.
'n Afrikaanse hoekie
Haai, my naam is Maree en ek is 'n amper-verengelsde Afrikaner en woon op die Noordkus van KwaZulu Natal, Suid Afrika.
Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.
Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!
Thursday, 29 October 2015
Hoe leef jy - elke dag?
Ons weet almal van “leef elke dag asof dit jou laaste is” en dit op sigself is moeilik genoeg. Hoe sê hulle, “life happens”. Ons is gejaagd, dinge moet gedoen word, en baie gou is ons hele lewe, en huis, bietjie deurmekaar.
Maar nou, ek het hierdie vriendin wat vir my sê sy leef elke dag asof kuiergaste kom! Dinge moet altyd mooi reg gepak wees, skoon en afgestof wees, daar moet altyd blomme op die tafel wees, vars gebakte koekies in die blikke en vars brood om te bedien. Hoeveel ure het sy in die dag wat ek nie het nie?!
Dit neem al my tyd en energie in beslag om te sien dat daar nie TE veel stof is nie, dat die kaste darem so elke nou en dan bietjie reg gepak word, dat die tafels en kaste nie oorgeneem word deur dinge wat mens sommer net neersit nie, dat daar darem kos in die yskas is en dat die stoorkamer darem netjies is. EN ek het huishulp en geen kinders in die huis nie!
Want daar is ander dinge in die lewe wat gebeur - soos skilder, tuinwerk, boeke om te lees, diere om na om te sien, blogs wat geskryf en gelees moet word, en kantoorwerk wat gedoen moet word. Hoe op aarde bly mens by met alles?
En tog doen ons dit. Want ons weet dat, 99% van die tyd gaan vandag NIE ons laaste dag wees nie en 99% van die tyd gaan daar NIE kuiergaste opdaag nie. En as die laaste dag van my lewe of ’n onverwagse kuiergas my vang met ’n deurmekaar huis of liasseerwerk wat nog nie gedoen is nie of stof op die tafel, so be it. Ek weet ek het elke dag ten volle geniet en benut en dit wat oorbly, moet maar wag tot ’n volgende keer.
Sunday, 25 October 2015
Groot opwinding elke jaar!
Elke jaar is dit dieselfde vir my - groot opwinding in September, want dan kom my Grootstreepswaeltjies terug vanaf mid-Afrika - dan WEET 'n mens somer is hier! Maar hierdie jaar het hulle eers middel-Oktober opgedaag, en ek was baie bekommerd dat hulle nie hierdie jaar gaan terug kom nie.
Wanneer hulle almal begin saamtrek in die hemel en in lang rye op die telefoondrade sit in April of vroeg-Mei, dan weet ek ook ons winter is op pad...
W&N waterverf op Bockingford 300gsm - ©Maree Clarkson
In die somermaande word Suid-Afrika se voëlbevolking met sowat 120 spesies versterk wat tot van Eurasië en die Midde-Ooste kom. Daar is selfs migrasies uit Midde-Afrika en Madagaskar. So is dit dan ook in Oktober dat ek wag vir die Piet-My-Vrou se geroep, een van die trekvoëls wat ook nie Afrika verlaat nie. Sy geroep, wat soms 3uur in die oggend begin en partymaal dwarsdeur die nag kan strek, is ook vir my 'n sekere teken dat die somer hier is.
Die voëls wat tydens ons winter wegtrek wissel van arende, valke, koekoeke en swaels tot van die reiers, ooievaars, eende, kwartels, riethane, sprinkaanvoëls, naguile, visvangers, byevreters, troupante, sangers, laksmanne en verskeie van die waadvoëls wat 'n mens by die vlak water aan ons strande of aan die oewers van ons damme of riviere kry. En elke jaar staan ek verstom en vol weemoed wanneer ek die samekomste waarneem en die groot wegtrek aanskou, wie weet hoeveel van hulle gaan dit maak en weer terug kom...?
