
doen as hy dorp toe gaan, was nie vir hom vreemd nie. Mevrou sit by die
graffie van die baba Meneer, dan gaan sy huis toe en niemand sien haar
nie.
Terwyl hy na die hopie mens voor hom kyk, voel hy die selfverwyt. Hy
was so vasgevang in sy stom hartseer oor sy kind en die plaas en die
droogte en die gesukkel dat hy nooit sy vrou beskerm het nie. Nooit
gedink het dat sy ook treur nie. Dit was dan sý seun, sý erfgenaam vir
wie hy die plaas opgebou het. Na die kleintjie se dood het hy soos ‘n
outomaat deur sy dagtaak gegaan. Gedoen wat hy moes, maar nie met die
vuur van vroeër nie. Daar was geen sin meer in nie.
Die droogte het die laaste oes tot stof verdor en die diere moes
verkoop word. Hy het nie meer omgegee toe hulle die plaas ook moes
verkoop nie. Net stom gestaan en kyk hoe sogenaamde vriende skynheilig
simpatiseer en dan met winskopie pryse sy besittings as eie opeis. Nadat
die laaste mense vertrek het, het hy na haar kom soek en nou kyk sy
vrou met dooie oë na hom, steek die stil verwyt soos dolke in sy hart.
Dis net hy en sy en die huis op die dorp wat wag.
Stadig staan sy op en sonder om te praat, stap sy by hom verby. Hy
kyk haar agterna toe sy by die graffie stilstaan, sien iets blink en
hoor die knal. Hy sien hoe haar liggaam slap oor die graf val, sien hoe
die rooi bloed die spierwit steen vlek. Dan sak hy inmekaar.
Hartaanval vertel die manne aan mekaar waar hulle by die koöperasie
oor hom praat. Skuldige gewete fluister die vrouens nydig waar hulle by
die tuisnywerheid skinder. Tragiese gebeure sê Mevrou Dominee wyl sy vir
Dominee sy middagtee en ‘n koeksister aangee en hy meerwaardig knik.
Blink Stefaans bly een minuut stil voor hy sy glasie in die kroeg lig en
‘n heildronk drink op die winskopieprys wat hy vir die grond betaal
het. Die lewe gaan aan.
- JuffrouGawie
Serengeti Sunrise by Owed to Nature
Doringboompie
Ons hoor almal oor die nuus van
jou, maar dit dring nie
tot ons vuisvoos verstande
deur nie…
Jy, Willemientjie, roosknoppie,
rooikoppie vermoor, tereggestel
drie jaar oud
Die hartseer stoot in my keel op
saam met die naar van die haat
wat in my opwel, opwel
teen hulle, barbare, moordenaars
van kinders
dan die dankbaarheid, skuldgevoel
dat ons tog weereens gespaar is,
dat dit nie ons fotos in beeld is
nie, dat ons kleinkinders nog
veilig is…
Maar hoe lank, hoe lank Here
gaan ons dit nog gelate aanvaar,
verdra, vuisvoos magteloos en
kragloos?
Ons hoor oor die nuus van
jou, maar ons sug verlig, dankie
tog die nie naby ons nie, ons
ken jou nie, dankie tog……
Daar het n doringboompie by die
pad gestaan,
stammetjie amper middeldeur
wanneer beur ons weer op, wanneer druppel
die gom oor die seer van Willemietjie se
oupa en ouma Here, hoe lank nog,
kragloos?
- Antionette
A lonely fence in Australia by Elizabeth Kendall
Ai tog!
Doringdraad
Maak my kwaad
Die simpel ding
Het losgepring
En ’n onverdiende gat
Uit my nuwe broek se pyp gehak!
Nou strompel ek oor
Nog ’n geploegde voor
En my hart, eens vol moed
Pomp nou net moeë bloed
Want die boer – sonder plan -
Het daar oorkant nóg ’n draad gespan!
© Leoni Venter 13 Oktober 2000
Sintuiglike verlededrome
Die vars gebakte brood
en pangebraaide wors…
borrellende dampe
in my geheue fontein;
Meng dít, met die geur,
vars koffie op die stoof
en Ouma se kombuis
kom na vore.
