Tuesday, 31 May 2016

Die Wet van Voorsiening


Het jy al ooit deelgeneem aan 'n resies, of vir 'n uitgestrekte periode voluit gewerk of 'n lang distansie geswem? Onthou jy hoe, kort na jy begin het, jy moeg begin voel het? Onthou jy hoe, voordat jy 'n lang distansie afgelê het, jy gedink het jy het jou uiteinde bereik? Maar onthou jy ook hoe, toe jy aangehou het, jy weer krag gekry het, jou moegheid verdwyn het, jou spiere geklop het met energie en jy letterlik 'n stormaanval van spoed en uithoudingsvermoë beleef het? .

Binne in elke mens is magtige reserwes energie waarvan die normale individu nie bewus is nie. Meeste mense is soos die man wat sy motor in eerste rat bestuur, onbewus daarvan dat hy na 'n volgende rat kan verskuif en nie net alleenlik sy spoed kan vermeerder nie, maar ook meer krag kan bespaar.

Die Wet van die Heelal is Die Wet van Toevoer (voorsiening). Die natuur voorsien mildelik. Daar is oorvloed vir almal. Maar net soos jy moes uithou en volhou om weer krag te kry, so moet jy streef na vervulling van oorvloed vanaf die natuur.

Die wêreld behoort aan jou. Dit is jou eiendom. Dit voorsien nie alleenlik jou lewe nie, maar voorsien alles wat jy mag begeer. Maar jy moet aandring op hierdie dinge. Jy moet niks vrees nie, vir niks stop nie. Jy moet oorheers, nie ineenkrimp nie. Jy moet Die Wet van Toevoer toepas.

"Kyk hoe groei die blomme!" Die blomme, die voëls, alle kreasie, is alewig aktief. Die blomme en bome in hulle groei, die voëls en wilde diere in hul nesmaak en soektog vir kos, alewig besig maar nooit bekommerd nie. Jou geloof weet jy benodig hierdie dinge en alles sal voorsien word.

As almal sal ooreenkom om op te hou bekommer - om vlytig te wees, maar nooit angstig oor die uitslag nie - sal dit die begin van 'n nuwe era wees in menslike vooruitgang, 'n tydperk van bevryding en verlossing van gebondenheid.

Waarom is dit dan dat soveel miljoene mense deur die lewe gaan in armoede en ellende, siekte en wanhoop? Hoekom? Hoofsaaklik omdat hulle 'n realiteit maak van armoede deur die vrees daarvan. Hulle visualiseer armoede, ellende en siekte en gevolglik bring hulle dit tot verwerkliking. En tweedens kan hulle nie Die Wet van Toevoer toepas nie vir dieselfde rede dat miljoene nie algebra kan doen nie - die antwoord is eenvoudig, maar hulle is nooit gewys hoé nie. Hulle verstaan nie die Wet nie. Die mag word in hande gesit wat so besig is met ander dinge dat hulle nie tyd het om dit aan te gryp nie.

Die kern van die Wet is dat jy moet oorvloed dink, jy moet oorvloed sien, jy moet oorvloed voel, jy moet oorvloed glo. Moet gladnie aan beperking dink nie. Daar is geen wettige of regmatige begeerte van jou waarvoor, sover dit jou gedagtes aangaan, daar nie oorvloedige vervulling is nie.

En as jy dit in jou gedagtes kan visualiseer, kan jy dit 'n realiteit maak in jou daaglikse lewe.

- Maree

.

Friday, 27 May 2016

Gee jou drome vlerke!


Die lewe kan maar saai wees as jy nie gereeld vir jouself doelwitte stel nie. ’n Droom, maak nie saak hoe klein of groot nie, gee jou daardie ekstra motivering om ’n dag van roetine en ander verantwoordelikhede aan te pak. Jy weet wat ookal in die dag vir jou voorlê, sal jou nader aan jou eintlike ideale bring. Raak dus opgewonde oor die moontlikhede in die lewe en maak gereed om groot te dink en selfs nog groter te droom!

