Monday, 2 May 2016

Jou vlak van aanstoot



Hoe maklik voel ons seergemaak as iemand ons nie met takt en liefde behandel nie! Tog, wanneer ons aanstoot neem, belemmer ons ons eie geestelik groei en dryf weg van die mense om ons.

VOORBEELD :

Carien het dié keer haar humeur totaal verloor. Haar skoonma se opmerking Sondag (voor almal) oor haar tuisgebakte koek was die laaste strooi. “Carien-skat, as jy ’n veerligte, klam koek wil bak, moet jy nie so op jou eentjie sukkel nie. Bel my sodat ek dit doen! Ek weet ’n mens brou wanneer jy haastig en onervare is ...”

Ons kan aanstoot neem vergelyk met ’n lokval. Twee elemente maak ’n lokval vir ’n dier suksesvol: dis weggesteek sodat die dier daaroor struikel, en daar is aas wat die dier na die doodsklemme lok. Aanstoot is een van die misleidendste en skelmste tipes aas van die vyand – ons tel die aas op, verorber dit, voed ons harte daarmee en word dan vasgevang.”

EK, MYSELF EN ... EK?!
Mense wat aanstoot neem val in twee kategorieë: die wat regtig verkeerd behandel is en die wat dink hulle is verkeerd behandel, maar nie is nie. Baie keer besef jy nie in watter lokval jy gevang is wanneer jy aanstoot geneem het nie. Mense wat aanstoot neem, fokus so op die oortreding dat hulle in ontkenning is. En dit is een van die effektiefste maniere van die vyand om ons te verblind – ons fokus so op onsself dat niks anders saak maak nie.

MEET JOU VLAK VAN AANSTOOT MET DIE VOLGENDE TOETS:
Ken ʼn waarde aan die volgende stellings toe op ʼn skaal van 1 tot 5 (1 is baie min, 5 is baie):

Ek verwag baie van ander:    1 2 3 4 5
Ek word maklik teleurgestel: 1 2 3 4 5
Ek het onvoorwaardelik lief:  1 2 3 4 5
Ek seën om geseën te word:  1 2 3 4 5

Tel alles wat jy omkring het bymekaar. As jy meer as 10 punte het, is jy blootgestel aan potensiële aanstoot-insidente.

DIS DIE KLEIN DINGETJIES ...
Mense struikel gewoonlik nie oor rotse nie, hulle struikel oor klippies, die relatief klein dingetjies. Iemand se persoonlikheid kan jou dalk pla of die persoon het ’n irriterende gewoonte. Baie keer voldoen mense nie aan ons verwagtinge nie. Dikwels neem ons aanstoot omdat ons verwag mense, eerder as God, moet ons lewens vul. Ons is gemaak om sekuriteit in God te vind en nie in mense nie, en onrealistiese verwagtinge sal mense onvermydelik laat tekortskiet sodat ons dan aanstoot neem.

Ek glo aanstoot neem is n vorm van selfbeskerming. Hoekom ignoreer ons dit so moeilik as iemand ons aanstoot gee? Omdat ons sê ons sien die ongevoelige gedrag oor sodat die oortreder nie dink hy of sy kan ons verkeerd behandel én daarmee wegkom nie! Maar hoe moeg sal ons aan die einde van elke dag wees as God elke klein dingetjie wat ons verkeerd doen, aan ons noem?

Om ons teen aanstoot te vrywaar bou ons mure om ons. Ons beskerm ons regte en persoonlike verhoudings sorgvuldig. Ons spandeer energie om seker te maak ons kry nie weer seer nie. Tog, as ons dit nie kan waag om seer te kry nie, kan ons ook nie onvoorwaardelike liefde betoon nie.

SUIWER DIE LUG!
Moenie die krag van aanstoot neem, onderskat nie. Wanneer jy aanstoot geneem het, moet jy na die persoon gaan en die lug suiwer. Andersins verraai jy die verhouding, begin jy kwaadpraat agter die persoon se rug en ontbloot jy sy swakhede en sondes.

Aanstoot neem verhinder mense om optimaal te funksioneer in God se doel en roeping vir hulle lewens. Mense wat aanstoot neem, dra die vrug van jaloesie, onmin, woede, nyd, bitterheid, uitbarstings, wrewel en haat. Hulle is seergemaak, hulle begrip word vertroebel en hulle begin mense oordeel op aannames, gesigswaarde en hoorsê.”