::
die hemelblou is vir jou
pasop vir dit wat jy nie weet
laksman valk, aasvoel en arend
daar is baie wat jy nog nie van vere af weet nie
vlieg swaeltjie, vlieg!
- onbekend
.
Thursday, 22 October 2015
Groener weivelde
"To exist is to change, to change is to mature, to mature is to go on creating oneself endlessly."
- Henri Bergson
Ek is definitief 'n liefhebber van my roetine en lief dit as my dag mooi glad verloop, maar ek raak gou ontsteld as dinge vervelig begin raak - my roetine moet elke dag iets nuuts insluit, al is dit net om my koppie koffie te verruil vir 'n warm sjokolade.
Ek lief dit om myself met inspirasie te omring, dis asof ek die lewe inteug daardeur. Maar dis nie altyd 'ander mense' wat te blameer is nie - wanneer jy self groei is dit vanselfsprekend dat dít waarin jy geïnteresseerd is gaan verander, dat jou fokus gaan verskuif en dat jy 'groener weivelde' gaan soek.
Ek is nie juis veel van 'n kok nie, hou nie juis daarvan om te kook nie, maar deesdae vind ek myself al hoe meer geïnteresseerd in resepte. Maar maklike, flatervry resepte. Bobotie is te ingewikkeld vir my. Ek het nie tyd of lus vir fênsie en moeilik-bekombare bestanddele nie. Ek en my man is albei eenvoudige eters - rys, vleis en aartappels, sê ek altyd. En slaai. En groente, baie groente. En rys. Ek kan 'n hele bak rys net so plein opeet sonder om tweemaal te dink!
Nou die dag was ek vroeg vir my haarafspraak en reg langs die haarkapper was 'n Oceanbasket-restourant. Ek eet nie juis vis nie, maar het besluit om in te gaan vir 'n koppie koffie en terwyl ek so deur die spyskaart geloer het, het ek gesien hulle bedien rys as 'n "side order". Dis net die ding waarvoor ek lus is, dink ek, en dis net R17! So ek bestel toe 'n porsie en dit wat opgedaag het, bedien in 'n groot braaipan, was genoeg om die weermag te voer! Maar hoe heerlik! Bietjie botter bo-op en ek het die hele lot klaar gemaak!
So ja, groener weiveld, ek is op pad!
.
.
Saturday, 10 October 2015
Ek is wie ek is
Net oor 'n jaar terug het ek hierdie boodskap ekstra nodig gehad. Te midde van chaos in my lewe moes ek besluit of ek my ergste vyand gaan wees of my beste vriendin.
Toe het ek seer gehad. Verraad is nie maklik om te aanvaar nie. Ek is verraai. Verraad is 'n skok. Meeste van ons het dit al beleef, die harde werklikheid van die gevoel van isolasie en verwarring wat volg. Mense sê "get over it", maar dis moeilik. Verraad behels kullery en gebroke beloftes en skending van vertroue.
Daar was 'n gevoel van onwerklikheid en ek het gewens ek kon weg hardloop. Ek was kalm maar het ook die verskriklikste woede gevoel. My gedagtes het heen en weer gemaal - skok, ongeloof, woede, vernedering, verwoesting, hartseer, redding en vergelding - alles deurmekaar.
Ek het hulpeloos en magteloos gevoel om iets daaromtrent te doen. Ek was ook hartseer en bedroef, want ek het nou iemand verloor wat ek gedog het ek ken. En ek was hartseer met die besef dat ek daai persoon NOOIT werklik geken het nie.
Ek kon ook maklik blaam op myself geneem het, maar ek weet ek was nog altyd eerlik, nog altyd oop, eties en liefdevol. En alhoewel ek gevoel het asof "dit aan my gedoen" was, het ek geweet dit gaan nie oor my nie, maar oor daardie persoon wat dit gedoen het. Ons kannie iemand maak leuens vertel nie. Ons kannie iemand maak kul nie. Dit is besluite wat hulle self neem nieteenstaande hoe sterk of swak hul geliefdes is nie. Verraad gaan omtrent die persoon wat dit gedoen het, nie oor die persoon aan wie dit gedoen is nie.
