Saturday, 26 October 2013

Weggooi-goed

'n Paar van my ou skilder verfborsels op 'n rak in my ateljee - uitgedroog en hopeloos verby!

Kan jy ook nie goed weggooi nie?

Ekhet rakke en rakke en bokse en bottels en roomysbakke en tasse vol goed! So elke nou en dan voel ek oorweldig dan is daar 'n poging om van dit ontslae te raak, maar gewoonlik nie baie suksesvol nie.

Maar 'n plus daaromtrent is dat ek mooi goed ontdek waarvan ek vergeet het en dan bring ek dit uit en her-rangskik alles in die huis weer 'n bietjie. Dan gaan die 'nuwe' goed ou-bokse toe, tot volgende keer.


Nou die dag het ek 'n klomp skulpe in 'n boks raak geloop, van dae toe ek nog skulpe bymekaar gemaak het. Ek het die mooistes uitgesoek en die res is tuin en blombakke toe - ek kon dit nie weggooi nie!



Dis dieselfde storie met vere. Hulle sê mos 'moet nooit verby 'n veer loop sonder om dit op te tel nie'. Wel, dis wat ek doen, tel al wat 'n (mooi) veer is op. Ek gebruik baie daarvan wanneer ek juweliersware maak, maar die res is in bokse en bottels en ook 'n laai of twee!


'n Halssnoer met 'n veer

Ander goed wat ek nie kan weggooi nie is bokse, stukke hout, bottels en draad. Dis nie lank nadat ek dit weg geggooi het nie dat ek iets wil bou en dan is ek op soek na dit! So nou sal alles maar net bly waar dit is totdat ek dit eendag nie meer kan vat nie en 'n groot skoonmaak weer begin!

'n Hoekie in my "garden shed" vol "nodige" goed 

::
 

Friday, 18 October 2013

Pienk en pers verwondering


My Krismisroosblomme het verbete geklou dwarsdeur die winter maar nou is die bosse definitief op hul laaste. Ek het die laaste paar blomme gepluk, in bietjie water gesit, nog ander opgehang om droog te word en 'n paar in 'n mandjie gepak om ook droog te word.


Al ooit gesit en wonder hoe kry jy die blomkleure van krismisrose na jou sin (pienk of blou)? Die kenners sê blom kleur word beinvloed deur die grond:

1) Suurgrond gee donkerblou blomme - Dit kan aangehelp word deur Shake and Grow Blue toe te dien of eierdoppe in die grond te werk.

2) Alkaliese grond gee pienk/rooi blomme - Dit kan aangehelp word deur Shake and Grow Pink of landboukalk toe te dien. Onthou net dat die grond toestand nie “oornag” verander kan word nie, so begin dus reeds in die winter maande met jou toediening. (Wit blomme se kleur kan nie verander word na pienk of blou nie.)

Maar nou verstaan ek nie hoe is dit dan dat ek beide pienk en pers blomme aan een bos het nie!


::

Wednesday, 16 October 2013

Graspolle in die son


:: Heerlike somersdag hier in Gauteng :: 

:: warm, met helder blou hemel en heerlike sonskyn :: 

:: graspolle in die son :: 

:: rivierklippe gestrooi soos konfetti :: 

:: voëltjies fluit vrolik :: 

dankbaar vir hierdie dag

::

Sunday, 13 October 2013

Bosveld gedagtes

Foto geneem by Thaba Monaté naby Bela-Bela gedurende 'n besoek 'n paar jaar gelede 

Gedagtes van die bosveld, skone velde en natuurskoon wat die hart laat rustig verkeer. Drome van vlaktes en wild en vryheid. Van voëls en anderse bome. Dis waar my gedagtes deesdae is. 

Ons bly al dekades op ons kleinhoewe in Tarlton en toe ons in die mid-70's hierheen verhuis het, was ons die enigste inwoners vir myle. Maar stadig oor die jare het vooruitgang sy tol geneem en is ons nou deur mense omring aan alle kante. Al die inheemse bome is afgekap om plek te maak vir 'n huis, die tarentale is nêrens meer te sien nie en die uile is skaarser as hoendertande. 

Ons is geleë op die hoofpad tussen Krugersdorp en Magaliesburg op pad na Botswana en destyds was dit maar net 'n smal, swak-geteerde teerpad met min verkeer. Maar dit is al 3 of 4 maal opgegradeer as gevolg van al hoe meer verkeer en dit klink deesdae soos Eloffstraat op 'n Saterdagoggend en dreun enige natuurlike klanke heeltemal uit. 

Nou hunker my hart na die verte van die bosveld, weg van mense, weg van die verkeer en weg van die beskawing. 

Maar dalk is ek net vandag in 'n slegte bui, dalk is ek net ondankbaar vir al die seëninge wat ek wel het, dalk is dit net Sondagmiddag hunkeringe - miskien voel ek môre beter... 