Jou vrede word gesteel wanneer jy aanstoot neem. Wanneer jy jou vrede verloor, wen die vyand. As hy jou een keer gevang het met aanstoot neem, glo my, sal hy dieselfde geleentheid oor en oor probeer gebruik. Wanneer jy ontsteld is, kan jy nie mooi hoor wat God sê nie. Ons kan nie deur die Gees gelei word wanneer ons aanstoot geneem het en in ’n gat is nie.

KEN JOU HART
Een manier hoe die vyand ons in n staat van aanstoot neem hou, is deur die insident in hoogmoed te verskuil. Hoogmoed weerhou jou daarvan om jou hart te ken en dit veroorsaak dat jy jouself as die slagoffer sien. Omdat jy glo jy word onregverdig behandel, weerhou jy vergifnis. Maar as jy verkeerd behandel is, gee dit jou nie toestemming om aanstoot te koester nie.

Ons kan nie wegkom van die storms van die lewe of mense wat ons irriteer nie. Ons kan ook nie voorkom dat ons negatiewe emosies ervaar nie. Maar ons kan leer om dit te bestuur. Ons kan God vertrou om ons genade te gee om heilig op te tree selfs in ’n onheilige situasie. Ons kan op aanstoot reageer deur te sê: ‘Here, U is genadig en goed. Ek plaas my vertroue in U totdat hierdie storm verbygaan’.

HANTEER AANSTOOT SÓ
Moenie jouself raadpleeg nie– Jou kop sê jy moet ontsteld raak, terwyl God sê jy moet laat gaan.

Moenie daaroor tob nie– Maak ’n keuse om dit soos water van ’n eend se rug af te laat rol.

Moenie in die situasie bly nie – Kom uit die situasie of omstandighede; gaan oefen, sing hardop of gaan doen iets vir iemand anders.

Moenie dit met iemand bespreek nieDie gouste wat ’n molshoop ’n berg raak, is wanneer jy die insident vir iemand anders skets.

Moenie ʼn bohaai maak nie– Besef dat jou geloof getoets word met elke aanstoot-insident; maak dit ’n geleentheid om God en die Heelal te verheerlik.

Dit help nie om op ander mense se foute te konsentreer nie; sommige foute sal nooit weggaan nie. As jy genade van mense verwag, moet jy bereid wees om genade te toon.”

Groete,

MAREE

Thursday, 28 April 2016

Dankbaarheidslied


::

Dis Mei-maand wat voorlê, my gunsteling maand. Nie net oor dit my geboorte-maand is nie, maar ook oor die perfekte temperature - 'n gemiddeld van 24ºC hier in Suid-Afrika, met windlose dae vol sonskyn wat verseker dat ek die laaste takies in die tuin kan klaarkry voor Winter my weer die huis indryf. Die eerste ryp is nog 'n entjie weg, die grasperk is nog groen en oral skarrel die voëltjies ywerig agter die insekte aan voordat daardie kosbare bron van voedsel opdroog.

Vir my is Mei 'n maand van introspeksie, om te kyk na wat die afgelope Somer in die tuin verrig is en te beplan vir die komende Lente. Soos ek deur die tuin stap, word nuwe idees gebore en gryp ek gou na 'n pen en my tuin-joernaal om aantekeninge te maak voordat die inspirasie verdwyn. Ek sien 'n spasie vir nog 'n voëlbad of kosbak en maak sommer 'n lys van plante wat mooi sal lyk langsaan dit. 'n Vlinder sweef verby en ek besluit om sommer nog 'n Buddleia Salvifolia te kry, waarvoor die Skoenlappers baie lief is, vir 'n leë hoekie.

My Grootstreepswaeltjie net voor hulle pad gevat het (Waterverf in my Natuur-joernaal)

Hierdie maand, en elke April, het ek en my pa altyd dop gehou hoe die Swaeltjies bymekaar kom vir hulle lang vlug Noord en die hemele is snaaks-stil sonder hul ewige geroep soos hulle sweef en duik. Hul modder-huisies is leeg onder die dak se oorhang, maar is 'n blye versekering van hul terugkoms in September.

Die Janfrederik (Cape Robin) het ook al hasepad gekies tesame met die Piet-My-Vrou, en die Swart Suikerbekkie en sy vroutjie is al vroeg-Maart weg na wie-weet-waar. Die Lysters het hierdie jaar 'n kans geneem en laat in Maart weer nes gemaak en was gelukkig om hul kleintjie groot te maak voor hul vertrek. Ek het al menigmaal met 'n kleintjie gesit wat agter gelaat is en wat ek moes grootmaak. Die Kwikstertjie se stem is ook stil, maar my geveerde vriende wat agterbly baljaar lustig en vol lewe sonder enige vrees vir die komende Winter of die toekoms.