Vroegoggend geluide
van vrolike voëlgesang
en die hanslam op die werf
Oupa wat wysieloos
loop en fluit – bring opnuut
die onthou in my ore,
herinneringsbeelde
van groen lusernlande;
wit merino’s teen
die berg se hang;
blouselblou hemel
en die rooi sleepwa;
Oupa se growwe hande
omvou my handjies klein;
Die hande van Ouma, so sag
troos die einaplekkies;
koolstoof hitte
teen die winternag se kou;
Dis dié gevoel
wat ek steeds onthou…
Appelkose, perskes,
gemmerbier en romerige melk;
Ouma se melktert op die tafel
en soet patats vanaand…
Smake uit die verlede
toegevou
in my
onthou gedig.
- JuffrouGawie
Ma-wees
Vier kinders is ‘n huisvol. En ‘n hartvol. Mens se hart het vier
kamers. Daar’s oorgenoeg plek vir elkeen. Al is hulle lankal al gespeen.
Hulle klou vas aan jou soos klitsgras.
Of soos die soet reuk van die verbleikblom. Hulle menswees kan nooit
uit jou hartsgedagtes uitgevee word nie. Nie eers deur ‘n wilde orkaan
of ‘n stormsterk tornado nie. Hulle sit. Soos toffie aan ‘n wolkombers.
Binne-in jou hart vir vreugde of vir smart.
Solank as jy lewe sal jy hulle liefhê, meer as woorde. Jou liefde is
om hulle, langs hulle, onder hulle. Jou liefde vir jou kinders is jy. As
jou kind seer het, pyn jy in die oortreffende trap. As jou kind bly is,
verander jy in ‘n sorgelose siel en geheel die lewe is ‘n stuk
saligheid.
Meer as dikwels deel jy jou kinders se doen en late met jou manmaat.
Sy skouers is jou vesting, ‘n sterk bastion teen enige onverwagse
aanslag. Sou stormwinde jou van koers af wou dwing of vrees jou oorval.
Jy spyker jou woordelose kommer in flardes en flenters teen sy omgeehart
se mure vas. Want déél maak einas makliker, sagter, beter. Deel maak
ook vreugdes voller. Saambid is ‘n toemaartroos.
Soggens bid jy jou kinders op koers. Saans druk jy jou gedagtekombers
agter hul rûe vas. Jy is bly as hulle oor jou drumpel trap. Jy jubel as
Skype-beelde mense van vleis en bloed word. Iemand aan wie jy kan vat,
kan vashou, kan bekyk en beluister. Jou selfoon swyg vir ‘n paar dae,
sms’e is nie nodig nie. Jy troos jouself met sagte herinneringe as hulle
weer koers kies na hul eie nes.
Jou lewe word ‘n kuierbymekaar met wisselende stiltes tussen-in. Soms
lang afwesighede, afhangende in watter kontinent ‘n kind hom bevind. Jy
sien jou eie kleuterfoto’s in kleinkinders se gesigte. Jy hoor jou ma
se lag in jou kind se stem.
Jy loop haal jou Pa in die hemel en vertel hom iets moois wat ‘n kind gedoen het,
iets wat jou trots en bly en gelukkig laat voel het. Jou gene vloei in die been van jou gebeente en die vlees van jou vlees.
Snags as wakker om jou skouers kom hang, skryf jy liefhêstories en verse oor nabywees.
Oor
ma-wees en kindwees. Jou kinders kom klim in jou hande. Met sagte
vingers tik jy soet sleutelbordwoorde. Jou liefde vou hulle toe. So lank
as jy lewe. So lank as hulle spore op die aarde trap.
Elizabeth Kendall ©
Windpomp in die Karoo by Maree Clarkson
Windpomp
ek luister elke môre
na jou haai hartklop
wat meer en meer
dorre smeke nog pomp
saans is jy stil en jy staar
so asof jy nog wag,
wag vir die liefde se draai
om deur jou hart te waai
© Jan J van Staden
Langs die Pad…
Twee minute na nou, so kwartvoor more, sien ek hom staan langs die pad.