Ek wou praat daaroor. Ek wou dinge probeer red. Ek wou vra, "hoekom?", nie omdat ek daardie persoon wou regmaak nie, maar sodat ek kon weet wat was die les hierin vir my. Maar een ding wat ek besef het is dat dit nie help om die ander persoon te probeer oortuig dat hul verkeerd is nie. Dit is hul lewe en hulle kan dit lei soos hulle wil.
Ek het besef dat, as ek ongeskonde uit daardie situasie wou kom, ek keuses sou moes maak. 'n Keuse of ek sou wou voortgaan met die 'gebroke' verhouding of nie. 'n Keuse of ek sou vergewe of nie.
Maar ek sou moes vergewe. Wat ookal my besluit. Vergifnis is belangrik vir ons eie welvaart. Nie net vergifnis vir iemand anders nie, maar vergifnis vir onsself. ......
Lily Tomlin het gesê, "Unforgiveness is giving up all hope for a better future." En alleenlik deur te vergewe kan mens laat gaan met liefde. Onvergifnis affekteer niemand anders behalwe jouself nie. Ek kon nie reguit dink nie, ek kon partymaal nie 'n verfborsel optel nie, ek kon nie by my blogs uitkom nie, ek het alles verwaarloos. My tuin, my huis, myself. Alleenlik deur vergifnis kan jy weer op die regte paadjie kom.
Dis 'n jaar later en ek wil nie verskoning maak vir my gevoelens nie. Ek is wie ek is. Ek het nog steeds gevoelens oor die saak, as ek dit oopkrap, daaroor tob en dit dan holrug wil ry. Maar ek het besluit om te vergewe, en te vergeet. Nee, nie te vergeet nie, want dis onmoontlik, maar om nie aan te hou om die seer aanhoudend oop te krap nie en vrede daarmee te vind. Die vrede kom wanneer jy jouself vergewe dat jy so dom was, die vrede kom wanneer jy besef jou toekoms lê alleenlik in jou eie hande en jy kan besluit om jou ergste vyand te wees of jy beste vriendin.
Vergewe jouself eers, ek belowe jou dit is 'n wonderbaarlike ondervinding!
.
Kaktus- en Vetplantversorging
Al kom vetplante oorspronklik uit dorre streke en gedy oor die algemeen in arm grond, is dit nie te sê dat hulle nie water of voeding moet kry nie. Vetplante is elke tuinier se droom. Elke verskillende plant bied iets besonders: Aan die persoon wat nog moet leer om plante aan die lewe te hou, tot die huiseienaar wat water wil bespaar!
Hoe dikwels moet hulle water kry?
Daar is nie ’n antwoord wat in alle gevalle geld nie. Daar is ’n direkte verband tussen water, lig, temperatuur, grondtoestande en vogtigheid. Hoe sterker die lig, hoër die temperatuur en minder die vogtigheid, hoe meer dikwels is water nodig. Die meeste kaktusse en vetplante het ’n aktiewe groeiperiode vir omtrent ’n 1/3 van die jaar. Tydens dié aktiewe periode kan gereeld natgegooi word en moet misstof toegedien word. Die aktiefste tyd vir die meeste kaktusse is in die lente en vroeg-somer.
Wanneer dié periode verby gaan, moet water minder gereeld gegee word soos die winter nader kom. Hulle het baie min water in die koue maande nodig. ’n Goeie natmaak een keer per week in warm weer en een keer per maand in die rusperiode is ’n goeie wegspringplek soos u u plant se behoeftes leer ken. ’n Ander benadering is om dit deeglik nat te maak wanneer die grond heeltemal droog is. As u twyfel, moenie water gee nie.
.
Hoe dikwels moet hulle voeding kry?
Te veel misstof kan slegter wees as glad geen misstof nie. Gebruik ’n misstof wat ’n lae stikstofinhoud het teen omtrent ½ tot ¼ van die aanbevole toediening.
