Monday, 28 March 2016

Eie-tyd en Oorvloed


Toe ek hierdie artikel oor eie-tyd en ALLEEN wees begin skryf, het ek op die internet gesoek na 'n mooi aanhaling of gediggie om hier te plaas, maar al wat ek op afgekom het was dinge soos, "Om alleen te wees is om sonder liefde te wees", "Nou is ek alleen, die pad lyk donker, eensaam en dood" en "dit is swaar om alleen te wees". Nêrens is daar iets goeds of positiefs te vinde oor 'alleen' wees nie. Selfs Wikipedia beskryf iemand wat daarvan hou om alleen te wees as "iemand wat menslike wisselwerking vermy, uiterste vorme van skuheid en ingekeerdheid openbaar of aan sielsiektes ly." Hoe op aarde het die mensdom tot hierdie gevolgtrekkings gekom...? 

Ek verstaan heeltemal die gevoel van verlies wanneer mens 'n geliefde verloor of 'n verhouding tot 'n einde kom, maar selfs dít is nie 'n rede om alleen-wees te vrees nie. Om bang te wees om alleen te wees is soos om te sê, 'iewers langs my lewenspad het ek my eiewaarde verloor. Ek het myself nie lief genoeg om my eie geselskap te waardeer nie'. 

Nou het ek heeltemal van die paadjie af gedwaal! Nee, ek wou skryf oor die salige gevoel van alleen wees met jouself en dit geniet, daardie eie-tyd waarna soveel mense smag maar nie weet hoe om te bewerkstellig nie. Hulle voel skuldig as hulle bietjie tyd aan hulself spandeer met die gevolg dat elke oomblik gevul word deur ander mense se behoeftes te vervul en sodoende leer hulle nooit om alleen-wees te geniet nie. 

As kinders is ek en my susters en broer baie aangemoedig om alleen te speel, ons eie ding te doen en om ons eie geselskap te geniet. Dit het ons geleer om kreatief te wees, meer te dink aan oplossings vir probleme, selfstandige besluite te neem en om te verstaan wanneer ander mense alleen wil wees. 

Daardie eie-tyd gun mens die kans om die lewe in die regte perspektief te sien, dankbaarheid te beoefen en toe te laat dat oorvloed jou lewe betree sodat, selfs wanneer jy alleen is, jy nie eensaam sal wees nie. 

:: 


Thursday, 24 March 2016

Selfsorg en Vreugde



Ek hoor so baie vrouens kla oor die feit dat hulle nooit tyd vir hulself het nie en dat 'n ma en vrou se prioriteite altyd laaste kom. Hulle glo dit is maar hoe die lewe werk, en hoe gouer hul dit aanvaar, hoe makliker gaan hul deur die lewe gaan.

Waar stop 'n ma se veranwoordelikheid? Hoekom voel ons so skuldig oor als? Hoekom is ons so perfeksionisties waar dit die familie en ander se behoeftes aangaan, maar nie ons eie nie?

Van al die dinge wat ons lewens beϊnvloed, is ons oortuigings-sisteem seker die mees belangrikste.

Wat ons glo vorm ons uitkyk en gedrag en houding en as ons ons lewens wil verander en transformeer, kan ons dit nie doen sonder om ons oortuigings-stelsel te verander nie.

As ons waarlik ons lewe wil verander, moet ons leer om ons geloofstelsel te verander. Die goeie nuus is dat dit nie so moeilik is as wat dit klink nie! Vasbeslotenheid en dedikasie is al wat dit vat.

Ongelukkig vir meeste van ons, het ons meer self-limitasie oortuigings as konstruktiewe oortuigings. Ons GLO dat almal se behoeftes voor ons eie moet kom - ons kinders, ons eggenote, ons vriende - en dan is dit goed genoeg dat ons kry wat oor is. Dit is die EEN groot rede hoekom ons voel of ons vassit en asof ons 'n slagoffer van die noodlot is, dat ons nie in beheer van ons eie lewe is nie.