Om die kampvuur by Thaba Monaté 

::

Bokant alle hange
is rus,
loerie se gesange
vaak gesus, 
net soos die wind
wat loom sy lê in kriebos kry;
wag net, ook jy
sal gou rus vind!
—Verafrikanisering deur Dugeot van die Duitse digter Goethe se "Über allen Gipfeln" 


Sonsondergang oor die Waterberge - Foto geneem deur Rudi Janse van Vuuren© 

:: 

Thursday, 10 October 2013

Au, sorry oumies!


Vanoggend sit ek voor my lessenaar besig om 'n paar verjaarsdagkaartjies te ontwerp en ek dink, "Maree, jy word oud!" Dit na aanleiding van die feit dat ek myself verlede week half disnis in die tuin geval het en amper my stuitjie gebreek het.

Oud word is nie 'n gedagte wat ek OOIT koester nie. Dis nie iets waaroor ek ooit dink nie. Seker omdat ek op sewe-en-sestig min skete het en omtrent nooit siek word nie, kannie onthou wanneer laas ek 'n verkoue gehad het nie. En ek voel nog dieselfde as wat ek op dertig of veertig of vyftig gevoel het.

Behalwe vir die feit dat ek nie meer so rats is as wat ek eens op 'n tyd was nie. Kannie meer die boom klim om die uil-nesbokse op te sit nie, kannie meer so fluks 'n hoender jaag en vang nie en kan ook nie meer oor die lae muurtjie agter die huis spring as ek 'n kuiken in nood hoor nie.

Die stuitjie-storie het gebeur omdat ek tussen 'n klomp blomme in die tuin gestaan het waar ek en Chrissie besig was om 'n paar plantjies te plant. Toe ek versigtig, sodat ek die blommetjies nie vertrap nie, agteruit tree om uit die blomme te kom, toe hak my voet agter 'n klip vas en slaat ek soos 'n os neer, bo-op 'n hoop klippe, reg op my stuitjie.

Die vernedering was erger as die pyn! En die uitdrukking van verskrikking op Chrissie, my tuinhulp, se gesig het my vinnig laat opspring om haar te paai en te verseker dat ek OK is. Sy konnie genoeg "Au, sorry oumies, sorry oumies" sê nie en ek moes haar omtrent 'n glas water gee vir die skok. Weet nie wie het groter geskrik nie, ek of sy!

Ek het die huis binne gestrompel en onmiddellik my Arnica-olie gesoek en aangesmeer maar ek het geweet die groot pyn gaan daardie aand kom. En dit het. Kon nie sit nie, kon nie op my rug lê nie, kon skaars beweeg. Maar na 'n lekker warm bad het ek uiteindelik aan die slaap geraak en gehoop dat dit die volgende dag beter sal wees.

Dit het 'n paar dae geneem en ek is nou amper volkome herstel, maar met 'n nuwe besef van hoe verganklik die lewe is. Mens hoor so baie van "ou" mense wat val en 'n heup of iets breek. Ek kan nog steeds nie glo dat ek so gelukkig was as om amper skotvry daarvan af te kom sonder enige nagevolge nie.

En een ding is seker, iets wat jy NIE van my gaan hoor is dat ek uit 'n boom geval het nie!

. 
 

Sunday, 6 October 2013

Dis 'n stil, warm Sondagmiddag in die hotel op Klawer

Ink skets en waterverf op DalerRowney 200gsm sketspapier - Maree© 

Dis stil. Die vlaktes wens vir 'n bietjie wind. Miskien selfs eendag 'n flentertjie reën. Maar dis veertig grade en die son regeer soos 'n genadelose diktator. Daar is nie 'n siel op straat nie. Hier weet die siele al om weg te bly as dit veertig grade is. Hier weet siele instinktief om versigtig te wees vir warm plekke. Dis 'n goeie ding om te weet. Ja, die siele kruip weg. Daarom dat die son vandag alleen op straat is. Niemand saam met hom nie. Want hy kan wreed wees, veral as jy net jou eie skaduwee het om in te skuil. Die ander skaduwees het al geleer, bly uit die strate uit. Hier kom jy eers ná donker uit. Kom doen jou ding in die maanskyn. Of miskien in die reën. Daar kom dalk eendag weer 'n bietjie reën.

Dis stil. en dis warm. Die hotel wens heimlik vir 'n rol in 'n Wilde Weste-fliek. Hy oefen al jare. In die son. In die dorre son. En met die stories wat hy aand na aand in sy kroeg hoor en sien, weet hy hy is gereed. Hy ken die lewe. Hy ken al die hartseer stories. Die manne kom. En hier kom praat hulle. Die wat nie stil is nie. Want hulle kom sit eenkant. En hulle vertel hul stories sonder om te praat. Dis hoe dit hier is.

