Tuesday, 29 December 2015

Ons Afrikaanse skryfwerk

Vandag wil ek jou vertel van die pragtige skryfwerk in 'n groep waaraan ek behoort op RedBubble


Elizabeth Kendall se digbundel Huppel op die Hoogland

’n Baie belangrike en interessante aspek van ons groep is ons Afrikaanse skryfwerk kategorie onder Writing. Ons groep het waarlik baie talentvolle skrywers en hier kan jy goeie Afrikaanse skryfwerk in alle genres beleef – ons het iets vir almal.

Ek hou van lees. Ek hou van die gevoel wat die lees van boeke my gee. Ek hou daarvan om ’n boek wat ek vir die eerste keer in my hande hou, oop te maak en dan my gesig daarin te laat sak om te ruik hoe dit ruik. En dan dwaal my gedagtes na die proses agter die boek – die ure wat die skrywer daaraan spandeer het, die maande en partymaal jare se naslaanwerk, die interaktiwiteit tussen die skrywer en die uitgewer. En ek kry ’n gevoel van verwondering en eerbied vir sulke toewyding en talent…
Ek het baie maal al gewonder, “wat maak ’n goeie skrywer?” Met ’n bietjie naslaanwerk het ek op ’n paar wenke afgekom :
  1. Lees, lees, lees.
  2. Skryf enigiets, maar skryf elke dag. As jy ʼn kampioentennisspeler wil wees, oefen jy gereeld. So ook met skryf.
  3. Skryf is luister en kyk. Hou jou ore en oë oop. Wees nuuskierig.
  4. Elke skrywer het ʼn unieke stem. Ontdek jou stem, ontwikkel dit en bly daarby. As jou stem regtig goed is, sal jy gepubliseer word.
  5. Herskryf tot sewe maal, indien nodig. Versorg jou skryfwerk tot dit eksie-perfeksie is.
  6. Hou aan probeer. Moenie dink jy is te jonk of te oud om te skryf nie.
  7. Almal het tyd om te skryf. Dit neem een minuut om ’n sin te skryf.
  8. Skryf oor dit wat jy ken, of ervarings wat na genoeg aan jou eie ervarings is.
  9. Bly getrou aan daardie passie ten spyte van moontlike terugslae.
  10. HOU NOOIT OP MET SKRYF NIE!

Ek sien op Facebook het die Boekrakkers van die Lekkerlees Boekrak almal foto’s van hul werkplekke geplaas. Al wat leef koekeloer nou of hulle iets op daardie uitstekende skrywer se lessenaar sal kan opmerk wat, as hulle dit sou nadoen, dit vir hulle net dalkies so ’n bietjie van daardie glorie sal bring.
Baie groot skrywers poseer agter op hulle boeke in hul studeerkamers waar die groot meesterstukke gebeur. Jy gryp ’n vergrootglas en kyk of jy kan sien presies watter naslaanwerke daar op die boekrak agter die lessenaar is wat jou dalk kan help om ook soos hulle te kan skryf.

Voel jy dat ’n indrukwekkende studeerkamer of die rakke vol goeie naslaanwerke en die beste tegnologie tot jou beskikking eendag van jou ’n puik skrywer gaan maak?

Hier volg ’n paar voorbeelde van wat jy daar in ons groep kan ervaar :


Skadu by Rina Greeff


Hadeda Ibis by Elizabeth Kendall

’n Nuwe dag
‘n hadida skeur die nag se swart in twee
ver dreun ‘n motor op die teer
en ek sluk warm koffie
uit my boepensbeker
stadig vou die dag sy ligblou lakens oop
die mossies kwetter en vinke fluit
dorpsduiwe koer-koerdoek nog ‘n keer
as Maandagmôre goue sonstrale begin strooi
oor die liggroen van my Ma se akkerboom
en oor ons huis, so lou en loom
- Elizabeth Kendall ©


Electricity Pylon by DebbyTownsend

Die Weerkaatsing
Jy het saam met my ‘n gedagte geword, saam is daar aan ons gevryf en geverf. Toe Hulle klaar met ons gespeel het, het glas ons geskei.

