Tuesday, 17 June 2014

Lied van die natuur

'n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale... 

Om 'n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome. 

:: 

Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak 
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor 
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak 
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Aan die punt van die vallei hoog in die berge 
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk 
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel 
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk 
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido) 

::



 .

Saturday, 14 June 2014

Laventel kerse in ou teekoppies


Antieke teekoppies wat hul pierings verloor het, kan oulike geskenkies maak as hulle in kershouers verander word - Ek het op hierdie oulike idee by Everything Fabulous afgekom - gaan na hulle webwerf om al die foto's te sien van hoe om dit te doen, dit lyk vreeslik maklik!

Wat jy nodig het:

- Gompistool
- Kerstermometer (of gebruik die tipe wat ’n mens gebruik wanneer jy suiker smelt vir lekkergoed)
- Draadpit met waks om, en ’n knippie/plaatjie
- Roomwaks of gebreekte ou kerse
- Knippe waarmee jy sakkies verseël, of bamboesstokkies
- Geursel vir kerse (laventel essential olie, nie die geur-tipe nie)
- Antieke teekoppies (of enige ander houer waarvan jy hou, selfs ou bottels kan gebruik word)
- Dubbelkoker (die belangrike ding is dat die water nie aan die glashouer moet raak nie)

1. Gooi water in die dubbelkoker, sny die waks in stukke en plaas dit binne-in die houer. Haak die termometer aan. Draai die plaat op hoë hitte.

2. Gebruik die gompistool om die draadkern-kerspitknippie onder in die houers wat jy gebruik, vas te gom.


3. Laat die kerspit van ‘n stokkie afhang sodat dit mooi reguit is. Jy kan ook 'n knippie waarmee sakke verseël word, gebruik om die kerspit vas te knyp. Dit moet net lank genoeg wees.

4. As die waks eers gesmelt het en tot omtrent 83°C verhit is, verwyder van die hitte en voeg kleur by. Wag tot dit tot 80°C afkoel om geursel by te voeg.

5. Giet die waks in elke houer en maak seker dat die kerspit op sy plek bly. Gaan die houers gereeld oor die volgende halfuur of so na om seker te maak die kerspitte skuif nie.

En voilà!


::

Thursday, 12 June 2014

My eie stukkie paradys


Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is...

Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.

 Jy sou lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou. 

Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie. 

Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.

Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek... 



::

Saturday, 7 June 2014

Winter - Hoor die blomme en die blare...


'Hoor die blomme en die blare 
bewend van die winter praat, 
doodgedoemde martelare, 
siek en van die son verlaat. 
O, bly by my, beminde teer, 
dan bloei in my die somerblomme weer.' 
- Onbekend 

'n Brawe veldblommetjie op ons kleinhoewe. Selfs die ysige paar dae wat ons nou ondervind kannie die lewenslus van hierdie pragtige blommetjies demp nie! 

::

Saturday, 31 May 2014

Wag net, ook jy sal gou rus vind


Bokant alle hange
is rus,
loerie se gesange
vaak gesus,
net soos die wind
wat loom sy lê in kriebos kry;
wag net,
ook jy
sal gou rus vind!
—Verafrikanisering deur Dugeot vanaf die Duitse digter Goethe se "Über allen Gipfeln"

.

Sunday, 25 May 2014

Wat het jy gister gedoen...?

... wat het jy gister gedoen wat die moeite werd is om te noem?


Ek het baie gedoen. Ek moes vroeg buitentoe gaan om te sien hoekom die hoenders so tekere gaan en het toe gesien hoe die son opkom agter die bome op die onderkant van ons plot. Dis min dat ek in die winter so vroeg buite is en dit was rééds op my lysie van dinge om te doen, om weer 'n sonsopkoms te aanskou.


Op pad terug het ek op hierdie veer afgekom en natuurlik moes ek gou die kamera gaan haal. Hulle sê mos dis 'n 'blessing' om op 'n veer af te kom en ek het sommer gewéét dat my dag spesiaal gaan wees! Nog in my pajamus het ek met my stomende koppie koffie op die stoep in die koue gesit en myself verwonder oor die voëltjies wat van vroeg af al so vrolik die dag begroet. Hulle het niemand om hulle te versorg nie (wel, nie heeltemal Niemand nie, maar jy weet wat ek bedoel) en tog, het jy al ooit een gesien wat nie gelukkig lyk nie? Ek het nog nie. Op die koudste dag van die winter gaan hulle aan met die lewe, kla nooit nie, gee nooit op nie, verwag niks meer nie, gelukkig om die son te sien opkom, om te kan vlieg.


