Tuesday, 31 March 2015

Aksies vir positiewe gesondheid



Het jy al gewonder hoekom jy partymaal nie so lekker voel nie? Nie 'siek' nie, net nie 'lekker' nie... Alles gaan goed in jou lewe, jou gesin is gesond en gelukkig, dinge is reg by die werk, vriende en familie is almal OK, maar nog steeds voel jy of iets verkeerd is. 'Gesondheid' is net nie bedoel vir jou liggaam nie, maar is baie belangrik in ons geestestoestand. Respek, vergifnis, positiwiteit, selfversorging, eetgewoontes, oefening en die keuses wat ons maak speel almal 'n rol in hoe 'lekker' jy voel.

Die volgende doelstellinge is noodsaaklik vir genesing en 'n gesonde leefstyl:

Wees Lief vir en Respekteer Jouself
Wanneer jy in die spieël kyk, wat sien jy? Sien jy 'n wonderlike individu, 'n persoon vir wie jy lief is en wie jy ervaar presies soos jy is? Om Jouself lief te hê is noodsaaklik vir goeie gesondheid.                  

Vergewe Almal
Vergifnis is uiters belangrik vir genesing. Vergifnis kondoneer nie wat in die verlede gebeur het nie - dit verlos jou van slagoffer wees. Woede en wrok SALoor 'n lang periode  lei tot ernstige siekte en dit is dus belangrik om jouself daarvan los te maak.                      

Wees Positief
Dit is medies bewys dat 'n positiewe uitkyk gesondheid verbeter. So wees versigtig wat jy sê en dink. Moenie jouself of andere kritiseer nie - herken jou negatiewe gedagtes en gooi hulle dan uit, want dis nie meer deel van jou lewe nie. Vervang daardie negatiewe gedagtes met positiewe, self-troetelende gedagtes.
                                        

Begin 'n Program van Self-Versorging
Dis nou tyd om ernstig te raak omtrent versorging van jouself op alle vlakke - doen die dinge waarvan jy hou, maak alleen-tyd 'n instelling, geniet jouself. Moet glad nie kritiek of negatiwiteit van ENIGEEN aanvaar nie (insluitende jouself!) en kom weer in aanraking met jou inner-self.                       

Maak Gesonde, Welingeligde, Self-troetelende Keuses
Begin bewustelik te dink - wees bewus van jou gedagtes en woorde. As jy vashaak is dit gewoonlik omdat daar iets is wat jy moet weet - maak dit jou doel om altyd bewustelik uit te vind en te verstaan wat die kennis is wat jy nodig het. Dit sal jou in staat stel om die regte keuses te maak.                          

Oefen Gereëld
Vir goeie gesondheid moet jy gereëlde oefening kry. Ek persoonlik glo nie aan enige vorm van uitermatige of onnatuurlike oefening nie. Staan op en neem 'n stappie na buite as jy lank voor jou komper was. As jy van die buitelug hou, doen 'n bietjie tuinwerk of gaan vir 'n kort uitstappie in die tuin of op die strand. 'n Gesonde liggaam verseker 'n gesonde gees.

Kies 'n Goeie Eetgewoonte Vir Jou
Kyk na jou eetgewoontes - is dit gesond? Jy is wat jy eet, gesonde voedsel is belangrik vir 'n gesonde leefstyl - so eet daai groen goed! 

.

Monday, 30 March 2015

Afrikanertjies en baie reën in herfs


As jy kleur vir jou tuin soek, tot diep in herfs, plant hierdie "plesierige" Afrikanertjies. Hulle beloon jou met oneindige  kleur en genot en hoe meer jy pluk, hoe meer blom hulle. Afrikanertjies is die langasems van die blomme-, kruie-, of groentetuin. Lank na die tuin leeg is van somerblomme, skyn Afrikanertjies se helder geel en oranje gesiggies nog oral.


Dit word gesê dat Afrikanertjies (ook bekend as Marigolds) goggas weghou van plante in jou groentetuin en ek strooi opgesnipperde blomme en blare gereeld in my hoenderhok om insekte weg te hou en wanneer mens daarop trap, gee dit die heerlikste geur af. Die blomme en blare maak 'n wonderlike potpourri wanneer jy dit uitdroog. Prop sakkies vol en hang in jou hangkas.

