Monday, 29 February 2016

Dankverklaring 5 - Ek is dankbaar vir my inkomste


Ek is SO dankbaar vir my inkomste.
Ek het 'n werk wat ek geniet,
'n uitstekende loopbaan en ek kan
alles bekostig vir my familie.

.

Thursday, 25 February 2016

Manvang


Die internet is darem maar wonderlik! Mens weet nooit waarop jy gaan afkom nie. 'n Paar jaar terug het ek op Minette Brink se skrywe afgekom vanaf Peterjasie en ek was vasgevang deur haar gemaklike skryfstyl en humorsin. Ek plaas graag een van haar skryfstukke hier.

Minette Brink

'Watter man, my liewe kind?'

BY n onlangse familie byeenkoms het n tante met pers hare my voor stok gekry.

"En wanneer kry jy weer man?" wou sy onbeskaamd weet, ten aanhore van die hele familie wie se ore onmiddellik op aandag spits.

"Nee dankie," probeer ek beleefd uit die vraag wikkel.

"Nou wat is fout met jou?" hyg sy tussen die canapé-kouery deur.

Die familie sirkel soos aasvoëls nader. Hier kom mos nou ‘n lekker sappige brokkie inligting wat vir maande herkou kan word.

"Daar is niks fout met my nie, Tante," sukkel ek met die humeur. "Ek wil net nie ‘n man hê nie, dis al."
Sy blaas deur skokpienk lippe . "Gmfff, lekker vol geit, né?"

Ek trap vierkantig in die strik en trek verwoed weg.

"As julle dan so entoesiasties is, kry vir my n man wat nie n obsessie met sport, drank, ander vrouens en status het nie. Nie eens ‘n ligte obsessie nie. Hy mag ook nie ‘n huishen wees wat heeldag onder my voete broei nie. Hy moet langer en breër as ek wees, groen of blou oë hê, lang donker hare in ‘n blink bokstert dra en baie glimlag deur sy bokbaardjie sonder om simpel te wees. Hy moet slimmer as ek wees sonder om pretensieus of aanstellerig oor te kom of my soos ‘n aap te laat voel. Verkieslik sal hy in die buitelug werk, iets soos ‘n toergids of ‘n grootwildjagter met sy eie besigheid, maar hy mag nie langer as ‘n week op ‘n slag weg van die huis wees nie. Met vierdag tussenposes.

Nooit sal hy my vra oor enige van my buie nie, want hy sal sommer net weet wat pla. Ek sal die belangrikste persoon in sy lewe wees sonder dat hy my versmoor met jaloesie en agterdog. Daar sal nie ‘n vervelige oomblik wees as ons bymekaar is nie, maar hy mag ook nie ‘n adrenalien-verslaafde wees nie. Hy sal ewe goed lyk in stukkende jeans, ‘n swembroek en ‘n tuxedo, maar laat ek hom in ‘n Speedo vang en hy’s weg. Daar sal ook nie een sweetpakbroek of help-my-sterk-lyk-hempie in sy besit wees nie. Hy sal niks hou van visvang nie en ook nie vir ure aanmekaar praat oor motors of groot masjiene nie. Ook nie oor die ekonomie of die politiek nie. Maar hy sal ‘n ordentlike motorfiets ry en op hoogte wees van aktuele sake. Hy sal weet van vroue-goeters sonder om verwyfd te wees en hy sal ‘n uithaler kok wees wat glo dat my geregte lekkerder as syne is.

Verder sal hy fantastiese gedigte en prosa skryf sonder om soppy of depressief te raak en hy sal nie by elke geleentheid sy kitaar uitruk en almal verveel met sy weergawe van ‘Ou Ryperd’ nie. Sou hy ‘n grap vertel, sal dit beperk wees tot een grap en nie ‘n drie uur lange marteling vir die geselskap nie. Daar sal ook nie ‘n steekhaarbrak wees wat hom soos ‘n skadu volg en sy tandeborsel met hom deel nie. Ek sal versigtig, maar nie bang wees vir sy humeur nie en hom mag opsoen net wanneer ek wil sonder dat hy hom doodgril vir my tanddrade. Hy sal gek wees oor my kinders en hulle soos sy eie hanteer. Wil julle nog hoor?" vra ek leedvermakerig.

