Monday, 28 March 2016

Eie-tyd en Oorvloed


Toe ek hierdie artikel oor eie-tyd en ALLEEN wees begin skryf, het ek op die internet gesoek na 'n mooi aanhaling of gediggie om hier te plaas, maar al wat ek op afgekom het was dinge soos, "Om alleen te wees is om sonder liefde te wees", "Nou is ek alleen, die pad lyk donker, eensaam en dood" en "dit is swaar om alleen te wees". Nêrens is daar iets goeds of positiefs te vinde oor 'alleen' wees nie. Selfs Wikipedia beskryf iemand wat daarvan hou om alleen te wees as "iemand wat menslike wisselwerking vermy, uiterste vorme van skuheid en ingekeerdheid openbaar of aan sielsiektes ly." Hoe op aarde het die mensdom tot hierdie gevolgtrekkings gekom...? 

Ek verstaan heeltemal die gevoel van verlies wanneer mens 'n geliefde verloor of 'n verhouding tot 'n einde kom, maar selfs dít is nie 'n rede om alleen-wees te vrees nie. Om bang te wees om alleen te wees is soos om te sê, 'iewers langs my lewenspad het ek my eiewaarde verloor. Ek het myself nie lief genoeg om my eie geselskap te waardeer nie'. 

Nou het ek heeltemal van die paadjie af gedwaal! Nee, ek wou skryf oor die salige gevoel van alleen wees met jouself en dit geniet, daardie eie-tyd waarna soveel mense smag maar nie weet hoe om te bewerkstellig nie. Hulle voel skuldig as hulle bietjie tyd aan hulself spandeer met die gevolg dat elke oomblik gevul word deur ander mense se behoeftes te vervul en sodoende leer hulle nooit om alleen-wees te geniet nie. 

As kinders is ek en my susters en broer baie aangemoedig om alleen te speel, ons eie ding te doen en om ons eie geselskap te geniet. Dit het ons geleer om kreatief te wees, meer te dink aan oplossings vir probleme, selfstandige besluite te neem en om te verstaan wanneer ander mense alleen wil wees. 

Daardie eie-tyd gun mens die kans om die lewe in die regte perspektief te sien, dankbaarheid te beoefen en toe te laat dat oorvloed jou lewe betree sodat, selfs wanneer jy alleen is, jy nie eensaam sal wees nie. 

:: 


Thursday, 24 March 2016

Selfsorg en Vreugde



Ek hoor so baie vrouens kla oor die feit dat hulle nooit tyd vir hulself het nie en dat 'n ma en vrou se prioriteite altyd laaste kom. Hulle glo dit is maar hoe die lewe werk, en hoe gouer hul dit aanvaar, hoe makliker gaan hul deur die lewe gaan.

Waar stop 'n ma se veranwoordelikheid? Hoekom voel ons so skuldig oor als? Hoekom is ons so perfeksionisties waar dit die familie en ander se behoeftes aangaan, maar nie ons eie nie?

Van al die dinge wat ons lewens beϊnvloed, is ons oortuigings-sisteem seker die mees belangrikste.

Wat ons glo vorm ons uitkyk en gedrag en houding en as ons ons lewens wil verander en transformeer, kan ons dit nie doen sonder om ons oortuigings-stelsel te verander nie.

As ons waarlik ons lewe wil verander, moet ons leer om ons geloofstelsel te verander. Die goeie nuus is dat dit nie so moeilik is as wat dit klink nie! Vasbeslotenheid en dedikasie is al wat dit vat.

Ongelukkig vir meeste van ons, het ons meer self-limitasie oortuigings as konstruktiewe oortuigings. Ons GLO dat almal se behoeftes voor ons eie moet kom - ons kinders, ons eggenote, ons vriende - en dan is dit goed genoeg dat ons kry wat oor is. Dit is die EEN groot rede hoekom ons voel of ons vassit en asof ons 'n slagoffer van die noodlot is, dat ons nie in beheer van ons eie lewe is nie.

Die oomblik wat ons hierdie self-limiterende oortuigings verruil vir meer positiewe oortuigings, sal ons houding en gedrag outomaties verander om in te pas met ons nuwe oortuigings en nuwe en meer bevrydende moontlikhede in ons lewe aantrek.