Ek verwonder my altyd aan die lewenslustigheid van voëls - elke oggend word begroet met, wat vir my klink soos, 'n dankbaarheidslied. En wanneer ek voel dat depressie op my wil afsluip, is dit die voëltjies se gesing wat my altyd regruk, wat my herhinner om weer in dankbaarheid te lewe.

::

Sunday, 24 April 2016

Wat 'n tuin nodig het

'n Tuin benodig geduld, werk en aandag. Plante groei nie net met ambisie en goeie bedoelings nie. Hulle floreer omdat iemand tyd aan hulle bestee het.

Om 'n tafel in die tuin te dek is 'n daad wat die tuin vier, wat wys dat jy haar skoonheid waardeer en dat jy dankbaar is vir haar oorvloed.

Daar is ietsie uiters bevredigend omtrent 'n bos wortels met die blare nog aan. Dalk is dit die gedagte van hulle uit die grond trek...


::

Wednesday, 20 April 2016

Sewe dae, en sewe belangrike lewensaspekte

Dis al wat jy nodig het om jou lewe te herskep – van jou beeld tot jou finansies en selfs jou verhoudings. Dit is moontlik!


DAG 1: Begin in jou kop
Jy hoef nie jou bankrekening leeg te maak vir ’n nuwe voorkoms nie - jy moet begin by wat in jou kop aangaan. Sê vir jouself jy is suksesvol en gelukkig. Leef dit uit. Glimlag meer. Begin jou nuwe voorkoms van binne.

Eers dan kan jy aandag aan jou uiterlike gee. Net iets kleins soos ’n nuwe haarstyl of haarkleur kan ’n groot verskil maak. Jy het nie ’n hele nuwe klerekas nodig nie. ’n Paar mooi onderkleertjies en een verruklike uitrusting kan jou klaar soos ’n prinses laat voel.


DAG 2: Luister na jou emosies
Ons emosies is soos ’n barometer want dit wys ons wat in ons lewens aangaan. Leer hoe om na jou emosies te ‘’luister’’. Dink na oor die dinge in jou lewe waarmee jy nie tevrede is nie. Soms kan jy nie die situasie verander nie, maar jy het beheer hoe jy dit gaan hanteer. “Let op die goeie dinge in jou lewe, die verhoudings wat jy gebou het en hoe maklik dit is om te lag” – ’n vars blik op die lewe sal jou emosionele toestand verbeter.


DAG 3: Wys jy waardeer mense
Knap jou verhoudings met mense op - jou verhoudings kan beskadig raak as jy nie genoeg erkenning en waardering aan mense gee nie. Wys dat jy jou verhouding met hulle en hulle as mense waardeer. As jy by iemand is, wys jy wíl daar wees. Al is jy hoe besig, moenie wys jy wil so gou moontlik wegkom nie.

DAG 4: Soek die positiewe
Ongeag in watter situasie jy jouself bevind, daar is altyd positiewe en negatiewe keuses. As dit eers ’n gewoonte is om te kies om positief te wees, sal dit later tweede natuur word. Ongeag watter negatiewe dinge rondom jou plaasvind of hoe maklik jy dinge in ’n negatiewe lig sien, dis altyd moontlik om positiewe denke te ontwikkel – niemand is ’n gebore pessimis nie!

DAG 5: Doen iets vir andere
Eerder as om net elke dag te probeer oorleef en heeltyd oor alles te kla, moet jy liefs optimisties wees en ander help. Nie net laat jou goeie daad iemand anders glimlag nie, maar jyself sal ook sommer baie beter voel oor die lewe. Fokus op die nou en nie op die probleme van môre nie. Geniet vandag en benut elke geleentheid wat oor jou pad kom.


DAG 6: Kry beheer
Die grootste verskil wat jy binne een dag aan jou finansies kan maak, is om die probleem-areas te identifiseer en te besluit hoe jy dit gaan regstel. Dit kan ’n moeilike proses wees, maar jy gaan nêrens kom as jy nie ’n begin maak nie.

DAG 7: Gee dit oor aan die Heelal
Jou omstandighede speel ’n groot rol in wie jy is. Dalk kom jy uit ’n gebroke huis, het ’n geliefde aan die dood afgestaan of is mishandel. Omstandighede kan jou kwaad en verbitterd maak. Jou taak as mens is om hierdie dinge te laat gaan deur die persone wat jou seergemaak het – sowel as jouself – te vergewe.

Teen die einde van die week sal jy baie meer in voeling wees met dié sewe aspekte van jou lewe. En hoewel ’n mens nie alle probleme binne ’n dag kan regstel nie, is ’n klein verandering reeds genoeg om te begin vordering maak – selfs met die grootste uitdagings!