.
Wat is die beste grond vir kaktusse en ander vetplante?
Die meeste potplantgrondmengsels wat in die handel beskikbaar is, is te ryk aan vars organiese materie vir dié plante. Die belangrikste faktor by die kies van ’n plantmedium is dat dit voedingstowwe, water en lug na die wortels moet deurlaat en poreus genoeg is om water te laat dreineer. Baie kaktuskwekers gebruik ’n vermenging van ’n lae veenplantmengsel en puimsteen (50/50). Sand, klein klippies en vermikuliet word ook deur baie suksesvolle kwekers bygevoeg. Eksperimenteer met verskillende kombinasies om die regte kombinasie vir u toestande te verkry. ’n Bolaag van fyngemaakte graniet of fyngruis lyk goed en hou ook voordele in. Dit keer dat die bogrond vinniger as die res van die grond in die pot uitdroog, hou die basis van die plant droog en help met die egalige verspreiding van water.
.
Direkte son en lig is nie dieselfde nie!
Vetplante het lig nodig, maar hulle groei beter as hulle nie in die middagson bak nie. In die natuur sal u jong plante aantref onder ’n bos, boom of iets anders wat gefilterde lig deurlaat. As nuwe groei aan u plant bleekgroen en ekstra lank is, het dit meer lig nodig. As die kant van u plant wat na die ligbron wys, geel, bruin, rooi of ingekeep is, kry dit te veel lig.
.
Vetplante hou nie van dooie lug nie. Voorsien goeie lugsirkulasie vir u plante.
::
Wednesday, 23 September 2015
Verbaas en gelukkig!
Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is... Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.
Jy sou dalk lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou. Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.
Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.
Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...
My amper 40-jaar oue perskeboom weier om op te gee - nuwe bloeisels dui op nog baie lewe in hierdie ou dame. Verlede jaar het die regterkantste tak mee gegee onder die gewig van al haar vrugte en dit lyk of sy weer hierdie somer haar bes gaan probeer!
.
Saturday, 19 September 2015
Groen groei die akkerboom
Die akkerboom voor ons huis is jare der jare gelede deur my Ma geplant. Ek wens sy kon dit nou sien... (miskien kan sy!) Net soos die rose se heel eerste blomme in die nuwe somerseisoen die mooiste is, net so is die éérste groen blare van dié reuse boom. Ek het al verskeie verse oor my boom geskryf, ek het al honderde foto's van my boom geneem. Steeds bly dit nuut, splinternuut en so, so mooi. 'n Erfboom, 'n net buite-my-werfboom. 'n Baie spesiale boom. Drentel ek teen skemer deur die tuin en kyk ek op, kuier my oë oral tussen liggroen en donkergroen, ligbruin en donkerbruin dikker en dunner takke. Dis asof ek wegraak in die wonder daarvan. Kom kyk saam met my:
Erkenning
‘n Nuwe dag haal sag asem deur die oop venster
ver bo hang diamante aan ‘n donker doek
en ek hoor die eerste duiweroep
uit die akkerboom hier voor my huis
dis vroeg -
ons tuin, my man en honde slaap nog
maar my hart bokspring jubelbly
oor goeie, gawe nuus so onverwags gekry –
die lewe is so bittermooi vir my
Elizabeth Kendall ©
Dis somer in Bronkhorstspruit. Om my is die wêreld groen. Die akkerboom het die mooiste groen rok aangetrek. Smiddae nà half vyf kom lê die sonstrale warm teen my boom se growwe takke. Duiwe sit knus en koer tussen die blare. Die klimop rank die voorste muur van ons erf toe, dit rank oor verweerde houtstompe. Dit klim teen die voorkamer se buitemuur op. Dit klou aan die rooi bakstene van die outydse vensterbank vas.