Maar sommige mense onderdruk hul drome al so lank dat hulle glad nie meer droom nie. Ander mense bestee weer so baie tyd aan hul dagdrome dat hul drome juis net dit bly: blote dagdromery. Slegs mense wat tot aksie oorgaan, het die vermoë om hul drome in realiteit te omskep.

En met aksie bedoel ek, maak tyd om uit te vind WAT jou droom is. Sit en skryf daaroor. Verander elke detail totdat dit vir jou perfek is. Probeer verskillende scenario’s en toets watter aspekte van jou drome jou die meeste opgewonde maak. Die drome waaroor jy passievol is, is meer geneig om ’n werklikheid te word.

Die volgende stap is om jou droom te beplan. Maak ’n lys van aksies wat maklik bereikbaar en doenbaar is. Maak dan daardie eerste oproep, registreer vir die kursus wat jy al so lank uitstel, of kontak ’n agent oor die moontlikheid van ’n nuwe werk.

As jy groot dinge wil bereik, moet jy besef elke dag is van belang. Doen dus elke dag iets wat jou nader aan jou droom sal bring. Só sal jy stadig maar seker al hoe nader aan jou doelwit en groot droom beweeg.

.

Monday, 23 May 2016

7 Stappe om Positief te dink



Het jy al moedeloos gevoel en lus gehad om tou op te gooi? Dan kom iemand by jou en sê: “Jy moet net positief wees.” Ja, die meeste van ons het al so ‘n boodskap van iemand gekry.

Miskien het jy ook al vir ‘n vriend of familielid dieselfde gesê: “Moenie so negatief wees nie, bly net positief en dinge sal sommer beter gaan.”

7 Stappe om Positief te dink

Ons kan ons sekerlik hiermee vereenselwig: dink positief!! Maar nou sal jy saamstem dis somtyds ‘n cliché wat ‘n mens gebruik sonder om na te dink oor hoe doen jy dit nou eintlik. Hoe moet ‘n mens nou maak om positief te dink? Hier volg sewe stappe vir ‘n positiewe uitkyk:

1.       Leef dankbaarheid elke oomblik:  Leer om elke oomblik te waardeer vir wat dit is. Byvoorbeeld jy gaan strand toe om ‘n heerlike dag van sonskyn, blou see, sambrele en roomys te geniet. Daar aangekom, begin die wind opkom en reën sif neer. Plaas van ongelukkig te voel, geniet eerder oomblik. Geniet die wind, sing in die reën, lag vir almal wat skarrel om ‘n skuiling te vind. Leef die intensiteit van die oomblik. Nog ‘n voorbeeld: jy ry deur die Karoo en kry ‘n papwiel. Eerder om dikbek te wees oor die ongerief wat jou tref, klim uit en gaan sit langs die pad. Luister na die groot stilte van die Karoo en trek jou vingers deur die warm sand. Wees bly jy vir so ‘n besondere oomblik wat jy in die Karoo ervaar. Ek dink hier onwillekeurig aan die woorde van Henri Matisse: “Daar is altyd blomme vir diegene wat dit graag wil sien.”

2.       Leef met humor:  Jy moet elke dag kan lag. Lag is helend. Lag maak gesond. Leer om humor in situasies in te sien. Oefen om iets komies te sê. Vind iets snaaks in ‘n spanningvolle moment en sê dit vir die mense rondom jou. Humor vereis kreatiwiteit. Dit maak jou denke oop. Soek humor in iets en dit dwing jou om anders te dink. Dit stimuleer jou brein, dit gee lewe.

3.       Leef jou droom voluit:  Instede daarvan om te kla oor wat gebeur het, skep vir jou vorentoe-kyk denke. Moenie vaskyk oor die onreg teenoor jou gedoen nie, maar fokus op jou toekoms. “Dit neem slegs een positiewe gedagte om ‘n kans te kry om te oorleef en te groei, om ‘n hele krygsmag van negatiewe gedagtes te oorrompel.” (Robert H. Schuller). Moenie neul oor verspilte kanse nie, maar ywer aan geleenthede wat nou rondom jou is. Werk onverpoosd en kreatief aan jou drome en leef jou lewe met passie.