Die oomblik wat ons hierdie self-limiterende oortuigings verruil vir meer positiewe oortuigings, sal ons houding en gedrag outomaties verander om in te pas met ons nuwe oortuigings en nuwe en meer bevrydende moontlikhede in ons lewe aantrek.

Onthou toe jy laas op 'n vliegtuig was? Die lugwaardin het verduidelik wat jy moet doen in geval van 'n noodtoestand en het gesê,

"Indien jy saam met ander mense reis wat hulp nodig sal hê, sit asseblief eers jou eie suurstofmasker aan voordat jy die ander mense help."

Eenvoudige konsep, nê?

Jy kannie iemand anders help as jy nie kan asemhaal nie!

Selfsorg is dieselfde.

Selfsorg is die absolute fondasie vir enige suksesvolle onderneming; of dit nou 'n besigheid is, of as 'n ouer, vennoot of vriend - van 'n pure fisiese standpunt, hoe beter jy agter jouself kyk, hoe meer energie het jy om in jou lewe in te sit.

Van 'n energie standpunt, hoe meer gebalanseerd en gelukkig jy voel, hoe makliker kan jy jou lewe genotvol vervul.

Benewens, die manier wat jy jouself behandel, wys aan ander dat jy verwag dat hulle jou goed behandel.

Byvoorbeeld, as jy 'n unieke tipe diens of produk lewer en jy vra nie vir betaling nie, dan stel dit voor dat geld nie vir jou belangrik is nie, en kan jou kliënte dalk dink jou diens is nie waardevol of van belang nie.

Dink vir 'n oomblik aan die week wat verby is :

Het jy tyd gehad vir jouself?
Wie se behoeftes het eerste gekom - joune of almal om jou?
Het jy 'ja' gesê vir dinge waarvoor jy liewers wou 'nee' sê?
Het jy gevoel jou tyd was jou eie?

Stap #1: Skeduleer tyd vir self-sorg
Die wêreld gaan jou nie vra of jy ekstra tyd vir jouself nodig het nie - dis jou werk om die grensperk te stel en tyd vir jouself te maak!

'n Maklike manier om jouself 'n prioriteit te maak en 'n sterk fondasie te lê vir selfsorg is om 'n tyd te skeduleer, dieselfde soos jy tyd skeduleer vir al jou take gedurende die dag, maar sit selfsorg EERSTE in jou beplanner.

Om geld te spaar, sê die deskundiges jy moet 10% van jou inkomste eenkant sit sodat jy dit nie spandeer nie. Dis dieselfde met tyd vir jouself.

Elke week, besluit watter selfsorg dinge is vir jou belangrik en sit dit in jou beplanner. Wil jy yoga doen? Wil jy 5 minute mediteer in die oggend? Wil jy al die familie oorhê vir ete Woensdag aande? Wat van jou haarbestelling? Besluit wat is vir jou belangrik en skryf dit in en beplan die res van jou tyd om dit. Jy sal verbaas wees hoe maklik en bemagtigend dit kan wees!

Stap #2: Soveel moontlik, sê alleenlik JA as jy dit regtig bedoel
Vind jy gereeld dat jy ja sê vir versoeke wanneer jy wens jy kon nee gesê het? Hoe laat dit jou voel? Voel jy gegrief om êrens te wees waar jy nie wou wees nie? Natuurlik sal daar altyd aktiwiteite wees wat jou aandag moet geniet en waarvoor jy nie lus is nie, maar daar is ook gewoonlik altyd keuses rondom hulle.

Probeer hierdie :

- Wanneer iemand jou vra om iets te doen, huiwer, haal diep asem en dink regtig na daaroor.
- As dit jou nie genoeg tyd gee nie, sê jy moet eers jou dagboek nagaan.
- Wanneer jy besluit, voel wat jou liggaam en jou verstand jou vertel.
- Wees bewus van die seine vir elke besluit en gee dan jou antwoord.
- Hierdie sal dalk eers baie selfsugtig voel, maar dit is eintlik respekvol, vir jouself en ander.