Tannie Pershare is bleek. Die familie is stom.

Voordat iemand iets kan sê, gaan ek geïnspireerd voort.

"Maar eintlik kan hy maar bles ook wees, want kyk nou na iemand soos Gys de Villiers. Hy maak my knieë lam én hy is boonop 'n akteur. 'n Ware man vol passie en kreatiwiteit. Dis wat ek graag na my kant toe sal wil sien kom." Ek staan selfvoldaan terug en wag vir die terugvoer.

Na n ruk kry die tante haar asem terug.

"Jy sal op die rak bly sit met jou cheeky-geit!" blaas sy ontsteld.

"Dankie tog," sê ek tevrede.


.

Sunday, 21 February 2016

Winter. Deur A.G. Visser


"Fok, dis koud!"



Wednesday, 17 February 2016

In die tuin...


Die tuin langs die straat
lê elke dag bedwelmd
in blommegeur en voëlgesang,
totdat die laaste kopergloed gevang word
in 'n gewelvenster  en die nag web van sterre,
wat hul sirkelgang in Maart vertraag,
hoog bo die stad uithang.                                   
- Elizabeth Eybers


.

Tuesday, 16 February 2016

Jy tart die wette van die Heelal



Die oomblik wat jy inmeng met wat enigiemand anders doen, dan tart jy die Wette van die Heelal. Dit kannie gedoen word nie. Ons is 'n ontwikkelende Heelal. Dit is nie jou werk om enige iets te beheer of stop te sit of te onderdruk of van ontslae te raak of 'n bom daarop te laat val nie... Dit is nie jou werk om die dinge wat jy nie wil hê teen te werk nie. Jou werk is om toe te laat dat daardie dinge wat jy nie wil hê nie, jou die helderheid gee om te weet wat jy wil hê en dan vibrasionele vrede daarmee te vind.

Dan, soos 'n magneet, word jou wêreld 'n wêreld wat net toegang het tot daardie dinge wat jy besluit het jy wil hê. In geen opsig onderdruk of stop jy iemand anders  om te lewe soos hulle wil lewe nie, jy beheer en skep net jou eie realiteit.

.

Saturday, 13 February 2016

My ma


Sy't jou nooit geken nie,
was van jou magic glad nie bewus nie.
Tog is ek daarvan oortuig,
dat sy oor jou liedjies sou juig.

Ma was ook sonder pretensie,
maar anders as jy, was sy maar 'n klein mensie.
Oor jou öe sou sy kon liries raak.
Jou hare sou sy graag wou vasmaak.

Die erns waarmee jy kan speel,
sou sy baie graag met jou wou deel.
Ek hoef net te luister na "Ma se Song"
om seker te weet dat ek "belong".
- Dozi

.

Friday, 12 February 2016

Perfeksie Sinspeel op Klaarheid ...


  en dit kan nooit wees nie. So gou as wat jy dink jy het die perfekte plek bereik, verskyn meer aspekte wat sal lei tot meer besluite, wat sal lei tot meer aantrekking, wat sal lei tot meer gevoelens, wat jou sal lei tot hervorming—wat sal lei tot meer aantrekking. Jy kan dit nie verkeerd doen nie. En jy kan dit nooit klaar doen nie.  Dit is altyd reg—en daar's altyd meer om te doen.


Partymaal, wanneer jy dit nooit klaarkry nie, vra jy, "Kan ek nooit rus nie?" en die antwoord is, wanneer jy voel jy wil rus, wat dit eintlik bedoel is dat jy teenstand wil vermy, want wanneer daar geen teenstand is nie, sal jy nooit wil rus nie. Moenie te veel daaroor tob nie. Jy sal nooit ophou vibreer nie an die Heelal sal nooit ophou om jou vibrasie te beantwoord nie.