4.       Kry jou plek agtermekaar en netjies: Kry jou huis, lessenaar, leefomgewing, en jou werksruimte georden en sorteer alles uit. Wanneer dinge op hul plek is, dis netjies en jou ruimte is sistematies en goed gerangskik, voel jy sommer beter. Dit skep ‘n atmosfeer en energie om daadwerklik iets aan jou probleme te doen en om nuwe geleenthede beter te benut.

5.       Omring jouself met positiewe mense:  Positiewe mense stimuleer jou tot positiewe denke, terwyl die negatiwiteit van mense afbrekend op jou gestel inwerk. Wanneer jy met mense praat en handel, moenie op swartgallige en negatiewe aspekte fokus nie. Waag eerder met humor en positiwiteit en jy sal sien hoe jy die regte tipe mense nader aan jou trek.

6.       Vergeet vrees, voluit vorentoe:  Vrees vir allerhande dinge maak jou depressief, gespanne, bang en negatief. Dit kan vrees wees vir finansiële probleme, ‘n knorrige baas, ‘n slegte situasie of ‘n oorlading van werk. Maar weier om te fokus op vrees. Analiseer die vrees, deurdink oplossings en doen aksiestappe om die probleem te hanteer. Konsentreer dan met alles wat jy het op jou doelwitte en die pad waarlangs jy vorentoe stap. Skuif twyfel en vrees gedagtes doelbewus uit, en gee al jou energie en denke vir jou drome. Neem een dag op ‘n keer, en hanteer daardie dag voluit en positief. Swami Vivekananda het gesê: “Wanneer jy dink oor rampspoed, dan sal jy dit kry. Broei oor die dood en jy verhaas jou afsterwe. Dink positief en meesterlik met vertroue en geloof, en die lewe word meer beskut, voller met aksie, ryker in prestasie en ondervinding.”

7.       Leef met geloof:  Jy het hierdie een lewe.
Glo in jouself en waag met alles wat jy het om voluit te lewe.
Glo dat jy suksesvol sal wees.
Glo dat jy jou probleme en struikelblokke in geleenthede sal omskep.

Aanvaar die uitdagings van die lewe en bou jou toekoms. Om te glo in jouself is om ‘n werklikheid te skep waarin jy met selfvertroue en positiwiteit kan funksioneer. En jy kan maar glo in jouself, want jy is mens geskape na die beeld van God. Iemand het eenkeer gesê: “Wanneer die son opkom, kom dit op vir iedereen.”

 Ja, die son kom elke oggend ook vir jou op, sodat jy met positiwiteit en vreugde kan leef en werk.

Groete,

MAREE

.

Thursday, 19 May 2016

Waar kom jou hulp vandaan?



Sielkundige hulp
Selfhelp is ’n populêre sindroom eie aan ons tydsgees van kitsoplossings en gemak. Daar is wel tye wanneer jy jouself kán help. Soos wanneer jou kar se wiel pap is. Maar as jou psige se wiele afblaas, is dit beter om ’n sielkundige te raadpleeg.” Só glo André Grundling, sielkundige met ’n privaatpraktyk in Uitenhage.

Die mens is n komplekse wese. Die buiteblik van ’n professionele, neutrale persoon help jou om beter perspektief te kry oor wat jou pla. Boeke en tydksrifte kan wel troos, maar dis soos ’n pleister op die wond. Selfhelpboeke vereenvoudig probleme en bied onrealistiese kitsoplossings. Terapie breek deur die komplekse lae van jou psige. Jy het soms nodig om jouself te hoor praat.”

Wanneer gaan klop jy by ’n sielkundige aan? Jou liggaam, emosie en denke stuur dikwels boodskappe in die vorm van simptome: ’n gevoel dat jou lewe betekenis verloor het of iets meer fisies soos ’n angsaanval. Dit tas jou menswees aan en skielik voel Dr Phil vreeslik ver weg.