Byvoorbeeld, as jy na 'n partytjie gaan en jy wou nie eintlik nie, dink jy nie andere kan dit aanvoel nie? Liggaamshouding spreek volumes!

Dit word gesê dit neem 21 dae om 'n nuwe gewoonte te vorm - gedurende die volgende maand, beoefen selfsorg op nuwe maniere, wees bewus van jouself en erken elke manjifieke selfsorg stap wat jy neem.

Wees ekstra gaaf teenoor jouself, en onthou om jou masker op te sit!

- Jy is die enigste een wat in jou behoeftes kan voorsien.
- Dit is jou taak on jouself eerste te stel in jou lewe, wetende dat jy dan voller kan  konnekteer met almal om jou.
- Dit bedoel jy is 'n beter eggenote, vriend, ouer, ens.

Deur meer vrede in jou lewe te bewerkstellig, is daar meer vrede in die wêreld.

Red die wêreld vandag deur uitstekend vir jouself te sorg!

::

Sunday, 20 March 2016

Skuldgevoel Bring Jou Niks in die Sak nie



Skuldgevoel is self-minagting. Jy is liefde van self, liefde van alles, jy is liefde. Jy kannie terselfdertyd  liefde en skuldgevoel wees nie — hulle is twee teenoorgestelde vibrasies.

Jy sê, "Ek het besluit om netjies te wees. Ek gaan my bed elke dag opmaak". En dan dink jy aan al daardie beddens wat jy nie opgemaak het nie, en jy sê "Ek moet seker maar teruggaan en al daardie ander beddens opmaak". Wel, voorspoed met daai een! Jy kan onmoontlik nie iets omtrent daai beddens doen nie. Maak net jou bed vandag op!

Reik vir 'n goeie gevoel NOU, en vergeet van wat voorheen gebeur het, want jy kan buitendien niks daaromtrent doen nie, en jy wil ook nie. Op hierdie oomblik is jy hierdie suiwere, magtige, geseënde, geliefde, al-wetende en wat-alles-verdien mens. En enigiets wat voorheen gebeur het, het niks daarmee te doen nie.

.

Tuesday, 8 March 2016

Geheime van gelukkig wees



Wanneer laas het jy tien minute vroeër opgestaan om die sonsopkoms te bewonder? Of met kaal voete in die reën gehardloop? Kortom, wanneer laas het jy tyd gemaak om jou siel te voed?

Die siel is ons brug na Bron-energie. Tensy ons ’n gesonde siel kweek, ly ons emosioneel in ons verhoudings en bly ons geestelik honger. Net soos jou liggaam aandag, voeding en oefening nodig het, net so het jou siel koestering nodig om jou van binne gesond te hou.

SIELSKOS

Tyd vir stilword

Die stylvolste boeke op die rak is daardie wat met vernuf gebruik maak van wit spasie om besige teks mee af te wissel. Is daar genoeg “wit spasie” in jou lewe? Haal twee dinge van jou prioriteitslys af wat jy môre moet doen.

Dink aan mense wat in jou oë ryk siele het. Watter eienskappe maak hulle so? Skryf dit neer en dink hoe jy elkeen in jou eie lewe kan inbou.

Voltooi die sin op soveel maniere as wat jy kan: “As my siel goed versorg was, sou ek ...”

Dink terug aan die klein, onverwagse lekkertes in jou lewe. Daardie oproep van ’n ou vriendin. Die onverwagte wyshede wat elke nou en dan uit jou kind se mond glip. Verlustig jou daarin, want dié oomblikke gaan so gou verby.

Tyd vir verwondering

Dra jou slaapsak buitentoe en bring ’n aand onder die sterre deur. Verwonder jou aan die kreatiwiteit van die Heelal.

Maak ’n lys van eenvoudige dinge wat jou genot verskaf, soos die reuk van ’n braaivleisvuur, die rustige gekoer van ’n duif, of warm seesand tussen jou tone. Voeg daagliks iets by hierdie lys en probeer om ten minste weekliks een van hierdie dinge te ervaar.

