::
.
'n Afrikaanse hoekie
Haai, my naam is Maree en ek is 'n amper-verengelsde Afrikaner en woon op die Noordkus van KwaZulu Natal, Suid Afrika.
Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.
Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!
Friday, 14 February 2014
Tuesday, 4 February 2014
My eie stukkie paradys
Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is...
Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.
Jy sou lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou.
Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.
Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.
Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...
::
Sunday, 2 February 2014
Saturday, 1 February 2014
'n Wit vel papier...
::
‘n wit vel papier . ‘n nuwe sketsboek . wat sal ek doen
droom / sing / skryf / wag / dink / tuinmaak / gesels / skilder
ek het besluit om te skilder
::
Sunday, 19 January 2014
Elke nuwe oggend
Die woorde hier bo is ou bekendes en tog, elke nuwe oggend IS inderdaad ‘n plek waar ons nog nooit voorheen was nie. Jy maak jou oë oop en het g’n idee wat voorlê nie – oneindige moontlikhede – dalk wen jy die Lotto vandag of kom kuier ‘n geliefde vriendin. Maak nie saak hoe jy jou roetine stel nie – jou eerste koppie koffie, jou afsprake en planne vir die dag – daar is altyd die moontlikheid van iets nuuts, iets fenomenaal, iets verbasend wat kan gebeur.
Ek wens jou 'n pragtige sonneblom-Sondag.
Ek wens jou 'n pragtige sonneblom-Sondag.
::
Thursday, 16 January 2014
Wat beplan jy vandag?
Somer is hier en alles vra gelyktydig vir aandag!
Die tuin is dors, Torti (my Bergskilpad) het ontwaak vanuit haar winterslaap en vra om gevoed te word (sy’s nog steeds hier by my nadat ons haar van iemand se pot gered het en elke jaar belowe ek dat, wanneer die somer kom, gaan ek haar vrylaat maar elke winter, as ons al die vreeslike veldbrande beleef, dan word dit weer afgestel…)
Na 2 maande se hibernasie is Torti ook reg om die somer aan te pak.
Dis pure plesier om baadjie uit te trek, tekkies te verruil vir sandale en weer ‘n tuinslang in die hande te kry. Al die ou en dooie goed is alreeds afgesny en uitgehaal, beddings is mooi gemaak, paadjies is opgeknap en die tuin soek nou bietjie nuwe plantjies, nuwe geselskap, na maande se rus.
En om nie eers te praat van MYSELF nie, my eie liggaam – my hande voel skurf en verwaarloos, my arms en bene soek bietjie sonskyn (vanjaar is die jaar dat ek ‘n mooi kortbroek aanskaf! Op amper 68 is daar mos nie meer sprake van omgee wat ander mense dink nie, jy’t mos lankal lief geraak vir jouself en jouself aanvaar nes jy is! As ons maar tog net dit kon leer terwyl ons 20 of 30 of 40 was in plaas van om ‘ droom van ‘perfeksie’ na te jaag…)
So, wat beplan jy vandag? Ek sal êrens buite wees, besig om die son te geniet…
.
Monday, 13 January 2014
Vriendelike geel
‘n Roos is nie net ‘n roos nie. ‘n Roos is blom met betekenis. Die kleur het betekenis wat dikwels onderskat word. Voordat jy vir iemand rose koop, dink mooi oor hoekom jy die rose wil gee en kies daarvolgens ‘n kleur. Dit gee soveel meer waarde aan die geskenk. Dit is die gedagte wat tel, maar ‘n gedagte wat goed deurdenk is beteken soveel meer.
Geel rose het in Victoriaanse tyd jaloesie bedoel, maar vandag beteken geel “Ek gee om”, maar geel rose word ook soms gegee as simpatie.
Die verskillende kleure waarin rose voorkom, het almal simboliese betekenisse:
geel – vriendskap, platoniese liefde, simpatie
rooi – romantiese liefde
pienk – grasie
donkerpienk – dankbaarheid
ligpienk – bewondering, simpatie
wit – onskuld, geheimsinnigheid
oranje – passie
dieprooi – skoonheid
blou – misterie, betowering
rooi – romantiese liefde
pienk – grasie
donkerpienk – dankbaarheid
ligpienk – bewondering, simpatie
wit – onskuld, geheimsinnigheid
oranje – passie
dieprooi – skoonheid
blou – misterie, betowering
::
Saturday, 11 January 2014
Heuning en Laventel haarbehandeling
Daar is nie 'n vrou op aarde wat nie behep is met haar hare nie. Baie min van ons is honderd persent tevrede met wat ons het - ons hare is óf te krullerig óf te reguit óf te dun óf te dik en onbeheerbaar, óf te vaal en so gaan ons aan. En tydskrifte en TV advertensies en die internet is vol van rate en middels wat veronderstel is om te help.