Wat jy nodig het voor jy ’n sielkundige besoek is waagmoed, eerlikheid, geduld en ’n bereidwilligheid om te verander. Sáám ontgin ons dan die probleem. Daarna is dit ’n stap vir stap proses. Eers herken jy jou probleem, dan erken jy jou probleem en dan takel jy hom. Hoewel ’n probleem soms nie opgelos kan word nie, kan dit wel beter bestuur word.

Terapie n veilige hawe waarbinne elke mens groei en ontwikkel. Daar’s niks vreemd of mal daaraan nie. Dis ook gemik op lewenskwaliteit en persoonlike verryking. Sokrates het immers nie verniet gesê die lewe wat nie ondersoek word nie is nie die moeite werd om geleef te word nie!

Selfhelp
Om jouself te help is bemagtiging op sy beste, só glo ek. As jy op ander staatmaak om jou probleme op te los, raak jy afhanklik. Jy moet leer om keuses te maak en besluite te neem oor jou eie lewe. Deur die proses van selfhelp leer jy om jouself te vertrou en dit beteken groter eiewaarde en selfvertroue. Is dit nie iets om na te streef nie?

Elke persoon kán homself help. Wees eerlik met jouself. Soms verkry ons onbewustelik voordeel uit ’n probleem en dis wat maak dat probleme voortduur. Vra jouself: ‘Hoe graag wil ek hierdie probleem oplos?’ en ‘Wat kry ek uit die probleem?’” As jy byvoorbeeld nooit nee sê nie, mag dit onderliggend wees tot die gevoel dat jy spesiaal is vir iemand of daardeur voel mense het jou nodig.

Hoekom het so party mense drama in hulle lewe en ander nie? Ons gedagtes beïnvloed elke deel van ons lewe. Wees bewus van gedagtes in jou kop en die woorde wat jy praat. Dít bepaal jou realiteit.

Die selfhelpproses behels die neerskryf van gedagtes. Wanneer jy jou gedagtes in swart en wit voor jou sien, help dit om die probleem duideliker te sien. Herskryf jou gedagtes positief. Werk met jou nuwe gedagtes en onthou verandering neem tyd.

Henry Ford het gesê het: “Of jy dink jy kan of jy kan nie, jy is reg.”

Dis só waar. Besluit self, hoe jy na die lewe wil kyk.

"Ek moet bewus wees van slegte dinge..."
Baie mense glo, "Ek moet bewus wees, en waak teen, slegte dinge en ek moet uitkyk vir slegte dinge en myself net na goeie dinge lei."

Jy kannie albei terselfdertyd doen nie. Jy kannie op die uitkyk wees vir slegte dinge en dan probeer toelaat vir net goeie dinge nie. Dit is vibrerend onmoontlik... 

.

Sunday, 15 May 2016

Waar kry jy jou inspirasie vandaan?



Waar kry jy jou idees vir skryfwerk of inspirasie of kreatiwiteit? Myne kom gewoonlik uit 'n gesprek of opmerking wat iemand maak, 'n boek of artikel wat ek gelees het of 'n fliek wat ek gesien het, persoonlike ervaring, ander mense se persoonlike ervarings, selfs die gedrag van diere in die natuur.

Ons is almal altyd op soek na nuwe idees; watse besigheid om te begin, hoe om al jou take te vergemaklik, wat om voor te berei vir aand ete, watter geskenk of vir iemand te koop, 'n opskrif vir die boek wat jy wil skryf, hoe om jou sitkamer se dekor te verander, en dit lyk vir my, die beste manier om met hoë kwaliteit idees vorendag te kom, is om met baie idees vorendag te kom.

