Thursday, 28 April 2016

Dankbaarheidslied


::

Dis Mei-maand wat voorlê, my gunsteling maand. Nie net oor dit my geboorte-maand is nie, maar ook oor die perfekte temperature - 'n gemiddeld van 24ºC hier in Suid-Afrika, met windlose dae vol sonskyn wat verseker dat ek die laaste takies in die tuin kan klaarkry voor Winter my weer die huis indryf. Die eerste ryp is nog 'n entjie weg, die grasperk is nog groen en oral skarrel die voëltjies ywerig agter die insekte aan voordat daardie kosbare bron van voedsel opdroog.

Vir my is Mei 'n maand van introspeksie, om te kyk na wat die afgelope Somer in die tuin verrig is en te beplan vir die komende Lente. Soos ek deur die tuin stap, word nuwe idees gebore en gryp ek gou na 'n pen en my tuin-joernaal om aantekeninge te maak voordat die inspirasie verdwyn. Ek sien 'n spasie vir nog 'n voëlbad of kosbak en maak sommer 'n lys van plante wat mooi sal lyk langsaan dit. 'n Vlinder sweef verby en ek besluit om sommer nog 'n Buddleia Salvifolia te kry, waarvoor die Skoenlappers baie lief is, vir 'n leë hoekie.

My Grootstreepswaeltjie net voor hulle pad gevat het (Waterverf in my Natuur-joernaal)

Hierdie maand, en elke April, het ek en my pa altyd dop gehou hoe die Swaeltjies bymekaar kom vir hulle lang vlug Noord en die hemele is snaaks-stil sonder hul ewige geroep soos hulle sweef en duik. Hul modder-huisies is leeg onder die dak se oorhang, maar is 'n blye versekering van hul terugkoms in September.

Die Janfrederik (Cape Robin) het ook al hasepad gekies tesame met die Piet-My-Vrou, en die Swart Suikerbekkie en sy vroutjie is al vroeg-Maart weg na wie-weet-waar. Die Lysters het hierdie jaar 'n kans geneem en laat in Maart weer nes gemaak en was gelukkig om hul kleintjie groot te maak voor hul vertrek. Ek het al menigmaal met 'n kleintjie gesit wat agter gelaat is en wat ek moes grootmaak. Die Kwikstertjie se stem is ook stil, maar my geveerde vriende wat agterbly baljaar lustig en vol lewe sonder enige vrees vir die komende Winter of die toekoms.

Ek verwonder my altyd aan die lewenslustigheid van voëls - elke oggend word begroet met, wat vir my klink soos, 'n dankbaarheidslied. En wanneer ek voel dat depressie op my wil afsluip, is dit die voëltjies se gesing wat my altyd regruk, wat my herhinner om weer in dankbaarheid te lewe.

::

Sunday, 24 April 2016

Wat 'n tuin nodig het

'n Tuin benodig geduld, werk en aandag. Plante groei nie net met ambisie en goeie bedoelings nie. Hulle floreer omdat iemand tyd aan hulle bestee het.

Om 'n tafel in die tuin te dek is 'n daad wat die tuin vier, wat wys dat jy haar skoonheid waardeer en dat jy dankbaar is vir haar oorvloed.

Daar is ietsie uiters bevredigend omtrent 'n bos wortels met die blare nog aan. Dalk is dit die gedagte van hulle uit die grond trek...


::

Wednesday, 20 April 2016

Sewe dae, en sewe belangrike lewensaspekte

Dis al wat jy nodig het om jou lewe te herskep – van jou beeld tot jou finansies en selfs jou verhoudings. Dit is moontlik!


DAG 1: Begin in jou kop
Jy hoef nie jou bankrekening leeg te maak vir ’n nuwe voorkoms nie - jy moet begin by wat in jou kop aangaan. Sê vir jouself jy is suksesvol en gelukkig. Leef dit uit. Glimlag meer. Begin jou nuwe voorkoms van binne.

Eers dan kan jy aandag aan jou uiterlike gee. Net iets kleins soos ’n nuwe haarstyl of haarkleur kan ’n groot verskil maak. Jy het nie ’n hele nuwe klerekas nodig nie. ’n Paar mooi onderkleertjies en een verruklike uitrusting kan jou klaar soos ’n prinses laat voel.


DAG 2: Luister na jou emosies
Ons emosies is soos ’n barometer want dit wys ons wat in ons lewens aangaan. Leer hoe om na jou emosies te ‘’luister’’. Dink na oor die dinge in jou lewe waarmee jy nie tevrede is nie. Soms kan jy nie die situasie verander nie, maar jy het beheer hoe jy dit gaan hanteer. “Let op die goeie dinge in jou lewe, die verhoudings wat jy gebou het en hoe maklik dit is om te lag” – ’n vars blik op die lewe sal jou emosionele toestand verbeter.