Voorspoed aan almal!

MAREE

.

Saturday, 16 April 2016

Saterdag-storie


Hierdie is 'n uittreksel uit een van daai e-posse wat ons almal gereeld ontvang en ek dink dit leer 'n waardevolle les - leef vir vandag, want dit is AL wat ons het ... 


1000 Albasters - Skrywer onbekend
Hoe ouer ek word, hoe meer geniet ek Saterdagoggende. Miskien is dit die stil alleenheid wat daarmee kom om eerste op te staan, of  miskien die uitbundige vreugde om nie werk toe te gaan nie. Hoe dit ookal sy, die eerste paar ure op ‘n Saterdagoggend is die lekkerste.

'n Paar weke gelede was ek op pad na die motorhuis met ‘n stomende koppie koffie in die een hand en die oggendkoerant in die ander hand. Wat as ‘n tipiese Saterdag begin het sou draai in een van daardie lesse wat die lewe van tyd tot tyd vir ‘n mens gee. Laat ek vir jou hiervan vertel.

Ek is ‘n radio-amateur en het my ontvangstoestel ingeskakel op die telefoniese band om na die Saterdagoggend gesprekke te luister. Met die luister na die gesprekke kom ek af op ‘n man wat ouerig klink, met ‘n sterk sein en ‘n goue stem. Jy weet ‘n stem wat klink of hy in die uitsaaiwese hoort. Hy was besig om te vertel, wie ookal wou luister van ‘n ding met ‘n duisend albasters. Ek was skielik geïnteresseerd en besluit om te luister na wat hy te sê het.

“’Wel Tom, dit klink sekerlik dat jy baie besig is in jou werk. Ek is seker dat hulle jou goed betaal, maar dit is hartseer dat jy soveel weg is van die huis en jou gesin. Dit is moeilik om te glo dat ‘n jong man sestig tot sewentig uur ‘n week moet werk om deur te kom. Dit is hartseer dat jy jou dogter se dansopvoering gemis het. Maar laat ek jou iets vertel wat my gehelp het om my prioriteite reg te hou.’

Dit is toe wat die man sy teorie van ‘n duisend albasters verduidelik.

“’Jy sien, ek het eendag gesit en ‘n bietjie somme gemaak. Die gemiddelde persoon leef 75 jaar. Ek weet, sommige leef meer en sommige minder, maar gemiddeld, leef mense ongeveer 75 jaar."

“’Wat ek toe doen is om 75 te vermenigvuldig met 52 en ek het die getal 3900 gekry – dit is die aantal Saterdae wat die gemiddelde mens in sy hele leeftyd het. Hou nou net ‘n bietjie uit Tom, ek kom nou by die belangrike deel. Ek het eers op die ouderdom van 55 jaar begin dink aan hierdie detail, en by daardie tyd het ek reeds deur meer as 2800 Saterdae geleef. Ek had nog ongeveer ‘n duisend Saterdae oor om te geniet. So het ek na die speelgoedwinkel gegaan en al die albasters in die winkel gekoop. Uiteindelik moes ek by nog twee speelgoedwinkels ingaan om by ‘n 1000 albasters uit te kom. Ek het die albasters huis toe geneem en hulle in ‘n groot, helder deursigtige plastiese fles geplaas – alles hier in my stoorkamer langs al my goed."

“’Van daardie dag af het ek elke Saterdagoggend een albaster uitgehaal en weggegooi. Ek het agtergekom soos ek die albasters sien minder raak, ek al meer gefokus het op die regtige belangrike dinge in die lewe."

“’Daar is niks soos om te sien hoe jou tyd op die aarde besig is om uit te hardloop, om jou te help om jou prioriteite reg te kry nie."

“’Wel, laat ek jou vertel voordat ek van die lug afgaan om my lieflike vrou vir ete uit te neem. Vanoggend het ek die laaste albaster uit die fles gehaal. Ek reken indien ek dit volgende Saterdag maak, is ek ‘n klein bietjie ekstra tyd gegun. En die een ding wat ons almal kan gebruik is ‘n klein bietjie ekstra tyd."

“’Dit was lekker om met jou te kon gesels, Tom, ek hoop jy spandeer meer tyd met jou gesin, en ek hoop ons ontmoet weer hier op die lug. Dit is ‘n 75-jarige ou man, K9NZQ wat groet, oor en uit.’