Akkerboom.
jou takke strek tot wie-weet-waar
en duisend stories lê
in donker skadu’s opgegaar
sou die somer ooit weer kom
sien ek jou guitig in jou groen rok blom
ek hoor alreeds die duiwe sing:
koe-koer-doek
oor die koelte wat jy bring
jy staan al donkiejare daar,
‘n vashouplek, ‘n steunpilaar,
Ma-se-akkerboom hier voor my huis
by jou is ek vir ewig tuis
Elizabeth Kendall ©
.
Friday, 18 September 2015
Somergedagtes
Aan die einde van Augustus het my perskeboom geweet ... sy het geweet die somer is om die draai en vir weke al was sy besig om haar somerdrag reg te kry - klein groen blaartjies en die mooste pienk bloeisels, takke wat sterk in gesond na die hemel strek.
Somer is ‘n uitgeswelde, ryp, oophand seisoen. So weldadig. Dae soos heuning, het Johannes Kerkorrel se streelstem gesing. Somer is 'n ruising van lower, somer is wind, somer is ruising van lower in die wind en die wind is mooi en groot en grasieus en die wind beweeg soos ‘n vrou. So dig Sheila Cussons. En is somer nie ‘n gedig nie! ‘n Betowerende spel van lig in lower, van smake en sensasies, van lang dae en loom nagte. Sensueel. Wild. Warm. En heeltemal onontbeerlik vir volledig menswees!
ek skep stukke son in my halwe
hande en sprinkel strooi die blokkies
warm oor my lyf oor my bene my
arms draai bollings silwer strale
van die groot geel tol in die hemel
en ek weef vir my 'n somer
sykombers
- Wilhelm
.
Aanvaar dit
::
Partymaal gebeur daar dinge in mens se lewe wat jou heeltemal deurmekaar krap en jou laat besef dat vrede baie broos is en sommer net so omver gegooi kan word. Jy wil met alle mag terug beur na hoe dit was voordat jou dag omgekrap is en klou hardnekkig aan die gedagte dat dit wel sal gebeur.
My pa het altyd gesê, as iets jou pla, slaap daaroor, en dis presies wat ek gedoen het. Vanoggend toe ek wakker word toe besef ek dat dit partymaal nodig is om die lewe om jou te aanvaar net soos dit is en die beste van 'n slegte saak te maak. Mag jou dag vreedsaam en gelukkig wees.
::
Sunday, 13 September 2015
Kweek 'n Laventelbos
Elke tuin behoort ’n laventelbos te hê – dit is maklik om te kweek, het min water nodig en is ongelooflik bevredigend. En daar is soveel waarvoor mens dit kan gebruik, soos byvoorbeeld :
- Hang bosse laventel op om droog te word in ’n donker, droë plek. Wanneer dit droog is, kan jy dit in potpourri gebruik, in die vuurmaakplek gooi vir ’n heerlike reuk of sakkies van die gedroogde blomme in jou kaste sit om motte uit te hou.
- Laventel is ’n pragtige versiering vir koeke en nageregte, maar jy kan ook gedroogte laventelblomblaartjies by jou koekmengsel voeg. Die geur van laventel smelt baie lekker saam met sjokolade.
- Sukkel jy om te slaap? Sit ’n vaas met laventel in jou slaapkamer. Die geur van laventel het ’n kalmerende en ontspannende uitwerking.
- Geborduurde sakkies met droë laventel en Laventelolie kan ook gebruik word vir vismotplae.
(Foto vanaf Pinterest)
Laventel en Byewaksseep
- 114g Gliserien basis-seep
- 10 Druppels laventel botaniese (essential) olie (LW. Nie geurolie nie)
- 1 Druppel pers/laventel kleursel
- 1 Teelepel byewaks
Sarie-tydskrif het selfs 'n Laventel-skons resep :
- 500 ml koekmeel
- 15 ml bakpoeier
- 60 ml ongesoute botter
- 60 ml suiker
- 15 ml gekapte laventel
- 150 ml melk
Voeg nou genoeg melk by om ’n stywe deeg te vorm. Druk die deeg plat op ’n meelbestrooide oppervlak en sny die skons uit met ’n koekiedrukker. Plaas die skons op ’n gesmeerde bakplaat en smeer ’n bietjie melk oor elkeen. Sprinkel met suiker en sit ’n takkie laventel bo-op.
