.
'n Afrikaanse hoekie
Haai, my naam is Maree en ek is 'n amper-verengelsde Afrikaner en woon op die Noordkus van KwaZulu Natal, Suid Afrika.
Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.
Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!
Sunday, 28 September 2014
Die saadjie
Eendag lank, lank gelede was daar ‘n saadjie maar omdat dit ‘n klein enkel saadjie was, het niemand enige notisie geneem van die saadjie nie. Aangegryp deur ‘n gevoel van minderwaardigheid het die saadjie sy hele bestaan as onbelangrik beskou en heeltemal moed opgegee.
Maar eendag het die wind hom opgetel en genadeloos in ‘n oop veld onder die felle son geslinger. Die saadjie was verward, waarom sou die wind so iets aan hom gedoen het. Maar in plaas van antwoorde het hy net reënbuie en velle sonskyn ervaar in die oop veld.
Die dae het weke geword, die weke maande en die maande jare. Jare na die wind incident sien hy ‘n reisiger wat langs hom sit. “Dankie, tog vir dié. Ek het regtig die rus nodig,” hoor die saadjie die reisiger sê.
“Waarvan praat jy,?” vra die saadjie aan die reisiger wat hier teenaan hom sit. Hy het gedink die reisiger dryf die spot met hom. Gewis het hy opgemerk hoe baie mense hier teenaan hom kom sit – al hoe meer van hulle in die laaste paar jaar – maar niemand het nog so met die saadjie gepraat nie.
“Wie is dit?” vra die reisiger verskrik.
“Dit is ek. Die saadjie.”
“Die saadjie?” Die reisiger kyk na die reuse boom hier langs hom. “Jy maak seker ‘n grap? Jy is geen saadjie nie. Jy is ‘n boom. ‘n Reus van ‘n boom!”
“Regtig?”
“Ja,! Hoekom dink jy kom die mense om hier langs jou te sit?”
“Nou hoekom kom hulle in elk geval hier langs my sit?” vra die saadjie.
“Om jou lieflike skaduwee te ervaar! Moet my nie vertel jy het nie geweet dat jy gegroei het tog die reuse boom die afgelope jare nie?”
‘n Paar oomblikke gaan verby voordat die volle betekenis van die reisiger se woorde insit en hy die volle implikasies daarvan besef.
Die saadjie, nou ‘n volgroeide boom, dink ‘n oomblik en glimlag vir die eerste keer in sy lewe. Die jare van volgehoue marteling onder die felle son en die reën het uiteindelik vir hom sin begin maak.
“Aaaah! Dit beteken ek is nie meer die klein verswakte saadjie nie. Ek was toe nie bestem om ongemerk dood te gaan en net weg te kwyn nie. Ek was bestem om mense te stroop van hul vermoeidheid en hulle te verfris en te laaf in my skaduwee. Wow! Dit is nou ‘n lewe wat die moeite werd is om te leef!”
Soms is ons groei in die gees so stil dat ons dit nie eens opmerk nie, al wat ons sien is die beproewinge en die swaarkry – totdat iemand eendag in ons skaduwee kom sit en dankie sê vir die lafenis wat ons hul kon bied. Dan eens besef ons dat die beproewinge en swaarkry ons laat groei het sodat osn vir ander ook tot lafenis kan wees.
- Anoniem
.
Thursday, 25 September 2014
Die winter is verby
Na die koue, lang winter, is dit tyd dat die natuur weer lewe kry. Die kort dae is nou langer en die perskebloeisels en groen gras begin oorneem. Van Lente was daar omtrent geen sprake nie en nou is dit Somer. Somer is buite-wees tyd. Sorgelose ure. Lang slenterstappe in die skemer se soeltes en ‘n braai onder gesellige sterre. Somer is groei – my kappertjies wat begin blom, vinkneste word gebou, klein voëltjies wat leer vlieg.
Somer het ook sy slegte kant. Dis ‘n tyd van lastige vlieë en muskiete, veral muskiete wat my hoenders byt en hoenderpokkies veroorsaak. Ek haat gifstowwe, maar vir muskiete en rotte het ek geen genade nie. Baie maal styg my irritasie vlakke saam met die temperatuur – enige iets hier oor 28℃ en ek sluit myself toe in my ateljee met die lugverfrisser op ‘n sterk 16℃. Stappies in die veld word gereël vir vroeg-oggend of skemer en die strand besoek ek net in die winter, wanneer die temperatuur gewoonlik so ‘n matige 23℃ is.