Jy kon ‘n speld op die lug hoor val toe die man van die lug afgaan. Ek reken hy het vir ons almal iets gegee om oor na te dink. Ekself het beplan om die oggend te werk aan die antenna van my radio, en daarna was ek van plan om met ‘n paar van die ander radioamateurs saam te werk aan ons klub se nuusbrief.

Ek het egter – instede daarvan om dit te doen – die trappe opgeklim na ons slaapkamer en my vrou met ‘n soen wakker gemaak. ‘Komaan my vroutjie, ek neem vir jou en die kinders vir ontbyt. Sy het regop gesit met ‘n glimlag: ‘Wat het gemaak om dit mee te bring?’ Ek het na haar gekyk en gedink hoe gelukkig ek is. ‘Ag wat, niks besonders nie, dit is slegs ‘n lang tyd gelede dat ons ‘n Saterdagoggend saam met mekaar en met die kinders spandeer het. En terwyl ons nou uitgaan, kan ons stop by die speelgoedwinkel? Ek het nodig om albasters te koop.

Saturday, 9 April 2016

Dankverklaring 4 - Ek is dankbaar ek is gebore


Ek is dankbaar dat ek gebore is - 
Ek is dankbaar vir my huis, my motor, 
my familie, my vriende, my gesondheid 
en die gevoel van genot wat ek elke dag beleef.

::

Tuesday, 5 April 2016

Ek wil léwe...


Geniet die lewe, gryp die dag! Hoe voel jy vandag? Wat is jou gemoedstoestand? Hoeveel geniet jy die lewe?

Ek het hierdie oulike ding gelees oor bekommernis:

"Sluit die hekke van die verlede. Moenie aanhou terugkyk na die probleme en foute van die verlede nie. Sluit ook die hekke van die toekoms. Moenie bekommerd wees of vrees vir wat in die toekoms kan gebeur nie. Die toekoms is vandag. Hanteer vandag. Jy kan nie in die verlede leef nie, ook nie in die toekoms nie. Jy kan net vandag leef. Elke dag is 'n nuwe lewe, 'n nuwe begin. Berei jouself voor vir die toekoms deur vandag tot sy volle potensiaal te leef. As jy bekommerd is oor wat dalk more mag verkeerd gaan, was jy verniet bekommerd. En as dit dan wel gebeur, was jy twee keer bekommerd.”

.

Monday, 28 March 2016

Eie-tyd en Oorvloed


Toe ek hierdie artikel oor eie-tyd en ALLEEN wees begin skryf, het ek op die internet gesoek na 'n mooi aanhaling of gediggie om hier te plaas, maar al wat ek op afgekom het was dinge soos, "Om alleen te wees is om sonder liefde te wees", "Nou is ek alleen, die pad lyk donker, eensaam en dood" en "dit is swaar om alleen te wees". Nêrens is daar iets goeds of positiefs te vinde oor 'alleen' wees nie. Selfs Wikipedia beskryf iemand wat daarvan hou om alleen te wees as "iemand wat menslike wisselwerking vermy, uiterste vorme van skuheid en ingekeerdheid openbaar of aan sielsiektes ly." Hoe op aarde het die mensdom tot hierdie gevolgtrekkings gekom...? 

Ek verstaan heeltemal die gevoel van verlies wanneer mens 'n geliefde verloor of 'n verhouding tot 'n einde kom, maar selfs dít is nie 'n rede om alleen-wees te vrees nie. Om bang te wees om alleen te wees is soos om te sê, 'iewers langs my lewenspad het ek my eiewaarde verloor. Ek het myself nie lief genoeg om my eie geselskap te waardeer nie'. 

Nou het ek heeltemal van die paadjie af gedwaal! Nee, ek wou skryf oor die salige gevoel van alleen wees met jouself en dit geniet, daardie eie-tyd waarna soveel mense smag maar nie weet hoe om te bewerkstellig nie. Hulle voel skuldig as hulle bietjie tyd aan hulself spandeer met die gevolg dat elke oomblik gevul word deur ander mense se behoeftes te vervul en sodoende leer hulle nooit om alleen-wees te geniet nie. 

As kinders is ek en my susters en broer baie aangemoedig om alleen te speel, ons eie ding te doen en om ons eie geselskap te geniet. Dit het ons geleer om kreatief te wees, meer te dink aan oplossings vir probleme, selfstandige besluite te neem en om te verstaan wanneer ander mense alleen wil wees. 

Daardie eie-tyd gun mens die kans om die lewe in die regte perspektief te sien, dankbaarheid te beoefen en toe te laat dat oorvloed jou lewe betree sodat, selfs wanneer jy alleen is, jy nie eensaam sal wees nie. 