Kinders is die grootste leermeesters oor hoe om alledaagse oombliklike in avonture te omskep. Weerstaan die drang om met grootmensverskonings vir hulle “nee” te sê.

Gaan sit vir tien minute met toe oë op ’n stil plekkie in jou tuin. Span jou sintuie in om waarlik bewus te raak van die klanke, reuke en voelbare dinge in jou omgewing.

Tyd vir wegbreek

Breek ’n slag weg van roetine af. Eet ’n ongewone ontbyt. Ry ’n ander pad werk toe. Hou piekniek op die gras. Gaan stap elke aand saam met jou gesin om die blok.

Teken ’n eenvoudige prentjie van die ideale “ruimte” waarna jou siel smag. Is dit ’n kolletjie in die son? ’n Bankie langs water tussen blomme? Sagte kussings om jouself op neer te vly? Bo-op ’n bergpiek met die vallei onder jou uitgestrek? As jy nie self hierdie ruimte kan herskep nie, herinner jou daaraan dat dit net sover soos jou verbeelding is.

Gee jouself ’n halwe dag sonder verpligtings. Gebruik hierdie tyd om oor jou keuses van die afgelope jaar te besin. Wat is jou doelwitte vir die jaar wat voorlê en hoe lyk jou plan van aksie om dit te verwesenlik?

Midde-in jou volgende krisis, neem’n paar minute om jouself uit die situasie te verwyder. “Reis” in jou gedagtes na ’n stil plek, laat jou gees rus.

Tyd vir genesing

Sielkundiges het ontdek dat om met jou “verkeerde” hand te skryf, gedagtes en gevoelens kan openbaar waarvan jy onbewus was. Skryf ’n paar eerlike sinne met jou “verkeerde” hand neer. Skryf nou met die ander hand ’n liefdevolle, gerusstellende reaksie op elk.

Jy is so siek soos jou geheime. As jy met ’n geheim rondloop wat jou siel siek maak, raak daarvan ontslae.

Is daar dele van jouself wat jy verwerp omdat dit jou skaam laat voel of seer laat kry?  Hou ’n verwelkomingspartytjie vir daardie deel van jou, kyk daarna, voel dit en aanvaar dit sodat jy daarmee saam kan leef. Maak nou vrede daarmee.

Tyd vir sielsgenote

Maak ’n lys van mense wat jou lewensgroei op een of ander manier ondersteun. Skryf langs elk ’n paar woorde oor die tipe steun wat hulle jou bied.

Stuur ’n briefie aan elk waarin jy dankie sê vir die manier waarop hulle jou help.

Sien die mense in die gemeenskap om jou raak – by die huis, werk, skool, kerk en daar waar jy jou sport of stokperdjies beoefen. Wat kan jy doen om hulle jou sielsgenote te maak?

Smee ’n vriendskap met iemand minstens twintig jaar ouer as jy. Kies iemand wat emosioneel en geestelik volwasse is en geniet die dieper lewenswyshede wat so ’n persoon in jou lewe kan bring.
Wat is ’n paar van die belangrikste eienskappe wat jy in ’n vriend soek? Fokus oor die volgende jaar om hierdie eienskappe in jouself te ontwikkel.

Tyd vir aksie

Soek doelbewus na dinge waaroor jy kan lag. Lees ’n paar comics, neem ’n lawwe DVD uit of lees ’n boek vol grappies voor bed-toe gaan tyd.

Sit die volgende sewe dae opsy om kreatiewe maniere te vind waarop jy vir iemand kan sê jy gee vir hom of haar om, sonder om woorde te gebruik.

Maak ’n gewoonte daarvan om een mens elke dag te prys. Wees opreg en spesifiek.

Dink vir 30 minute oor jou begrafnis na. Wat sal jy graag wil hê ander moet van jou onthou? Begin van vandag af só te leef dat hierdie woorde bewaarheid sal word.

As jy vandag moet sterf, wat is die vyf dinge wat jy sou wens jy meer tyd aan bestee het? Skryf dit neer en wend ’n doelbewuste poging aan om elke dag bietjie meer aandag aan elkeen te gee.