Onspan in die wete dat jy 'n 'n werk van alewige vooruitgang en ontwikkeling is. As jy iemand of iets voorhou as 'n perfekte voorbeeld, skiet jy jouself in die voet, want dan begin jy dinge verwag van die Heelal wat nie moontlik is nie.

.

Tuesday, 9 February 2016

Rebellie gebeur op alle vlakke


Die mensdom se ingebore bewustheid van individualiteit sit aan die hart van alle internasionale rebellie. Kyk na die onrus in die Middle Ooste en dink dan wat sal gebeur as alle partye kan sê, en dit bedoel,  "Jy dink anders as ek, maar ek moedig individualiteit aan..." in plaas van "Ek is bang vir waaraan jy glo, want dit kan dalk my geloof aantas...".

Die mensdom probeer individualiteit onderdruk, maar dit sal nooit gebeur nie. Op die oomblik  wanneer jy, as 'n individu, jy as 'n geloof of regering, begin om individualiteit aan te moedig, sal al die onrus bedaar. Moenie jou bekommer wat ander doen nie, of waarin hulle glo nie, dis nie deel van jou realiteit nie. Al wat jy moet doen is om jou eie realiteit te skep.

'n Aanmoediging van individualiteit moet binne elke individu gebeur aleer enigiemand vervulling gaan ondervind in hierdie uiteenlopende Heelal waarvan ons almal deel is.

.

Friday, 5 February 2016

Soetgoed vir die siel



Sekere eienskappe is soetgoed vir die siel –
as ’n mens hulle in jou lewe het,
maak dit jou aanvaarbaar vir jouself en vir ander.

Almal hou van mense in wie se lewens hulle eienskappe soos liefde, geloof, hoop, entoesiasme en vrolikheid raaksien. Jou dag is sommer lekkerder as jy een van hierdie mense raakloop. Indien jy bereid is om hierdie eienskappe in jou eie lewe in te weef, sal jou teenwoordigheid vir ander mense vreugde verskaf.

"Jou siel het altyd met jou gevoelswêreld te doen. As ons baie lekker voel, sê ons ons is sielsgelukkig of sielsalig. Jou siel is die ware jy — die som-totaal van daardie dinge wat vir jou werklik belangrik is. Jou siel bevat jou verlangens, jou begeertes, jou passies. Dit is die setel van jou individualiteit. En jyself is die enigste persoon wat jou siel kan verryk — of verarm. 'n Siel, soos 'n huis, word deur sy eienaar gemeubileer. As mense se lewe dus koud en leeg is, kan hulle net hulleself blameer."
— Louis L'Amour

Mag hierdie feesseisoen net vir jou VREUGDE, LIEFDE en INSPIRASIE inhou!

Monday, 1 February 2016

Voel jy oorweldig deur die lewe? Verseker jou gevoel van Oorvloed



Is jy moeg daarvoor om gedurig na iets te soek of oor iets te val? Het jy te min tyd om iets daaraan te doen? Hoe kan jy in 'n geestestoestand van Oorvloed verkeer as jy oorweldig voel deur alles om jou? Hier praat ek oor hoe om orde in jou huis te skep met 15 maklike wenke!

WENK 1 Gooi dit uit
As jou huis oorvol is en jy nie meer plek oor het om iets te stoor nie, moet jy dit ernstig oorweeg om sekere items weg te gooi of weg te gee. As jy iets nuut aanskaf, moenie al die ou items in jou garage of pakkamer pak nie. Skenk dit eerder vir liefdadigheid.

WENK 2 Dink binne die boks
Koop houers waarin jy oortollige items kan plaas. Dit is veral handig om kratte vir jou kinders te koop waarin hulle byvoorbeeld speelgoed kan pak.

WENK 3 Maak 'n molshoop van 'n berg
Die meeste van ons kry gedurig gemorspos. Hierdie gemorspos kan vinnig in 'n berg papiere verander, so moenie toelaat dat dit ophoop nie. Lees dit onmiddellik en gooi dit dan in die asblik.