:: 


Thursday, 24 March 2016

Selfsorg en Vreugde



Ek hoor so baie vrouens kla oor die feit dat hulle nooit tyd vir hulself het nie en dat 'n ma en vrou se prioriteite altyd laaste kom. Hulle glo dit is maar hoe die lewe werk, en hoe gouer hul dit aanvaar, hoe makliker gaan hul deur die lewe gaan.

Waar stop 'n ma se veranwoordelikheid? Hoekom voel ons so skuldig oor als? Hoekom is ons so perfeksionisties waar dit die familie en ander se behoeftes aangaan, maar nie ons eie nie?

Van al die dinge wat ons lewens beϊnvloed, is ons oortuigings-sisteem seker die mees belangrikste.

Wat ons glo vorm ons uitkyk en gedrag en houding en as ons ons lewens wil verander en transformeer, kan ons dit nie doen sonder om ons oortuigings-stelsel te verander nie.

As ons waarlik ons lewe wil verander, moet ons leer om ons geloofstelsel te verander. Die goeie nuus is dat dit nie so moeilik is as wat dit klink nie! Vasbeslotenheid en dedikasie is al wat dit vat.

Ongelukkig vir meeste van ons, het ons meer self-limitasie oortuigings as konstruktiewe oortuigings. Ons GLO dat almal se behoeftes voor ons eie moet kom - ons kinders, ons eggenote, ons vriende - en dan is dit goed genoeg dat ons kry wat oor is. Dit is die EEN groot rede hoekom ons voel of ons vassit en asof ons 'n slagoffer van die noodlot is, dat ons nie in beheer van ons eie lewe is nie.

Die oomblik wat ons hierdie self-limiterende oortuigings verruil vir meer positiewe oortuigings, sal ons houding en gedrag outomaties verander om in te pas met ons nuwe oortuigings en nuwe en meer bevrydende moontlikhede in ons lewe aantrek.

Onthou toe jy laas op 'n vliegtuig was? Die lugwaardin het verduidelik wat jy moet doen in geval van 'n noodtoestand en het gesê,

"Indien jy saam met ander mense reis wat hulp nodig sal hê, sit asseblief eers jou eie suurstofmasker aan voordat jy die ander mense help."

Eenvoudige konsep, nê?

Jy kannie iemand anders help as jy nie kan asemhaal nie!

Selfsorg is dieselfde.

Selfsorg is die absolute fondasie vir enige suksesvolle onderneming; of dit nou 'n besigheid is, of as 'n ouer, vennoot of vriend - van 'n pure fisiese standpunt, hoe beter jy agter jouself kyk, hoe meer energie het jy om in jou lewe in te sit.

Van 'n energie standpunt, hoe meer gebalanseerd en gelukkig jy voel, hoe makliker kan jy jou lewe genotvol vervul.

Benewens, die manier wat jy jouself behandel, wys aan ander dat jy verwag dat hulle jou goed behandel.

Byvoorbeeld, as jy 'n unieke tipe diens of produk lewer en jy vra nie vir betaling nie, dan stel dit voor dat geld nie vir jou belangrik is nie, en kan jou kliënte dalk dink jou diens is nie waardevol of van belang nie.

Dink vir 'n oomblik aan die week wat verby is :

Het jy tyd gehad vir jouself?
Wie se behoeftes het eerste gekom - joune of almal om jou?
Het jy 'ja' gesê vir dinge waarvoor jy liewers wou 'nee' sê?
Het jy gevoel jou tyd was jou eie?

Stap #1: Skeduleer tyd vir self-sorg
Die wêreld gaan jou nie vra of jy ekstra tyd vir jouself nodig het nie - dis jou werk om die grensperk te stel en tyd vir jouself te maak!

'n Maklike manier om jouself 'n prioriteit te maak en 'n sterk fondasie te lê vir selfsorg is om 'n tyd te skeduleer, dieselfde soos jy tyd skeduleer vir al jou take gedurende die dag, maar sit selfsorg EERSTE in jou beplanner.

Om geld te spaar, sê die deskundiges jy moet 10% van jou inkomste eenkant sit sodat jy dit nie spandeer nie. Dis dieselfde met tyd vir jouself.

Elke week, besluit watter selfsorg dinge is vir jou belangrik en sit dit in jou beplanner. Wil jy yoga doen? Wil jy 5 minute mediteer in die oggend? Wil jy al die familie oorhê vir ete Woensdag aande? Wat van jou haarbestelling? Besluit wat is vir jou belangrik en skryf dit in en beplan die res van jou tyd om dit. Jy sal verbaas wees hoe maklik en bemagtigend dit kan wees!

