.
'n Afrikaanse hoekie
Haai, my naam is Maree en ek is 'n amper-verengelsde Afrikaner en woon op die Noordkus van KwaZulu Natal, Suid Afrika.
Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.
Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!
Showing posts with label vergewe. Show all posts
Showing posts with label vergewe. Show all posts
Saturday, 10 October 2015
Ek is wie ek is
Net oor 'n jaar terug het ek hierdie boodskap ekstra nodig gehad. Te midde van chaos in my lewe moes ek besluit of ek my ergste vyand gaan wees of my beste vriendin.
Toe het ek seer gehad. Verraad is nie maklik om te aanvaar nie. Ek is verraai. Verraad is 'n skok. Meeste van ons het dit al beleef, die harde werklikheid van die gevoel van isolasie en verwarring wat volg. Mense sê "get over it", maar dis moeilik. Verraad behels kullery en gebroke beloftes en skending van vertroue.
Daar was 'n gevoel van onwerklikheid en ek het gewens ek kon weg hardloop. Ek was kalm maar het ook die verskriklikste woede gevoel. My gedagtes het heen en weer gemaal - skok, ongeloof, woede, vernedering, verwoesting, hartseer, redding en vergelding - alles deurmekaar.
Ek het hulpeloos en magteloos gevoel om iets daaromtrent te doen. Ek was ook hartseer en bedroef, want ek het nou iemand verloor wat ek gedog het ek ken. En ek was hartseer met die besef dat ek daai persoon NOOIT werklik geken het nie.
Ek kon ook maklik blaam op myself geneem het, maar ek weet ek was nog altyd eerlik, nog altyd oop, eties en liefdevol. En alhoewel ek gevoel het asof "dit aan my gedoen" was, het ek geweet dit gaan nie oor my nie, maar oor daardie persoon wat dit gedoen het. Ons kannie iemand maak leuens vertel nie. Ons kannie iemand maak kul nie. Dit is besluite wat hulle self neem nieteenstaande hoe sterk of swak hul geliefdes is nie. Verraad gaan omtrent die persoon wat dit gedoen het, nie oor die persoon aan wie dit gedoen is nie.
Ek wou praat daaroor. Ek wou dinge probeer red. Ek wou vra, "hoekom?", nie omdat ek daardie persoon wou regmaak nie, maar sodat ek kon weet wat was die les hierin vir my. Maar een ding wat ek besef het is dat dit nie help om die ander persoon te probeer oortuig dat hul verkeerd is nie. Dit is hul lewe en hulle kan dit lei soos hulle wil.
Ek het besef dat, as ek ongeskonde uit daardie situasie wou kom, ek keuses sou moes maak. 'n Keuse of ek sou wou voortgaan met die 'gebroke' verhouding of nie. 'n Keuse of ek sou vergewe of nie.
Maar ek sou moes vergewe. Wat ookal my besluit. Vergifnis is belangrik vir ons eie welvaart. Nie net vergifnis vir iemand anders nie, maar vergifnis vir onsself. ......
Lily Tomlin het gesê, "Unforgiveness is giving up all hope for a better future." En alleenlik deur te vergewe kan mens laat gaan met liefde. Onvergifnis affekteer niemand anders behalwe jouself nie. Ek kon nie reguit dink nie, ek kon partymaal nie 'n verfborsel optel nie, ek kon nie by my blogs uitkom nie, ek het alles verwaarloos. My tuin, my huis, myself. Alleenlik deur vergifnis kan jy weer op die regte paadjie kom.
Dis 'n jaar later en ek wil nie verskoning maak vir my gevoelens nie. Ek is wie ek is. Ek het nog steeds gevoelens oor die saak, as ek dit oopkrap, daaroor tob en dit dan holrug wil ry. Maar ek het besluit om te vergewe, en te vergeet. Nee, nie te vergeet nie, want dis onmoontlik, maar om nie aan te hou om die seer aanhoudend oop te krap nie en vrede daarmee te vind. Die vrede kom wanneer jy jouself vergewe dat jy so dom was, die vrede kom wanneer jy besef jou toekoms lê alleenlik in jou eie hande en jy kan besluit om jou ergste vyand te wees of jy beste vriendin.
Vergewe jouself eers, ek belowe jou dit is 'n wonderbaarlike ondervinding!
.
Tuesday, 31 March 2015
Aksies vir positiewe gesondheid
Het jy al gewonder hoekom jy partymaal nie so lekker voel nie? Nie 'siek' nie, net nie 'lekker' nie... Alles gaan goed in jou lewe, jou gesin is gesond en gelukkig, dinge is reg by die werk, vriende en familie is almal OK, maar nog steeds voel jy of iets verkeerd is. 'Gesondheid' is net nie bedoel vir jou liggaam nie, maar is baie belangrik in ons geestestoestand. Respek, vergifnis, positiwiteit, selfversorging, eetgewoontes, oefening en die keuses wat ons maak speel almal 'n rol in hoe 'lekker' jy voel.
Die volgende doelstellinge is noodsaaklik vir genesing en 'n gesonde leefstyl:
Wees Lief vir en Respekteer Jouself
Wanneer jy in die spieël kyk, wat sien jy? Sien jy 'n wonderlike individu, 'n persoon vir wie jy lief is en wie jy ervaar presies soos jy is? Om Jouself lief te hê is noodsaaklik vir goeie gesondheid.
Vergewe Almal
Vergifnis is uiters belangrik vir genesing. Vergifnis kondoneer nie wat in die verlede gebeur het nie - dit verlos jou van slagoffer wees. Woede en wrok SALoor 'n lang periode lei tot ernstige siekte en dit is dus belangrik om jouself daarvan los te maak.
Wees Positief
Dit is medies bewys dat 'n positiewe uitkyk gesondheid verbeter. So wees versigtig wat jy sê en dink. Moenie jouself of andere kritiseer nie - herken jou negatiewe gedagtes en gooi hulle dan uit, want dis nie meer deel van jou lewe nie. Vervang daardie negatiewe gedagtes met positiewe, self-troetelende gedagtes.
Begin 'n Program van Self-Versorging
Dis nou tyd om ernstig te raak omtrent versorging van jouself op alle vlakke - doen die dinge waarvan jy hou, maak alleen-tyd 'n instelling, geniet jouself. Moet glad nie kritiek of negatiwiteit van ENIGEEN aanvaar nie (insluitende jouself!) en kom weer in aanraking met jou inner-self.
Maak Gesonde, Welingeligde, Self-troetelende Keuses
Begin bewustelik te dink - wees bewus van jou gedagtes en woorde. As jy vashaak is dit gewoonlik omdat daar iets is wat jy moet weet - maak dit jou doel om altyd bewustelik uit te vind en te verstaan wat die kennis is wat jy nodig het. Dit sal jou in staat stel om die regte keuses te maak.
Oefen Gereëld
Vir goeie gesondheid moet jy gereëlde oefening kry. Ek persoonlik glo nie aan enige vorm van uitermatige of onnatuurlike oefening nie. Staan op en neem 'n stappie na buite as jy lank voor jou komper was. As jy van die buitelug hou, doen 'n bietjie tuinwerk of gaan vir 'n kort uitstappie in die tuin of op die strand. 'n Gesonde liggaam verseker 'n gesonde gees.
Kies 'n Goeie Eetgewoonte Vir Jou
Kyk na jou eetgewoontes - is dit gesond? Jy is wat jy eet, gesonde voedsel is belangrik vir 'n gesonde leefstyl - so eet daai groen goed!
.
Subscribe to:
Posts (Atom)


