Tuesday, 10 May 2016

Vertroue, Geloof en Hoop



VERTROUE
Eendag het al die dorpsmense besluit on te bid vir reën. Op die biddag het al die mense bymekaar gekom in die dorpsplein - en net een seuntjie het opgedaag met 'n sambreel…
dis Vertroue

GELOOF
Geloof behoort te wees soos die gevoel wat 'n een-jaar oue baba het wanneer jy hom in die lug opgooi, hy lag ... want hy weet jy sal hom vang...
dis Geloof

HOOP
Elke aand gaan slaap ons sonder die wete dat ons die volgende oggend sal wakker word, en tog maak ons planne vir môre...
dis Hoop

.

Friday, 6 May 2016

Laat jou slaapkamer weer stoom



In een van die boeke wat ek onlangs gelees het, A-Z van Seks, sê Elmari Craig seksuoloog, huweliksberader en skrywer van die boek,

"God het seks aan ons gegee om binne die veilige ruimte wat die huwelik skep, te geniet. ʼn Gesonde seksuele verhouding is die diepste vorm van kommunikasie tussen twee mense wat mekaar intens liefhet en trou aan mekaar belowe het. Dit skep geborgenheid, intimiteit en nabyheid. Dit is die sement wat jou huwelik beskerm. ʼn Gesonde seksuele verhouding is as’t ware geestelike oorlogvoering vir jou huwelik. Ek glo dat God juis vir ons die seksuele kant van menswees gegee het – nie net vir prokreasie nie, maar ook vir rekreasie, vir die lekker! – om ons liefde vir mekaar te vier en te versterk.”  

Hoewel baie getroude vroue seks binne die huwelik geniet, is daar tog baie skuldgevoelens en wanopvattings wanneer getroude seks ter sprake is. “God het ons as seksuele wesens geskape,” verduidelik Elmari. “Ons word so gebore en bly seksuele wesens tot die dag dat ons sterf. Seks is deel van die lewe. Ons word baie onskuldig gebore en mettertyd leer ons om ons seksuele gevoelens te onderdruk – soveel so dat dit selfs moeilik word om oor seks te praat. Baie mans en vroue het min, geen of ʼn negatiewe seksuele opvoeding gekry. Ons word geïnhibeerd en seksualiteit word ʼn baie private aangeleentheid, veral met ons Afrikaanse, Calvinistiese agtergrond. Vir meer as 2000 jaar word persepsies oor seksualiteit ook deur godsdiens gevorm, soos byvoorbeeld dat seks sonde is, dat dit nie iets is om te geniet nie en dat dit ʼn plig eerder as ʼn plesier moet wees.”  

Elmari ontbloot die drie grootste seksmites wat getroudes steeds glo: “Baie paartjies glo seks is vervelig, dat vrouens nie van seks hou nie – veral nie om te eksperimenteer nie – en dat seks op ʼn sekere ouderdom nie meer belangrik of reg is nie. ʼn Vrou kan selfs ná jare se getroude lewe haar man in die slaapkamer verower as sy met hom WIL seks hê en dit saam met hom GENIET. Wees oop vir nuwe dinge, probeer af en toe iets nuuts – al is dit dieselfde ding op ʼn ander manier – en onthou om te lag. Humor in die slaapkamer is kosbaar en essensieel.”


JOU SEKSUELE SIKLUS
“Die goue reël vir die slaapkamer is dat enigiets binne die seksuele verhouding goed en reg is mits albei daartoe instem, gemaklik daarmee is en dit niemand emosioneel of fisiek skade berokken nie,” sê Elmari. Hier is wat jy in die verskillende fases van jou lewe te wagte kan wees:

•    Seks in jou 20’s ...

HOE DIT IS: “Jy en jou maat is in die ontdekkingsfase. Seksualiteit is ʼn proses om jou liggaam en behoeftes, sowel as die van jou maat, te leer ken.”

WAT IS NORMAAL: “Mans piek seksueel in hulle vroeë twintigs, maar vroue eers in hulle vroeë dertigs. In hierdie lewensfase waar alles nog opwindend is, het julle dalk meer gereeld seks as in die later jare.”