DAG 3: Wys jy waardeer mense
Knap jou verhoudings met mense op - jou verhoudings kan beskadig raak as jy nie genoeg erkenning en waardering aan mense gee nie. Wys dat jy jou verhouding met hulle en hulle as mense waardeer. As jy by iemand is, wys jy wíl daar wees. Al is jy hoe besig, moenie wys jy wil so gou moontlik wegkom nie.

DAG 4: Soek die positiewe
Ongeag in watter situasie jy jouself bevind, daar is altyd positiewe en negatiewe keuses. As dit eers ’n gewoonte is om te kies om positief te wees, sal dit later tweede natuur word. Ongeag watter negatiewe dinge rondom jou plaasvind of hoe maklik jy dinge in ’n negatiewe lig sien, dis altyd moontlik om positiewe denke te ontwikkel – niemand is ’n gebore pessimis nie!

DAG 5: Doen iets vir andere
Eerder as om net elke dag te probeer oorleef en heeltyd oor alles te kla, moet jy liefs optimisties wees en ander help. Nie net laat jou goeie daad iemand anders glimlag nie, maar jyself sal ook sommer baie beter voel oor die lewe. Fokus op die nou en nie op die probleme van môre nie. Geniet vandag en benut elke geleentheid wat oor jou pad kom.


DAG 6: Kry beheer
Die grootste verskil wat jy binne een dag aan jou finansies kan maak, is om die probleem-areas te identifiseer en te besluit hoe jy dit gaan regstel. Dit kan ’n moeilike proses wees, maar jy gaan nêrens kom as jy nie ’n begin maak nie.

DAG 7: Gee dit oor aan die Heelal
Jou omstandighede speel ’n groot rol in wie jy is. Dalk kom jy uit ’n gebroke huis, het ’n geliefde aan die dood afgestaan of is mishandel. Omstandighede kan jou kwaad en verbitterd maak. Jou taak as mens is om hierdie dinge te laat gaan deur die persone wat jou seergemaak het – sowel as jouself – te vergewe.

Teen die einde van die week sal jy baie meer in voeling wees met dié sewe aspekte van jou lewe. En hoewel ’n mens nie alle probleme binne ’n dag kan regstel nie, is ’n klein verandering reeds genoeg om te begin vordering maak – selfs met die grootste uitdagings!

Voorspoed aan almal!

MAREE

.

Saturday, 16 April 2016

Saterdag-storie


Hierdie is 'n uittreksel uit een van daai e-posse wat ons almal gereeld ontvang en ek dink dit leer 'n waardevolle les - leef vir vandag, want dit is AL wat ons het ... 


1000 Albasters - Skrywer onbekend
Hoe ouer ek word, hoe meer geniet ek Saterdagoggende. Miskien is dit die stil alleenheid wat daarmee kom om eerste op te staan, of  miskien die uitbundige vreugde om nie werk toe te gaan nie. Hoe dit ookal sy, die eerste paar ure op ‘n Saterdagoggend is die lekkerste.

'n Paar weke gelede was ek op pad na die motorhuis met ‘n stomende koppie koffie in die een hand en die oggendkoerant in die ander hand. Wat as ‘n tipiese Saterdag begin het sou draai in een van daardie lesse wat die lewe van tyd tot tyd vir ‘n mens gee. Laat ek vir jou hiervan vertel.

Ek is ‘n radio-amateur en het my ontvangstoestel ingeskakel op die telefoniese band om na die Saterdagoggend gesprekke te luister. Met die luister na die gesprekke kom ek af op ‘n man wat ouerig klink, met ‘n sterk sein en ‘n goue stem. Jy weet ‘n stem wat klink of hy in die uitsaaiwese hoort. Hy was besig om te vertel, wie ookal wou luister van ‘n ding met ‘n duisend albasters. Ek was skielik geïnteresseerd en besluit om te luister na wat hy te sê het.

“’Wel Tom, dit klink sekerlik dat jy baie besig is in jou werk. Ek is seker dat hulle jou goed betaal, maar dit is hartseer dat jy soveel weg is van die huis en jou gesin. Dit is moeilik om te glo dat ‘n jong man sestig tot sewentig uur ‘n week moet werk om deur te kom. Dit is hartseer dat jy jou dogter se dansopvoering gemis het. Maar laat ek jou iets vertel wat my gehelp het om my prioriteite reg te hou.’