Stormwinde skeur om die hoeke by die kruispad. Daar waar die
yskristalvingers van vriendelikheid stomend ‘n ewige stryd voer teen die
lekkende vlamme van haat.
Dit is hier waar ek, kort agter hom, dieselfde ure van angs sal moet
uitsweet. Hoekom is dit dan so moeilik? Dit is tog so maklik om van
hier, die regte keuse te maak.
Nee! Hy begin wankelend die warmte in met vlamme van verwarring wat
smeul in sy oë. Hy struikel oor die growwe pad en verdwyn langsaam in
die vuurpylrooi gloed van oneindige vrees.
Hoe kan ‘n soldaat, wat sy lewe vir sy land gegee het, die hel se
vure verdien? Wat verdien ek, wat elke sent uit die hand van armes
geneem het, dan? My bene word weer kleuter, en ek het verleer om ‘n tree
te gee. Ek voel die pyn van onsekerheid toe ek opkyk…
Die twee paaie is nie meer nie, maar twee wonings verruis uit die
onsigbaarheid van onheil. Blougrys mure van ‘n vervalle ou herberg
verdwerg teen die goudrooi glans van ‘n luukse wolkekrabber. Deftige
mense met ‘n gloed in hul oë wink vanuit die asemrowendhoë vensters en
meteens is ek seker dat iemand soos ek, in ‘n plek soos hierdie hoort.
Ek sal nie die lewe verspil met werks-sweet in ‘n vervalle herberg met
arme dromende mense nie.
Met my volgende tree omhels die grondpad my hardhandig en ek hoor
iemand ager my uitroep. Ek beur orent en kruip vorentoe totdat ek die
rooiwarm stoomvingers teen my seer gesig kan voel.
Weer eens ruk die benoude roep my op. ‘n Jong meisie, sowat ‘n minuut
na netnou, staan met haar hande voor haar mond. Sy is duidelik ‘n
gevangene van vrees, maar nie vir haarself nie. Sy beduie iets, iets na
die verlate pad.
Uitasem stoot ek die goue deure oop, maar pyn skiet deur my vingers
soos die handvatsel daarteen brand. Toe gee die deur mee, en ek kom op
die vloer te lande.
‘n Angskreet laat my opkyk, in die oë van Lucifer.
Agter hom, in die poel van vuur, erken ek hom…
…die troepie langs die pad.
- by Joanne Sandoval
Mañana Afrika
‘Manjana’ beteken “chill out, calm down, take a break…” as jy oor die
Karibiese strande lê en uitkyk.
‘Mañana’ is Spaans vir “not today”,
“maybe later”, "until tomorrow…”
In Suid-Afrika sê ons: “We unfortunately do not have a word in our eleven languages that express such urgency…”
Dis een ding waarvan ons baie het in Afrika: tyd. Dis ons voorreg.
Maar ons weet nie hoe om dit reg te gebruik nie. Oor ons vergeet ons is
boorlinge hier, ware Afrikane, nie westerlinge nie. Oor ons vergeet van
ons Afrika-son, en ons Afrika kleure en ons Afrika geure, oor ons
vergeet om stil te staan en dit net in te neem. As ons, met ons wit
gesiggies, soms wonder wat die doel was, dat ons vlugteling-voorvaders
ons hier in ‘n godverlate land kom plant het, onthou dan van mañana.
Een minuut diekant toe en een minuut daaikant toe, is leeftyd.
Mañana-tyd. Dit is die tyd wat jy kan waarneem wat om jou aangaan, kyk
of jy in ander se harte kan insien, of om net bietjie binnekant toe te
kyk. Dis altyd waardevolle tyd, enige plek in Afrika, enige tyd in
Afrika…
Adem die vars seelug se sproei diep in. Proe die somer sweetdruppels
op jou bolip. Voel die Bosveldson se bruin op jou vel. Ruik die
besembossies se veldparfuum. Stap kaalvoet in ons rooi Kal’ari-sand. Sit
net ‘n bietjie langer stil op een plek en hoor die boom-eekhoringkies
se tandjies op krummels knars…
‘n Mañana-oomblik is goud werd.