Ek het jou beny, daar binne die skoon blink glaskas, want niks kon aan jou raak nie. Somerduiweltjies het nie jou wange drooggebraai nie, en Winterasems kon nie jou goue hare slierte maak nie. Almal het jou bewonder, elke Sondag na jou kom staar, want stof het nooit jou oë laat traan nie.

Die traan was altyd daar, die blink het dit net baie goed weggesteek, maar in die maan se sagte glimlag het jou blink verdwyn en het ek vanaand vir die eerste maal die seer gesien…

My seer vee ek met ‘n sakdoek af, lees ek met ‘n sprokie weg, maar jou silwer traan sal vir altyd jou wit wang versier. Môre sal ek weer kan glimlag tot dit seer word, maar wie lag as hartseer in jou ingebrand is?

Waarom maak hulle “altyd” so lank, nou so kort?

Netnou kon jy amper glimlag, want die glas was blink en jy was ek…

… maar hier in die maan se sagte stem hoor ek jou lag met pyn, want porselein is veel kouer as venyn. Ek beny jou nou deur ander se oë omdat ek in my hart kon sien hoedat jy vry wil wees. Hulle weet nie hoe graag ‘n harlekyn wil glimlag nie, vrolik wees en vlieg nie.

Dan kan ek asemhaal…
Maar jy…
As jy nie kan lag nie
Kan jy nie lewe nie.
- Joanne Sandoval


Kontrei Kiekies – Oupatjie op die stoep by Rina Greeff

Bosbede
Ek wil so graag vir jou
die môredou se kieliespoor
in ’n web vasvang -
uit my mond se silwer grot
’n skitterdraad spin
wat net vir jou sal blink
en waaraan jou voete
nie sal kleef nie.
Ek wil pangapaadjies kap,
sodat niemand wat onversigtig stap
dalk die fyn spinsel
sal breek of versteur nie.
Ek wil so graag vir jou
die wind
deur watervaltakke se ruis,
knipperlig
en die plonsglimp van vin
vir jou gewyde oë wys.
Ek wil met ’n naaldekokerlyfie
flitsend om jou bene dans
en geel en pers geblaar
jou lyf mirrerank.
Ek wil so graag
die maan se trom
tot by jou vuurtjie bring
en saam met jou
die geheimenis
van verborge lewe
in ’n hol wilger vind -
dit heilig voel klop
teen my bors.
Ek wil so graag jou oë poel
teen die hang van gladmaag rotse
en myself was
in jou klippertjie filterstroom,
sodat ons weer skoon -
in vernuwing gespoel,
die blou van vrede
kan asem.
- vanitastic


Canna indica by Elizabeth Kendall

Winterwoorde
Winter is bruin kannas teen die buitemuur. Winter is woorde in wasemwolkies. Winter is handskoenhande en warm serpe. Winter lê wit in die tuin tussen koue klippe en vaal gras.
Winter wag vir niemand nie. Dit kom by die voordeur, die oop vensters en die sleutelgat ingewaai. Dit kom klim in jou bene, jou stram vingers, jou kaal ore. Dit kom kielie jou ruggraat, jou nek, jou tone. Winter kom vat aan ‘n mens se lyf.

Winterkos is warm kos: boontjiesop en murgbene, bekers Milo en stomende koffie, kerriekos en warm brood, varsgebak met regte botter en druiwekonfyt, dikgeplak.

Winter is pannekoek met baie kaneelsuiker en saans ‘n slukkie sjerrie, sommernet.

Wintersklere is toemaakklere: wolsag en warm, nog ‘n mou, laag op laag soos die tydskrifte sê. Winter is ‘n kniekombers van sybokhaar, ‘n gansdonsduvet oor die bed, ‘n warmwatersak vir koue voete, wonderlike lugreëling in die voorste kamer.

