Wednesday, 31 December 2014

Droom Groot in die Nuwe jaar! 2015



Wanneer ons alleen droom is dit alleenlik ’n droom.
Wanneer ons saam met ander droom, is dit die begin van ’n nuwe realiteit.


Hiermee wens ek almal ’n vreugdevolle 2015 toe, gevul met LIEFDE en INSPIRASIE.

Hierdie was ’n jaar waarin ek oor en oor geleer het hoeveel ek het om voor dankbaar te wees.
Hoe geseënd ek is.

::

Een van die dinge waarvoor ek oneindiglik dankbaar is, is jy.
Ja, jy.
Jou ondersteuning, vriendelikheid en kommentaar dwarsdeur die jaar beteken soveel vir my.

::

Ek waardeer dit opreg. Gelukkige Nuwe Jaar!

.

Tuesday, 30 December 2014

Waterbesparing in Suid-Afrika


Water is 'n skaars hulpbron en moet te alle tye bespaar word, veral in Suid-Afrika, wat as 'n waterarm land beskou word. Die verstedeliking en die gevolglike bevolkingsaanwas in stedelike en veral metropolitaanse gebiede plaas druk op die beperkte varswaterbronne. Dat die hoeveelheid varswaterbronne in die toekoms sal moet vermeerder, is 'n gegewe. Die mikpunt van 'n doeltreffende dorps- of stadsraad is om die hoeveelheid waterverbruik laag genoeg te hou sodat 'n skielike watertekort nie die inwoners oorval nie, en dat genoeg tyd gegun word om 'n alternatiewe waterbron te soek of te bou.

'n Onlangse studie wat deur die Departement van Waterwese en Bosbou gedoen is beweer dat, teen die jaar 2030, gaan Suid-Afrika in 'n ernstige waterkrisis gedompel wees. Dit maak dus heeltemal sin dat ons ten alle tye moet probeer om water te bespaar, en een van die belangrikste maniere waarop ons dit kan doen, is om inheemse en droogte-bestande plante in ons tuine te plant.

Balsem Kopiva (Bulbine frutescence)

Kruie, vetplante en kaktusse is uiters geskik vir ons klimaatstoestande en daar is baie inheemse soorte om van te kies. Hulle gebruik minimale water en party het ook min versorging nodig. Bowendien het meeste van hulle, soos die Balsem kopiva hier bo, medisinale waarde - die blaarsap word gebruik vir, onder andere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope, insek bytplekke en is wonderlik vir skrape en snytjies wat jy opdoen terwyl jy in die tuin werk. 


As jy die spasie het, is dit ook 'n goeie idee om 'n dammetjie in jou tuin te maak waarheen jy reënwater kan lei en die dam dan te gebruik vir besproeiing vir die tuin. Myne is met sement uitgelê en ek herlei al die dak water van ons huis soontoe. Ek het 'n klein swembad pomp geïnstalleer en 'n tuinslang aan die 'outlet' gekoppel en met die draai van 'n kraan kan ek die hele tuin natspuit teen omtrent geen onkoste nie.


Die klank van water is altyd kalmerend en gee 'n verfrissende, koel gevoel aan enige tuin in die somer. So dink vandag aan 'n paar maniere om water te bespaar en jy sal verbaas wees hoeveel jy eintlik kan doen!

.

Wednesday, 10 December 2014

Ek wens jou 'n rooi-tekkie dag!


Ek het 'n regte probleem om tekkies te vind waarvan ek hou met die gevolg dat, wanneer ek wel iets vind, ek sommer ses pare koop in al die kleure! Die probleem is gewoonlik dat óf die sole is te dik wat jou laat voel jy loop op "wedges", óf die tone krul op, óf hulle het liggies wat flits as jy loop óf hulle kom te hoog, tot amper by die enkel, óf hulle is in die helderste kleure van pers en lemmetjiegroen! Ek hou van plein, eenvoudige tekkies, verkieslik wit en nie met "stars and stripes" langs die kante nie.

Die paar wat ek hier bo geskets het is een van my gunsteling pare - eenvoudig, seildoek met veters. Ek het hulle in wit, rooi, donkerblou en swart. En ja, hulle is so skoon soos in die skets, ek haat vuil tekkies!

Variasies van rooi

 • Skarlaken - 'n rooi wat na rooi-oranje neig, en geen blou bevat nie.
 • Vermiljoen - 'n vurige rooi wat na effe meer na rooi-oranje neig as skarlaken, en wat van sinnaber, die kunsmatige rooi kwiksulfide was as pigment gebruik word, voorberei word.
 • Karmosyn - 'n rooi wat geen geel bevat nie, en na rooi-violet neig.
• Venesiaanse Rooi (ook bekend as Indiese Rooi en Indiaanse Rooi) - 'n bruinerige rooi wat van ystersulfied voorberei word.
 • Brandweerwarooi - 'n helderrooi wat gereeld op noodvoertuie gebruik word.

Rooi is darem maar mooi! Dis 'n kleur vol passie, wat liefde aandui en en wanneer jy rooi dra, sprankel jy sommer!










 (foto vanaf 'Beeld')


(Meeste foto's vanaf WikiCommons)

::