ALGEMENE PROBLEME: “ʼn Gebrek aan seksuele begeerte is algemeen by vroue aangesien hulle hul seksdrang lank onderdruk het en dit ná die troue weer moet optower. Paartjies kan ook  ʼn verskil in seksdrang ervaar terwyl sommige mans voortydige ejakulasie ondervind. Vaginismes, waar die kringspiere van die vagina só saamtrek dat penetrasie onmoontlik is, word gewoonlik ook in hierdie fase gediagnoseer. Spreek ʼn seksuoloog aangesien al hierdie probleme oplossings het.”

GROOTSTE UITDAGING:  “Omdat seks ʼn nuwe ervaring vir albei van julle is, is die grootste uitdaging om met mekaar te praat en gemaklik te raak met jou eie en jou maat se seksualiteit. Aanvaar seks as ’n Godgegewe gawe.”

DIE PLUSPUNT: “Julle is jonk en jeukerig en het krag vir allerhande nuwe dinge. Maak die beste van hierdie lewensfase waartydens julle net op mekaar ingestel hoef te wees.”


•    Seks in jou 30’s ...

HOE DIT IS: “Gewoonlik het dié lewensfase baie uitdagings soos loopbaaneise, swangerskap en pienkvoete. Slapelose nagte en borsvoeding is dikwels nie bevorderlik vir erotiese gedagtes nie. Dit is egter ook in hierdie fase waar die vrou gewoonlik haar seksuele piek bereik en sy uiteindelik met haarself en haar behoeftes kan vrede maak.”

WAT IS NORMAAL: “ʼn Fokus op die kwaliteit van die seksuele aktiwiteit eerder as die kwantiteit van seks is hier baie belangrik. In hierdie fase is die fokuspunt wedersydse behoeftebevrediging.”

ALGEMENE PROBLEME: “Soms kan ʼn gebrek aan seksuele begeerte in hierdie fase ontwikkel weens die eise van die lewe, ʼn gebrek aan emosionele intimiteit in die huwelik of onopgeloste konflik of gevoelens wat oor tyd opgebou het. Al hoe meer mans in hulle dertigerjare begin ook erektiele disfunksie ervaar weens hulle besige lewenstyle of erge spanning.”

GROOTSTE UITDAGING: “Stres en tydsbestuur vir emosionele en fisieke intimiteit is in hierdie fase die groot sondebok. Bly fokus op jou huwelik en jou huweliksmaat as eerste prioriteit, dan julle kinders en dan jou werk.”

DIE PLUSPUNT: “Jy het die insig om met jouself vrede te maak. Jy en jou maat ken julle seksuele behoeftes en kan nou openlik daaroor kommunikeer. Geniet dit!”

•    Seks in jou 40’s ...

HOE DIT IS: “Jy en jou maat kan nou net julleself wees. Jy het die wysheid om te weet dat niks perfek is nie. Jy kan gemaklik wees en van al jou inhibisies ontslae raak. Jou seksualiteit kan blom aangesien julle waarskynlik nou meer tyd het en die kinders meer onafhanklik is.”


WAT IS NORMAAL: “Jou estrogeenvlak mag begin daal en jy kan peri-menopousale simptome soos warm gloede, ongereelde maandstondes of vaginale droogheid begin ervaar. Hou dus altyd ʼn smeermiddel byderhand. Jou man het waarskynlik langer en meer direkte stimulasie van sy penis nodig en het ook ʼn langer refraktoriese fase (die tyd wat dit neem om weer ʼn ereksie te kry).”

ALGEMENE PROBLEME: “Vaginale droogheid is in hierdie fase ʼn algemene probleem en mans kan ook met erektiele disfunksie begin sukkel.”

GROOTSTE UITDAGING: “Dis baie belangrik om met jou veranderende lyf vrede te maak en mekaar op ʼn nuwe vlak seksueel te ontdek. Al speel julle reeds jare lank die spel van die liefde, moet julle probeer om dit opwindend, vars en nuut te hou.”