Hier is 'n paar maniere hoe om meer idees in die lewe te roep:

1. Maak aantekeninge van al jou idees
Moenie laat jou idees verlore gaan nie. Sodra jy 'n idee kry, maak 'n nota daarvan. Ek het altyd notas gemaak op my PDA, maar ek vind dis vinniger met pen en papier, so ek dra altyd my Moleskine nota-boekie (en my getroue Parker-pen!) oral saam met my. En later sit ek dit op my komper in OneNote ('n fantastiese Microsoft Office program!) waar ek dit dan kan naslaan.

OK, so jy het jou notaboekie vergeet! Nog 'n manier is om dit sommer daar en dan op jou selfoon te sit en te 'save' na 'drafts' en dan later by al jou ander idees te las waar jy dit ookal hou. Dis nie so vinnig as pen en papier nie, maar ten minste het jy jou idee vasgevang.

Google Desktop het 'n wonderlike "scratchpad" wat jy op jou komper kan laai en wat op jou 'desktop' sit en as jy 'n idee kry terwyl jy voor jou komper sit, is dit vinnig en maklik om 'n notatjie daarin aan te teken, en jy hoef dit nie eers te 'save' nie, dit gebeur sommer outomaties.

2. Moenie jou idees filter nie
Wanneer jy jou idees filter, bedoel dit jy het minder idees om mee te werk. Selfs 'n idee wat nie so goed lyk nie, laat dit maar daar lê vir nou. Later aan sal jy dit dalk van 'n verskillende perspektief beskou en bruikbaar vind.


3. Vind meer idees as wat jy nodig het
As jy vyf idees het, vind tien. As jy tien het, vind twintig. Om meer idees te hê as wat jy nodig het meen jy kan die beste van die bestes kies.

4. Werk gereeld aan idees
Hou aan idees uitdink maak nie sak hoe jy voel nie. As jy 'n blogger is, hou aan om te skryf. As jy 'n ontwerper is, hou aan ontwerp. As jy 'n programmeerder is, hou aan om kodes te skryf. Maak tyd daarvoor en maak dit 'n gewoonte.

5. Stel 'n Idee-kwota
Soos voorheen genoem is, 'n goeie manier om aan te hou om idees te vind, is om 'n doelwit (target) te stel vir hoeveel idees jy wil hê. 'n Skrywer kan byvoorbeeld besluit om 1000 woorde elke dag te skryf en 'n ontwerper dalk mik op een nuwe ontwerp elke week. Deur 'n doelwit te stel, verseker dit meer kreatiwiteit.

6. Vermy Perfeksionisme   
Perfeksionisme kan jou verhinder om jou doelwit te behaal. Dat kan 'n week vat om 'n idee 80% kwaliteit te maak, 'n maand om dit 90% perfek te kry, of 'n jaar om dit 100% perfek te maak. Perfeksionisme kan veroorsaak dat jy 'n jaar spandeer aan één idee terwyl die ander 51 idees afgeskeep word. Kry eers jou idees bymekaar, toets hulle en alleenlik dan spandeer jy meer tyd op die wenners.

Idees is baie kosbaar. Veral in hierdie Internet-era waar dinge gou 'n kommoditeit word, is idees dít wat jou  laat uitstaan bo al die ander. Jy het ook konstant nuwe idees nodig om te groei, maar ongelukkig kan ons nie altyd voorspel wanneer 'n nuwe idee sy kop sal uitsteek nie. Dan skielik, uit die bloute, verskyn 'n idee en dit gee nie om of jy by die huis is nie of by die kantoor is nie of op pad êrens heen is nie. Dit gee nie om wat jy besig is om te doen nie. Dit kom sommer maar net, en die ergste is, dat kan sommer net so verdwyn. En as dit eers weg is, is die kanse dat jy dit gaan terug kry maar skraal.

So, die uitdaging is om daardie idees vir ewig vas te vang. Waar kry jy jou idees?

.