Winter is omgee, dis uitdeel aan mense wat bewend op straathoeke staan met honger oë. Dis nog ‘n dik Koöperasiesak-sak in die hond se hok. Dis ‘n ietsie ekstra vir die getroue ou tuinjong. Dis rondkyk na nood om jou. Winter is troos in ‘n stukkie brood of ‘n ekstra kombers, grys soos die winterlug vanself.
Winter is mooi op sy eie manier: kaal silhoeëttakke teen ‘n ysblou lug, tortelduiwe wat wag dat die ys water moet word in die voëlbak langs die bamboesgras. Kinders wat hande vashou en touspring, hul serpe waaiend in die wind. Bruin blare wat stadig grond toe val en doodstil bly lê. ‘n Gesellige vuur in die kaggel: knetterend, knus.

Maar winter is ook hoop. Wanneer alles morsdood gevries en yskoud om jou is, kom lente sommer net weer eendag aangejubel met haar vrolike, helderbont rok. Sy dans oor die bome, die blomme en jou bevrore menswees. Sy huppel en jubel en verf die dae warmgeel en oranje. En sommer so, sonder dat jy dit agtergekom het, het winter stil-stil verdwyn, by die agterdeur uitgesluip en in ‘n ander land gaan nesskrop, baie ver van hier.
Elizabeth Kendall ©


Kontrei Kiekies – Die Wieleman by Rina Greeff

gisteraand het die wind
gisteraand het die wind bolwang geblaas
met sy vuis teen my venster kom raas
verwoed en verward aan ‘n boom gepluk
en rukkend ‘n paar druppels gesnik
hy het eenkant gaan sit en vir ‘n wyl
om die hoek van my huis begin huil
toe ‘n hopie blare bymekaar gemaak
eindelik in die ritsel aan die slaap geraak
© Jan J van Staden


A door to the past by Rina Greeff

Die lewe gaan aan
Die koue wind huil om die verlate hoeke van die opstal en sny deur die alleenlyf mensehopie wat hurkend teen sy aanslae skuil. Dit waai haar hare uit haar gesig en byt aan haar nek en ore, knaag aan die ontblote, naakte vel waar eens, in vergange passie, sy asem warm was. Bleekwit hartseertrane yskristal op haar wange en die hande wat warm aanslae op ‘n lyf kon maak, is in vuisies voor haar mond gedruk. Hulle smoor die snikke wat wil uitbars. Iewers het die vol rondings van haar lyf, wat sy sinne so bedwelm het, verander in ‘n brose, beenmaer mens merk hy op terwyl hy stilstom na haar staar.

Sy lig haar gesig en kyk hom swyend aan. Die blinkbly oë wat hom tot slaaf kon dwing, is nou dowwe nikssiende spieëls wat die onreg en hartseer in sy gesig terugkaats. Geskok snak hy na sy asem toe hy in hulle kyk. Is dit wat van haar geword het? Is dit wat oorgebly het van die vrou wat hom verafgod het? Die vrou wat jare lank saam met hom hierdie grond bewerk het?

Dit voel soos gister toe hy haar met trots na sy plasie gebring het. Vol beloftes van oeste wat gaan wees en vet jare waarin hy vir haar sou sorg. Haar vrolike lag as sy tussen die lammers is of haar singende stem wanneer sy besig was, het hom altyd moed laat skep. Nooit het sy gekla of iets vir haarself gevra. Net altyd aan sy sy gewerk. Saam het hulle die lug dop gehou vir wolkie wat reën moes bring, saam gejuig die enkele kere wat dit wel sou kom. Saam gejuig oor die seun in die wiegie en ‘n paar maande later saam langs sy graf gestaan.