Maar somer is hier en ek verlustig my tóg in die heerlike warm weer, die lewegewende reëns and Moeder Natuur se skouspelagtige landskappe wat sy in somer optower.
::
Saturday, 6 September 2014
Afrikaans - Ons pragtige taal!
Ons pragtige taal verewig in digvorm, 'n herhinnering van ons oorsprong, van vergane dae en skoolbanke waar ons nie juis geϊnteresseerd was in watter digters wat gesê het nie... en soos jy aanstap in die lewe, kom 'n hunkering na wie-weet-wat, 'n erkenning van die nodigheid om in jou eie taal gehoor te word of te kan lees.
'n Engelssprekende vriendin vra my nou die dag hoe ek dit regkry om my ''g's'' so grof en maklik uit te spreek - sy kan net nie haar tong om ''Vereeniging'' of ''gratis'' kry nie - iets waaroor ek nog nooit nagedink het nie en dan besef 'n mens hoe jy jou moedertaal as vanselfsprekend aanvaar. Dit is so ingewortel in jou menswees dat jy maar net aanneem dat enigiemand anders die woorde ook dieselfde sal kan uitspreek. En enige taal of uitspraak kan tog aangeleer word deur genoeg oefening en repetisie.
En hoe máklik is dit tog net nie om verstrengel te raak in ander tale en in te meng met jou eie nie - bewys hiervan is die alledaagse Afrikaans wat ons meer en meer hoor - dis 'OK' om nie te 'worry' nie en ek wil net gou 'n bietjie 'makeup' aansit voor ek uitgaan. Hoe meer 'n mens dit hoor, hoe gemakliker word jy daarmee. Ek weet, ek is self een van hulle, getroud met 'n ''pommie'' en spandeer driekwart van my lewe deur Engels te praat - soms wil die Afrikaanse gedagte net nie kop uitsteek nie! En dan is dit gou woordeboek gryp ...
Maar ek dink dat dit elke Afrikaner (of énige nasie vir die argument) se plig is om sy taal so ver as moontlik suiwer te hou. Sleng het seker maar sy plek, maar ek ken 'n paar Afrikaners wat Afrikaans so suiwer as wat kan kom praat, en as hulle dit kan doen, dan hoekom nie almal nie? En ons hoef ook dan nie stemmig of outyds te klink nie en as almal dieselfde taal sou praat, sou niemand stemmig of ouderwets klink nie!
Riaan Cruywagen het in Maart 2007 by die bekendstelling van Anton Prinsloo se publikasie ''Sleng'' gesê, "Sleng kon nie op 'n meer geleë tydstip die lig gesien het nie. Of Anton maar net weens sy oplettende geaardheid die leemte in die mark raakgesien het, weet ek nie. Dalk is die weg gebaan toe die Taalkommissie in die jongste uitgawe van die AWS in 2002 die eerste keer aan Omgangsafrikaans erkenning verleen het, deur in 'n afsonderlike lys sowat 500 woorde op te neem wat gebruik word in "die Afrikaans wat moedertaalsprekers in gemoedelike omgang met mekaar praat". Hoe dit ook al sy – vir mense wat erns maak met hulle Afrikaanse taalgebruik, gaan Sleng 'n onontbeerlike plek in die boekrak inneem.
Engels is sonder uitsondering die wenner wanneer Afrikaans (of, wat dit betref, enige ander taal) daarmee deurspek, ontsier en verarm word. Ek hoor baie selde dat Engelssprekendes – hetsy in gemoedelike omgang met mekaar óf in formele kommunikasie soos nuusuitsendings of koerantberigte – vreemde invloede in hulle taalgebruik duld. Indien daar by hulle sprake is van 'n soort taal-meerderwaardigheid, vra ek myself af waarom óns dan bereid is om 'n minderwaardige of ondergeskikte plek in te neem? Lê dit aan ons onderwysstelsel, word daar tuis nie meer aan ons kinders die beste voorbeeld gestel nie, of is die media daarvoor aanspreeklik? Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek is ontsettend dankbaar dat Afrikaans van sy beklemmende borsrok bevry is.''