Tuesday, 10 May 2016

Vertroue, Geloof en Hoop



VERTROUE
Eendag het al die dorpsmense besluit on te bid vir reën. Op die biddag het al die mense bymekaar gekom in die dorpsplein - en net een seuntjie het opgedaag met 'n sambreel…
dis Vertroue

GELOOF
Geloof behoort te wees soos die gevoel wat 'n een-jaar oue baba het wanneer jy hom in die lug opgooi, hy lag ... want hy weet jy sal hom vang...
dis Geloof

HOOP
Elke aand gaan slaap ons sonder die wete dat ons die volgende oggend sal wakker word, en tog maak ons planne vir môre...
dis Hoop

.

Friday, 6 May 2016

Laat jou slaapkamer weer stoom



In een van die boeke wat ek onlangs gelees het, A-Z van Seks, sê Elmari Craig seksuoloog, huweliksberader en skrywer van die boek,

"God het seks aan ons gegee om binne die veilige ruimte wat die huwelik skep, te geniet. ʼn Gesonde seksuele verhouding is die diepste vorm van kommunikasie tussen twee mense wat mekaar intens liefhet en trou aan mekaar belowe het. Dit skep geborgenheid, intimiteit en nabyheid. Dit is die sement wat jou huwelik beskerm. ʼn Gesonde seksuele verhouding is as’t ware geestelike oorlogvoering vir jou huwelik. Ek glo dat God juis vir ons die seksuele kant van menswees gegee het – nie net vir prokreasie nie, maar ook vir rekreasie, vir die lekker! – om ons liefde vir mekaar te vier en te versterk.”  

Hoewel baie getroude vroue seks binne die huwelik geniet, is daar tog baie skuldgevoelens en wanopvattings wanneer getroude seks ter sprake is. “God het ons as seksuele wesens geskape,” verduidelik Elmari. “Ons word so gebore en bly seksuele wesens tot die dag dat ons sterf. Seks is deel van die lewe. Ons word baie onskuldig gebore en mettertyd leer ons om ons seksuele gevoelens te onderdruk – soveel so dat dit selfs moeilik word om oor seks te praat. Baie mans en vroue het min, geen of ʼn negatiewe seksuele opvoeding gekry. Ons word geïnhibeerd en seksualiteit word ʼn baie private aangeleentheid, veral met ons Afrikaanse, Calvinistiese agtergrond. Vir meer as 2000 jaar word persepsies oor seksualiteit ook deur godsdiens gevorm, soos byvoorbeeld dat seks sonde is, dat dit nie iets is om te geniet nie en dat dit ʼn plig eerder as ʼn plesier moet wees.”  

Elmari ontbloot die drie grootste seksmites wat getroudes steeds glo: “Baie paartjies glo seks is vervelig, dat vrouens nie van seks hou nie – veral nie om te eksperimenteer nie – en dat seks op ʼn sekere ouderdom nie meer belangrik of reg is nie. ʼn Vrou kan selfs ná jare se getroude lewe haar man in die slaapkamer verower as sy met hom WIL seks hê en dit saam met hom GENIET. Wees oop vir nuwe dinge, probeer af en toe iets nuuts – al is dit dieselfde ding op ʼn ander manier – en onthou om te lag. Humor in die slaapkamer is kosbaar en essensieel.”


JOU SEKSUELE SIKLUS
Die goue reël vir die slaapkamer is dat enigiets binne die seksuele verhouding goed en reg is mits albei daartoe instem, gemaklik daarmee is en dit niemand emosioneel of fisiek skade berokken nie,” sê Elmari. Hier is wat jy in die verskillende fases van jou lewe te wagte kan wees:

•    Seks in jou 20s ...

HOE DIT IS: “Jy en jou maat is in die ontdekkingsfase. Seksualiteit is ʼn proses om jou liggaam en behoeftes, sowel as die van jou maat, te leer ken.”

WAT IS NORMAAL: “Mans piek seksueel in hulle vroeë twintigs, maar vroue eers in hulle vroeë dertigs. In hierdie lewensfase waar alles nog opwindend is, het julle dalk meer gereeld seks as in die later jare.”