Voer jou siel vet aan ’n feesmaal van goeie sielskos en geniet die energie-inspuiting wat dit aan elke ander area van jou lewe sal gee!

Groete,

MAREE

Friday, 4 March 2016

Ander se Keuses Hoef Nie 'n Bedreiging te Wees Nie



ANDER MENSE SE KEUSES HOEF JOU NIE TE BEDREIG as jy die magtige wette van die Heelal verstaan nie. As jy dit eers verstaan, sal daar nie die nodigheid wees vir verskansings, leërs, oorloë of tronkselle nie, want jy verstaan dat jy vry is om jou wêreld te skep soos jy dit wil hê terwyl andere hul wêreld skep soos hulle dit wil hê—en dat hulle keuses jou nie bedreig nie...

Daar is daardie dinge waarmee jy in harmonie is en daardie dinge waarmee jy nie in harmonie is nie—en alles tussenin.  Jy het nie hierheen gekom om die dinge waarmee jy nie saamstem te onderdruk of te vernietig nie, want daardie dinge verander aanhoudend. Jy is hier om te identifiseer, van oomblik tot oomblik, wat dit is wat jy wil hê en om die mag van jou gedagtes toe te laat dat die Wet van Aantrekkingskrag vir jou werk.

Monday, 29 February 2016

Dankverklaring 5 - Ek is dankbaar vir my inkomste


Ek is SO dankbaar vir my inkomste.
Ek het 'n werk wat ek geniet,
'n uitstekende loopbaan en ek kan
alles bekostig vir my familie.

.

Thursday, 25 February 2016

Manvang


Die internet is darem maar wonderlik! Mens weet nooit waarop jy gaan afkom nie. 'n Paar jaar terug het ek op Minette Brink se skrywe afgekom vanaf Peterjasie en ek was vasgevang deur haar gemaklike skryfstyl en humorsin. Ek plaas graag een van haar skryfstukke hier.

Minette Brink

'Watter man, my liewe kind?'

BY ‘n onlangse familie byeenkoms het ‘n tante met pers hare my voor stok gekry.

"En wanneer kry jy weer man?" wou sy onbeskaamd weet, ten aanhore van die hele familie wie se ore onmiddellik op aandag spits.

"Nee dankie," probeer ek beleefd uit die vraag wikkel.

"Nou wat is fout met jou?" hyg sy tussen die canapé-kouery deur.

Die familie sirkel soos aasvoëls nader. Hier kom mos nou ‘n lekker sappige brokkie inligting wat vir maande herkou kan word.

"Daar is niks fout met my nie, Tante," sukkel ek met die humeur. "Ek wil net nie ‘n man hê nie, dis al."
Sy blaas deur skokpienk lippe . "Gmfff, lekker vol geit, né?"

Ek trap vierkantig in die strik en trek verwoed weg.

"As julle dan so entoesiasties is, kry vir my ‘n man wat nie ‘n obsessie met sport, drank, ander vrouens en status het nie. Nie eens ‘n ligte obsessie nie. Hy mag ook nie ‘n huishen wees wat heeldag onder my voete broei nie. Hy moet langer en breër as ek wees, groen of blou oë hê, lang donker hare in ‘n blink bokstert dra en baie glimlag deur sy bokbaardjie sonder om simpel te wees. Hy moet slimmer as ek wees sonder om pretensieus of aanstellerig oor te kom of my soos ‘n aap te laat voel. Verkieslik sal hy in die buitelug werk, iets soos ‘n toergids of ‘n grootwildjagter met sy eie besigheid, maar hy mag nie langer as ‘n week op ‘n slag weg van die huis wees nie. Met vierdag tussenposes.

