::
.
'n Afrikaanse hoekie
Haai, my naam is Maree en ek is 'n amper-verengelsde Afrikaner en woon op die Noordkus van KwaZulu Natal, Suid Afrika.
Ek het lankal geleer dat 'n mens jouself moet wees - na-apery is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jy self? Ek weet ook dat vir alles is daar 'n teenoorgestelde - binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat 'n mens 'n keuse het en dat daar niks is wat jy ''moet'' doen nie - die ding is net om 'n besluit te neem en dit dan te DOEN. My groot voorliefdes is kuns, diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.
Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom - laat ons dit met vreugde ontvang!
Sunday, 30 March 2014
Friday, 28 March 2014
Om vriende te kweek
Is jy lief vir tuinmaak? Is jy lief vir jou vriende? Die twee is baie dieselfde. Albei is kosbaar vir ons, albei vat toewyding, tyd, liefde, aandag en baie werk.
Sonder om tyd in jou tuin te spandeer sal jy dit eerstens nie kan geniet nie en tweedens sal jy dit nie leer ken nie. Elke plantjie vertel ‘n storie, of dit gelukkig is, of dit genoeg water en kos kry, of dit genoeg aandag en liefde kry. Hoeveel werk jy in jou tuin insit is sigbaar in hoe goed jou plante blom, hoe sterk hulle is om dit deur die winter te maak en hoe hulle groei, seisoen na seisoen.
Dieselfde is waar omtrent ons vriende. As ons nie aan ons verhoudings werk nie, nie genoeg tyd saam met ons vriende deurbring nie, sal die vriendskap daaronder ly. Liefde en aandag in ons verhoudings met ons vriende is belangrik, dit hou die vriendskap sterk. Vriende help ons om te groei, om onsself beter te leer ken en ondersteun ons in moeilike tye, die “winter” van die lewe.
So, nes met die blomme in jou tuin, kies jou vriende reg! Hul koester jou drome en werk sag met jou hart.
.
Monday, 10 March 2014
Ek wil julle graag voorstel aan Jacko
"Jacko" potloodskets en waterverf in my Moleskine waterverf sketsboek
Ek wil julle graag voorstel aan Jacko, my Fox Terrier x Jack Russell, wat nie weet dat hy 'n hond is nie. Hy eet wat ons eet, gaan waar ons gaan en as hy nie kan gaan nie, gaan ons nie. Hy het 'n sekere 'air' omtrent homself en waar ookal ons gaan, stop die mense om met hom te praat en hy vergoed almal met die hartlikste verwelkoming, veral kinders, oor wie hy absoluut mal is.
Hy was Oktober 2013 7 jaar oud en met sy aankoms hier was hy omtrent 4 weke oud - so klein ek het hom oral in my sak of handsak rondgedra, toe 'n mandjie en daarna in die trollie as ons winkelsentrum toe gaan. Van kleins af al het hy sy harnas gaan haal as hy weet ons maak gereed om uit te gaan, en sodra hy dit aan het, tel hy die leisel op met sy mond en staan en wag geduldig tot ons gereed is. Sy groot voorliefde is om by die motor se venster uit te hang en alles te bekyk.
Sy gunsteling plek is Mirjam's Restourant & Pub in Magaliesburg, want dis een van die min plekke waar ek sy leisel afhaal en hy vrylik kan rondsnuffel. En as ons die dag verby Mirjam's ry op pad êrens anders heen, dan is dit 'n geblaf en 'n gesmeek vir ons om terug te draai!
Jacko 6 weke oud
Of dit nou reg of verkeerd is weet ek nie, maar 'n mens raak so versog op jou troeteldiere dat, die dag wanneer hul lewens tot 'n einde kom, voel dit of jy 'n lewensmaat verloor het. En as 'n buitestander van so 'n gebeurtenis, kan 'n mens maar net jou kop skud en jou verbaas aan mense se reaksies tot dit die dag met jou gebeur.
Thursday, 6 March 2014
Luister na die lied van die natuur
'n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale...
Om 'n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome.
::
Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor
Aan die punt van die vallei hoog in die berge
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido)
::
Tuesday, 25 February 2014
Eenvoudige oomblikke
Gewoonlik kan jy die groot, onvergeetlike oomblikke in jou lewe op een hand tel, maar dis die alledaagse, klein eenvoudige dingetjies in ons dag wat die lewe so lekker maak. Soos om 'n heerlike Cappuccino by die Wimpy te sit en drink, sommer so in die middel van die oggend.