DIE PLUSPUNT: “Julle ken julle eie en mekaar se liggame en behoort nou gemaklik oor die seksuele te kan kommunikeer. Geniet die voordeel van tyd!” - Elmari Craig

(Ek wonder nou eintlik net wat het geword van seks in die 60's...)

TIEN KENMERKE VAN ’N SEKSGODIN

’n Seksgodin …

1.    is altyd smeulend en sexy, al pas sy nie in ʼn nommer 32 nie! Sy het selfvertroue, is gemaklik met haar eie liggaam en vrygewig met haar seksualiteit.

2.    is die cheerleader wat haar man soos ’n kampioen-minnaar laat voel.

3.    weet hoe om vir wonderlike seks te beplan en daarvoor tyd te maak.

4.    laat haar man weet hoe baie sy hom en sy lyf geniet.

5.    weet hoe om haarself, die kamer en die oomblik soos ʼn persent ‘toe te draai’.

6.    maak die slaapkamer ʼn sensuele koninkryk – dit is nie die plek vir vuil wasgoed en   kinderspeelgoed nie!

7.    is bereid om nuwe dinge te probeer en soms te eksperimenteer. Sy is altyd opwindend, vol verrassings en bereid om van haar inhibisies te vergeet.

8.    weet hoe om haar man seksueel te bevredig. Sy sorg dat sy die regte inligting kry om haar seksuele vaardighede te verbeter en luister na haar man se behoeftes.

9.    gee soms net aan haar sensuele behoeftes oor en oorrompel haar man op ʼn tyd en plek waar hy dit die minste verwag.

10.weet hoe om die beste te maak van die feit dat mans visueel ingestel is. Sy doen moeite met higiëne, sensuele onderklere en klere en is soms onvoorspelbaar – ook in hoe sy lyk en aantrek.


WENKE VIR VA-VA-WOEMA!

·       Bedien allerhande verleidelike eetgoed in die slaapkamer en voer dit vir jou minnaar - ʼn sjokoladefontein of vrugte werk baie goed.

·       Loop ʼn bietjie braloos met net ʼn dun T-hempie aan rond wanneer julle weer alleen by die huis is.  

·       Hou ʼn modeparade vir jou man en modelleer ʼn paar nuwe sexy items vir hom (al is die kanse goed dat jy dit net vir ʼn klein rukkie gaan aanhê!).

·       Verander julle bad in ʼn luukse spa met allerhande bederfgoed soos olies, smeermiddels en kerse. Wees ook kreatief met die ‘dienste’ wat by die spa jy aan jou man lewer.

·       Gee ʼn gewone romantiese afspraak nuwe oemf deur ʼn spesiale tema daaraan te koppel. Hou ʼn Franse aand en bedien net Franse cuisine. Vir poeding oefen julle dan French kissing.

·       Gebruik die ontmoet-my-tegniek. Los ʼn boodskap op jou man se foon of nooi hom per e-pos om jou iewers te ontmoet. Los vir hom verleidelike instruksies soos: “Ontmoet my om 18:00 by die Sheraton-hotel se ingangsportaal. Onthou jou tandeborsel.”

·       Gebruik jou rooiste lipstiffie om vir hom ʼn boodskap op die spieël te skryf, byvoorbeeld: “Môre mnr. Sexy! Kom ons gaan laai die kinders vanaand vroeg by jou ouers af … ek het ʼn opwindende plan vir die aand. xxx”

·       Gee hom die oggend ʼn energiestafie saam werk toe. Sit ʼn nota daarby om hom in te lig dat hy die energie vir vanaand gaan nodig kry.  

·       Sê vir jou man jy het iewers parfuum aan jou gespuit en dat hy jou moet help om dit op te spoor.  

·       Begroot om elke maand ʼn sekere bedrag op julle sekslewe te spandeer. Koop items soos luukse lakens, lingerie of gebruik dit vir ʼn aandjie of naweke saam weg. 

Ek wens almal 'n vreugdevolle en seksie naweek toe!
  
Groete,

MAREE

.

Monday, 2 May 2016

Jou vlak van aanstoot



Hoe maklik voel ons seergemaak as iemand ons nie met takt en liefde behandel nie! Tog, wanneer ons aanstoot neem, belemmer ons ons eie geestelik groei en dryf weg van die mense om ons.