Dit is toe wat die man sy teorie van ‘n duisend albasters verduidelik.

“’Jy sien, ek het eendag gesit en ‘n bietjie somme gemaak. Die gemiddelde persoon leef 75 jaar. Ek weet, sommige leef meer en sommige minder, maar gemiddeld, leef mense ongeveer 75 jaar."

“’Wat ek toe doen is om 75 te vermenigvuldig met 52 en ek het die getal 3900 gekry – dit is die aantal Saterdae wat die gemiddelde mens in sy hele leeftyd het. Hou nou net ‘n bietjie uit Tom, ek kom nou by die belangrike deel. Ek het eers op die ouderdom van 55 jaar begin dink aan hierdie detail, en by daardie tyd het ek reeds deur meer as 2800 Saterdae geleef. Ek had nog ongeveer ‘n duisend Saterdae oor om te geniet. So het ek na die speelgoedwinkel gegaan en al die albasters in die winkel gekoop. Uiteindelik moes ek by nog twee speelgoedwinkels ingaan om by ‘n 1000 albasters uit te kom. Ek het die albasters huis toe geneem en hulle in ‘n groot, helder deursigtige plastiese fles geplaas – alles hier in my stoorkamer langs al my goed."

“’Van daardie dag af het ek elke Saterdagoggend een albaster uitgehaal en weggegooi. Ek het agtergekom soos ek die albasters sien minder raak, ek al meer gefokus het op die regtige belangrike dinge in die lewe."

“’Daar is niks soos om te sien hoe jou tyd op die aarde besig is om uit te hardloop, om jou te help om jou prioriteite reg te kry nie."

“’Wel, laat ek jou vertel voordat ek van die lug afgaan om my lieflike vrou vir ete uit te neem. Vanoggend het ek die laaste albaster uit die fles gehaal. Ek reken indien ek dit volgende Saterdag maak, is ek ‘n klein bietjie ekstra tyd gegun. En die een ding wat ons almal kan gebruik is ‘n klein bietjie ekstra tyd."

“’Dit was lekker om met jou te kon gesels, Tom, ek hoop jy spandeer meer tyd met jou gesin, en ek hoop ons ontmoet weer hier op die lug. Dit is ‘n 75-jarige ou man, K9NZQ wat groet, oor en uit.’

Jy kon ‘n speld op die lug hoor val toe die man van die lug afgaan. Ek reken hy het vir ons almal iets gegee om oor na te dink. Ekself het beplan om die oggend te werk aan die antenna van my radio, en daarna was ek van plan om met ‘n paar van die ander radioamateurs saam te werk aan ons klub se nuusbrief.

Ek het egter – instede daarvan om dit te doen – die trappe opgeklim na ons slaapkamer en my vrou met ‘n soen wakker gemaak. ‘Komaan my vroutjie, ek neem vir jou en die kinders vir ontbyt. Sy het regop gesit met ‘n glimlag: ‘Wat het gemaak om dit mee te bring?’ Ek het na haar gekyk en gedink hoe gelukkig ek is. ‘Ag wat, niks besonders nie, dit is slegs ‘n lang tyd gelede dat ons ‘n Saterdagoggend saam met mekaar en met die kinders spandeer het. En terwyl ons nou uitgaan, kan ons stop by die speelgoedwinkel? Ek het nodig om albasters te koop.

Saturday, 9 April 2016

Dankverklaring 4 - Ek is dankbaar ek is gebore


Ek is dankbaar dat ek gebore is - 
Ek is dankbaar vir my huis, my motor, 
my familie, my vriende, my gesondheid 
en die gevoel van genot wat ek elke dag beleef.

::

Tuesday, 5 April 2016

Ek wil léwe...


Geniet die lewe, gryp die dag! Hoe voel jy vandag? Wat is jou gemoedstoestand? Hoeveel geniet jy die lewe?

Ek het hierdie oulike ding gelees oor bekommernis:

"Sluit die hekke van die verlede. Moenie aanhou terugkyk na die probleme en foute van die verlede nie. Sluit ook die hekke van die toekoms. Moenie bekommerd wees of vrees vir wat in die toekoms kan gebeur nie. Die toekoms is vandag. Hanteer vandag. Jy kan nie in die verlede leef nie, ook nie in die toekoms nie. Jy kan net vandag leef. Elke dag is 'n nuwe lewe, 'n nuwe begin. Berei jouself voor vir die toekoms deur vandag tot sy volle potensiaal te leef. As jy bekommerd is oor wat dalk more mag verkeerd gaan, was jy verniet bekommerd. En as dit dan wel gebeur, was jy twee keer bekommerd.”

.