So hoe besluit mens watter raad om te volg of watter middels om te koop? Ek persoonlik dink dat een sjampoe of haaropknapper maar dieselfde is as die ander. So waarom dan nie maar iets uit die natuur probeer nie? Ons voorouers het vir dekades sonder al die fênsy goeters van apteke en supermarkrakke klaar gekom en ek weet daar was NIKS met my ma of my Ouma se hare verkeerd nie!
Hier volg 'n lekker resep vir 'n natuurlike haaropknapper wat ek gereeld gebruik, en dit werk baie goedkoper uit as Tresemmé!
Haaropknapper :
Meng 2 eetlepels heuning met 'n halwe vars avokadopeer, 1 teelepel klapperolie en 'n paar druppels laventel (essential) olie, nie gewone laventelgeursel nie. Masseer in jou hare in en los vir 'n half-uur. Werk uitstekend vir droë en beskadigde hare.
(Foto vanaf 'Yoga Essentials')
Laventel word al byna 2 000 jaar lank vir mediese doeleindes gebruik. Party laventelolies, veral Lavandula angustifolia, het ’n uitwerking op ’n hele paar soorte bakterieë en swamme. Sommige navorsers het aan die hand gedoen dat laventelolie nuttig kan wees vir die behandeling van bakteriese infeksies wat bestand is teen antibiotika.
(Inligting vanaf 'Wagtoring')
.
Monday, 30 December 2013
Wense vir 2014
'n oop hart . spierwit papier . kreatiwiteit . 'n briesie of dit nou koel of warm is . 'n vriendin wat sê, 'bel as jy my nodig het' . wit linne . naweke . die vreugde van musiek . 'n ruskansie . die son op ons rug . 'n stoel vir die tuin . vlerke om mee te vlieg . tyd saam met geliefdes
'n Vreugdevolle en mooi Nuwe Jaar vir jou!
::
Sunday, 22 December 2013
'n Geseënde feesseisoen vanaf Gauteng! 2013
Waar jy jou ookal mag bevind hierdie kersseisoen, ek wens almal 'n Geseënde feesseisoen toe saam met julle geliefdes en mag die nuwe jaar net mooi dinge vir jou inhou!
.
Friday, 20 December 2013
Bevry jouself
Partymaal moet jy alles laat gaan - heeltemal skoonmaak en reinig. As jy ongelukkig is met iets - wat ookal dit is wat jou onder kry, raak ontslae daarvan. Want jy sal vind dat, wanneer jy vry is, jou ware kreatiwiteit, jou ware self, na vore tree.
Jou filosofie word nie die beste uitgespreek in woorde nie; dit word uitgespreek in die keuses wat jy maak. Oor 'n tydperk skep ons ons lewens en skep ons onself. Die proses eindig nooit nie. En, die keuses wat ons maak is uiteindelik ons eie verantwoordelikheid.
Binne elk van ons is 'n verborge stoor van energie. Energie wat ons kan gebruik om deel te neem aan die maraton van die lewe.
Binne elk van ons is 'n verborge stoor van moed en dapperheid. Dapperheid om ons die moed te gee om enige uitdaging te aanvaar.
Binne elk van ons is 'n verborge stoor van vasberadenheid. Vasberadenheid wat ons sal ondersteun wanneer alles hopeloos lyk.
Selfs die gelukkigste lewe is nie sonder 'n tiksel donkerte nie en die woord 'gelukkig' sal waardeloos wees as dit nie gebalanseer is deur treurigheid nie. Dit is veel beter om dinge te aanvaar soos dit kom met geduld en gelatenheid.
'Verander dit wat jy kan verander, aanvaar dit wat jy nie kan verander nie en verwyder jouself van dit wat onaanvaarbaar is.'
- Maree
.
Tuesday, 10 December 2013
In die Hoëveld
Die heerlikste plek in ons land om te bly – Gauteng. Of, in die ou taal, die Hoëveld. Ons het die mees matigste (en normale!) klimaat in die hele land, nie te koud in die winter nie en ook nie te warm in die somer nie (met uitsondering van die warm temperature wat ons ‘n paar weke gelede beleef het!)
Ons word amper nooit geteister deur ontstuimige winde soos in die Kaap nie, ons kry min verwoestende oorstromings of verspoelings soos in Mpumulanga, dit sneeu amper nooit soos in Lesotho of die Noord-Kaap nie en, die beste van alles, ons kry reën in die somer! Ek kan my niks erger voorstel as ‘n nat, koue winter nie!
::
In die Hoëveld waar dit oop is en die hemel wyd daar bo
waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
waar ’n mens nog vry kan asemhaal,
staan my huisie wat ek moes verlaat, vir geld!