Onthou toe jy laas op 'n vliegtuig was? Die lugwaardin het verduidelik wat jy moet doen in geval van 'n noodtoestand en het gesê,

"Indien jy saam met ander mense reis wat hulp nodig sal hê, sit asseblief eers jou eie suurstofmasker aan voordat jy die ander mense help."

Eenvoudige konsep, nê?

Jy kannie iemand anders help as jy nie kan asemhaal nie!

Selfsorg is dieselfde.

Selfsorg is die absolute fondasie vir enige suksesvolle onderneming; of dit nou 'n besigheid is, of as 'n ouer, vennoot of vriend - van 'n pure fisiese standpunt, hoe beter jy agter jouself kyk, hoe meer energie het jy om in jou lewe in te sit.

Van 'n energie standpunt, hoe meer gebalanseerd en gelukkig jy voel, hoe makliker kan jy jou lewe genotvol vervul.

Benewens, die manier wat jy jouself behandel, wys aan ander dat jy verwag dat hulle jou goed behandel.

Byvoorbeeld, as jy 'n unieke tipe diens of produk lewer en jy vra nie vir betaling nie, dan stel dit voor dat geld nie vir jou belangrik is nie, en kan jou kliënte dalk dink jou diens is nie waardevol of van belang nie.

Dink vir 'n oomblik aan die week wat verby is :

Het jy tyd gehad vir jouself?
Wie se behoeftes het eerste gekom - joune of almal om jou?
Het jy 'ja' gesê vir dinge waarvoor jy liewers wou 'nee' sê?
Het jy gevoel jou tyd was jou eie?

Stap #1: Skeduleer tyd vir self-sorg
Die wêreld gaan jou nie vra of jy ekstra tyd vir jouself nodig het nie - dis jou werk om die grensperk te stel en tyd vir jouself te maak!

'n Maklike manier om jouself 'n prioriteit te maak en 'n sterk fondasie te lê vir selfsorg is om 'n tyd te skeduleer, dieselfde soos jy tyd skeduleer vir al jou take gedurende die dag, maar sit selfsorg EERSTE in jou beplanner.

Om geld te spaar, sê die deskundiges jy moet 10% van jou inkomste eenkant sit sodat jy dit nie spandeer nie. Dis dieselfde met tyd vir jouself.

Elke week, besluit watter selfsorg dinge is vir jou belangrik en sit dit in jou beplanner. Wil jy yoga doen? Wil jy 5 minute mediteer in die oggend? Wil jy al die familie oorhê vir ete Woensdag aande? Wat van jou haarbestelling? Besluit wat is vir jou belangrik en skryf dit in en beplan die res van jou tyd om dit. Jy sal verbaas wees hoe maklik en bemagtigend dit kan wees!

Stap #2: Soveel moontlik, sê alleenlik JA as jy dit regtig bedoel
Vind jy gereeld dat jy ja sê vir versoeke wanneer jy wens jy kon nee gesê het? Hoe laat dit jou voel? Voel jy gegrief om êrens te wees waar jy nie wou wees nie? Natuurlik sal daar altyd aktiwiteite wees wat jou aandag moet geniet en waarvoor jy nie lus is nie, maar daar is ook gewoonlik altyd keuses rondom hulle.

Probeer hierdie :

- Wanneer iemand jou vra om iets te doen, huiwer, haal diep asem en dink regtig na daaroor.
- As dit jou nie genoeg tyd gee nie, sê jy moet eers jou dagboek nagaan.
- Wanneer jy besluit, voel wat jou liggaam en jou verstand jou vertel.
- Wees bewus van die seine vir elke besluit en gee dan jou antwoord.
- Hierdie sal dalk eers baie selfsugtig voel, maar dit is eintlik respekvol, vir jouself en ander.

Byvoorbeeld, as jy na 'n partytjie gaan en jy wou nie eintlik nie, dink jy nie andere kan dit aanvoel nie? Liggaamshouding spreek volumes!

Dit word gesê dit neem 21 dae om 'n nuwe gewoonte te vorm - gedurende die volgende maand, beoefen selfsorg op nuwe maniere, wees bewus van jouself en erken elke manjifieke selfsorg stap wat jy neem.

Wees ekstra gaaf teenoor jouself, en onthou om jou masker op te sit!