Bak vir 10 tot 12 minute. Sit voor saam met konfyt of roosblaarjellie en geklopte room.
Laventel lyk ook pragtig in potte geplant en verhelder enige hoekie van die tuin, paadjie of die stoep. Dis maklik om steggies te neem van 'n laventelbos - pluk 'n takkie en doop in hormoonpoeier en plant dan in 'n pot gevul met goeie potgrond. Sit dit op 'n plek waar dit 'n paar uur oggendson kry totdat die plantjie mooi pos gevat het voor jy dit in vol son sit.
Laventel se natuurlike omgewing is oop, droë en klipperige aarde. Hulle is waterwys, vaar die beste in die vol sonlig en hou van goed gedreineerde grond. Hoewel Laventel (soos alle plante) sal baat by goeie kompos, hoef die grond nie té ryk te wees nie. Laventel hou glad nie van ‘n nat, bedompige klimaat nie en is geneig om gou vrot te word. Sommige soorte groei redelik uitspattig en moet in toom gehou word as dit in ‘n meer formele omgewing geplant is. Andersyds is dit ‘n plant wat min sorg verg. Die plante kan in die lente en herfs teruggesnoei word as dit stokkerig raak of in ‘n heiningvorm gesnoei moet word. Laventel kan ligte ryp hanteer en kan matige droogte hanteer. As ‘n gemiddelde reël is die gryser soorte meer gehard as die groener variëteite.
.
Monday, 7 September 2015
Saturday, 5 September 2015
Eenvoudig en moeite vry
Tuine wat voortdurend aandag verg, word deesdae al skaarser namate mense se vrye tyd kosbaarder word. ’n Groot grasperk, oordadige blombeddings en ’n netjiese, formele uitleg verg nougesette aandag aan detail. Daar is rande om te sny, heinings om te knip, blare om te hark, dooie blomme om uit te breek, struike om te snoei, jaarplante om te saai en uit te plant, bolle om te lig en rose wat bespuit en gesnoei moet word. Ek het my grasperk gedeelte met die helfte verminder, paadjies en nog beddings aangebring en ook van die meeste uitheemse en moeite-vergende blomme en plante ontslae geraak. Om elke jaar bolle te lig en in die lente weer te plant, is nie vir my beskore nie! Net so om plante aan te hou wat elke winter met "frost covers" toe gemaak moet word.
Ek het deesdae ook nie veel sin daaraan om plante wat gepamperlang moet word, aan te hou nie. Die Pachypodium lameri in die middel van bostaande foto was eers in 'n pot, elke jaar 'n groter pot, wat ek jaar na jaar elke winter en elke lente in en uit gedra het om dit teen die ryp te beskerm, totdat ek eendag genoeg gehad het en hom in 'n vol-son kol in die tuin geplant het. Hy het pragtig gevorder vir 'n paar seisoene totdat een partikulêre ysige winter een te veel was vir hom. Hierdie pragtige plant is vanaf Madagaskar en sal hier in Suid Afrika alleenlik in 'n ryp-vrye tuin aard.
Waterbesparing is ook nog ’n rede om jou tuin so te ontwerp dat dit die minimum onderhoud verg en wat gebruik maak van inheemse plante en materiale en strukture wat die minste moeite vereis. Aalwyne en sekere vetplante is baie geskik vir hierdie doel - verg min water en aandag en beloon mens elke jaar met die pragtigste kleur in die tuin.
Daar is selfs skadu-liewende aalwyne wat uitstekend sal groei in half-skadu, soos die pragtige A. zebrina hierbo. Hulle Koraal-pienk blomme lyk pragtig in die skaduwee.