(Uittreksel uit "Laaste sê" deur Koos van der Merwe in die Junie 2012 uitgawe van Sarie tydskrif, Suid Afrika)

.

Saturday, 5 October 2013

Skoonheid lê in eenvoud


Skoonheid lê in eenvoud
dit hét ons al gehoor:
maar met gewone woorde
het jy my siel bekoor
- Uittreksel uit 'Prost' - Elizabeth Kendall

Een van my waterverf Varkore met 'n gedig van Elizabeth

::


Monday, 30 September 2013

'n Tyd om aan te vul


'n Week sonder kreatiwiteit - nee, langer as 'n week... en die snaakse ding is dat ek eintlik verbaas is dat ek nie skuldig voel daaroor nie. Met 'kreatiwiteit' bedoel ek skets en skilder. Gewoonlik voel ek ongemaklik, al asof iets kortkom, as ek vir 'n paar dae nie geskilder of geteken het nie. Hierdie keer is dit anders - 'n stilte het sommer net neer gedaal... 

Ek het vir die afgelope twee jaar elke dag van my lewe iets geskilder, al was dit net 'n klein sketsie in een van my skets-joernale. Dit was soos tande borsel en iets wat ek verskriklik geniet. Maar oor die afgelope paar weke het my gedagtes, en hande, in ander rigtings begin beweeg - bietjie aandag gegee aan my huis se dekor; die tuin, wat 'n hele winter verwaarloos was, begin opgeknap; klein instandhoudingstakies wat lank verwaarloos was, weer aangepak en van my te-doen-lysie afgeskraap.


Ek maak ook gebruik van hierdie 'stil' gevoel wat oor my gedaal het om weer my yoga te beoefen, ook iets wat in die slag gebly het die afgelope twee jaar. 'n Jaar of twee terug het ek gereeld elke oggend gemediteer en ek het onlangs besef hoe baie ek dit mis. So, vyf-uur in die oggend is my spesiale stil tyd, wanneer ek siel en liggaam bymekaar skraap en ontslae raak van enige lastige pla-gevoelens. 


'n Ander voorliefde van myne was om te skryf. Briewe te skryf. In my Joernale te skryf. Deurdat ek so baie tyd voor die rekenaar en op die internet deurbring, het hierdie genotjie my begin ontglip. Mens praat met al jou vriende en familie op FaceBook en op Skype, gesels met almal in hul blogs en stuur boodskappe met jou Blackberry. Oor die afgelope paar weke het ek weer begin om briewe te skryf, meesal aan my klein kinders, en hulle dink seker hul ouma is van haar sinne beroof! Maar ek kannie vir jou sê watse heerlike genot dit is om weer 'n vulpen vas te hou en toe voel hoe dit oor die papier gly nie! 


Maar eintllik is al hierdie dinge ook maar 'n tipe van kreatiwiteit - enige iets wat die siel streel is gaaf met my! 

::


Friday, 27 September 2013

'n Binnenshuise wintertuin


Meeste van my geliefste potplante was nog in die huis tot so drie weke terug, 'n jaarlikse winter-gebeurtenis wat my waskamer in 'n blommekamer verander. Tussen wasmasjiene en tuimeldroërs en opgevoude wasgoed geniet hulle 'n plekkie in die son. 

Aan die begin van elke winter word almal binne toe gedra en daar bly hulle en gesels ons met mekaar tot Lente haar kop uitsteek en almal weer uitgedra word na hulle respektiewe plekkies buite op die stoep of in die tuin. 



Symperviums, 'n geskenk van 'n geliefde vriendin 


 ::


Thursday, 26 September 2013

Wanneer laas?

Ek is weer terug! Na net oor 'n maand se afwesigheid het ek van plan verander om hierdie blog toe te maak aangesien ek julle almal so gemis het! He he! So ek val sommer in die deur met die vraag...

Wanneer laas...? 
(Party van julle het dalk hierdie pos op 'Laventel & Heuning', wat nou toe is, raak gelees en ek vra om verskoning!)


Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is. 

Hier buite was dit effens toegetrek met 'n ligte en aangename briesie. 

Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie. ........... Hoekom nie?
Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees? 

Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons omgaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het. 

Wanneer was die laaste maal dat jy 'n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe 'n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel...? 


Hoekom dit nie vandag doen nie? 

::

Wednesday, 18 July 2012

Wat beteken Oorvloed vir jou?


:: 

Wat beteken OORVLOED vir jou? Is dit miljoene in die bank? Is dit gemoedsrus? Is dit 'n gelukkige familielewe? Beteken dit gesondheid vir jou of beteken dit 'n werk waaroor jy passievol is? Of is dit al hierdie dinge saam?   

Net om te léwe, om deel te wees van hierdie fenomonale Heelal, om tyd deur te bring hier op Moeder Aarde, dui al klaar op oorvloed. Dan kan jy al die bogenoemde dinge bylas, en watter wonderlike ondervinding is dit nie!

::