ALGEMENE PROBLEME: “ʼn Gebrek aan seksuele begeerte is algemeen by vroue aangesien hulle hul seksdrang lank onderdruk het en dit ná die troue weer moet optower. Paartjies kan ook  ʼn verskil in seksdrang ervaar terwyl sommige mans voortydige ejakulasie ondervind. Vaginismes, waar die kringspiere van die vagina só saamtrek dat penetrasie onmoontlik is, word gewoonlik ook in hierdie fase gediagnoseer. Spreek ʼn seksuoloog aangesien al hierdie probleme oplossings het.”

GROOTSTE UITDAGING:  “Omdat seks ʼn nuwe ervaring vir albei van julle is, is die grootste uitdaging om met mekaar te praat en gemaklik te raak met jou eie en jou maat se seksualiteit. Aanvaar seks as ’n Godgegewe gawe.”

DIE PLUSPUNT: “Julle is jonk en jeukerig en het krag vir allerhande nuwe dinge. Maak die beste van hierdie lewensfase waartydens julle net op mekaar ingestel hoef te wees.”


•    Seks in jou 30s ...

HOE DIT IS: Gewoonlik het dié lewensfase baie uitdagings soos loopbaaneise, swangerskap en pienkvoete. Slapelose nagte en borsvoeding is dikwels nie bevorderlik vir erotiese gedagtes nie. Dit is egter ook in hierdie fase waar die vrou gewoonlik haar seksuele piek bereik en sy uiteindelik met haarself en haar behoeftes kan vrede maak.”

WAT IS NORMAAL: “ʼn Fokus op die kwaliteit van die seksuele aktiwiteit eerder as die kwantiteit van seks is hier baie belangrik. In hierdie fase is die fokuspunt wedersydse behoeftebevrediging.”

ALGEMENE PROBLEME: “Soms kan ʼn gebrek aan seksuele begeerte in hierdie fase ontwikkel weens die eise van die lewe, ʼn gebrek aan emosionele intimiteit in die huwelik of onopgeloste konflik of gevoelens wat oor tyd opgebou het. Al hoe meer mans in hulle dertigerjare begin ook erektiele disfunksie ervaar weens hulle besige lewenstyle of erge spanning.”

GROOTSTE UITDAGING: “Stres en tydsbestuur vir emosionele en fisieke intimiteit is in hierdie fase die groot sondebok. Bly fokus op jou huwelik en jou huweliksmaat as eerste prioriteit, dan julle kinders en dan jou werk.”

DIE PLUSPUNT: “Jy het die insig om met jouself vrede te maak. Jy en jou maat ken julle seksuele behoeftes en kan nou openlik daaroor kommunikeer. Geniet dit!”

•    Seks in jou 40’s ...

HOE DIT IS: “Jy en jou maat kan nou net julleself wees. Jy het die wysheid om te weet dat niks perfek is nie. Jy kan gemaklik wees en van al jou inhibisies ontslae raak. Jou seksualiteit kan blom aangesien julle waarskynlik nou meer tyd het en die kinders meer onafhanklik is.”


WAT IS NORMAAL: “Jou estrogeenvlak mag begin daal en jy kan peri-menopousale simptome soos warm gloede, ongereelde maandstondes of vaginale droogheid begin ervaar. Hou dus altyd ʼn smeermiddel byderhand. Jou man het waarskynlik langer en meer direkte stimulasie van sy penis nodig en het ook ʼn langer refraktoriese fase (die tyd wat dit neem om weer ʼn ereksie te kry).”

ALGEMENE PROBLEME: “Vaginale droogheid is in hierdie fase ʼn algemene probleem en mans kan ook met erektiele disfunksie begin sukkel.”

GROOTSTE UITDAGING: “Dis baie belangrik om met jou veranderende lyf vrede te maak en mekaar op ʼn nuwe vlak seksueel te ontdek. Al speel julle reeds jare lank die spel van die liefde, moet julle probeer om dit opwindend, vars en nuut te hou.”