VOORBEELD :

Carien het dié keer haar humeur totaal verloor. Haar skoonma se opmerking Sondag (voor almal) oor haar tuisgebakte koek was die laaste strooi. “Carien-skat, as jy ’n veerligte, klam koek wil bak, moet jy nie so op jou eentjie sukkel nie. Bel my sodat ek dit doen! Ek weet ’n mens brou wanneer jy haastig en onervare is ...”

Ons kan aanstoot neem vergelyk met ’n lokval. Twee elemente maak ’n lokval vir ’n dier suksesvol: dis weggesteek sodat die dier daaroor struikel, en daar is aas wat die dier na die doodsklemme lok. Aanstoot is een van die misleidendste en skelmste tipes aas van die vyand – ons tel die aas op, verorber dit, voed ons harte daarmee en word dan vasgevang.”

EK, MYSELF EN ... EK?!
Mense wat aanstoot neem val in twee kategorieë: die wat regtig verkeerd behandel is en die wat dink hulle is verkeerd behandel, maar nie is nie. Baie keer besef jy nie in watter lokval jy gevang is wanneer jy aanstoot geneem het nie. Mense wat aanstoot neem, fokus so op die oortreding dat hulle in ontkenning is. En dit is een van die effektiefste maniere van die vyand om ons te verblind – ons fokus so op onsself dat niks anders saak maak nie.

MEET JOU VLAK VAN AANSTOOT MET DIE VOLGENDE TOETS:
Ken ʼn waarde aan die volgende stellings toe op ʼn skaal van 1 tot 5 (1 is baie min, 5 is baie):

Ek verwag baie van ander:    1 2 3 4 5
Ek word maklik teleurgestel: 1 2 3 4 5
Ek het onvoorwaardelik lief:  1 2 3 4 5
Ek seën om geseën te word:  1 2 3 4 5

Tel alles wat jy omkring het bymekaar. As jy meer as 10 punte het, is jy blootgestel aan potensiële aanstoot-insidente.

DIS DIE KLEIN DINGETJIES ...
Mense struikel gewoonlik nie oor rotse nie, hulle struikel oor klippies, die relatief klein dingetjies. Iemand se persoonlikheid kan jou dalk pla of die persoon het ’n irriterende gewoonte. Baie keer voldoen mense nie aan ons verwagtinge nie. Dikwels neem ons aanstoot omdat ons verwag mense, eerder as God, moet ons lewens vul. Ons is gemaak om sekuriteit in God te vind en nie in mense nie, en onrealistiese verwagtinge sal mense onvermydelik laat tekortskiet sodat ons dan aanstoot neem.

Ek glo aanstoot neem is ’n vorm van selfbeskerming. Hoekom ignoreer ons dit so moeilik as iemand ons aanstoot gee? Omdat ons sê ons sien die ongevoelige gedrag oor sodat die oortreder nie dink hy of sy kan ons verkeerd behandel én daarmee wegkom nie! Maar hoe moeg sal ons aan die einde van elke dag wees as God elke klein dingetjie wat ons verkeerd doen, aan ons noem?

Om ons teen aanstoot te vrywaar bou ons mure om ons. Ons beskerm ons regte en persoonlike verhoudings sorgvuldig. Ons spandeer energie om seker te maak ons kry nie weer seer nie. Tog, as ons dit nie kan waag om seer te kry nie, kan ons ook nie onvoorwaardelike liefde betoon nie.

SUIWER DIE LUG!
Moenie die krag van aanstoot neem, onderskat nie. Wanneer jy aanstoot geneem het, moet jy na die persoon gaan en die lug suiwer. Andersins verraai jy die verhouding, begin jy kwaadpraat agter die persoon se rug en ontbloot jy sy swakhede en sondes.

Aanstoot neem verhinder mense om optimaal te funksioneer in God se doel en roeping vir hulle lewens. Mense wat aanstoot neem, dra die vrug van jaloesie, onmin, woede, nyd, bitterheid, uitbarstings, wrewel en haat. Hulle is seergemaak, hulle begrip word vertroebel en hulle begin mense oordeel op aannames, gesigswaarde en hoorsê.”