Ek het ook op hierdie aanhaling by www.oulitnet.co.za afgekom :
“An English-only, or even an English-mainly, policy necessarily condemns most people, and thus the country as a whole, to a permanent state of mediocrity, since people are unable to be spontaneous, creative and self-confident if they cannot use their first language”
- Dr Neville Alexander
— ‘Where English can Serve but not Empower.’
Nog iets ouliks en handigs wat jy by www.oulitnet.co.za kan aflaai (ja, dis reg, aflaai!) is die A - Z van Afrikaanse rekenaar- en internetterme - maak die lewe nou baie maklik en hoef 'n mens nie meer skuldig te voel as jy ontsper, enkodeer, versper, eksporteer of jou beller gebruik nie!
Nou ja, daar het jy dit - ''om te sleng of nie te sleng ...''
.
Friday, 15 August 2014
Saturday, 2 August 2014
Bright-eyed en Bushy-tailed
Saterdae is seker altyd vir almal spesiaal, die begin van die naweek en mens sien vooruit na twee dae van rus of speel, hang af hoe jy voel. Maar wat jy ookal doen, ek wens jou 'n heerlike dag toe en mag jou naweek vol inspirasie wees!
Idioom
bright-eyed and bushy-tailed - alertly eager; full of energy and enthusiasm: 'Get a good night's sleep so you'll be bright-eyed and bushy-tailed in the morning.'
::
Monday, 14 July 2014
Vandag is só 'n dag
Dis Maandag. 'n Nuwe dag.
::
Op 'n dag wanneer die wind perfek is
moet die seil net oopmaak
en die wêreld is vol prag.
Vandag is só 'n dag.
::
Ek wens jou 'n wonderlike week toe!
Friday, 11 July 2014
Is dit tyd vir aftree?
Aftree. Ek is nou op daai ouderdom en dis 'n woord wat ek baie hoor deesdae. My dogter vra, "Wanneer gaan julle aftree, Ma?" Ander afgetrede vriende van ons ouderdom (ek en my man grens albei aan 70) vra ook die vraag, "Wanneer gaan julle aftree?" Nou het ek begin dink, is dit dalk tyd vir aftree?
Maar aftree van wat? Van werk? Vir die afgelope twintig jaar of so bedryf ek en my man ons trekker-besigheid hier op ons plot en ek kan waarlik sê dat daar min dae was wat soos "werk" gevoel het. Ons deure is oop van 8vm tot 5nm in die week, geen naweke nie maar as daar wel navrae vir trekkeronderdele is op 'n Saterdag, skroom ons nie om iemand te bedien as ons wel by die huis is nie.
Ons tyd is ons eie. Ek hoef nie my inkopies op Saterdae te doen omdat ek "werk" nie. Ek doen inkopies gedurende die week. As dit ons pas en as die werklading dit toelaat, dan sluit ons die deure en gaan kuier vir my dogter by die kus vir 'n paar dae. Ons gaan eet gereeld ontbyt saam by die Wimpy in Magaliesburg wanneer dit ons aanstaan en tussen-deur sien ek om na my hoenders, werk in die tuin, skets en skilder gereeld en beoefen 'n paar ander kreatiewe dingetjies wanneer ek lus is.
Ek stap gereeld vroeg-oggend of laat-middag op die plot rond, kamera of sketsboek in die hand, op soek na iets moois om te teken of af te neem. Ek laai en verkoop my kuns op verskeie webwerwe op die internet en 'n hele paar blogs hou my besig. My man se stokperdjie is om aan ou, klassieke karre te peuter en hy neem deel aan byeenkomste en uitstappies oor die Boere-oorlog geskiedenis van ons land, wat al sy spaar tyd, so tussen werk deur, in beslag neem.
Nou wonder ek net - aftree van wat? Wat is aftrede eintlik? Om op te hou werk?
Toe lees ek êrens 'n definisie van aftrede : "aftrede is ’n aksie waartydens ’n werker ophou om sy/haar hoofberoep te verrig, terwyl hy/sy steeds ’n inkomste ontvang in die vorm van pensioen. Omdat baie werkers voortgaan met arbeid op ander terreine, kan aftrede ook beskryf word as ’n radikale verandering en ’n voortgaande proses."