DIE PLUSPUNT: “Julle ken julle eie en mekaar se liggame en behoort nou gemaklik oor die seksuele te kan kommunikeer. Geniet die voordeel van tyd!” - Elmari Craig

(Ek wonder nou eintlik net wat het geword van seks in die 60's...)

TIEN KENMERKE VAN ’N SEKSGODIN

’n Seksgodin …

1.    is altyd smeulend en sexy, al pas sy nie in ʼn nommer 32 nie! Sy het selfvertroue, is gemaklik met haar eie liggaam en vrygewig met haar seksualiteit.

2.    is die cheerleader wat haar man soos ’n kampioen-minnaar laat voel.

3.    weet hoe om vir wonderlike seks te beplan en daarvoor tyd te maak.

4.    laat haar man weet hoe baie sy hom en sy lyf geniet.

5.    weet hoe om haarself, die kamer en die oomblik soos ʼn persent ‘toe te draai’.

6.    maak die slaapkamer ʼn sensuele koninkryk – dit is nie die plek vir vuil wasgoed en   kinderspeelgoed nie!

7.    is bereid om nuwe dinge te probeer en soms te eksperimenteer. Sy is altyd opwindend, vol verrassings en bereid om van haar inhibisies te vergeet.

8.    weet hoe om haar man seksueel te bevredig. Sy sorg dat sy die regte inligting kry om haar seksuele vaardighede te verbeter en luister na haar man se behoeftes.

9.    gee soms net aan haar sensuele behoeftes oor en oorrompel haar man op ʼn tyd en plek waar hy dit die minste verwag.

10.weet hoe om die beste te maak van die feit dat mans visueel ingestel is. Sy doen moeite met higiëne, sensuele onderklere en klere en is soms onvoorspelbaar – ook in hoe sy lyk en aantrek.


WENKE VIR VA-VA-WOEMA!

·       Bedien allerhande verleidelike eetgoed in die slaapkamer en voer dit vir jou minnaar - ʼn sjokoladefontein of vrugte werk baie goed.

·       Loop ʼn bietjie braloos met net ʼn dun T-hempie aan rond wanneer julle weer alleen by die huis is.  

·       Hou ʼn modeparade vir jou man en modelleer ʼn paar nuwe sexy items vir hom (al is die kanse goed dat jy dit net vir ʼn klein rukkie gaan aanhê!).

·       Verander julle bad in ʼn luukse spa met allerhande bederfgoed soos olies, smeermiddels en kerse. Wees ook kreatief met die ‘dienste’ wat by die spa jy aan jou man lewer.

·       Gee ʼn gewone romantiese afspraak nuwe oemf deur ʼn spesiale tema daaraan te koppel. Hou ʼn Franse aand en bedien net Franse cuisine. Vir poeding oefen julle dan French kissing.

·       Gebruik die ontmoet-my-tegniek. Los ʼn boodskap op jou man se foon of nooi hom per e-pos om jou iewers te ontmoet. Los vir hom verleidelike instruksies soos: “Ontmoet my om 18:00 by die Sheraton-hotel se ingangsportaal. Onthou jou tandeborsel.”

·       Gebruik jou rooiste lipstiffie om vir hom ʼn boodskap op die spieël te skryf, byvoorbeeld: “Môre mnr. Sexy! Kom ons gaan laai die kinders vanaand vroeg by jou ouers af … ek het ʼn opwindende plan vir die aand. xxx”

·       Gee hom die oggend ʼn energiestafie saam werk toe. Sit ʼn nota daarby om hom in te lig dat hy die energie vir vanaand gaan nodig kry.  

·       Sê vir jou man jy het iewers parfuum aan jou gespuit en dat hy jou moet help om dit op te spoor.  

·       Begroot om elke maand ʼn sekere bedrag op julle sekslewe te spandeer. Koop items soos luukse lakens, lingerie of gebruik dit vir ʼn aandjie of naweke saam weg. 

Ek wens almal 'n vreugdevolle en seksie naweek toe!
  
Groete,

MAREE

.