Jou vrede word gesteel wanneer jy aanstoot neem. Wanneer jy jou vrede verloor, wen die vyand. As hy jou een keer gevang het met aanstoot neem, glo my, sal hy dieselfde geleentheid oor en oor probeer gebruik. Wanneer jy ontsteld is, kan jy nie mooi hoor wat God sê nie. Ons kan nie deur die Gees gelei word wanneer ons aanstoot geneem het en in ’n gat is nie.

KEN JOU HART
Een manier hoe die vyand ons in ’n staat van aanstoot neem hou, is deur die insident in hoogmoed te verskuil. Hoogmoed weerhou jou daarvan om jou hart te ken en dit veroorsaak dat jy jouself as die slagoffer sien. Omdat jy glo jy word onregverdig behandel, weerhou jy vergifnis. Maar as jy verkeerd behandel is, gee dit jou nie toestemming om aanstoot te koester nie.

Ons kan nie wegkom van die storms van die lewe of mense wat ons irriteer nie. Ons kan ook nie voorkom dat ons negatiewe emosies ervaar nie. Maar ons kan leer om dit te bestuur. Ons kan God vertrou om ons genade te gee om heilig op te tree selfs in ’n onheilige situasie. Ons kan op aanstoot reageer deur te sê: ‘Here, U is genadig en goed. Ek plaas my vertroue in U totdat hierdie storm verbygaan’.

HANTEER AANSTOOT SÓ
Moenie jouself raadpleeg nie– Jou kop sê jy moet ontsteld raak, terwyl God sê jy moet laat gaan.

Moenie daaroor tob nie– Maak ’n keuse om dit soos water van ’n eend se rug af te laat rol.

Moenie in die situasie bly nie – Kom uit die situasie of omstandighede; gaan oefen, sing hardop of gaan doen iets vir iemand anders.

Moenie dit met iemand bespreek nie–Die gouste wat ’n molshoop ’n berg raak, is wanneer jy die insident vir iemand anders skets.

Moenie ʼn bohaai maak nie– Besef dat jou geloof getoets word met elke aanstoot-insident; maak dit ’n geleentheid om God en die Heelal te verheerlik.

“Dit help nie om op ander mense se foute te konsentreer nie; sommige foute sal nooit weggaan nie. As jy genade van mense verwag, moet jy bereid wees om genade te toon.”

Groete,

MAREE

Thursday, 28 April 2016

Dankbaarheidslied


::

Dis Mei-maand wat voorlê, my gunsteling maand. Nie net oor dit my geboorte-maand is nie, maar ook oor die perfekte temperature - 'n gemiddeld van 24ºC hier in Suid-Afrika, met windlose dae vol sonskyn wat verseker dat ek die laaste takies in die tuin kan klaarkry voor Winter my weer die huis indryf. Die eerste ryp is nog 'n entjie weg, die grasperk is nog groen en oral skarrel die voëltjies ywerig agter die insekte aan voordat daardie kosbare bron van voedsel opdroog.

Vir my is Mei 'n maand van introspeksie, om te kyk na wat die afgelope Somer in die tuin verrig is en te beplan vir die komende Lente. Soos ek deur die tuin stap, word nuwe idees gebore en gryp ek gou na 'n pen en my tuin-joernaal om aantekeninge te maak voordat die inspirasie verdwyn. Ek sien 'n spasie vir nog 'n voëlbad of kosbak en maak sommer 'n lys van plante wat mooi sal lyk langsaan dit. 'n Vlinder sweef verby en ek besluit om sommer nog 'n Buddleia Salvifolia te kry, waarvoor die Skoenlappers baie lief is, vir 'n leë hoekie.

My Grootstreepswaeltjie net voor hulle pad gevat het (Waterverf in my Natuur-joernaal)

Hierdie maand, en elke April, het ek en my pa altyd dop gehou hoe die Swaeltjies bymekaar kom vir hulle lang vlug Noord en die hemele is snaaks-stil sonder hul ewige geroep soos hulle sweef en duik. Hul modder-huisies is leeg onder die dak se oorhang, maar is 'n blye versekering van hul terugkoms in September.

