Haai, my naam is Maree en ek woon op 'n 8.5ha kleinhoewe, my stukkie Afrika-aarde in Tarlton, Suid Afrika, saam met my wederhelf, verskeie geveerde vriende en Jacko, my Foxterrier x wat nie weet hy's 'n hond nie.
Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.
Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!
Deesdae dink ek baie aan luister. Hoe sleg ons dit doen, hoe alles meer lawaaierig word, hoe ons verby mekaar praat, selfs met onsself. Ons het vergeet hoe om alleen te wees met stilte.
Monday, 30 June 2014
Eskom is vol Kaf
Mens moet net lief wees vir die mense van Suid Afrika! Ek luister vanoggend na die radio omtrent Eskom wat gaan af wees in wie weet hoeveel voorstede in Pretoria en Johannesburg oordat Eskom kabels van een of ander kragstasie WEER gesteel is. Mens sou dink almal sal moan en vloek en hul lot beweeklaag, maar nee, almal was vrolik en opgewek en het voorstelle gegee van hoe om deur die krisis te kom.
Daar was geskets omtrent hoeveel geraas daar skielik in die voorstede is van al die kragopwekkers, en die algemene trant was voorstelle soos stort by die werk, herlaai jou selfoon by die werk of een of ander winkelsentrum of 'n vriend wat gelukkig genoeg is om wel kraag te hè, en dis ook 'n goeie tyd om uit te eet of pizzas te bestel!
Whoot whoot Suid Afrikaners! Dis die gees wat ons land so 'n wonderlike plek maak en wat sal verseker dat ons deur enige iets kan kom!
.
Thursday, 26 June 2014
Bulbine frutescens – Balsemkopiva
Tuinmaak is een van die groot plesiere van die lewe vir my. Om in 'n stukkie grond rond te vroetel is hemels. En daar's niks beter as die reuk van nat grond na 'n lekker reënbui nie.
‘n Inheemse en pragtige en vrolike plant vir jou tuin wat oulike randplante, asook houer plante, maak is Bulbine frutescens of Balsemkopiva. Die plantjie groei maklik en alhoewel ek myne as saailinge gekoop het, kan jy eenvoudig ‘n stukkie in die grond druk en omtrent drie weke later het jy ‘n nuwe plantjie.
Balsemkopiva plantjies benodig nie baie water nie, hulle is waterslim plante en hulle oorleef ook taamlike swaar ryp redelik maklik. Hulle kan oorleef op baie droë gebiede en hou van vol son. Boonop lok hulle ook baie bye en skoenlappers na jou tuin.
Dis ‘n eg Suid Afrikaanse plantjie met baie medisinale waarde. Die blaarsap word gebruik vir onder andere sere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope en insek bytplekke. Met tuinwerk is dit onvermydelik om soms skrape en steke op te doen, dan pluk ek sommer 'n blaartjie (of stengel) en smeer die sap aan die wond. Dit is ook wonderlik vir koorsblare, aknee, brandwonde, skaafmerke, waterblase, gebarste lippe en gebarste vingerpunte.
Kom oorspronklik in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en dele van die Kaap voor. Die plant groei waar niks anders wil groei nie en is boonop droogte-, hitte-, lugbesoedeling- en rypbestand.
Ander name : geelkatstert, katstert, kankerbossie en, in die volksmond, ook as snotbossie, weens die slymerige jel tussen die blare.
.
Saturday, 21 June 2014
Saterdaggedagtes
'n Yskou Saterdagoggend hier in Tarlton (Gauteng, Suid Afrika) en vandag...
wil ek graag 'n mooi gedig of boek lees
wil ek graag 'n mooi prentjie sien
wil ek graag inspirerende musiek luister
wil ek graag iemand merkwaardig ontmoet
wil ek graag 'n paar verstandige woorde sê
en
wil ek graag my motorhuis regpak
::
en
wil ek graag my motorhuis regpak
::
Tuesday, 17 June 2014
Lied van die natuur
'n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale...
Om 'n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome.
::
Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
Aan die punt van die vallei hoog in die berge
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido)
::
.
Saturday, 14 June 2014
Laventel kerse in ou teekoppies
Wat jy nodig het:
- Gompistool
- Kerstermometer (of gebruik die tipe wat ’n mens gebruik wanneer jy suiker smelt vir lekkergoed)
- Draadpit met waks om, en ’n knippie/plaatjie
- Roomwaks of gebreekte ou kerse
- Knippe waarmee jy sakkies verseël, of bamboesstokkies
- Geursel vir kerse (laventel essential olie, nie die geur-tipe nie)
- Antieke teekoppies (of enige ander houer waarvan jy hou, selfs ou bottels kan gebruik word)
- Dubbelkoker (die belangrike ding is dat die water nie aan die glashouer moet raak nie)
1. Gooi water in die dubbelkoker, sny die waks in stukke en plaas dit binne-in die houer. Haak die termometer aan. Draai die plaat op hoë hitte.
2. Gebruik die gompistool om die draadkern-kerspitknippie onder in die houers wat jy gebruik, vas te gom.
4. As die waks eers gesmelt het en tot omtrent 83°C verhit is, verwyder van die hitte en voeg kleur by. Wag tot dit tot 80°C afkoel om geursel by te voeg.
5. Giet die waks in elke houer en maak seker dat die kerspit op sy plek bly. Gaan die houers gereeld oor die volgende halfuur of so na om seker te maak die kerspitte skuif nie.
En voilà!
::
Thursday, 12 June 2014
My eie stukkie paradys
Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is...
Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.
Jy sou lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou.
Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.
Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.
Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...
::
Saturday, 7 June 2014
Winter - Hoor die blomme en die blare...
'Hoor die blomme en die blare
bewend van die winter praat,
doodgedoemde martelare,
siek en van die son verlaat.
O, bly by my, beminde teer,
dan bloei in my die somerblomme weer.'
- Onbekend
'n Brawe veldblommetjie op ons kleinhoewe. Selfs die ysige paar dae wat ons nou ondervind kannie die lewenslus van hierdie pragtige blommetjies demp nie!
::
Subscribe to:
Posts (Atom)