Maar het jy geweet Afrikanertjies is ook eetbaar? Die blomblare is heerlik in 'n kasserol, brode en omelette en is baie kleurvol en smaakvol in rys en sop. Die blomblare gee ook wonderlike kleur aan slaaie.




Afrikanertjies hou van baie water en son maar sal nie kwaad raak as jy so bietjie van hulle vergeet nie. Hierdie geharde plantjies sal jou nog steeds beloon met hul skoonheid. 'n Ekstra bonus is dat jy nooit weer sonder kleur in jou tuin sal wees nie. Die saadjies wat aan die einde van herfs afval op die grond, beloon jou met pragtige kleur in lente. Jy kan ook al die saadknoppies afpluk en in 'n bottel hou om weer te saai net waar jy dit wil hê in die lente.








.

Friday, 30 January 2015

Medisyne uit jou tuin - Aloe ferox


Aloe ferox, die Kaapse aalwyn, is ‘n inheemse plant van Suider Afrika. Dit word in die Suid Kaap, Oos Kaap en suidelike gedeelstes van KwaZulu/Natal, Vrystaat en Lesotho aangetref.

Die blaar van die Aloe ferox plant bevat twee verskillende sappe, nl. geel bitter sap en wit aalwynjel. Albei die sappe is heilsaam vir die liggaam en word uitwendig sowel as inwendig gebruik. Die bitter sap is direk onder die groen skil geleë en is in werklikheid nog deel van die skil. Wanneer ‘n blaar van die plant afgesny word vloei hierdie geel bitter sap spontaan uit die blaar uit.  Wanneer die bitter sap gekonsentreer word, word bitter kristalle of bitter poeier gevorm. Die binneste vlesige deel van die blaar is jellierig en bestaan uit ‘n wit slymerige sap wat aalwynjel genoem word. Aalwynjel is nie bitter nie.

In Suid Afrika blom die aalwyne in die winter. 'n Interessante feit is dat hul geneties ingestel is om in die Noordelike Halfrond gedurende hulle somer blom, wat dan natuurlik winter is hier in Suid Afrika.


Talle mense gebruik aalwyn vir spysverterings klagtes soos bv. sooibrand, spastiese dikderm, koliek, maagsere, hardlywigheid ens., blaasontsteking, chroniese moegheidsindroom, diabetes, geelsig, hoë bloeddruk, hoofpyn, kanker, lewerontsteking, oor-, neus-, en keelontstekings, lusteloosheid, mondsere, onreëlmatige menstruasie, ontsteking van die prostaat, psoriase, slaaploosheid, tandvleisontsteking, vaginale ontsteking, depressie, asma, brongitis, emfiseem, sonbrand, hooikoors, aknee, hepatitis, sinusitis, krampe in bene, swaminfeksies soos bv. atleetvoet, onderaktiewe skildklier, artritis, rekmerke, dermatitis, hitte uitslag, brandboudjies, absesse, insekbyte, aambeie, skaafplekke, gordelroos, lewervlekke, skilfers, haarverlies, waterpokkies, littekens, vratjies, verstuitings en verrekkings, cholesterol en nog vele meer.



Aloe ferox is nie toksies of gewoonte vormend nie.

Geen nadelige newe-effekte is bekend nie. Uitsonderlike gevalle van allergie kom wel voor.

Aloe ferox jel is VEILIG vir swanger vroue, sogende moeders, babas (wat al vrugtesap drink) en persone met ingewandsirritasies.



Aalwyne word in die veld geoes. Daar in die veld word ‘n gat in die grond gemaak. Hierdie gat word met ‘n plastiek vel uitgevoer. Vier tot agt onderste blare van ‘n volwasse plant word naby die stam afgesny. Twee tot driehonderd blare word in ‘n sirkel om die gat opgestapel. Die afgesnyde kante van die blare word binnewaarts gerig sodat die geel bitter sap wat uit die blare vloei, in die gat opgevang word. Na ‘n paar uur word verskeie sulke opgaargate se inhoud versamel. Om bitter kristalle te verkry, word die bitter sap in ‘n metaal drom gegiet. Die drom word oor ‘n oop vuur verhit. Die sap word voortdurend geroer terwyl dit verhit word, totdat die volume daarvan as gevolg van verdamping gehalveer het. Die warm sap word dan in ‘n tinblik oorgegiet waar dit tot ‘n soliede kristal stol waar dit afkoel. Hierdie soliede harde blok kan dan in kleiner kristalle van die verskeie groottes gebreek en gesplinter word. Die bitter sap kan ook gedroog word om ‘n geel fyn bitter poeier te verkry.
(Inligting vanaf 'Aloe ferox Africa'