- Jy is die enigste een wat in jou behoeftes kan voorsien.
- Dit is jou taak on jouself eerste te stel in jou lewe, wetende dat jy dan voller kan  konnekteer met almal om jou.
- Dit bedoel jy is 'n beter eggenote, vriend, ouer, ens.

Deur meer vrede in jou lewe te bewerkstellig, is daar meer vrede in die wêreld.

Red die wêreld vandag deur uitstekend vir jouself te sorg!

::

Sunday, 20 March 2016

Skuldgevoel Bring Jou Niks in die Sak nie



Skuldgevoel is self-minagting. Jy is liefde van self, liefde van alles, jy is liefde. Jy kannie terselfdertyd  liefde en skuldgevoel wees nie — hulle is twee teenoorgestelde vibrasies.

Jy sê, "Ek het besluit om netjies te wees. Ek gaan my bed elke dag opmaak". En dan dink jy aan al daardie beddens wat jy nie opgemaak het nie, en jy sê "Ek moet seker maar teruggaan en al daardie ander beddens opmaak". Wel, voorspoed met daai een! Jy kan onmoontlik nie iets omtrent daai beddens doen nie. Maak net jou bed vandag op!

Reik vir 'n goeie gevoel NOU, en vergeet van wat voorheen gebeur het, want jy kan buitendien niks daaromtrent doen nie, en jy wil ook nie. Op hierdie oomblik is jy hierdie suiwere, magtige, geseënde, geliefde, al-wetende en wat-alles-verdien mens. En enigiets wat voorheen gebeur het, het niks daarmee te doen nie.

.

Tuesday, 8 March 2016

Geheime van gelukkig wees



Wanneer laas het jy tien minute vroeër opgestaan om die sonsopkoms te bewonder? Of met kaal voete in die reën gehardloop? Kortom, wanneer laas het jy tyd gemaak om jou siel te voed?

Die siel is ons brug na Bron-energie. Tensy ons ’n gesonde siel kweek, ly ons emosioneel in ons verhoudings en bly ons geestelik honger. Net soos jou liggaam aandag, voeding en oefening nodig het, net so het jou siel koestering nodig om jou van binne gesond te hou.

SIELSKOS

Tyd vir stilword

Die stylvolste boeke op die rak is daardie wat met vernuf gebruik maak van wit spasie om besige teks mee af te wissel. Is daar genoeg “wit spasie” in jou lewe? Haal twee dinge van jou prioriteitslys af wat jy môre moet doen.

Dink aan mense wat in jou oë ryk siele het. Watter eienskappe maak hulle so? Skryf dit neer en dink hoe jy elkeen in jou eie lewe kan inbou.

Voltooi die sin op soveel maniere as wat jy kan: “As my siel goed versorg was, sou ek ...”

Dink terug aan die klein, onverwagse lekkertes in jou lewe. Daardie oproep van ’n ou vriendin. Die onverwagte wyshede wat elke nou en dan uit jou kind se mond glip. Verlustig jou daarin, want dié oomblikke gaan so gou verby.

Tyd vir verwondering

Dra jou slaapsak buitentoe en bring n aand onder die sterre deur. Verwonder jou aan die kreatiwiteit van die Heelal.

Maak n lys van eenvoudige dinge wat jou genot verskaf, soos die reuk van n braaivleisvuur, die rustige gekoer van n duif, of warm seesand tussen jou tone. Voeg daagliks iets by hierdie lys en probeer om ten minste weekliks een van hierdie dinge te ervaar.

Kinders is die grootste leermeesters oor hoe om alledaagse oombliklike in avonture te omskep. Weerstaan die drang om met grootmensverskonings vir hulle “nee” te sê.

Gaan sit vir tien minute met toe oë op n stil plekkie in jou tuin. Span jou sintuie in om waarlik bewus te raak van die klanke, reuke en voelbare dinge in jou omgewing.

Tyd vir wegbreek

Breek n slag weg van roetine af. Eet ’n ongewone ontbyt. Ry ’n ander pad werk toe. Hou piekniek op die gras. Gaan stap elke aand saam met jou gesin om die blok.

Teken n eenvoudige prentjie van die ideale ruimte waarna jou siel smag. Is dit n kolletjie in die son? n Bankie langs water tussen blomme? Sagte kussings om jouself op neer te vly? Bo-op ’n bergpiek met die vallei onder jou uitgestrek? As jy nie self hierdie ruimte kan herskep nie, herinner jou daaraan dat dit net sover soos jou verbeelding is.