Die Janfrederik (Cape Robin) het ook al hasepad gekies tesame met die Piet-My-Vrou, en die Swart Suikerbekkie en sy vroutjie is al vroeg-Maart weg na wie-weet-waar. Die Lysters het hierdie jaar 'n kans geneem en laat in Maart weer nes gemaak en was gelukkig om hul kleintjie groot te maak voor hul vertrek. Ek het al menigmaal met 'n kleintjie gesit wat agter gelaat is en wat ek moes grootmaak. Die Kwikstertjie se stem is ook stil, maar my geveerde vriende wat agterbly baljaar lustig en vol lewe sonder enige vrees vir die komende Winter of die toekoms.

Ek verwonder my altyd aan die lewenslustigheid van voëls - elke oggend word begroet met, wat vir my klink soos, 'n dankbaarheidslied. En wanneer ek voel dat depressie op my wil afsluip, is dit die voëltjies se gesing wat my altyd regruk, wat my herhinner om weer in dankbaarheid te lewe.

::

Sunday, 24 April 2016

Wat 'n tuin nodig het

'n Tuin benodig geduld, werk en aandag. Plante groei nie net met ambisie en goeie bedoelings nie. Hulle floreer omdat iemand tyd aan hulle bestee het.

Om 'n tafel in die tuin te dek is 'n daad wat die tuin vier, wat wys dat jy haar skoonheid waardeer en dat jy dankbaar is vir haar oorvloed.

Daar is ietsie uiters bevredigend omtrent 'n bos wortels met die blare nog aan. Dalk is dit die gedagte van hulle uit die grond trek...


::

Wednesday, 20 April 2016

Sewe dae, en sewe belangrike lewensaspekte

Dis al wat jy nodig het om jou lewe te herskep – van jou beeld tot jou finansies en selfs jou verhoudings. Dit is moontlik!


DAG 1: Begin in jou kop
Jy hoef nie jou bankrekening leeg te maak vir ’n nuwe voorkoms nie - jy moet begin by wat in jou kop aangaan. Sê vir jouself jy is suksesvol en gelukkig. Leef dit uit. Glimlag meer. Begin jou nuwe voorkoms van binne.

Eers dan kan jy aandag aan jou uiterlike gee. Net iets kleins soos ’n nuwe haarstyl of haarkleur kan ’n groot verskil maak. Jy het nie ’n hele nuwe klerekas nodig nie. ’n Paar mooi onderkleertjies en een verruklike uitrusting kan jou klaar soos ’n prinses laat voel.


DAG 2: Luister na jou emosies
Ons emosies is soos ’n barometer want dit wys ons wat in ons lewens aangaan. Leer hoe om na jou emosies te ‘’luister’’. Dink na oor die dinge in jou lewe waarmee jy nie tevrede is nie. Soms kan jy nie die situasie verander nie, maar jy het beheer hoe jy dit gaan hanteer. “Let op die goeie dinge in jou lewe, die verhoudings wat jy gebou het en hoe maklik dit is om te lag” – ’n vars blik op die lewe sal jou emosionele toestand verbeter.


DAG 3: Wys jy waardeer mense
Knap jou verhoudings met mense op - jou verhoudings kan beskadig raak as jy nie genoeg erkenning en waardering aan mense gee nie. Wys dat jy jou verhouding met hulle en hulle as mense waardeer. As jy by iemand is, wys jy wíl daar wees. Al is jy hoe besig, moenie wys jy wil so gou moontlik wegkom nie.

DAG 4: Soek die positiewe
Ongeag in watter situasie jy jouself bevind, daar is altyd positiewe en negatiewe keuses. As dit eers ’n gewoonte is om te kies om positief te wees, sal dit later tweede natuur word. Ongeag watter negatiewe dinge rondom jou plaasvind of hoe maklik jy dinge in ’n negatiewe lig sien, dis altyd moontlik om positiewe denke te ontwikkel – niemand is ’n gebore pessimis nie!

