Tuesday, 31 March 2015

Aksies vir positiewe gesondheid



Het jy al gewonder hoekom jy partymaal nie so lekker voel nie? Nie 'siek' nie, net nie 'lekker' nie... Alles gaan goed in jou lewe, jou gesin is gesond en gelukkig, dinge is reg by die werk, vriende en familie is almal OK, maar nog steeds voel jy of iets verkeerd is. 'Gesondheid' is net nie bedoel vir jou liggaam nie, maar is baie belangrik in ons geestestoestand. Respek, vergifnis, positiwiteit, selfversorging, eetgewoontes, oefening en die keuses wat ons maak speel almal 'n rol in hoe 'lekker' jy voel.

Die volgende doelstellinge is noodsaaklik vir genesing en 'n gesonde leefstyl:

Wees Lief vir en Respekteer Jouself
Wanneer jy in die spieël kyk, wat sien jy? Sien jy 'n wonderlike individu, 'n persoon vir wie jy lief is en wie jy ervaar presies soos jy is? Om Jouself lief te hê is noodsaaklik vir goeie gesondheid.                  

Vergewe Almal
Vergifnis is uiters belangrik vir genesing. Vergifnis kondoneer nie wat in die verlede gebeur het nie - dit verlos jou van slagoffer wees. Woede en wrok SALoor 'n lang periode  lei tot ernstige siekte en dit is dus belangrik om jouself daarvan los te maak.                      

Wees Positief
Dit is medies bewys dat 'n positiewe uitkyk gesondheid verbeter. So wees versigtig wat jy sê en dink. Moenie jouself of andere kritiseer nie - herken jou negatiewe gedagtes en gooi hulle dan uit, want dis nie meer deel van jou lewe nie. Vervang daardie negatiewe gedagtes met positiewe, self-troetelende gedagtes.
                                        

Begin 'n Program van Self-Versorging
Dis nou tyd om ernstig te raak omtrent versorging van jouself op alle vlakke - doen die dinge waarvan jy hou, maak alleen-tyd 'n instelling, geniet jouself. Moet glad nie kritiek of negatiwiteit van ENIGEEN aanvaar nie (insluitende jouself!) en kom weer in aanraking met jou inner-self.                       

Maak Gesonde, Welingeligde, Self-troetelende Keuses
Begin bewustelik te dink - wees bewus van jou gedagtes en woorde. As jy vashaak is dit gewoonlik omdat daar iets is wat jy moet weet - maak dit jou doel om altyd bewustelik uit te vind en te verstaan wat die kennis is wat jy nodig het. Dit sal jou in staat stel om die regte keuses te maak.                          

Oefen Gereëld
Vir goeie gesondheid moet jy gereëlde oefening kry. Ek persoonlik glo nie aan enige vorm van uitermatige of onnatuurlike oefening nie. Staan op en neem 'n stappie na buite as jy lank voor jou komper was. As jy van die buitelug hou, doen 'n bietjie tuinwerk of gaan vir 'n kort uitstappie in die tuin of op die strand. 'n Gesonde liggaam verseker 'n gesonde gees.

Kies 'n Goeie Eetgewoonte Vir Jou
Kyk na jou eetgewoontes - is dit gesond? Jy is wat jy eet, gesonde voedsel is belangrik vir 'n gesonde leefstyl - so eet daai groen goed! 

.

Monday, 30 March 2015

Afrikanertjies en baie reën in herfs


As jy kleur vir jou tuin soek, tot diep in herfs, plant hierdie "plesierige" Afrikanertjies. Hulle beloon jou met oneindige  kleur en genot en hoe meer jy pluk, hoe meer blom hulle. Afrikanertjies is die langasems van die blomme-, kruie-, of groentetuin. Lank na die tuin leeg is van somerblomme, skyn Afrikanertjies se helder geel en oranje gesiggies nog oral.


Dit word gesê dat Afrikanertjies (ook bekend as Marigolds) goggas weghou van plante in jou groentetuin en ek strooi opgesnipperde blomme en blare gereeld in my hoenderhok om insekte weg te hou en wanneer mens daarop trap, gee dit die heerlikste geur af. Die blomme en blare maak 'n wonderlike potpourri wanneer jy dit uitdroog. Prop sakkies vol en hang in jou hangkas.

Maar het jy geweet Afrikanertjies is ook eetbaar? Die blomblare is heerlik in 'n kasserol, brode en omelette en is baie kleurvol en smaakvol in rys en sop. Die blomblare gee ook wonderlike kleur aan slaaie.




Afrikanertjies hou van baie water en son maar sal nie kwaad raak as jy so bietjie van hulle vergeet nie. Hierdie geharde plantjies sal jou nog steeds beloon met hul skoonheid. 'n Ekstra bonus is dat jy nooit weer sonder kleur in jou tuin sal wees nie. Die saadjies wat aan die einde van herfs afval op die grond, beloon jou met pragtige kleur in lente. Jy kan ook al die saadknoppies afpluk en in 'n bottel hou om weer te saai net waar jy dit wil hê in die lente.








.