'n Paar interessante wel-geplaasde strukture, potte en groot klippe sal ook interessantheid aan die tuin verleen sonder veel onderhoud of moeite.
Hierdie groot swamme het vanself langs my tuinpaadjie langs die groot klip opgekom en na 'n paar weke was hulle kliphard, soos pottebakkers-sampioene!
(Wikipedia sê 'n Swam of skimmel is enige lid van 'n groot groep eukariotiese organismes wat mikro-organismes soos gis en muf, asook die bekender sampioene insluit. Swamme vorm die koninkryk Fungi, 'n biologiese koninkryk wat apart is van die plante en diere. Een groot verskil tussen plante en swamme, is dat swamme se selle selwande het wat chitien bevat, terwyl plante se selwande sellulose bevat. Hierdie en ander verskille dui daarop dat swamme 'n aparte groep verwante organismes is, die sogenaamde Eumycota of "ware swamme"; 'n groep wat 'n gemeenskaplike voorouer deel. Swamme word dwarsdeur die wêreld aangetref en die meeste is onopvallend vanweë hul klein grootte en strukture, die manier waarop sommige hulself kamoefleer en as simbiote van plante, diere en ander swamme. Hulle kan opvallend word wanneer hulle "vrugte" dra: sogenaamde "sporokarpe", soos sampioene of muf. Swamme vertolk 'n belangrike rol in die ontbinding van organiese stowwe en het fundamentele rolle in die herwinning en verdeling van voedingstowwe in die natuur.)
Hou jou tuin eenvoudig en moeite vry en vol interessanthede en jy sal nooit daardie skuldige gevoel van "O! Ek verwaarloos my tuin!" kry nie!
.
Wednesday, 26 August 2015
Kleur
Kleur maak 'n verskil. Nà 'n asvaal winter word kleur weer van vooraf waardeer. Warm-oranje aalwynblommetjies wat suikerbekkies lok. Donkerpienk, maroon petunias in die pot by die voorste hekkie, 'n welkomgroet aan elke besoeker.
Sagte pienk perskebloeisels wat 'n splinternuwe seisoen aankondig. Om te kan kyk en om te kan sien, dit is 'n seën!
Tuesday, 25 August 2015
Vandag is die dag!
Vandag is die dag dat ek kan huppel en spring, sing en hande klap - my jaar-einde boeke is UITEINDELIK op datum! Halleluja! Julle het geen idee hoe ek liasseerwerk haat nie, haat met 'n passie wat oorweldigend op die krop van my maag sit soos 'n maag sweer. En wat lei tot die uitstel van die boeke-doen-ding, is omdat al die liasseerwerk nie op datum is nie.
Ek stel altyd vir myself 'n doel of datum om dit makliker te maak, maar so ver moontlik in die toekoms sodat ek kans het om aan te pas - ek sal dit begin op die 1st van so-en-so maand en dit sal die EERSTE ding wees wat ek doen voordat ek by die komper gaan sit, ens. ens.
Kom dit eerste van daai maand, is dit (gelukkig!) op 'n Saterdag of 'n Sondag - nou ja, dan kan ek mos maar Maandag begin. Maandae is 'n slegte idee - van die personeel daag nie op nie of daar's 'n krisis van een of ander aard, so dis nie my skuld nie, ek sal dit môre doen...
En ons ken almal die gesegde van "moenie afstel vir môre wat jy vandag kan doen nie", en "van uitstel kom afstel". Wel, sover dit liasseerwerk aangaan, is dit die storie van my lewe...
.
Monday, 24 August 2015
'n Vrolike vers
Rooikopvink
Pienkdun is sy voëltjiebene
fyn porselein onder omkrultone
en blommetjies,
blommetjies die hele wêreld vol
pik-pik hy versigtig aan die saad
om krag te kry,
genoeg krag vir vandag
want hy wil sy vlerke sprei
en vlieg
Elizabeth Kendall ©
.
Subscribe to:
Posts (Atom)


























