Tuesday, 25 November 2014

Begin 'n Dankbaarheids-Joernaal

.
Joernaal-aantekeninge is maar net die daaglikse skrywe van jou gedagtes en idees op papier. Dit kan 'n grootse ondervinding wees. Hierdie proses kan jou ondersteun in die soektog na byvoorbeeld waaroor jy angstig voel, of waarvoor jy 'n passie het en waaroor jy droom.
.
Koop vir jouself 'n pragtige notaboek en gebruik 'n pen waarvan jy hou om mee te skryf. Ek gebruik 'n ''Moleskine'' notaboek (wat by enige goeie boekwinkel beskikbaar is in verskeie formate). Vind 20 stil minute of so in jou dag en ek stel voor jy maak dit 'n roetine - ek doen myne net voor bedtyd of vroeg in die oggend - maar enige tyd wat jou sal pas is gaaf.
. .
'n Paar van my gunsteling vulpenne :
.

Parker Sonnet Deep Black Laquer Gold Trim Medium Nib
.

Parker Sonnet Stainless Steel GoldTrim Medium Point
.
Waterman Himisphere Starlight
.
   Antiek Waterman-pen met grys en goud Laquer body, dik nib
.
Skryf asof jy met jouself praat - skryf oor al jou gevoelens, wat jou pla of waaroor jy opgewonde voel, die dag wat voorlê of belangrike gebeure van die verlede en wat jy graag wil onthou. Ek sit alles in soos datums, plekke, die tyd, ens. Dit hoef nie meesterstukke te wees nie - hierdie is JOU joernaal en vir jou oë alleenlik. Ek plak ook sommer goeters of teken prentjies.
.
Ondersoek het duidelik bewys dat, om 'n Joernaal te gebruik, stres verminder en die immuunstelsel versterk, sowel as die volgende voordele:
.
- dit laat jou beter voel oor die lewe
- dit maak jou meer optimisties oor die toekoms
- dit spoor jou aan om andere te help met hulle probleme
- dit verbeter jou gesondheid
- dit  gee rigting en helderheid

Daar is baie dinge waaroor jy 'n joernaal kan hou - my gunsteling is my DANKBAARHEIDS-JOERNAAL. Elke oggend, sodra ek gebad, aangetrek en tande geborsel het, skryf ek my 'gratitudes' neer. Aan die begin gaan dit maar stadig, maar net deur met een klein dingetjie, soos "ek is dankbaar vir die sonskyn" te begin, begin jou lys van dankbaarhede te groei en binnekort het jy sommer 10 op een slag.
.
In dieselfde boekie, aan die agterkant, doen ek my AFFIRMASIES vir die dag, soos byvoorbeeld "Ek is gesond en gelukkig. Daar is geen siekte wat ek nie kan oorwin nie" of "Ek spreek van vreugde vir die lewe! Ek laat myself toe om elke oomblik van elke dag totaal te geniet!" My gunsteling een is "Dankie vir die dag wat voorlê..."
.
My Daaglikse Joernaal vir alles en nog wat - hierin doen ek ook sketse saam met my inskrywings....
.
Hier is 'n paar idees vir 'n Joernaal - ek is seker jy kan nog met vele meer vorendag kom :
.
- Tuin-joernaal
- 'n Natuur-joernaal
- Gebeds-joernaal
- Belangrike gebeurtenisse- en datums-joernaal
- Droom-joernaal (al die dinge wat jy nog die graagste wil vermag)
- Dinge-om-te-doen-joernaal
- Welbekende aanhalings- en inspirasie-joernaal
- 'n Joernaal met jou eie gesegdes, inspirasies en sketse (wie weet, eendag kan jy dit dalk verwerk in 'n eBoek!)
- 'n Joernaal oor jou kinders - kort liefdesbriefies aan hulle
- Joernaal oor jou alledaagse gedagtes - dinge wat jou pla, oorwinnings
.
Ek het 'n paar joernale op my rekenaar ook, maar daar is niks soos om met die hand te skryf nie!
.
'n Paar van my Moleskine notaboekies :
.
 .
Daar is so baie dinge in hierdie lewe om voor dankbaar te wees dat 'n mens honderde joernale kan volmaak en nog steeds nie alles genoem het nie. Leef met 'n dankbare hart -
leef met ʼn fokus op wat jy het eerder as dit wat jy nie het nie. Dan waardeer ʼn mens klein dingetjies in die lewe. Dan is jy ʼn tevrede mens wat oorloop van dankbaarheid. Daardie dankbaarheid in jou hart spoel oor na ander mense en verryk alles en almal om jou.

::

Sunday, 9 November 2014

Biltong resep


Biltong is ons eie, 'n eg-Suid-Afrikaanse peuselkos!

Biltong is baie gewild in Suid-Afrika en Namibië onder die Afrikaners, maar ook in lande waar Suid-Afrikaners hervestig het oor die afgelope jare soos Nederland, Engeland, Australië, Nieu-Seeland en in Duitsland.

Biltong word in dieselfde asem as boerewors, potjiekos, droëwors, melktert, koeksisters, afval, boerbeskuit en bobotie genoem as eg-tradisionele Afrikaanse geregte, en dit vorm 'n sosiale band tussen Afrikaners regoor die wêreld. Biltong is opgeneem as 'n verteenwoordigende Suid-Afrikaanse gereg in 'n internasionale resepteboek wat deur die Verenigde Nasies gepubliseer is.

Biltong-resep
25kg vleis van goeie gehalte  Bv. diklies of binneboud
200-400ml heel koljander
500g-1kg sout
12.5ml salpeter
25ml koeksoda
12.5ml peper
asyn
225ml suiker

Sny die vleis met die draad langs in lang stroke, so dik of dun soos jy dit verkies. Onthou hoe minder vet aan die vleis is, hoe langer kan dit gebêre word, omdat vet mettertyd galsterig word. Verhit 'n pannetjie oor matige hitte en rooster die koljander daarin, totdat dit 'n welriekende geur begin afgee. Maal en sif die geskroeide koljander. Meng die koljander, sout, suiker, salpeter, peper en koeksoda en vryf die mengsel met die hand oor elke stuk vleis.

Pak die vleis in lae in 'n houtbalie, erdehouer of plastiekhouer en strooi die orige soutmengsel tussen elke laag. Pak die dik gesnyde stukke onder en die dunner stukke bo-op. Sprinkel 'n bietjie asynbo-oor die vleis en laat dit oornag staan. Biltong met baie vet aan moet langer lê, want dit neem langer om sout te absorbeer. Meng 200ml asyn met elke 2.5 liter water en spoel elke stuk vleis vinnig daarin af voordat dit op 'n koel, droë plek gehang word. Hang die biltonge die eerste dag in die son op en daarna in die koelte, weg van mekaar af. Biltong kan ook binneshuis hang, maar dan moet daar 'n goeie trek wees. 'n Elektriese waaier kan help om die lugvloei te verbeter. Laat die biltonge hang totdat dit so droog is soos verkies.