Die afdak waar die my mansmense werskaf, is fluit-afstand van die
spreekkamer af, net anderkant die groentebeddings. Manlief sweis so nou
en dan, as dit ‘n stil dag is, wanneer ons tuinboukundige sy graaf of
die grassnyer se lem of die sproeierkoppe gebreek het. Of ‘n skuinsplaat
maak dat die Jack Russel en die eende nie onder die hekkie deurkruip
nie. Sulke goed. En manlief het ‘n grinder, waarmee hy liewer
versigtiger moet wees.
Niël het uit sy tienerklere gegroei, en uit sy tekkies uit, en uit sy
krieketkolf, en uit sy fiets gegroei. Manlief en Martin “diens” toe die
fiets, want dan kan Simson, die tuiningenieur, dit maar kry. Nog
splinternuut, die ketting moet vervang word, check die brieke, so aan.
Maar die manne se ratte krap so bietjie,dis warm, almal is nie altyd ewe
geduldig nie, en Manlief weet ek gaan nou-nou weer vir hom wink, oor
die mense al sit en wag.
Terwyl hulle twee stoei om die dinge reg te maak, kom die volgende
pasiënt al aan en gaan sit. ‘Fall in line’. En wag. Hulle is op
Afrika-tyd. Dis net, as die pasiënte te lank wag, dan skakel ek
ongelukkig weer terug na Greenwich-tyd.
Die een windgat pasiënt maak heeltyd opmerkings oor hoe ek moet maak
dat die blindings nie skeef hang nie, en oor die lugversorger en hoe ek
dit moet en hoe ek dat moet. Klink na ‘n handige een. Hy’s eintlik net
hier om gou sy bloeddruk te ‘check.’
“Mister Seseng, you are so clever about everything, do you know anything about bicycles?”
“Oh yeah… I can fix almost everything. Why?”
Nommer Een… om jou stil te kry. Nommer Twee…
“Then maybe, you can go and help the doctor and his son to fix Simson’s bicycle, and then all the patients do not have to wait…”
Ek wys hom waar die twee langs die afdak staan en sweet. Hy staan op,
kom loer by die deur uit, kyk vir so ‘n sekonde of twee, en gaan sit
toe weer ewe rustig. Hy sal liewer wag.
Almal kyk hom vraend aan. Hy trek net sy skouers op.
“No-o-o-o-o… let them bond…”
- filiola
Fortunata
“Wat het Pa dan gedink? Het hy ooit gedink… die goed is soos snot!”
Hy marsjeer kniediep deur die stinkende moddermoeras, swaai ritmies en oordadig soldaterig met sy tiener-arms.
“Seker: Ek… kan…hier…deur… Ek…kan…hier…deur… Ek… kan…hier…deur…”
Ons grinnik net oor Niël se grootbek. Dis net oor hyself tot by sy knieë in die gemors is.
So vyfuur se kant het Stoffel ons almal in vroulief se Toyota
Fortuner genooi, hy gaan ons die plaas wys. Hy wil eintlik vir ons die
‘weir’ gaan wys. Ek’t maar later uitgevra, gehoor dis ‘n keerwal.
Ons het al met die landmeter se oopstootpaadjies gery. Hulle wil ‘n
gedeelte langs die plaas aankoop, so 100 morg. Daar is ook ‘n spruit,
wat goed sal wees. Stoffel sal graag wil weet hoeveel water is nou al
agter die keerwalle opgedam, met die onlangse reën. Op die bestaande
plaas is gevestigde macadamias en koejawels. Tussen-in bly hulle besig
met broodbome kweek en hy maak unieke meubels van ‘sleeper’hout. Wil nog
‘n paar honderd vrugtebome aanplant. Soos wat die mark bepaal.
Soos ons deur die mini-dongas boendoe-bash, vul die veldparfuum van bloekom, wilde dagga, lantana en kakiebos die lug.
Die paddas begin krakerig kwaak.
Hulle wys ons waar die koedoes die jong boompies se groeipunte afeet. Dis skade.
Stoffel het voor die spruitjie stilgehou.