Hoe is dit dan moontlik dat hy nooit agter gekom het hoe sy vrou onder sy oë wegkwyn nie? Was hy dan werklik so besig om ‘n verlore stryd te stry dat hy van haar vergeet het? Hy het wel opgemerk dat sy stil word, dat die musiek verdwyn. Hy het opgemerk dat sy nie meer vrae vra nie. Heimlik was hy verlig, want nou was dit nie meer nodig om kortaf antwoorde te blaf nie. Hy kon maar net swyg en treur.

Hoe meer hy dink, hoe duideliker weet hy nou dat die tekens reeds lankal daar was. Sy vrou wat nooit ‘n rit dorp toe gemis het nie, het skielik allerhande verskonings gehad hoekom sy nie kon saamgaan nie. Sy het nie meer gaste oorgenooi nie. Selfs Jan, die plaashulp het nou die dag gevra hoekom mevrou so alleen bly en met niemand praat nie. Hy het dit as moegheid voorgehou. Jan se antwoord op sy vraag wat Mevrou dan doen as hy dorp toe gaan, was nie vir hom vreemd nie. Mevrou sit by die graffie van die baba Meneer, dan gaan sy huis toe en niemand sien haar nie.

Terwyl hy na die hopie mens voor hom kyk, voel hy die selfverwyt. Hy was so vasgevang in sy stom hartseer oor sy kind en die plaas en die droogte en die gesukkel dat hy nooit sy vrou beskerm het nie. Nooit gedink het dat sy ook treur nie. Dit was dan sý seun, sý erfgenaam vir wie hy die plaas opgebou het. Na die kleintjie se dood het hy soos ‘n outomaat deur sy dagtaak gegaan. Gedoen wat hy moes, maar nie met die vuur van vroeër nie. Daar was geen sin meer in nie.

Die droogte het die laaste oes tot stof verdor en die diere moes verkoop word. Hy het nie meer omgegee toe hulle die plaas ook moes verkoop nie. Net stom gestaan en kyk hoe sogenaamde vriende skynheilig simpatiseer en dan met winskopie pryse sy besittings as eie opeis. Nadat die laaste mense vertrek het, het hy na haar kom soek en nou kyk sy vrou met dooie oë na hom, steek die stil verwyt soos dolke in sy hart. Dis net hy en sy en die huis op die dorp wat wag.

Stadig staan sy op en sonder om te praat, stap sy by hom verby. Hy kyk haar agterna toe sy by die graffie stilstaan, sien iets blink en hoor die knal. Hy sien hoe haar liggaam slap oor die graf val, sien hoe die rooi bloed die spierwit steen vlek. Dan sak hy inmekaar.

Hartaanval vertel die manne aan mekaar waar hulle by die koöperasie oor hom praat. Skuldige gewete fluister die vrouens nydig waar hulle by die tuisnywerheid skinder. Tragiese gebeure sê Mevrou Dominee wyl sy vir Dominee sy middagtee en ‘n koeksister aangee en hy meerwaardig knik. Blink Stefaans bly een minuut stil voor hy sy glasie in die kroeg lig en ‘n heildronk drink op die winskopieprys wat hy vir die grond betaal het. Die lewe gaan aan.
- JuffrouGawie


Serengeti Sunrise by Owed to Nature

Doringboompie
Ons hoor almal oor die nuus van
jou, maar dit dring nie
tot ons vuisvoos verstande
deur nie…
Jy, Willemientjie, roosknoppie,
rooikoppie vermoor, tereggestel
drie jaar oud
Die hartseer stoot in my keel op
saam met die naar van die haat
wat in my opwel, opwel
teen hulle, barbare, moordenaars
van kinders
dan die dankbaarheid, skuldgevoel
dat ons tog weereens gespaar is,
dat dit nie ons fotos in beeld is
nie, dat ons kleinkinders nog
veilig is…
Maar hoe lank, hoe lank Here
gaan ons dit nog gelate aanvaar,
verdra, vuisvoos magteloos en
kragloos?
Ons hoor oor die nuus van
jou, maar ons sug verlig, dankie
tog die nie naby ons nie, ons
ken jou nie, dankie tog……
Daar het n doringboompie by die
pad gestaan,
stammetjie amper middeldeur
wanneer beur ons weer op, wanneer druppel
die gom oor die seer van Willemietjie se
oupa en ouma Here, hoe lank nog,
kragloos?
- Antionette