DAG 5: Doen iets vir andere
Eerder as om net elke dag te probeer oorleef en heeltyd oor alles te kla, moet jy liefs optimisties wees en ander help. Nie net laat jou goeie daad iemand anders glimlag nie, maar jyself sal ook sommer baie beter voel oor die lewe. Fokus op die nou en nie op die probleme van môre nie. Geniet vandag en benut elke geleentheid wat oor jou pad kom.


DAG 6: Kry beheer
Die grootste verskil wat jy binne een dag aan jou finansies kan maak, is om die probleem-areas te identifiseer en te besluit hoe jy dit gaan regstel. Dit kan ’n moeilike proses wees, maar jy gaan nêrens kom as jy nie ’n begin maak nie.

DAG 7: Gee dit oor aan die Heelal
Jou omstandighede speel ’n groot rol in wie jy is. Dalk kom jy uit ’n gebroke huis, het ’n geliefde aan die dood afgestaan of is mishandel. Omstandighede kan jou kwaad en verbitterd maak. Jou taak as mens is om hierdie dinge te laat gaan deur die persone wat jou seergemaak het – sowel as jouself – te vergewe.

Teen die einde van die week sal jy baie meer in voeling wees met dié sewe aspekte van jou lewe. En hoewel ’n mens nie alle probleme binne ’n dag kan regstel nie, is ’n klein verandering reeds genoeg om te begin vordering maak – selfs met die grootste uitdagings!

Voorspoed aan almal!

MAREE

.

Saturday, 16 April 2016

Saterdag-storie


Hierdie is 'n uittreksel uit een van daai e-posse wat ons almal gereeld ontvang en ek dink dit leer 'n waardevolle les - leef vir vandag, want dit is AL wat ons het ... 


1000 Albasters - Skrywer onbekend
Hoe ouer ek word, hoe meer geniet ek Saterdagoggende. Miskien is dit die stil alleenheid wat daarmee kom om eerste op te staan, of  miskien die uitbundige vreugde om nie werk toe te gaan nie. Hoe dit ookal sy, die eerste paar ure op ‘n Saterdagoggend is die lekkerste.

'n Paar weke gelede was ek op pad na die motorhuis met ‘n stomende koppie koffie in die een hand en die oggendkoerant in die ander hand. Wat as ‘n tipiese Saterdag begin het sou draai in een van daardie lesse wat die lewe van tyd tot tyd vir ‘n mens gee. Laat ek vir jou hiervan vertel.

Ek is ‘n radio-amateur en het my ontvangstoestel ingeskakel op die telefoniese band om na die Saterdagoggend gesprekke te luister. Met die luister na die gesprekke kom ek af op ‘n man wat ouerig klink, met ‘n sterk sein en ‘n goue stem. Jy weet ‘n stem wat klink of hy in die uitsaaiwese hoort. Hy was besig om te vertel, wie ookal wou luister van ‘n ding met ‘n duisend albasters. Ek was skielik geïnteresseerd en besluit om te luister na wat hy te sê het.

“’Wel Tom, dit klink sekerlik dat jy baie besig is in jou werk. Ek is seker dat hulle jou goed betaal, maar dit is hartseer dat jy soveel weg is van die huis en jou gesin. Dit is moeilik om te glo dat ‘n jong man sestig tot sewentig uur ‘n week moet werk om deur te kom. Dit is hartseer dat jy jou dogter se dansopvoering gemis het. Maar laat ek jou iets vertel wat my gehelp het om my prioriteite reg te hou.’

Dit is toe wat die man sy teorie van ‘n duisend albasters verduidelik.

“’Jy sien, ek het eendag gesit en ‘n bietjie somme gemaak. Die gemiddelde persoon leef 75 jaar. Ek weet, sommige leef meer en sommige minder, maar gemiddeld, leef mense ongeveer 75 jaar."