Aalwyne het groot, dik, blare wat wissel in kleur van grys tot heldergroen. Die blare het 'n wasagtige tekstuur en is goed aangepas vir die dorre klimaat waarin aalwyne aangetref word. Die klein, buisagtige blomme van die aalwyn is geel, oranje of rooi en groei in groepe.

Die aalwyn of alwee (Aloe) is 'n eensaadlobbige vetplant en die saad word maklik deur voëls en die wind versprei. Ek het 'n hele paar wat sommer vanself langs een van die paadjies in my tuin opgekom het.







Hierdie aalwyn vertoon ook mooi as 'n aksentplant in die somer.

.




 

Friday, 23 January 2015

Eet uit die tuin



Hoogsomer is amper oor die wal maar die dae is nog vol sonskyn. Heerlike reën het die landskap met die pragtigste groen getooi en die veld rondom ons plot is in volle blom met allerhande veldblommetjies.


So gepraat van blommetjies - wat is jou gunsteling dis om voor te berei op 'n warm somersdag? Myne is 'n heerlike slaai met Kappertjie-blommetjies en vars-gekapte kruie-botter, sowel vir die eet as vir die mooi. Kappertjieblare het 'n ietwat peperige smaak en het tien maal soveel Vitamien-C as blaarslaai. Die blomme is eetbaar maar 'n bietjie smaakloos maar gee wonderlike dramatiese kleur aan die slaai.


Natuurlik is hoenders en 'n groentetuin 'n moet vir enige tuinliefhebber - daar is niks beter as varsgeplukte slaai en eiers vars uit die nes nie!



Nog 'n gunsteling is eierslaai. Ek kry tussen 5 en 8 eiers 'n dag van my hoenders, so ek het al allerhande dinge met eiers probeer! My gunsteling eierslaairesep het ek vanaf Sarie-tydskrif gekry :

4 hardgekookte eiers 
2 huisies vars knoffel, fyngedruk 
2 koppe botterblaarslaai (ek gebruik gewone blaarslaai)
100 ml olyfolie 
30 ml suurlemoensap 
100 g Parmesaan-kaas, gerasper 

Gooi sout en vars gemaalde swartpeper na eie smaak oor. Was die blaarslaai goed af. Droog die blare deeglik af met kombuispapier. Druk die eiers met ’n vurk fyn. Sit die blare in ’n groot slaaibak en strooi die Parmesaan-kaas oor. Voeg die eier by en meng deur. Klits die olie, suurlemoensap en knoffel saam. Gooi die slaaisous oor die blare net voor jy dit opskep (die blare sal pap word as dit staan). Onthou, die kaas bevat reeds heelwat sout; hou jou hand lig met die soutpot. Smaail! En Kappertjieblomme lyk net so mooi in hierdie slaai.


Twinings het 'n paar heerlike vrugte- en kruievermengings bekend gestel wat jou dors op 'n warm somersdag dag kan les. Hulle kombineer sappige vrugtegeure soos pomelo, lemoen, swartbessie en framboos met aromatiese kruie vir 'n strelende kaffeíenvrye tee wat enige tyd van die dag of nag gedrink kan word of dit heerlik stomend is of met ys op 'n somerdag. My gunsteling is Ginseng & Vanilla; ek kan Vanielje in ENIGE iets drink of eet!

Jy kan natuurlik ook jou eie tee voorberei met 'n paar plante uit jou tuin soos kruisement, Bee Balm (Monarda didyma) en Lemon Balm, ook van die kruisement familie en roosblare en sonneblomsaad.