WENK 4 Hou dit bymekaar
Belangrike pos kan net so 'n kopseer soos gemorspos wees. Plaas rekeninge naby jou sodat jy dit nie uit die oog verloor en vergeet om dit te betaal nie. Hou ander belangrike pos soos uitnodigings bymekaar sodat jy daarvan onthou.

WENK 5 Mooi sonder moeite
As jy versamelaars-items het wat jy graag in jou huis wil uitstal, plaas dit in 'n vertoonkas van glas. As dit op 'n gewone tafel of kas staan gaan dit vinnig stof vergader en veroorsaak dat jy meer tyd daaraan spandeer om dit af te stof as om dit te bewonder!

WENK 6 Gaan groot
Indien jy nog nie al die meubels gekoop het wat jy nodig het vir jou huis nie, of as jy van ou meubels ontslae wil raak en nuwe meubels wil koop, oorweeg dit om 'n paar groter stukke te koop eerder as 'n versameling kleintjies. Dit sal op die oog af lyk asof jou huis heelwat spasie het.

WENK 7 Volkome voorbereid
As jy sekere items nodig het wanneer jy uitgaan, sorg dat dit betyds by die voordeur is sodat jy nie daarna hoef te soek nie. Voorbeelde hiervan is klere wat na die droogskoonmaker toe moet gaan, winkel-items wat omgeruil moet word en items wat reggemaak moet word.

WENK 8 Goedkoop koop is duur koop
Moenie in die versoeking kom om gedurig iets by 'n uitverkoping te koop nie. Vra jouself of jy dit regtig nodig het, want die kans is goed dat dit jou huis net nóg voller gaan maak.

WENK 9 Skep herinneringe
Neem ander mense se huise ook in ag wanneer jy vir hulle geskenke aanskaf. Moenie iets koop wat waarskynlik net 'n wit olifant gaan wees nie. In plaas daarvan om 'n geskenk te gee kan jy hulle uitneem vir ete, 'n fliek of 'n teaterstuk.

WENK 10 Oos, Wes, Tuis Bes
Maak seker dat alles in jou huis 'n spesifieke "tuiste" het en sorg dat almal wat in die huis woon daarvan weet en daarby hou. As 'n mens 'n item altyd op dieselfde plek bêre, sal dit nie maklik wegraak nie.

WENK 11 Geraamtes in die (klere) kas
Maak jou klerekas oop en wees eerlik met jouself: dra jy alles en hou jy van alles daarin? Dit help nie om kaste vol klere te hê wat nie gebruik word nie. Gee dit eerder vir iemand wat dit wel sal dra.

WENK 12 Haal die chaos uit wasdag
Wasgoed wat ophoop kan vinnig 'n kopseer word. Sorg dat elke gesinslid weet presies wanneer jy wasgoed was sodat hulle sorg dat al hulle wasgoed betyds by jou is. As dit klaar gewas is, kan elke gesinslid hulle eie klere self gaan haal en wegbêre.

WENK 13 Skottelgoed sonder sukkel
Die sleutel tot 'n skoon kombuis is om nie skottelgoed te laat ophoop nie. Was dit so gou as moontlik of gebruik 'n skottelgoedwasser. Gesinslede kan beurte maak om skottelgoed te was.

WENK 14 Wat geld vir die huis, geld vir die res
Moenie net aandag daaraan skenk om jou huis te orden nie, maar pas ook hierdie wenke op jou garage, pakkamer en tuinskuur toe. 'n Mens is geneig om te vergeet van daardie areas omdat jy nie soveel tyd daar spandeer nie.

WENK 15 Onthou om te onthou
Hou aan om hierdie wenke te volg. Dit moet 'n permanente ingesteldheid word. Om elke dag tien minute te spandeer om seker te maak dat alles op hulle plek is, gaan jou ure se moeite op 'n latere stadium spaar.

Groete,

MAREE

.