“’Wat ek toe doen is om 75 te vermenigvuldig met 52 en ek het die getal 3900 gekry – dit is die aantal Saterdae wat die gemiddelde mens in sy hele leeftyd het. Hou nou net ‘n bietjie uit Tom, ek kom nou by die belangrike deel. Ek het eers op die ouderdom van 55 jaar begin dink aan hierdie detail, en by daardie tyd het ek reeds deur meer as 2800 Saterdae geleef. Ek had nog ongeveer ‘n duisend Saterdae oor om te geniet. So het ek na die speelgoedwinkel gegaan en al die albasters in die winkel gekoop. Uiteindelik moes ek by nog twee speelgoedwinkels ingaan om by ‘n 1000 albasters uit te kom. Ek het die albasters huis toe geneem en hulle in ‘n groot, helder deursigtige plastiese fles geplaas – alles hier in my stoorkamer langs al my goed."

“’Van daardie dag af het ek elke Saterdagoggend een albaster uitgehaal en weggegooi. Ek het agtergekom soos ek die albasters sien minder raak, ek al meer gefokus het op die regtige belangrike dinge in die lewe."

“’Daar is niks soos om te sien hoe jou tyd op die aarde besig is om uit te hardloop, om jou te help om jou prioriteite reg te kry nie."

“’Wel, laat ek jou vertel voordat ek van die lug afgaan om my lieflike vrou vir ete uit te neem. Vanoggend het ek die laaste albaster uit die fles gehaal. Ek reken indien ek dit volgende Saterdag maak, is ek ‘n klein bietjie ekstra tyd gegun. En die een ding wat ons almal kan gebruik is ‘n klein bietjie ekstra tyd."

“’Dit was lekker om met jou te kon gesels, Tom, ek hoop jy spandeer meer tyd met jou gesin, en ek hoop ons ontmoet weer hier op die lug. Dit is ‘n 75-jarige ou man, K9NZQ wat groet, oor en uit.’

Jy kon ‘n speld op die lug hoor val toe die man van die lug afgaan. Ek reken hy het vir ons almal iets gegee om oor na te dink. Ekself het beplan om die oggend te werk aan die antenna van my radio, en daarna was ek van plan om met ‘n paar van die ander radioamateurs saam te werk aan ons klub se nuusbrief.

Ek het egter – instede daarvan om dit te doen – die trappe opgeklim na ons slaapkamer en my vrou met ‘n soen wakker gemaak. ‘Komaan my vroutjie, ek neem vir jou en die kinders vir ontbyt. Sy het regop gesit met ‘n glimlag: ‘Wat het gemaak om dit mee te bring?’ Ek het na haar gekyk en gedink hoe gelukkig ek is. ‘Ag wat, niks besonders nie, dit is slegs ‘n lang tyd gelede dat ons ‘n Saterdagoggend saam met mekaar en met die kinders spandeer het. En terwyl ons nou uitgaan, kan ons stop by die speelgoedwinkel? Ek het nodig om albasters te koop.

. 

Saturday, 9 April 2016

Dankverklaring 4 - Ek is dankbaar ek is gebore


Ek is dankbaar dat ek gebore is - 
Ek is dankbaar vir my huis, my motor, 
my familie, my vriende, my gesondheid 
en die gevoel van genot wat ek elke dag beleef.

::

Tuesday, 5 April 2016

Ek wil léwe...


Geniet die lewe, gryp die dag! Hoe voel jy vandag? Wat is jou gemoedstoestand? Hoeveel geniet jy die lewe?

Ek het hierdie oulike ding gelees oor bekommernis:

"Sluit die hekke van die verlede. Moenie aanhou terugkyk na die probleme en foute van die verlede nie. Sluit ook die hekke van die toekoms. Moenie bekommerd wees of vrees vir wat in die toekoms kan gebeur nie. Die toekoms is vandag. Hanteer vandag. Jy kan nie in die verlede leef nie, ook nie in die toekoms nie. Jy kan net vandag leef. Elke dag is 'n nuwe lewe, 'n nuwe begin. Berei jouself voor vir die toekoms deur vandag tot sy volle potensiaal te leef. As jy bekommerd is oor wat dalk more mag verkeerd gaan, was jy verniet bekommerd. En as dit dan wel gebeur, was jy twee keer bekommerd.”

.