Mense sien met verwagting uit na die dag wanneer hulle finaal van werksdruk, tydsdruk en ’n magdom verantwoordelikhede verlos kan wees om hulle eie ding rustig en ontspanne te kan doen. Arbeid het die mens se lewensiklus geword, met aftrede as die finale fase in die siklus. Eers in die twintigste eeu het mense lank genoeg bly leef om te kan aftree. In die Steentydperk was die gemiddelde lewensverwagting ongeveer 18 jaar, in die Romeinse tyd 22 jaar, in die Middeleeue 25 jaar en teen 1900 was dit 44 jaar. Vandag kan ’n man verwag om 76 jaar en sy vrou 80 jaar of ouer te word.
So aangesien dit blyk dat daar nog so om-en-by twintig of dertig jaar vir ons voorlê, met of sonder om te werk, is dit dalk nou meer 'n geval van aftree van ou gewoontes; aftree van die roetine van 7vm wakker word, half-agt te bad en 8-uur die deure vir besigheid oop te maak, aftree van die roetine om 10uur ontbyt te gaan eet, aftree van die roetine van dinge oor en oor dieselfde te doen.
Dalk is dit nou tyd om partymaal eers 9-uur op te staan; dalk is dit nou tyd om vir 'n verandering in 'n vreemde land in 'n vreemde bed wakker te word, dalk is dit nou tyd om Mount Everest te gaan klim. Dalk is dit nou tyd "to be what you might have been."
Volsirkel : George Eliot het gesê, "It's never too late to be what you might have been". Maar ek dink dit is klaar te laat - ek voel ek is al klaar 'what I might have been'.
So ek dink ons lewe is 'n voortgaande proses. Ons hoop om hier dood te gaan, afgetree of te nie - Dave in sy werkswinkel en ek voor my esel of die rekenaar, besig om een laaste blog-pos of skilderstuk te doen (die onvoltooide meesterstuk.)
.
Tuesday, 8 July 2014
Die wonder van die internet
Foto vanaf Pinterest
Is jy nie net ook mal oor blogs nie? Die internet het SO ‘n wonderlike plek geword, vol pragtige woorde, foto’s, idees en gedagtes. Hier is ‘n paar interessante dinge wat ek op die internet opgetel het.
Ek het nou die dag gehoor iemand sê Pinterest gaan blogging doodmaak!
Hier is iets wat ek graag vir aandete wil maak.
Pragtige dekor-idees.
Ek is mal oor Rachel Ashwell se “Shabby Chic”.
Goeie advies en mooi foto’s oor tuinmaak in Suid Afrika.
Emma se storie omtrent haar gewig
An avid fan of dipping crunchy – dis ek!
.
Monday, 30 June 2014
Eskom is vol Kaf
Mens moet net lief wees vir die mense van Suid Afrika! Ek luister vanoggend na die radio omtrent Eskom wat gaan af wees in wie weet hoeveel voorstede in Pretoria en Johannesburg oordat Eskom kabels van een of ander kragstasie WEER gesteel is. Mens sou dink almal sal moan en vloek en hul lot beweeklaag, maar nee, almal was vrolik en opgewek en het voorstelle gegee van hoe om deur die krisis te kom.
Daar was geskets omtrent hoeveel geraas daar skielik in die voorstede is van al die kragopwekkers, en die algemene trant was voorstelle soos stort by die werk, herlaai jou selfoon by die werk of een of ander winkelsentrum of 'n vriend wat gelukkig genoeg is om wel kraag te hè, en dis ook 'n goeie tyd om uit te eet of pizzas te bestel!
Whoot whoot Suid Afrikaners! Dis die gees wat ons land so 'n wonderlike plek maak en wat sal verseker dat ons deur enige iets kan kom!
.
Thursday, 26 June 2014
Bulbine frutescens – Balsemkopiva
Tuinmaak is een van die groot plesiere van die lewe vir my. Om in 'n stukkie grond rond te vroetel is hemels. En daar's niks beter as die reuk van nat grond na 'n lekker reënbui nie.