 
Foto vanaf Wikipedia

Het jy geweet vanielje is van die orgidee-familie? Dit groei meesal in tropiese lande, en die grootste produsente sluit in Madagaskar, Indonesië, Sjina, Mexiko, die VSA (Florida) en verskeie state in Sentraal-en Suid-Amerika. Die kriteria vir die kwaliteit van vanielje is die lengte van die peule - hoe langer, hoe duurder. En Vanielje is die tweede duurste spesery na Saffraan.

Saffraan (waarvan ek NIKS hou nie), is 'n spesery van die blom van die Saffraankrokus, en is inheems aan Suidwes-Asië. Ek het g'n idee waarvoor dit gebruik word nie en is ook nie juis van plan om dit OOIT te gebruik nie!


.

Tuesday, 13 January 2015

Wat is 'n tuin sonder vygies?

 Vygie - Lampranthus roseus
..
Ons as plantliefhebber is maar al te geneig om die wonderskone en die interessante in die natuur elders te wil gaan soek. En so word die juweeltjies rondom jou voete skoon misgekyk. Vandat ek my eerste Vygie bekom het, het ek inligting begin soek en hoe meer ek begin nalees het oor vygies, hoe meer het ek onder die betowering van hierdie magic gekom.
.
.

.
Baie lesers het êrens 'n verbintenis met vygies, al is dit kinderdaeherinneringe oor hul asemrowende lente-blommeprag. Daar is 127 genera in die vygiesoortige familie van plante en hulle alleen verteenwoordig 63% van ons algehele inheemse vetplante en 10% van ons inheemse blommeskat.

.
Baie lesers het êrens 'n verbintenis met vygies, al is dit kinderdaeherinneringe oor hul asemrowende lente-blommeprag. Daar is 127 genera in die vygiesoortige familie van plante en hulle alleen verteenwoordig 63% van ons algehele inheemse vetplante en 10% van ons inheemse blommeskat.

Alle kleure word in die vygie-familie verteenwoordig behalwe swart, grys en bruin. Só gewild is hulle oorsee dat 'n vygie-vereniging reeds in Engeland gestig is met lede oor die hele wêreld. Die vygie-familie (Mesembryanthemaceae) is die wêreld se grootste vetplantfamilie en is eg Suid-Afrikaans aangesien 98 persent van dié familie hier voorkom. Daar is min vygiesoorte wat nie tuinboukundige potensiaal het nie. Dié familie wissel van die dwerg- beeskloutjies (Lithops spp.) uit die Karoo en Boesmanland (gewild as potplante) tot die rooivyebos (Stoeberia arborea) van Namakwaland en die Richtersveld, tot 3,5m hoë struike. 
.
.
Die grootste konsentrasies vygies kom in die winterreënvalstreke voor. Hul vrugkapsules is van die ingewikkeldstes in die plantewêreld en maak onder meer gebruik van die krag van vallende reëndruppels om die saad te versprei.
.
Die hoof-blomtyd van tuinvygies is in die lente. Dié vygies wissel van die plantgroeiende, grondbindende soorte tot struike van 1 m hoog. Party is weer dwerg- en polvormig. Hulle verkies 'n oop sonnige omgewing en goedgedreineerde grond. Groter soorte wat aanbeveel word, is die Lampranthus amoenus, 'n struikie met helderpers blomme in die lente wat tot 1m hoog word. Die L. watermeyeri het ligpienk blomme en blom weer in die vroeë lente. Mediumgrootte vygies is die appelkooskleurige roosvygie (Lampranthus roseus) en die L. multiradiatus van verskeie skakerings. Die L. glaucus het weer goudkleurige blomme, en die L. aureus helder-oranje blomme. Albei is mediumslagtig. Laasgenoemde blom in September. Die douvygie (Drosanthemum speciosum) is ook van ons mooistes met blomme wat varieer van rooi tot geel.
.
Die begin van 'n nuwe vygie
 
Wanner jy vygies plant, onthou om die groter soorte in die agtergrond te plant en die kleineres in die voorgrond. Die struikagtige vygies kweek seker van die maklikste en steggies kan regstreeks in die grond gedruk word. 'n Steggie van 5 cm tot 15 cm is voldoende. Die meeste tuinvygie-soorte is vinnig groeiende, kortlewende pioniersoorte en daarom moet steggies so elke drie jaar uitgeknip en ingelê word. Die steggies bewortel gou en blom weer in die lente.
.
Vygies kan ook maklik van saad gekweek word. Saai gedurende die somer of herfs in goed gedreineerde grond, en bedek met 'n dun lagie sand. Hou goed nat en die saad behoort binne sowat drie weke te ontkiem. Voeg 'n swamdoder by.
.