Stap #2: Soveel moontlik, sê alleenlik JA as jy dit regtig bedoel
Vind jy gereeld dat jy ja sê vir versoeke wanneer jy wens jy kon nee gesê het? Hoe laat dit jou voel? Voel jy gegrief om êrens te wees waar jy nie wou wees nie? Natuurlik sal daar altyd aktiwiteite wees wat jou aandag moet geniet en waarvoor jy nie lus is nie, maar daar is ook gewoonlik altyd keuses rondom hulle.

Probeer hierdie :

- Wanneer iemand jou vra om iets te doen, huiwer, haal diep asem en dink regtig na daaroor.
- As dit jou nie genoeg tyd gee nie, sê jy moet eers jou dagboek nagaan.
- Wanneer jy besluit, voel wat jou liggaam en jou verstand jou vertel.
- Wees bewus van die seine vir elke besluit en gee dan jou antwoord.
- Hierdie sal dalk eers baie selfsugtig voel, maar dit is eintlik respekvol, vir jouself en ander.

Byvoorbeeld, as jy na 'n partytjie gaan en jy wou nie eintlik nie, dink jy nie andere kan dit aanvoel nie? Liggaamshouding spreek volumes!

Dit word gesê dit neem 21 dae om 'n nuwe gewoonte te vorm - gedurende die volgende maand, beoefen selfsorg op nuwe maniere, wees bewus van jouself en erken elke manjifieke selfsorg stap wat jy neem.

Wees ekstra gaaf teenoor jouself, en onthou om jou masker op te sit!

- Jy is die enigste een wat in jou behoeftes kan voorsien.
- Dit is jou taak on jouself eerste te stel in jou lewe, wetende dat jy dan voller kan  konnekteer met almal om jou.
- Dit bedoel jy is 'n beter eggenote, vriend, ouer, ens.

Deur meer vrede in jou lewe te bewerkstellig, is daar meer vrede in die wêreld.

Red die wêreld vandag deur uitstekend vir jouself te sorg!

::

Sunday, 20 March 2016

Skuldgevoel Bring Jou Niks in die Sak nie



Skuldgevoel is self-minagting. Jy is liefde van self, liefde van alles, jy is liefde. Jy kannie terselfdertyd  liefde en skuldgevoel wees nie — hulle is twee teenoorgestelde vibrasies.

Jy sê, "Ek het besluit om netjies te wees. Ek gaan my bed elke dag opmaak". En dan dink jy aan al daardie beddens wat jy nie opgemaak het nie, en jy sê "Ek moet seker maar teruggaan en al daardie ander beddens opmaak". Wel, voorspoed met daai een! Jy kan onmoontlik nie iets omtrent daai beddens doen nie. Maak net jou bed vandag op!

Reik vir 'n goeie gevoel NOU, en vergeet van wat voorheen gebeur het, want jy kan buitendien niks daaromtrent doen nie, en jy wil ook nie. Op hierdie oomblik is jy hierdie suiwere, magtige, geseënde, geliefde, al-wetende en wat-alles-verdien mens. En enigiets wat voorheen gebeur het, het niks daarmee te doen nie.

.

Tuesday, 8 March 2016

Geheime van gelukkig wees



Wanneer laas het jy tien minute vroeër opgestaan om die sonsopkoms te bewonder? Of met kaal voete in die reën gehardloop? Kortom, wanneer laas het jy tyd gemaak om jou siel te voed?

Die siel is ons brug na Bron-energie. Tensy ons ’n gesonde siel kweek, ly ons emosioneel in ons verhoudings en bly ons geestelik honger. Net soos jou liggaam aandag, voeding en oefening nodig het, net so het jou siel koestering nodig om jou van binne gesond te hou.

SIELSKOS

Tyd vir stilword

Die stylvolste boeke op die rak is daardie wat met vernuf gebruik maak van wit spasie om besige teks mee af te wissel. Is daar genoeg “wit spasie” in jou lewe? Haal twee dinge van jou prioriteitslys af wat jy môre moet doen.

Dink aan mense wat in jou oë ryk siele het. Watter eienskappe maak hulle so? Skryf dit neer en dink hoe jy elkeen in jou eie lewe kan inbou.

Voltooi die sin op soveel maniere as wat jy kan: “As my siel goed versorg was, sou ek ...”

Dink terug aan die klein, onverwagse lekkertes in jou lewe. Daardie oproep van ’n ou vriendin. Die onverwagte wyshede wat elke nou en dan uit jou kind se mond glip. Verlustig jou daarin, want dié oomblikke gaan so gou verby.

