Wednesday, 29 July 2015

Blousyselbos - Vergeet-my-nie (Plumbago)

Daar is ’n koel kalmte aan die massas floksieagtige, sagte blou blommetjies van Plumbago auriculata (blousyselbos) wat wild oor grensdrade en oor mure spoel. Kan daar ’n mooier heiningplant of meer ontspanne struik wees wat so geil blom in ’n warm somer tuin?


Een van my gunsteling plante, die Blousyselbos (Plumbago auriculata) in sy blou vorm, wat ek nie meer het nie, hierdie foto is in my vorige tuin geneem. Dis ‘n bosserige struik en blom vanaf laat-lente tot herfs en maak ’n uitstekende heiningplant. Dit groei beste in ’n sonnige tot semi-skaduposisie en is baie ’water wise’ en voëlvriendelik. Dit word ook gereeld besoek deur skoenlappers en is een van die gasteplante vir die gewone Blou Skoenlapper (Cyclyrius pirithous). Hulle sê die plant weerstaan semi-koue en is ryp-gehard, maar my ondervinding was dat die ryp dit elke jaar tot die grond afgemaai het. Gelukkig herstel dit gou en het elke jaar net groter en groter geword.

Daai stekelrige en harerige gedeeltes wat jy daar sien tussen die blomme is verskriklik taai en hemel verhoed dat jy tussen dit deurkruip (soos ek baie maal gedoen het om die ou gedeeltes uit te snoei), want jy kom daaruit met omtrent die hele bos wat aan jou vassit!

Die Blousyselbos is inheems aan Suid Afrika en kom voor in die Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal asook in Gauteng en aanliggende dele van die Vrystaat en NoordWes Provinsie. Was voorheen bekend as Plumbago Capensis.

As informele heiningplante vir groot tuine is hulle beslis ’n goeie keuse. Die struike sal sonder inmenging van ’n tuinier met groot gemak ’n volwasse hoogte van meer as 3m bereik en 3m breed word. Met minder ruimte en ’n skerp snoeiskêr kan jy die lieflike inheemse blousyselbos ook in klein tuine plant en ’n lae skerp geknipte heining kweek, ’n netjiese spesimen-struik vorm wat ’n onooglike plekkie moet afskerm, of jou selfs oorgee aan die siersnoeikuns en hulle oplei in die vorm van hoogstamboompies. Hulle is ewe mooi in potte as hulle netjies gesnoei word, gereeld met ’n vloeibare misstof bemes word en baie water kry wanneer dit warm is.

Die plant se loof is fyn en saggroen. Die blomme is poeierblou of wit en herinner aan die outydse, suikersoet en taai floksies in Ouma se somertuin waarvan ons as kinders altyd die soet nektar uitgesuig het en oorbelle gemaak het.


DIE BLOM
Ons weet almal van ’n tuin v-o-l blomme,
elkeen sy eie kleur, sy eie geur.
Nou, ons elkeen soek die perfekte blom,
maar ken jy die een,
wat saam met jou huis toe kom?
Sagkens soek,
ek moet versigtig wees ek sien jou raak,
dit moet! jy wees.
Alles wat ek in ’n blom kon kry vind ek in jou,
kom saam my! Doudruppeltjies klein,
en druppeltjies fyn op jou blare,
mooipraat, pyn.
Om jou wortels met my hande gegrawe jou losgemaak,
uit die aarde,
outhede begrawe.
In ’n pot goud jou weer geplant.
Altyd!, sal ek jou water gee vir wind en onkruid,
sal ek sê nee!
Want in ’n huis van glas is waar jy sal bly
vir ewig en altyd, ek en jy!
- Jan Allerman


.

Die langste reis begin met die eerste tree... so sê hulle...

~Foto vanaf Wikipedia~ 

Daar is soveel bestemmings en ontdekkingstogte om van te kies vir 'n reistog dat dit geweldige beplanning vereis om te besluit waarheen jy wil gaan.

Maar vandag wil ek nie praat oor 'n reistog na Namibië of Switserland of na die bosveld nie - die reistog waaroor ek wil gesels is dié van die ontdekking van jouself - hoeveel van ons weet presies wie of wat ons is? Of wáár ons in ons lewens is? Ken ons onsself en is ons lief vir onsself?

~Foto vanaf Wikipedia~ 

Soos hulle sê, "die langste reis begin met die eerste tree...". En om net daardie eerste tree te neem is die belangrikste besluit wat sal lei na die skepping vou jouself, 'n skepping van die self wat sal lei tot wie en wat jy is.