Mooji se aanhaling kom tot gedagte : "Leave your existence to existence, stop caring for yourself so much and let the universe care for you; it is the best mother. There has to be some trust, not just belief, because trust is intimate... The very letting go will be observed in your presence." 

En so het my hele dag voort gegaan, een wonderlike openbaring na 'n ander en 'n diepe dankbaarheid dat ek hier is om dit alles te ondervind...

::

Monday, 19 May 2014

Dankbaarheid


Ferris Bueller het gesê “Life moves pretty fast. If you don't stop and look around once in a while, you could miss it.”

Miskien is dit hoekom ek skilder, hoekom my verfkwasse of my kamera gedurig saam met my is. Die lewe is vol klein wonderlike dingetjies en niks is so gewoon dat dit nie 'n glimmer van 'awesome' het nie. Ek staan in verwondering oor die klein dingetjies, die klein oomblikke van prag in 'n grashalmpie, die son wat deur die venster skyn, 'n spinnekoppie op my Madeliefies, 'n warm beker koffie in my hande, die verandering van die seisoene en my Swaeltjies wat reg maak om te vertrek na 'n warmer klimaat - wanneer ek skilder, beoefen ek eintlik dankbaarheid vir die klein algemene gebeurtenisse wat elke dag spesiaal maak. My verfborsels en my kamera laat my toe om die lewe deur nuwe oë bekyk, asof ek alles vir die eerste maal sien.

Stop jy ook so elke nou en dan om bietjie rond te kyk? Toe. Stop 'n bietjie. Ons sal dit saam doen. Haal diep asem. Wees dankbaar vir hierdie oomblik van oorvloed. Voor jy dit weet, is hierdie oomblik verby. Vir ewig.


::

Thursday, 15 May 2014

Is ons Afrikaners verbeeldingloos?


Hoekom is dit dat, wanneer ek mooi woorde soos oorvloed, inspirasie, liefde, hoop, seëninge en nog vele ander in Afrikaans Google, ek net op bladsye en bladsye vol bybelverse en troufoto’s afkom? Die woord ‘Inspirasie” neem my na ‘Trou inspirasie’, ‘ons daaglikse seëninge’, ‘inspirasie oor gebede en geloof’, ‘inspirerende boodskappe van god’ en ‘christelike inspirasie’ en daar is omtrent nie ‘n artikel wat nie na een of ander bybelvers verwys nie. Waar is al die mooi inspirerende aanhalings in Afrikaans? Vir die woord ‘oorvloed’ kry ek (behalwe my eie webwerf “OORVLOED”) bladsye en bladsye vol bybelse aanhalings, maar niks wat die woord “abundance” uitbeeld nie. Dieselfde met liefde, hoop en seëninge.

Is ons Afrikaners so verbeeldingloos dat ons oor niks anders behalwe geloof en die bybel kan skryf en dink nie? (“Geloof” (belief) is nog ‘n woord wat ALLEENLIK net met die bybel te doen het as jy dit Google.) Of is ons Afrikaners so behep met geloof dat ons in geen ander rigting kyk nie, oor niks anders kan skryf of niks anders in die lewe kan ondervind nie omdat dit ons dalk op een of ander manier sal aantas of besoedel?

Ek soek na die mooi in Afrikaans, mooi en inspirerende artikels om in Afrikaans te lees oor oorvloed en inspirasie en hoop – maar blykbaar word hierdie woorde net in ‘n bybelse konteks gesien. Glo Afrikaners nie dat ons in oorvloed (abundance), met baie geld EN geluk, kan leef nie? Glo hulle nie dat oorvloed, in die vorm van geld en aardse besittings, ons geboorterg reg is nie?

Die verbeeldingloosheid gaan ‘n tree verder met die woord ‘heelal’ (universe). Behalwe vir ‘Mej. Heelal’ en bladsye en bladsy vol wetenskaplike beskrywings, is daar omtrent nie ‘n enkele inspirerende artikel oor daardie woord nie. Of is die woord ‘heelal’ dalk nie deel van ons Afrikaanse denkwese nie?