A lonely fence in Australia by Elizabeth Kendall

Ai tog!
Doringdraad
Maak my kwaad
Die simpel ding
Het losgepring
En ’n onverdiende gat
Uit my nuwe broek se pyp gehak!
Nou strompel ek oor
Nog ’n geploegde voor
En my hart, eens vol moed
Pomp nou net moeë bloed
Want die boer – sonder plan -
Het daar oorkant nóg ’n draad gespan!
© Leoni Venter 13 Oktober 2000

Sintuiglike verlededrome
Die vars gebakte brood
en pangebraaide wors…
borrellende dampe
in my geheue fontein;
Meng dít, met die geur,
vars koffie op die stoof
en Ouma se kombuis
kom na vore.
Vroegoggend geluide
van vrolike voëlgesang
en die hanslam op die werf
Oupa wat wysieloos
loop en fluit – bring opnuut
die onthou in my ore,
herinneringsbeelde
van groen lusernlande;
wit merino’s teen
die berg se hang;
blouselblou hemel
en die rooi sleepwa;
Oupa se growwe hande
omvou my handjies klein;
Die hande van Ouma, so sag
troos die einaplekkies;
koolstoof hitte
teen die winternag se kou;
Dis dié gevoel
wat ek steeds onthou…
Appelkose, perskes,
gemmerbier en romerige melk;
Ouma se melktert op die tafel
en soet patats vanaand…
Smake uit die verlede
toegevou
in my
onthou gedig.
- JuffrouGawie



Ma-wees
Vier kinders is ‘n huisvol. En ‘n hartvol. Mens se hart het vier kamers. Daar’s oorgenoeg plek vir elkeen. Al is hulle lankal al gespeen. Hulle klou vas aan jou soos klitsgras.

Of soos die soet reuk van die verbleikblom. Hulle menswees kan nooit uit jou hartsgedagtes uitgevee word nie. Nie eers deur ‘n wilde orkaan of ‘n stormsterk tornado nie. Hulle sit. Soos toffie aan ‘n wolkombers. Binne-in jou hart vir vreugde of vir smart.

Solank as jy lewe sal jy hulle liefhê, meer as woorde. Jou liefde is om hulle, langs hulle, onder hulle. Jou liefde vir jou kinders is jy. As jou kind seer het, pyn jy in die oortreffende trap. As jou kind bly is, verander jy in ‘n sorgelose siel en geheel die lewe is ‘n stuk saligheid.

Meer as dikwels deel jy jou kinders se doen en late met jou manmaat. Sy skouers is jou vesting, ‘n sterk bastion teen enige onverwagse aanslag. Sou stormwinde jou van koers af wou dwing of vrees jou oorval. Jy spyker jou woordelose kommer in flardes en flenters teen sy omgeehart se mure vas. Want déél maak einas makliker, sagter, beter. Deel maak ook vreugdes voller. Saambid is ‘n toemaartroos.

Soggens bid jy jou kinders op koers. Saans druk jy jou gedagtekombers agter hul rûe vas. Jy is bly as hulle oor jou drumpel trap. Jy jubel as Skype-beelde mense van vleis en bloed word. Iemand aan wie jy kan vat, kan vashou, kan bekyk en beluister. Jou selfoon swyg vir ‘n paar dae, sms’e is nie nodig nie. Jy troos jouself met sagte herinneringe as hulle weer koers kies na hul eie nes.