En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom
sawens as ek bees of skaap toe ry.
Op die Hoëveld waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien —
die ylblou bring ’n knop dan in jou keel —
staan my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien,
waar die bokkies op die leigrafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
en soek weer in die maanlig al die mooiste plekkies ui
waar ek klei-osse gemaak het as ’n kind.
— Woorde: Toon van den Heever
::
Saturday, 7 December 2013
Groener weivelde
"To exist is to change, to change is to mature, to mature is to go on creating oneself endlessly."
- Henri Bergson
Ek is definitief 'n liefhebber van my roetine en lief dit as my dag mooi glad verloop, maar ek raak gou ontsteld as dinge vervelig begin raak - my roetine moet elke dag iets nuuts insluit, al is dit net om my koppie koffie te verruil vir 'n warm sjokolade.
Ek lief dit om myself met inspirasie te omring, dis asof ek die lewe inteug daardeur. Maar dis nie altyd 'ander mense' wat te blameer is nie - wanneer jy self groei is dit vanselfsprekend dat dÃt waarin jy geïnteresseerd is gaan verander, dat jou fokus gaan verskuif en dat jy 'groener weivelde' gaan soek.
.
Tuesday, 3 December 2013
Antiekeware
1950's "Ball & claw" vertoonkas met 'n 1930's "barley twist" potplanthouer langs dit
My voorliefde was eintlik silwer- en porseleinware, maar selfs 'n 1950's vertoonkas het nie my aandag ontduik nie. Vandag staan dit vol met silwer en porselein wat ek destyds aangeskaf het. Dit "pas" nou nie meer by my huidige dékor nie, wat diep uit Afrika is, maar ek is nog vreeslik lief daarvoor. Oor die jare het ek baie van my aankope verkoop maar 'n paar gunstelinge het agter gebly.
Soos hierdie 1850's Stinkhout Kaapse lessenaar wat nog in uitstekende toestand is. Dit het 'brass' handvatsels op die sewe laaie en die pragtigste antieke patina. Dit is steeds in daaglikse gebruik en is die plekkie waar ek 'n bietjie kreatiwiteit beoefen; groete kaartjies maak en in my joernale skryf. Die lamp is 'n 1920's teleskopiese tafellamp met 'n brons smid (blacksmith) figuur.
Die antiekhandel is wisselvallig. Soos met elke ander ding waarmee ons ons klee en ons huise meubileer, is daar onvoorspelbare modegrille wat onder meer pryse vir bepaalde antieke goedere beïnvloed.
Die redes waarom mense antieke ware koop verskil baie. Mense word byvoorbeeld deur nostalgie gedryf, omdat versamelaars van oudhede daarin 'n manier vind om die verlede terug te roep, om onsterflikheid te koop. Of vir belegging of om iets na te laat vir die nageslag. Dan is daar snobwaarde ook. Die algemene bekendheid van sekere voorwerpe, soos Lalique en Galle-glasware uit die Art Nouveau en Art Deco-tyd, laat jou gaste dadelik verstaan jy is goed daaraan toe.
Hier is 'n paar van my versamelings :
1820 Walnut side table with fretted gallery and Ormolu insets
Lloyd Loom wasgoed mandjie van die 1920's
'n Koppie en piering vanuit die 1930's (dink ek, geen identifiserende merke nie)
Silwer bottermes vanuit die 1800's
"Chain mail mesh purse" vanaf die Victoriaanse era
'n Versameling snyglas items (cutglass) uitgestal in my gastekamer
Snyglas versameling - 'n sout en peper, mosterd en asyn stelletjie heel agter, regs is 'n parfuumfles en heel voor 'n bakkie vir lekkernye
Middel - 'n Silwer troukoekmes - Sheffield 1921
Een van my vele "mismatched" koppies en pierings, gekoop sommer net oor dit mooi is
::
Saturday, 30 November 2013
Wit rose en souttert
Ek is MAL oor souttert!
Ek lief om hier stories te lees, dis inspirerend, interessant.
Grote griet! Ek wil alles in hierdie Etsy-winkel hê!
Is almal se lewens altyd rooskleurig en mooi? Ek glo nie so nie, myne is nie en ek stem saam met hierdie blogger.
Is almal se lewens altyd rooskleurig en mooi? Ek glo nie so nie, myne is nie en ek stem saam met hierdie blogger.
Ek hoop jy geniet hierdie warm somersdag saam met familie en vriende. Moenie bang wees om jouself te wees nie. Moenie bang wees om te sê wat jy dink nie. Glo waarin jy glo en asseblief, doen dit waarvoor jy lief is!
::
Subscribe to:
Posts (Atom)





