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek kraak glad nie enigiemand se geloof hier af nie. Ek glo in vrye denkwese en vryheid om enige geloof wat jy wil na te volg. Ek praat van verbeeldingloosheid in ons skryfsektor aangaande hierdie spesifieke woorde. Daar is baie ander woorde ook – meester, duiwel, verlossing, skep of skepping (create, creation), self liefde en affirmasie (‘n anglisisme vir Affirmation) en ek kan aan en aan gaan.

Ek weet Google gee mens resultate gebasseer op jou soek-geskiedenis en ek weet daar is mooi Afrikaanse artikels hier êrens op die net, maar definitief nie onder die woorde wat ek hier bo genoem het nie…

.

Tuesday, 13 May 2014

Laat daar altyd blomme in jou lewe wees… dit laat jou beter voel

Veldblommetjies op ons plot

If you have two pennies, spend one on bread and the other on flowers. The bread will sustain life. The flowers will give you a reason to live.

Daar is altyd blomme vir diegene wat dit graag wil sien. Al sal dit party dae moeilik gaan, moet jy steeds die mooi en goeie dinge in jou lewe raaksien en waardeer.

Sodra ek net ‘n bietjie ontsteld voel, gryp ek gewoonlik na my skilderkwas, maar gister het ek die natuur nodig gehad. Ek het laat-middag my kamera gegryp en koers gekies veld in. Die reuk van die nat gras na die vorige aand se heerlike reën, die warm sonnetjie op my skouers in die koue en die geswiep van die gras teen my bene het my onmiddellik beter laat voel.


Oral was daar reëndruppels wat in die sonlig geskitter het en die mooiste veldblommetjies wat tussen die gras weg gekruip het. ‘n Paar patryse het vinnig in die paadjie voor my tussen die gras verdwyn asof hulle nooit eers daar was nie en die Diederiks Cuckoo se weemoedige geroep in die Bloekombos het my nader gelok, maar dié outjie is gans te geheimsinnig om ‘n foto toe te laat. Ek het lank gestaan en luister voor ek die paadjie weer huistoe gevolg het.

Ek het beter gevoel, want daar is blomme in my lewe…




::

Friday, 9 May 2014

Wenke vir 'n kreatiewe naweek

Dis Vrydag! Hou jouself hierdie naweek besig met 'n paar maklike en kreatiewe tuintakies - en raak sommer ontslae van al daardie opgaargoed so in die proses! Hier is 'n paar oulike wenke wat ek op die internet raak geloop het.


Moenie die binneste rolletjie van jou toiletrolle weg gooi nie. Smeer dit met heuning of grondboontjiebotter en rol dit in voëlsaad. Sit dit in die boom vir die voëltjies.... veral in die winter wanneer proteïene skaars is. Hulle is mal daaroor!


Nog 'n gebruik vir daai toiletrol binnestes is om saailinge in hulle te plant. Pak 'n Tupperware bak vol toiletrolletjies en vul elkeen met goeie plantgrond. Plant jou saadjies of saailinge versigtig en gee 'n bietjie water. Sodra die plantjies groot genoeg is, is dit maklik om hulle oor te plant, toiletrolletjie en al aangesien dit bioafbreekbaar is en intussen ook allerhande goggas van die plantjies sal weghou.


Kreatiewe huisnommers
Verf blombotte in mooi kleure en plant vrolike plantjies binne-in.  Verf of stensil jou huis se nommer op die potjies.  Plaas naby jou ingang, sigbaar van die pad. 


Jy hoef nie duur potte te koop as jy op jou stoep 'n paar tamaties wil groei nie. Kry daardie ou inkopiesak uit die kas waarvan jy al vergeet het en plant jou plantjies daarin. Dit maak pragtige en vindingryke planthouers en sal hou totdat die tamaties klaar vrugte gelewer het. 

::

Stap 'n myl in my skoene...

Foto vanaf 'Spel & the Gypsy'

en ek sal vandag 'n myl in jou skoene stap en verstaan...

.

Monday, 5 May 2014

Luister met jou ore...






Dit is belangrik om met jou ore te luister - nie met jou ego nie - Onbekend















.

Thursday, 1 May 2014

Rooiborsduifies








Hulle roep is 'n sagte, rustige frase note wat laag begin, hoër styg en dan weer afwaarts borrel.










.