Nooit sal hy my vra oor enige van my buie nie, want hy sal sommer net weet wat pla. Ek sal die belangrikste persoon in sy lewe wees sonder dat hy my versmoor met jaloesie en agterdog. Daar sal nie ‘n vervelige oomblik wees as ons bymekaar is nie, maar hy mag ook nie ‘n adrenalien-verslaafde wees nie. Hy sal ewe goed lyk in stukkende jeans, ‘n swembroek en ‘n tuxedo, maar laat ek hom in ‘n Speedo vang en hy’s weg. Daar sal ook nie een sweetpakbroek of help-my-sterk-lyk-hempie in sy besit wees nie. Hy sal niks hou van visvang nie en ook nie vir ure aanmekaar praat oor motors of groot masjiene nie. Ook nie oor die ekonomie of die politiek nie. Maar hy sal ‘n ordentlike motorfiets ry en op hoogte wees van aktuele sake. Hy sal weet van vroue-goeters sonder om verwyfd te wees en hy sal ‘n uithaler kok wees wat glo dat my geregte lekkerder as syne is.

Verder sal hy fantastiese gedigte en prosa skryf sonder om soppy of depressief te raak en hy sal nie by elke geleentheid sy kitaar uitruk en almal verveel met sy weergawe van ‘Ou Ryperd’ nie. Sou hy ‘n grap vertel, sal dit beperk wees tot een grap en nie ‘n drie uur lange marteling vir die geselskap nie. Daar sal ook nie ‘n steekhaarbrak wees wat hom soos ‘n skadu volg en sy tandeborsel met hom deel nie. Ek sal versigtig, maar nie bang wees vir sy humeur nie en hom mag opsoen net wanneer ek wil sonder dat hy hom doodgril vir my tanddrade. Hy sal gek wees oor my kinders en hulle soos sy eie hanteer. Wil julle nog hoor?" vra ek leedvermakerig.

Tannie Pershare is bleek. Die familie is stom.

Voordat iemand iets kan sê, gaan ek geïnspireerd voort.

"Maar eintlik kan hy maar bles ook wees, want kyk nou na iemand soos Gys de Villiers. Hy maak my knieë lam én hy is boonop 'n akteur. 'n Ware man vol passie en kreatiwiteit. Dis wat ek graag na my kant toe sal wil sien kom." Ek staan selfvoldaan terug en wag vir die terugvoer.

Na ‘n ruk kry die tante haar asem terug.

"Jy sal op die rak bly sit met jou cheeky-geit!" blaas sy ontsteld.

"Dankie tog," sê ek tevrede.


.

Sunday, 21 February 2016

Winter. Deur A.G. Visser


"Fok, dis koud!"

::


. 


Wednesday, 17 February 2016

In die tuin...


Die tuin langs die straat
lê elke dag bedwelmd
in blommegeur en voëlgesang,
totdat die laaste kopergloed gevang word
in 'n gewelvenster  en die nag web van sterre,
wat hul sirkelgang in Maart vertraag,
hoog bo die stad uithang.                                   
- Elizabeth Eybers


.

Tuesday, 16 February 2016

Jy tart die wette van die Heelal



Die oomblik wat jy inmeng met wat enigiemand anders doen, dan tart jy die Wette van die Heelal. Dit kannie gedoen word nie. Ons is 'n ontwikkelende Heelal. Dit is nie jou werk om enige iets te beheer of stop te sit of te onderdruk of van ontslae te raak of 'n bom daarop te laat val nie... Dit is nie jou werk om die dinge wat jy nie wil hê teen te werk nie. Jou werk is om toe te laat dat daardie dinge wat jy nie wil hê nie, jou die helderheid gee om te weet wat jy wil hê en dan vibrasionele vrede daarmee te vind.

Dan, soos 'n magneet, word jou wêreld 'n wêreld wat net toegang het tot daardie dinge wat jy besluit het jy wil hê. In geen opsig onderdruk of stop jy iemand anders  om te lewe soos hulle wil lewe nie, jy beheer en skep net jou eie realiteit.

.

Saturday, 13 February 2016

My ma


Sy't jou nooit geken nie,
was van jou magic glad nie bewus nie.
Tog is ek daarvan oortuig,
dat sy oor jou liedjies sou juig.

Ma was ook sonder pretensie,
maar anders as jy, was sy maar 'n klein mensie.
Oor jou öe sou sy kon liries raak.
Jou hare sou sy graag wou vasmaak.