“Gaan kyk maar eers…”
Kom hier vanuit die agterste sitplekke. Hy gaan kyk. Loop tot
anderkant en terug. Klim met sy modderstewels terug in vroulief se nuwe
bakkie. Hy lyk tevrede. Vroulief lyk minder tevrede. Ons ry deur.
Halfpad deur. Die Fortuner sak met ‘n sug in die borrelende modder van
die bedompige rietspruit in. Tot gelyk met die trapplate aan die sykante
van die bakkie…
“Reverse!”
Dit werk nie.
Dit begin skemer raak.
Ons stadsjapies gee allerhande wenke wat ons eens op 4×4-kursusse oor ‘recovery’ geleer het.
Dit werk nie.
Charmaine gee haar man se selfoon vorentoe aan. Die battery is pap.
Sy gee haar foon vorentoe. Aan die einde van ‘n lang werksdag op die
plaas, is haar foon se battery ook papperig. Hy kry nie antwoord nie.
Stuur die foon weer terug agtertoe, sodat Charmaine kan kyk of sy vir
Niël in die hande kan kry.
“Sê vir hom hy moet die bakkie bring, en drie biere en die boot se tou. Van die ‘Dos M’ wat ons van Mosambiek af gebring het.”
Die boer en sy stadsjapie-vriende durf die modderasie aan.
Steeds nie antwoord nie. Sy probeer vir Sussa bel sodat sy haar broer
die boodskap kan gee. Die kinders is seker voor die TV of op die
rekenaar. Of lê op die selfone. Koshuiskinders kan nie naweke sonder
hulle vriende klaarkom nie. Toe probeer ons vir Willie bel sodat hy sy
niggie in Witrivier kan Mxit van Pretoria af. Dat sy haar Ma moet bel.
Niël is ‘n uur later op pad met die bakkie. Die drie dorstige mans
reken ons vroumense moet uitklim, en dan saam met die kind terugry
huistoe. Ons sê ons sit net hier. Eerstens, daar is kniediepte
moerasmodder. Ek sien al hoe abba hulle ons, soos Jan van Riebeeck se
slawe die vrouens aan land gedra het. En tweedens, wie wil nou al
hierdie sports mis?
Niël-kind kom in die skemer na ons toe aangestap. Die Toyota Hilux
het net om die draai vasgeval. Presies daar waar hy laasweek met sy
veldfiets vasgeval het. Al die manne pak ‘n tekkie. Kom later bedees
terug. Hulle kry nie die bakkie uit nie. Dit het nou nog verder
vasgeval, hang sommer so skuins.
Stoffel bel teen sy sin vir Danaman. Hy weet sy broer gaan nie
beindruk wees as hy hom vra om die trekker te bring nie. Boet Danie blyk
in ‘n goeie bui te wees. Ons hoor dofweg hoe hy iets sê soos, dat hy
dit graag sal wil sien. Hy’s op pad.
Hy kom daar aan met die Ford Ranger.
Die manne haak die boot se tou en die enjins begin dreun. Blou rookwolke en stoom borrel.
“Dit was my nuwe ankertou!”
Die Fortuner het nie ‘n millimeter geroer nie.
“Kom ons gaan kry die trekker…”
Niël-kind ry saam met Danaman.
Toe is dit net ons, die blinde Laevelddonkerte, krieke en ‘n paddakoor.
Kobus shloff deur die modder, kom staan bakhand by Cristelle se
venster en maak versigtig sy hand oop. David roep van anderkant die wal
af, dat ons by die vensters moet uithang en bokant die voertuig kyk.
Vir enige mens, of dit kind of grysaard is, is die sig van vlamlyfies
‘n gedagteflits terug na ‘n wêreld van fantasie. Wat jou wegneem uit
die werklikheid…
Hierdie kewertjies kom in die lente uit, bly ondergronds, onder
boombas of in natterige, klam areas. Soos vleie, spruite, poele, bosse,
woude en moerasse. Sommige spesies kan onderwater leef. Hulle is meestal
jagters: eet wurms, slakke, miere, motte en selfs spinnekoppe. Ander
leef slegs van stuifmeel en nektar.