Vygies is besonders ten opsigte van hulle saadverspreiding. Die saadjies is kenmerkend vir elke genus en spesie in die ewe kenmerkende saadkapsule gehuisves. Dit is die struktuur van hierdie kapsule en die manier waarop die saadjies daarin gehuisves is wat plantkundiges gebruik om die spesies van mekaar te onderskei.
.

Die meeste genera se saadverspreiding hou verband met die oop en toegaan van hierdie kapsule in vogtige omstandighede. Die kielstrukture van die kapsule is hoogs gevoelig vir vog, swel uit en lig die kleppies op. Só spoel reëndruppels in die meeste gevalle die fyn saadjies uit die saadkamers van die kapsule. Merkwaardigerwys gebeur dit alles nie net met een enkele reënslag nie, maar kan 'n paar keer opeenvolgend gebeur. So verseker die plante hul saadverspreiding in die gunstigste omstandighede.
.
'n Mooi idee om vygies te vertoon - foto vanaf Pinterest

::

Sunday, 4 January 2015

'n Voorspoedige en voldane lewe



Om voldaan te lewe is om elke oomblik bewustelik te lewe. Dit is om self-gemaakte lyding te verwissel vir vrede deur aanvaarding en om toe te laat dat liefde angs vervang deur stilte van vrede.

Die lewe word nie bepaal deur wat met ons gebeur nie; dit word bepaal deur hoe ons hierdie ondervindings gebruik om hierdie 'n beter wêreld te maak. Ons bestemming word nie bepaal deur die paadjies wat ons ge-erf het nie, maar deur die paadjies wat ons self  uittrap.           

Binne elke storm van die lewe is 'n sleutel wat nog 'n deur sal oopsluit  waardeur jy moet loop.

Om rustig te lewe bedoel nie  dat ons wegskram van probleme of die verpligting om hulle op te los nie.  Net die teenoorgestelde  ons vind die helderheid en teenwoordigheid van gees om die daaglikse dinge meer konstruktief en positief te hanteer.    

As jy 'n begeerte het wat jy nie kan versaak nie, dan het jy die eerste bestanddeel vir  prestasie: 'n droom. Jou droom is al wat jy nodig het om te begin; dit is jou plan vir die toekoms.

Voorspoedige mense is in lyn met die lewe op 'n manier wat oorvloed aantrek. Hulle is in lyn met visie en begeerte, en hulle gooi nie tou op nie. Om aan te hou is om in die rigting van harmonie met die lewe te beweeg.

Ons kan kies om in die verlede te bly of ons kan die lewe deur die oë van 'n kind sien met nuutheid, vreugde en die opwinding van avontuur.  As ons fokus op wat ons dink is 'n toekomstige eindlyn, dan mis ons iets spesiaals: vandag se klein oorwinnings.

Om hierdie oomblikke van vreugde te ontdek is een van die lewe se mees belonende avonture!

Wednesday, 31 December 2014

Droom Groot in die Nuwe jaar! 2015



Wanneer ons alleen droom is dit alleenlik ’n droom.
Wanneer ons saam met ander droom, is dit die begin van ’n nuwe realiteit.


Hiermee wens ek almal ’n vreugdevolle 2015 toe, gevul met LIEFDE en INSPIRASIE.

Hierdie was ’n jaar waarin ek oor en oor geleer het hoeveel ek het om voor dankbaar te wees.
Hoe geseënd ek is.

::

Een van die dinge waarvoor ek oneindiglik dankbaar is, is jy.
Ja, jy.
Jou ondersteuning, vriendelikheid en kommentaar dwarsdeur die jaar beteken soveel vir my.

::

Ek waardeer dit opreg. Gelukkige Nuwe Jaar!

.