Die erns waarmee jy kan speel,
sou sy baie graag met jou wou deel.
Ek hoef net te luister na "Ma se Song"
om seker te weet dat ek "belong".
- Dozi

.

Friday, 12 February 2016

Perfeksie Sinspeel op Klaarheid ...


 — en dit kan nooit wees nie. So gou as wat jy dink jy het die perfekte plek bereik, verskyn meer aspekte wat sal lei tot meer besluite, wat sal lei tot meer aantrekking, wat sal lei tot meer gevoelens, wat jou sal lei tot hervorming—wat sal lei tot meer aantrekking. Jy kan dit nie verkeerd doen nie. En jy kan dit nooit klaar doen nie.  Dit is altyd reg—en daar's altyd meer om te doen.


Partymaal, wanneer jy dit nooit klaarkry nie, vra jy, "Kan ek nooit rus nie?" en die antwoord is, wanneer jy voel jy wil rus, wat dit eintlik bedoel is dat jy teenstand wil vermy, want wanneer daar geen teenstand is nie, sal jy nooit wil rus nie. Moenie te veel daaroor tob nie. Jy sal nooit ophou vibreer nie an die Heelal sal nooit ophou om jou vibrasie te beantwoord nie.

Onspan in die wete dat jy 'n 'n werk van alewige vooruitgang en ontwikkeling is. As jy iemand of iets voorhou as 'n perfekte voorbeeld, skiet jy jouself in die voet, want dan begin jy dinge verwag van die Heelal wat nie moontlik is nie.

.

Tuesday, 9 February 2016

Rebellie gebeur op alle vlakke


Die mensdom se ingebore bewustheid van individualiteit sit aan die hart van alle internasionale rebellie. Kyk na die onrus in die Middle Ooste en dink dan wat sal gebeur as alle partye kan sê, en dit bedoel,  "Jy dink anders as ek, maar ek moedig individualiteit aan..." in plaas van "Ek is bang vir waaraan jy glo, want dit kan dalk my geloof aantas...".

Die mensdom probeer individualiteit onderdruk, maar dit sal nooit gebeur nie. Op die oomblik  wanneer jy, as 'n individu, jy as 'n geloof of regering, begin om individualiteit aan te moedig, sal al die onrus bedaar. Moenie jou bekommer wat ander doen nie, of waarin hulle glo nie, dis nie deel van jou realiteit nie. Al wat jy moet doen is om jou eie realiteit te skep.

'n Aanmoediging van individualiteit moet binne elke individu gebeur aleer enigiemand vervulling gaan ondervind in hierdie uiteenlopende Heelal waarvan ons almal deel is.

.

Friday, 5 February 2016

Soetgoed vir die siel



Sekere eienskappe is soetgoed vir die siel –
as ’n mens hulle in jou lewe het,
maak dit jou aanvaarbaar vir jouself en vir ander.

Almal hou van mense in wie se lewens hulle eienskappe soos liefde, geloof, hoop, entoesiasme en vrolikheid raaksien. Jou dag is sommer lekkerder as jy een van hierdie mense raakloop. Indien jy bereid is om hierdie eienskappe in jou eie lewe in te weef, sal jou teenwoordigheid vir ander mense vreugde verskaf.

"Jou siel het altyd met jou gevoelswêreld te doen. As ons baie lekker voel, sê ons ons is sielsgelukkig of sielsalig. Jou siel is die ware jy — die som-totaal van daardie dinge wat vir jou werklik belangrik is. Jou siel bevat jou verlangens, jou begeertes, jou passies. Dit is die setel van jou individualiteit. En jyself is die enigste persoon wat jou siel kan verryk — of verarm. 'n Siel, soos 'n huis, word deur sy eienaar gemeubileer. As mense se lewe dus koud en leeg is, kan hulle net hulleself blameer."
— Louis L'Amour

Mag hierdie feesseisoen net vir jou VREUGDE, LIEFDE en INSPIRASIE inhou!