‘n Volle 100% van ‘n vuurvliegie se lig word uitgeskei as lig. Dit is
‘koue lig’. As mens dit vergelyk met ‘n elektriese gloeilamp, is slegs
10% van die energie lig waarvan 90% van die energie verlore gaan in
hitte.
Elke vuurvliegspesie het ‘n unieke flitspatroon. Dink net, daar is sowat 2000 spesies!
Die sirkeldans van die vuurvliegies, wat met hulle geheimsinnige morsekode ‘n boodskap uitstuur. Met ons in die magiese middel…
“You would not believe your eyes
If ten million fireflies
Lit up the world as I fell asleep
‘Cause they’d fill the open air
And leave teardrops everywhere
You’d think me rude
But I would just stand and stare…”
Die Ford-trekkertjie kom brullend oor die bult. Niël sit op die
modderskerm en hou die ‘spotlight’ vas. Danaman het die trekker se
hoofligte lankal afgehaal, hy sê ‘n boer werk in die dag.
Hulle stuur ons vroumense vooruit met die Fortuner om die aartappels
in die oond te gaan red. Gaan gou die Hilux ook uitpluk. Dan sal hulle
die braaivleis op die kole kom gooi en nog ‘n paar Dos M’s afsluk.
Plaasjapies vergeet soms baie belangrike belewings as hulle stadsjapies word. Soos die vrede van vuurvliegies.
En dat ‘n boer niks van ‘recovery’ hoef te weet as hy ‘n trekker het nie !
- filiola
Kersfees 1985
Kersmiddagstap in Eerstelaan…
met poeierpienk kreukelbome
donssag blare
van bome wat droom
denne wat ruisend praat
blink water
- ’n yl stroompie versteek in groen gras -
stapels grysblou wolke
voëlvlugte
wat by al die vredigheid pas
en die helder klanke
van gelukkigweeslag
saam met die son se dans
in die blink van jou oe"
vandag toe jy hier by my was!
- Santie Amery
Briewe aan buurvrou #1 – antionette
September sing ‘n lied – Elizabeth Kendall
Blou herinnering – Pieta Pieterse
Stom – Karen01
’n Grys hadeda by Elizabeth Kendall
Leucauge festiva by Rina Greeff
Spinnekop Opskop
Toe ek so salig stadig ontwaak,
val my vakerige, vrede-
met-die-wêreld-oog
vol op die harige homp
van agt, aaklige bene,
‘n lelike lyf en kop; so doodstil,
uitdagend vas daar teen die kas.
Dromend lê ek; sê ek sagstem: “Sa!”
in die oor van diegene
wat die ‘Sa!’ moet hoor;
en terwyl die honde doen wat
‘Vat hom; vang hom; vreet hom!’
vir honde laat doen met hulle ma
se hitsige sê van ‘Sa!’, droom ek
ewe vroom, vol vere op die oor
wat niks van niemand wil hoor,
die vroegmôre voort.
Later, toe die sonlig skyn daar
waar dit behoort te skyn
op dié vreedsaam vakansiedag,
voel ek effens skuldig,
‘n skrapsie, net ‘n bietjie swynagtig;
versamel maar stukkies vir stuk
in sneeuwit snesies, been vir been,
poot vir…; ag wat, halwe poot,
en dra dit dodemarstreë vir tree,
honde op die hakke,
uit na buite na die drom waar
die sagte gedruis van die muggies-
muskietgespuis en vlieë-vlerkies
die oorskot oordadig verwelkom
in hulle ga-gogga se heiligdom.
Ek klap dié kis van rus
se deksel dramaties toe;
sê sedig en sielvol
die tatta-gogga-begrafnisrympie op:
“Jy was gewaarsku…:
mý wêreld is jou woning nie!”
en spinnekop se been en ses, én
‘n halwe een
gee die heel laaste spartel-skop.
- Rina Greeff ©
Gebonde by Rina Greeff
Wintergedagtes en drome by Elizabeth Kendall
Sy duifie by Rina Greeff
Nostalgie by Elizabeth Kendall
.