Tuesday, 30 December 2014

Waterbesparing in Suid-Afrika


Water is 'n skaars hulpbron en moet te alle tye bespaar word, veral in Suid-Afrika, wat as 'n waterarm land beskou word. Die verstedeliking en die gevolglike bevolkingsaanwas in stedelike en veral metropolitaanse gebiede plaas druk op die beperkte varswaterbronne. Dat die hoeveelheid varswaterbronne in die toekoms sal moet vermeerder, is 'n gegewe. Die mikpunt van 'n doeltreffende dorps- of stadsraad is om die hoeveelheid waterverbruik laag genoeg te hou sodat 'n skielike watertekort nie die inwoners oorval nie, en dat genoeg tyd gegun word om 'n alternatiewe waterbron te soek of te bou.

'n Onlangse studie wat deur die Departement van Waterwese en Bosbou gedoen is beweer dat, teen die jaar 2030, gaan Suid-Afrika in 'n ernstige waterkrisis gedompel wees. Dit maak dus heeltemal sin dat ons ten alle tye moet probeer om water te bespaar, en een van die belangrikste maniere waarop ons dit kan doen, is om inheemse en droogte-bestande plante in ons tuine te plant.

Balsem Kopiva (Bulbine frutescence)

Kruie, vetplante en kaktusse is uiters geskik vir ons klimaatstoestande en daar is baie inheemse soorte om van te kies. Hulle gebruik minimale water en party het ook min versorging nodig. Bowendien het meeste van hulle, soos die Balsem kopiva hier bo, medisinale waarde - die blaarsap word gebruik vir, onder andere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope, insek bytplekke en is wonderlik vir skrape en snytjies wat jy opdoen terwyl jy in die tuin werk. 


As jy die spasie het, is dit ook 'n goeie idee om 'n dammetjie in jou tuin te maak waarheen jy reënwater kan lei en die dam dan te gebruik vir besproeiing vir die tuin. Myne is met sement uitgelê en ek herlei al die dak water van ons huis soontoe. Ek het 'n klein swembad pomp geïnstalleer en 'n tuinslang aan die 'outlet' gekoppel en met die draai van 'n kraan kan ek die hele tuin natspuit teen omtrent geen onkoste nie.


Die klank van water is altyd kalmerend en gee 'n verfrissende, koel gevoel aan enige tuin in die somer. So dink vandag aan 'n paar maniere om water te bespaar en jy sal verbaas wees hoeveel jy eintlik kan doen!

.

Wednesday, 10 December 2014

Ek wens jou 'n rooi-tekkie dag!


Ek het 'n regte probleem om tekkies te vind waarvan ek hou met die gevolg dat, wanneer ek wel iets vind, ek sommer ses pare koop in al die kleure! Die probleem is gewoonlik dat óf die sole is te dik wat jou laat voel jy loop op "wedges", óf die tone krul op, óf hulle het liggies wat flits as jy loop óf hulle kom te hoog, tot amper by die enkel, óf hulle is in die helderste kleure van pers en lemmetjiegroen! Ek hou van plein, eenvoudige tekkies, verkieslik wit en nie met "stars and stripes" langs die kante nie.

Die paar wat ek hier bo geskets het is een van my gunsteling pare - eenvoudig, seildoek met veters. Ek het hulle in wit, rooi, donkerblou en swart. En ja, hulle is so skoon soos in die skets, ek haat vuil tekkies!

Variasies van rooi

 • Skarlaken - 'n rooi wat na rooi-oranje neig, en geen blou bevat nie.
 • Vermiljoen - 'n vurige rooi wat na effe meer na rooi-oranje neig as skarlaken, en wat van sinnaber, die kunsmatige rooi kwiksulfide was as pigment gebruik word, voorberei word.
 • Karmosyn - 'n rooi wat geen geel bevat nie, en na rooi-violet neig.
• Venesiaanse Rooi (ook bekend as Indiese Rooi en Indiaanse Rooi) - 'n bruinerige rooi wat van ystersulfied voorberei word.
 • Brandweerwarooi - 'n helderrooi wat gereeld op noodvoertuie gebruik word.

Rooi is darem maar mooi! Dis 'n kleur vol passie, wat liefde aandui en en wanneer jy rooi dra, sprankel jy sommer!










 (foto vanaf 'Beeld')


(Meeste foto's vanaf WikiCommons)

::