Tyd vir verwondering

Dra jou slaapsak buitentoe en bring n aand onder die sterre deur. Verwonder jou aan die kreatiwiteit van die Heelal.

Maak n lys van eenvoudige dinge wat jou genot verskaf, soos die reuk van n braaivleisvuur, die rustige gekoer van n duif, of warm seesand tussen jou tone. Voeg daagliks iets by hierdie lys en probeer om ten minste weekliks een van hierdie dinge te ervaar.

Kinders is die grootste leermeesters oor hoe om alledaagse oombliklike in avonture te omskep. Weerstaan die drang om met grootmensverskonings vir hulle “nee” te sê.

Gaan sit vir tien minute met toe oë op n stil plekkie in jou tuin. Span jou sintuie in om waarlik bewus te raak van die klanke, reuke en voelbare dinge in jou omgewing.

Tyd vir wegbreek

Breek n slag weg van roetine af. Eet ’n ongewone ontbyt. Ry ’n ander pad werk toe. Hou piekniek op die gras. Gaan stap elke aand saam met jou gesin om die blok.

Teken n eenvoudige prentjie van die ideale ruimte waarna jou siel smag. Is dit n kolletjie in die son? n Bankie langs water tussen blomme? Sagte kussings om jouself op neer te vly? Bo-op ’n bergpiek met die vallei onder jou uitgestrek? As jy nie self hierdie ruimte kan herskep nie, herinner jou daaraan dat dit net sover soos jou verbeelding is.

Gee jouself n halwe dag sonder verpligtings. Gebruik hierdie tyd om oor jou keuses van die afgelope jaar te besin. Wat is jou doelwitte vir die jaar wat voorlê en hoe lyk jou plan van aksie om dit te verwesenlik?

Midde-in jou volgende krisis, neem’n paar minute om jouself uit die situasie te verwyder. “Reis” in jou gedagtes na ’n stil plek, laat jou gees rus.

Tyd vir genesing

Sielkundiges het ontdek dat om met jou verkeerde hand te skryf, gedagtes en gevoelens kan openbaar waarvan jy onbewus was. Skryf ’n paar eerlike sinne met jou verkeerde hand neer. Skryf nou met die ander hand ’n liefdevolle, gerusstellende reaksie op elk.

Jy is so siek soos jou geheime. As jy met n geheim rondloop wat jou siel siek maak, raak daarvan ontslae.

Is daar dele van jouself wat jy verwerp omdat dit jou skaam laat voel of seer laat kry?  Hou n verwelkomingspartytjie vir daardie deel van jou, kyk daarna, voel dit en aanvaar dit sodat jy daarmee saam kan leef. Maak nou vrede daarmee.

Tyd vir sielsgenote

Maak n lys van mense wat jou lewensgroei op een of ander manier ondersteun. Skryf langs elk ’n paar woorde oor die tipe steun wat hulle jou bied.

Stuur n briefie aan elk waarin jy dankie sê vir die manier waarop hulle jou help.

Sien die mense in die gemeenskap om jou raak by die huis, werk, skool, kerk en daar waar jy jou sport of stokperdjies beoefen. Wat kan jy doen om hulle jou sielsgenote te maak?

Smee n vriendskap met iemand minstens twintig jaar ouer as jy. Kies iemand wat emosioneel en geestelik volwasse is en geniet die dieper lewenswyshede wat so ’n persoon in jou lewe kan bring.
Wat is n paar van die belangrikste eienskappe wat jy in n vriend soek? Fokus oor die volgende jaar om hierdie eienskappe in jouself te ontwikkel.

Tyd vir aksie

Soek doelbewus na dinge waaroor jy kan lag. Lees ’n paar comics, neem n lawwe DVD uit of lees n boek vol grappies voor bed-toe gaan tyd.

Sit die volgende sewe dae opsy om kreatiewe maniere te vind waarop jy vir iemand kan sê jy gee vir hom of haar om, sonder om woorde te gebruik.

Maak n gewoonte daarvan om een mens elke dag te prys. Wees opreg en spesifiek.

Dink vir 30 minute oor jou begrafnis na. Wat sal jy graag wil hê ander moet van jou onthou? Begin van vandag af só te leef dat hierdie woorde bewaarheid sal word.

As jy vandag moet sterf, wat is die vyf dinge wat jy sou wens jy meer tyd aan bestee het? Skryf dit neer en wend ’n doelbewuste poging aan om elke dag bietjie meer aandag aan elkeen te gee.

Voer jou siel vet aan n feesmaal van goeie sielskos en geniet die energie-inspuiting wat dit aan elke ander area van jou lewe sal gee!

Groete,

MAREE