Soveel mense verlang dat jy jouself op 'n sekere manier moet gedra sodat hulle goed kan voel oor hulself. Hulle veroordeel jou vir jou selfsugtigheid. "Hoe durf jy so selfsugtig wees as om te doen wat jou laat goed voel? Jy moet doen wat ons laat goed voel!"

Jy is van jongs af al oortuig dat jy nie slim genoeg is om te weet nie en dat iemand anders jou besluite moet neem... Jy kon nie in hierdie kultuur en tye leef sonder om massiewe inligting daaraan verwant to ontvang nie, net soos mense reageer op wat jy doen en sê.

Dit maak nie eintlik saak watse geloof enigiemand volg nie. As hulle leefwyse vir hulle werk (en daar is baie verskillende benaderings wat baie goed werk) dan hoekom nie hulle toelaat om te glo wat hulle wil glo nie en te wees wat hulle wil wees nie? Alles werk soos dit is en moet. Daar is gelowe waarmee jy niks te doen sal wil hê nie wat perfek werk vir dié wat daarmee betrokke is. En derhalwe is dit dan 'n goeie ding. Elke geloof op die aarde het die potensiaal om te floreer (en daar is sovele meer as waarvan ons bewus is), maar wanneer jy dink jy moet bewys dat jóu geloof die enigste een is wat reg is—en jy gebruik jou veroordeling om daarteen te veg—dan skei jou veroordeling jou van jou verbinding met jou eie geloof.

~Foto vanaf êrens op die internet~ 

Die wêreld neig na uitdruklike gelykvormigheid of eenvormigheid, wat enorme ergernis en droefheid vir die mensdom veroorsaak. Dit is die kern van alle geloofsstrydslagte en geloofsstrydslagte is die kern van al ons strydsslae. Met ander woorde, al die oorloë en globale irritasie wat ons met mekaar voer gaan oor ons vasbeslotenheid om gelykheid en eentonigheid te bewerkstellig. Ons demokrasie hou vol dit is die enigste regering wat reg is en elke geloof (interessant genoeg) hou vol dat dit die enigste een is wat werk.

Dit maak nie saak wat enigiemand anders doen nie - wat jou karakter is en waar jy jou bevind in hierdie lewe sal bepaal wat jy is en wat JY doen - Jy kan vrylik kies om nuwe paaie van vreugde te ontdek. In vreugde sal jy groei; en in jou wasdom sal jy bytel tot Alles-Wat-Is. (Ewenwel is jy ook vry om gebondenheid of pyn te kies... maar enige iets wat enigeen kies is omdat hulle glo dat dit hulle beter sal laat voel.)

Niemand kan keer waarheen jy jou gedagtes lei nie. Daar is geen einde aan die vreugdevolle reise wat jy kan ondervind nie. Op die paadjie na jou geluk sal jy alles wat jy wil doen, wees of verlang, ontvang.

(Deur ander hul eie reistog toe te laat, laat jy joune toe.)

.

Friday, 24 July 2015

Winter-vreugde in my hart


Winter is baie spesiaal vir my – ek’s altyd vreeslik bekommerd oor hoe die voëltjies dit gaan deur maak, met die gevolg dat ek elke winter bakke en bakke kos uitsit vir almal en die kraaie in ons omgewig is altyd gou om te snap wat aangaan met al die rond gemalery van voëllewe in die tuin.

Met hierdie “winterskets” van my het ek Liz gevra om ‘my gedagtes’ in vers vas te vang en ek is in ekstase oor hoe raak sy dit gevat het!

’n Oomblik vir Altyd

Blaarloos teen die helderblou
skryf kaal takke bewend’ winterwoorde
my oë volg ’n kraai
wat deur dié ylblou hemel draai
en in die lou son sy sit kom kry
sy vere pikswart teen die grou
van Afrika se winterkou’
ek’s stom
my woorde stol:
selfs dié seisoen van ys en wit
het met vreugde in my hart kom sit
- Elizabeth Kendall©

.

Saturday, 18 July 2015

Saadjies van dankbaarheid


Gister was die koudste dag wat ons nog hierdie winter hier in Gauteng beleef het - 11°C met 'n ysige wind wat murg en been deurdring het. Gauteng het die wonderlikste, gematigste weer in ons land, maar as Moeder Natuur in die Kaap 'n tantrum gooi, ly ons hier daaronder!

Maar die koue weer bring dankbaarheid vir dít wat ek het - 'n warm huis om in weg te kruip, 'n warm koppie tee om te geniet saam met 'n goeie boek en 'n kniekombersie om die bene warm te hou.

.