Hulle motto is mos "Enjoy every moment" en om sommer net so te sit en gesels is presies dit. Om elke eenvoudige oomblik te geniet.
Op pad na die Wimpy...
Ek sê dankie vir alledaagse dinge...
::
Thursday, 20 February 2014
Bly kalm en gesond
Baie van ons sal nie hierdie winter verkoue en griep vryspring, dis juis wanneer die seisoene verander dat daardie lastige verkoue of hoes posvat. Kenners beweer dat heuning antibakteriese kenmerke het wat die bakterieë in die keel beveg.
'n Teelepel rou heuning voor slaaptyd laat jou rustiger slaap en verlig ook hoes. Jy kan ook 'n teelepel heuning met louwarm water meng en dit voor slaaptyd drink.
'n Kombinasie van heuning en suurlemoen vir die verligting van hoes was ook nog altyd gewild. Meng 'n halwe teelepel heuning met die sap van 'n vars suurlemoen en drink voor jy gaan slaap. Jy kan die mengsel ook bietjie verhit voor jy dit drink. Drink elke vier ure twee teelepels van die mengsel. Dit beveg ook keel irritasie.
Deesdae is dit taamlike 'n uitdaging om die spasie en tyd te vind om te ontspan. Hoe balanseer mens die uitdagings van ons alledaagse lewe?
(Foto en resep vanaf Everything Lavender)
Jy kan vars blomme pluk of gedroogde laventel gebruik.
3 Eetlepels vars laventelblomme of 1½ eetlepels droë laventelblomme
2 Eetlepels heuning (met suurlemoen indien verlang)
Om die tee te maak, gooi die blomme in 'n teepot en gooi in kookwater. Roer die heuning by. Laat trek vir 4 of 5 minute. Gebruik 'n teesiffie en bedien in pragtige tee koppies!
.
Friday, 14 February 2014
Tuesday, 4 February 2014
My eie stukkie paradys
Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is...
Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.
Jy sou lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou.
Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.
Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.
Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...
::
Sunday, 2 February 2014
Saturday, 1 February 2014
'n Wit vel papier...
::
‘n wit vel papier . ‘n nuwe sketsboek . wat sal ek doen
droom / sing / skryf / wag / dink / tuinmaak / gesels / skilder
ek het besluit om te skilder
::
Sunday, 19 January 2014
Elke nuwe oggend
Die woorde hier bo is ou bekendes en tog, elke nuwe oggend IS inderdaad ‘n plek waar ons nog nooit voorheen was nie. Jy maak jou oë oop en het g’n idee wat voorlê nie – oneindige moontlikhede – dalk wen jy die Lotto vandag of kom kuier ‘n geliefde vriendin. Maak nie saak hoe jy jou roetine stel nie – jou eerste koppie koffie, jou afsprake en planne vir die dag – daar is altyd die moontlikheid van iets nuuts, iets fenomenaal, iets verbasend wat kan gebeur.
Ek wens jou 'n pragtige sonneblom-Sondag.
Ek wens jou 'n pragtige sonneblom-Sondag.
::
Thursday, 16 January 2014
Wat beplan jy vandag?
Somer is hier en alles vra gelyktydig vir aandag!
Die tuin is dors, Torti (my Bergskilpad) het ontwaak vanuit haar winterslaap en vra om gevoed te word (sy’s nog steeds hier by my nadat ons haar van iemand se pot gered het en elke jaar belowe ek dat, wanneer die somer kom, gaan ek haar vrylaat maar elke winter, as ons al die vreeslike veldbrande beleef, dan word dit weer afgestel…)
Na 2 maande se hibernasie is Torti ook reg om die somer aan te pak.
Dis pure plesier om baadjie uit te trek, tekkies te verruil vir sandale en weer ‘n tuinslang in die hande te kry. Al die ou en dooie goed is alreeds afgesny en uitgehaal, beddings is mooi gemaak, paadjies is opgeknap en die tuin soek nou bietjie nuwe plantjies, nuwe geselskap, na maande se rus.
