Thursday, 8 September 2016

Is Ek Alleen?!


Ek sit hier en skryf blog- na blogpos, en partymaal voel ek of ek heeltemal alleen in die Heelal is - alleen met al my gedagtes en idees... waar is almal? Ek gee eintlik nie om dat niemand my poste blyk te lees nie, maar my ego sal darem 'n bietjie beter voel as ek darem ten minste net een navolger gehad het...

Partymaal voel dit vir my of ek te veel dink en te veel het om te sê, dat daar soveel mooi dinge in die lewe is om te deel, met die gevolg dat ek 19 blogs het (ja, 19!), plus 'n paar wat privaat is - en dan is daar nog Facebook, Twitter, Pinterest, Tumblr en Instagram waarmee ek probeer by hou.

Wat doen ander mense met hul lewens? Ek weet dat vir my, tussen my werk (wat 2 besighede behels) en skryf vir die blogs en webwerwe, 'n mens nog moet tyd inpas om met familie en vriende te konnekteer. Dan is daar ook die tuin en die diere wat ook 'n bietjie aandag soek, inkopies (ek jok, my man het dit oor geneem), stokperdjies en tye wat ek bietjie wil wegkom af kus toe of Kaap toe.

Maar ek persoonlik het geen planne om te minimaliseer nie, veral nie as dit kom by skryf nie. Al die blogs wat ek het is 'n manier om uiting te gee aan al my passies en idees en ook om met vriende en familie in kontak te bly, asook om 'n nuwe vriendekring op te bou, deur gesels en die ruil van idees, amper soos penvriende toe ek 'n kind was. Toe het ons briewe geskryf wat gepos moes word en dan die lang wag vir 'n antwoord. Nou is dit omtrent onmiddellik en kommunikasie en idees vloei deesdae maklik en vinnig.

Ek het onlangs uitgevind net hoé onseker ek eintlik van myself is, want ek was bekommerd dat ek dinge 'n bietjie "oordryf" deur soveel blogs te hê met soveel verskillende besprekingspunte. Totdat ek op iemand se blog gelees het dat dit 'n uitstekende idee is om 'n blog te hê vir elke liewe een van jou passies - dit skyn dat, deur jou passies te vertroetel,

•    maak dit jou vatbaar vir nuwe idees;

•    dit por jou aan om meer kennis te bekom;

•    dit leer jou om die inligting en kennis wat jy bekom uit te druk in jou eie woorde;

•    dit herinner jou dat jy jouself alewig kan verbeter.

So daar het jy dit! Toe voel ek sommer beter, maar moes die rieme aandraai of ek het sommer dadelik weer nog 'n paar blogs begin!