‘n Inheemse en pragtige en vrolike plant vir jou tuin wat oulike randplante, asook houer plante, maak is Bulbine frutescens of Balsemkopiva. Die plantjie groei maklik en alhoewel ek myne as saailinge gekoop het, kan jy eenvoudig ‘n stukkie in die grond druk en omtrent drie weke later het jy ‘n nuwe plantjie.
Balsemkopiva plantjies benodig nie baie water nie, hulle is waterslim plante en hulle oorleef ook taamlike swaar ryp redelik maklik. Hulle kan oorleef op baie droë gebiede en hou van vol son. Boonop lok hulle ook baie bye en skoenlappers na jou tuin.
Dis ‘n eg Suid Afrikaanse plantjie met baie medisinale waarde. Die blaarsap word gebruik vir onder andere sere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope en insek bytplekke. Met tuinwerk is dit onvermydelik om soms skrape en steke op te doen, dan pluk ek sommer 'n blaartjie (of stengel) en smeer die sap aan die wond. Dit is ook wonderlik vir koorsblare, aknee, brandwonde, skaafmerke, waterblase, gebarste lippe en gebarste vingerpunte.
Kom oorspronklik in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en dele van die Kaap voor. Die plant groei waar niks anders wil groei nie en is boonop droogte-, hitte-, lugbesoedeling- en rypbestand.
Ander name : geelkatstert, katstert, kankerbossie en, in die volksmond, ook as snotbossie, weens die slymerige jel tussen die blare.
.
Saturday, 21 June 2014
Saterdaggedagtes
'n Yskou Saterdagoggend hier in Tarlton (Gauteng, Suid Afrika) en vandag...
wil ek graag 'n mooi gedig of boek lees
wil ek graag 'n mooi prentjie sien
wil ek graag inspirerende musiek luister
wil ek graag iemand merkwaardig ontmoet
wil ek graag 'n paar verstandige woorde sê
en
wil ek graag my motorhuis regpak
::
en
wil ek graag my motorhuis regpak
::
Tuesday, 17 June 2014
Lied van die natuur
'n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale...
Om 'n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome.
::
Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
Aan die punt van die vallei hoog in die berge
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido)
::
.
Saturday, 14 June 2014
Laventel kerse in ou teekoppies
Wat jy nodig het:
- Gompistool
- Kerstermometer (of gebruik die tipe wat ’n mens gebruik wanneer jy suiker smelt vir lekkergoed)
- Draadpit met waks om, en ’n knippie/plaatjie
- Roomwaks of gebreekte ou kerse
- Knippe waarmee jy sakkies verseël, of bamboesstokkies
- Geursel vir kerse (laventel essential olie, nie die geur-tipe nie)
- Antieke teekoppies (of enige ander houer waarvan jy hou, selfs ou bottels kan gebruik word)
- Dubbelkoker (die belangrike ding is dat die water nie aan die glashouer moet raak nie)
1. Gooi water in die dubbelkoker, sny die waks in stukke en plaas dit binne-in die houer. Haak die termometer aan. Draai die plaat op hoë hitte.
2. Gebruik die gompistool om die draadkern-kerspitknippie onder in die houers wat jy gebruik, vas te gom.
4. As die waks eers gesmelt het en tot omtrent 83°C verhit is, verwyder van die hitte en voeg kleur by. Wag tot dit tot 80°C afkoel om geursel by te voeg.
5. Giet die waks in elke houer en maak seker dat die kerspit op sy plek bly. Gaan die houers gereeld oor die volgende halfuur of so na om seker te maak die kerspitte skuif nie.
En voilà!
::
Thursday, 12 June 2014
My eie stukkie paradys
Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is...
Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.
Jy sou lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou.
Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.
Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.
Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...
::
Saturday, 7 June 2014
Winter - Hoor die blomme en die blare...
'Hoor die blomme en die blare
bewend van die winter praat,
doodgedoemde martelare,
siek en van die son verlaat.
O, bly by my, beminde teer,
dan bloei in my die somerblomme weer.'
- Onbekend
'n Brawe veldblommetjie op ons kleinhoewe. Selfs die ysige paar dae wat ons nou ondervind kannie die lewenslus van hierdie pragtige blommetjies demp nie!
::
Subscribe to:
Posts (Atom)

