Gee jouself n halwe dag sonder verpligtings. Gebruik hierdie tyd om oor jou keuses van die afgelope jaar te besin. Wat is jou doelwitte vir die jaar wat voorlê en hoe lyk jou plan van aksie om dit te verwesenlik?

Midde-in jou volgende krisis, neem’n paar minute om jouself uit die situasie te verwyder. “Reis” in jou gedagtes na ’n stil plek, laat jou gees rus.

Tyd vir genesing

Sielkundiges het ontdek dat om met jou verkeerde hand te skryf, gedagtes en gevoelens kan openbaar waarvan jy onbewus was. Skryf ’n paar eerlike sinne met jou verkeerde hand neer. Skryf nou met die ander hand ’n liefdevolle, gerusstellende reaksie op elk.

Jy is so siek soos jou geheime. As jy met n geheim rondloop wat jou siel siek maak, raak daarvan ontslae.

Is daar dele van jouself wat jy verwerp omdat dit jou skaam laat voel of seer laat kry?  Hou n verwelkomingspartytjie vir daardie deel van jou, kyk daarna, voel dit en aanvaar dit sodat jy daarmee saam kan leef. Maak nou vrede daarmee.

Tyd vir sielsgenote

Maak n lys van mense wat jou lewensgroei op een of ander manier ondersteun. Skryf langs elk ’n paar woorde oor die tipe steun wat hulle jou bied.

Stuur n briefie aan elk waarin jy dankie sê vir die manier waarop hulle jou help.

Sien die mense in die gemeenskap om jou raak by die huis, werk, skool, kerk en daar waar jy jou sport of stokperdjies beoefen. Wat kan jy doen om hulle jou sielsgenote te maak?

Smee n vriendskap met iemand minstens twintig jaar ouer as jy. Kies iemand wat emosioneel en geestelik volwasse is en geniet die dieper lewenswyshede wat so ’n persoon in jou lewe kan bring.
Wat is n paar van die belangrikste eienskappe wat jy in n vriend soek? Fokus oor die volgende jaar om hierdie eienskappe in jouself te ontwikkel.

Tyd vir aksie

Soek doelbewus na dinge waaroor jy kan lag. Lees ’n paar comics, neem n lawwe DVD uit of lees n boek vol grappies voor bed-toe gaan tyd.

Sit die volgende sewe dae opsy om kreatiewe maniere te vind waarop jy vir iemand kan sê jy gee vir hom of haar om, sonder om woorde te gebruik.

Maak n gewoonte daarvan om een mens elke dag te prys. Wees opreg en spesifiek.

Dink vir 30 minute oor jou begrafnis na. Wat sal jy graag wil hê ander moet van jou onthou? Begin van vandag af só te leef dat hierdie woorde bewaarheid sal word.

As jy vandag moet sterf, wat is die vyf dinge wat jy sou wens jy meer tyd aan bestee het? Skryf dit neer en wend ’n doelbewuste poging aan om elke dag bietjie meer aandag aan elkeen te gee.

Voer jou siel vet aan n feesmaal van goeie sielskos en geniet die energie-inspuiting wat dit aan elke ander area van jou lewe sal gee!

Groete,

MAREE

Friday, 4 March 2016

Ander se Keuses Hoef Nie 'n Bedreiging te Wees Nie



ANDER MENSE SE KEUSES HOEF JOU NIE TE BEDREIG as jy die magtige wette van die Heelal verstaan nie. As jy dit eers verstaan, sal daar nie die nodigheid wees vir verskansings, leërs, oorloë of tronkselle nie, want jy verstaan dat jy vry is om jou wêreld te skep soos jy dit wil hê terwyl andere hul wêreld skep soos hulle dit wil hê—en dat hulle keuses jou nie bedreig nie...

Daar is daardie dinge waarmee jy in harmonie is en daardie dinge waarmee jy nie in harmonie is nieen alles tussenin.  Jy het nie hierheen gekom om die dinge waarmee jy nie saamstem te onderdruk of te vernietig nie, want daardie dinge verander aanhoudend. Jy is hier om te identifiseer, van oomblik tot oomblik, wat dit is wat jy wil hê en om die mag van jou gedagtes toe te laat dat die Wet van Aantrekkingskrag vir jou werk.