En om nie eers te praat van MYSELF nie, my eie liggaam – my hande voel skurf en verwaarloos, my arms en bene soek bietjie sonskyn (vanjaar is die jaar dat ek ‘n mooi kortbroek aanskaf! Op amper 68 is daar mos nie meer sprake van omgee wat ander mense dink nie, jy’t mos lankal lief geraak vir jouself en jouself aanvaar nes jy is! As ons maar tog net dit kon leer terwyl ons 20 of 30 of 40 was in plaas van om ‘ droom van ‘perfeksie’ na te jaag…)
So, wat beplan jy vandag? Ek sal êrens buite wees, besig om die son te geniet…
.
Monday, 13 January 2014
Vriendelike geel
‘n Roos is nie net ‘n roos nie. ‘n Roos is blom met betekenis. Die kleur het betekenis wat dikwels onderskat word. Voordat jy vir iemand rose koop, dink mooi oor hoekom jy die rose wil gee en kies daarvolgens ‘n kleur. Dit gee soveel meer waarde aan die geskenk. Dit is die gedagte wat tel, maar ‘n gedagte wat goed deurdenk is beteken soveel meer.
Geel rose het in Victoriaanse tyd jaloesie bedoel, maar vandag beteken geel “Ek gee om”, maar geel rose word ook soms gegee as simpatie.
Die verskillende kleure waarin rose voorkom, het almal simboliese betekenisse:
geel – vriendskap, platoniese liefde, simpatie
rooi – romantiese liefde
pienk – grasie
donkerpienk – dankbaarheid
ligpienk – bewondering, simpatie
wit – onskuld, geheimsinnigheid
oranje – passie
dieprooi – skoonheid
blou – misterie, betowering
rooi – romantiese liefde
pienk – grasie
donkerpienk – dankbaarheid
ligpienk – bewondering, simpatie
wit – onskuld, geheimsinnigheid
oranje – passie
dieprooi – skoonheid
blou – misterie, betowering
::
Saturday, 11 January 2014
Heuning en Laventel haarbehandeling
Daar is nie 'n vrou op aarde wat nie behep is met haar hare nie. Baie min van ons is honderd persent tevrede met wat ons het - ons hare is óf te krullerig óf te reguit óf te dun óf te dik en onbeheerbaar, óf te vaal en so gaan ons aan. En tydskrifte en TV advertensies en die internet is vol van rate en middels wat veronderstel is om te help.
So hoe besluit mens watter raad om te volg of watter middels om te koop? Ek persoonlik dink dat een sjampoe of haaropknapper maar dieselfde is as die ander. So waarom dan nie maar iets uit die natuur probeer nie? Ons voorouers het vir dekades sonder al die fênsy goeters van apteke en supermarkrakke klaar gekom en ek weet daar was NIKS met my ma of my Ouma se hare verkeerd nie!
Hier volg 'n lekker resep vir 'n natuurlike haaropknapper wat ek gereeld gebruik, en dit werk baie goedkoper uit as Tresemmé!
Haaropknapper :
Meng 2 eetlepels heuning met 'n halwe vars avokadopeer, 1 teelepel klapperolie en 'n paar druppels laventel (essential) olie, nie gewone laventelgeursel nie. Masseer in jou hare in en los vir 'n half-uur. Werk uitstekend vir droë en beskadigde hare.
(Foto vanaf 'Yoga Essentials')
Laventel word al byna 2 000 jaar lank vir mediese doeleindes gebruik. Party laventelolies, veral Lavandula angustifolia, het ’n uitwerking op ’n hele paar soorte bakterieë en swamme. Sommige navorsers het aan die hand gedoen dat laventelolie nuttig kan wees vir die behandeling van bakteriese infeksies wat bestand is teen antibiotika.
(Inligting vanaf 'Wagtoring')
.
Monday, 30 December 2013
Wense vir 2014
'n oop hart . spierwit papier . kreatiwiteit . 'n briesie of dit nou koel of warm is . 'n vriendin wat sê, 'bel as jy my nodig het' . wit linne . naweke . die vreugde van musiek . 'n ruskansie . die son op ons rug . 'n stoel vir die tuin . vlerke om mee te vlieg . tyd saam met geliefdes
'n Vreugdevolle en mooi Nuwe Jaar vir jou!
::
Subscribe to:
Posts (Atom)
