Jou lewe word ‘n kuierbymekaar met wisselende stiltes tussen-in. Soms lang afwesighede, afhangende in watter kontinent ‘n kind hom bevind. Jy sien jou eie kleuterfoto’s in kleinkinders se gesigte. Jy hoor jou ma se lag in jou kind se stem.

Jy loop haal jou Pa in die hemel en vertel hom iets moois wat ‘n kind gedoen het,
iets wat jou trots en bly en gelukkig laat voel het. Jou gene vloei in die been van jou gebeente en die vlees van jou vlees.

Snags as wakker om jou skouers kom hang, skryf jy liefhêstories en verse oor nabywees.
Oor ma-wees en kindwees. Jou kinders kom klim in jou hande. Met sagte vingers tik jy soet sleutelbordwoorde. Jou liefde vou hulle toe. So lank as jy lewe. So lank as hulle spore op die aarde trap.
Elizabeth Kendall ©


Windpomp in die Karoo by Maree Clarkson

Windpomp
ek luister elke môre
na jou haai hartklop
wat meer en meer
dorre smeke nog pomp
saans is jy stil en jy staar
so asof jy nog wag,
wag vir die liefde se draai
om deur jou hart te waai
© Jan J van Staden

Langs die Pad…
Twee minute na nou, so kwartvoor more, sien ek hom staan langs die pad.

Stormwinde skeur om die hoeke by die kruispad. Daar waar die yskristalvingers van vriendelikheid stomend ‘n ewige stryd voer teen die lekkende vlamme van haat.

Dit is hier waar ek, kort agter hom, dieselfde ure van angs sal moet uitsweet. Hoekom is dit dan so moeilik? Dit is tog so maklik om van hier, die regte keuse te maak.

Nee! Hy begin wankelend die warmte in met vlamme van verwarring wat smeul in sy oë. Hy struikel oor die growwe pad en verdwyn langsaam in die vuurpylrooi gloed van oneindige vrees.

Hoe kan ‘n soldaat, wat sy lewe vir sy land gegee het, die hel se vure verdien? Wat verdien ek, wat elke sent uit die hand van armes geneem het, dan? My bene word weer kleuter, en ek het verleer om ‘n tree te gee. Ek voel die pyn van onsekerheid toe ek opkyk…

Die twee paaie is nie meer nie, maar twee wonings verruis uit die onsigbaarheid van onheil. Blougrys mure van ‘n vervalle ou herberg verdwerg teen die goudrooi glans van ‘n luukse wolkekrabber. Deftige mense met ‘n gloed in hul oë wink vanuit die asemrowendhoë vensters en meteens is ek seker dat iemand soos ek, in ‘n plek soos hierdie hoort. Ek sal nie die lewe verspil met werks-sweet in ‘n vervalle herberg met arme dromende mense nie.

Met my volgende tree omhels die grondpad my hardhandig en ek hoor iemand ager my uitroep. Ek beur orent en kruip vorentoe totdat ek die rooiwarm stoomvingers teen my seer gesig kan voel.
Weer eens ruk die benoude roep my op. ‘n Jong meisie, sowat ‘n minuut na netnou, staan met haar hande voor haar mond. Sy is duidelik ‘n gevangene van vrees, maar nie vir haarself nie. Sy beduie iets, iets na die verlate pad.

Uitasem stoot ek die goue deure oop, maar pyn skiet deur my vingers soos die handvatsel daarteen brand. Toe gee die deur mee, en ek kom op die vloer te lande.
‘n Angskreet laat my opkyk, in die oë van Lucifer.
Agter hom, in die poel van vuur, erken ek hom…
…die troepie langs die pad.
- by Joanne Sandoval

Mañana Afrika
‘Manjana’ beteken “chill out, calm down, take a break…” as jy oor die Karibiese strande lê en uitkyk.
‘Mañana’ is Spaans vir “not today”, “maybe later”, "until tomorrow…”

In Suid-Afrika sê ons: “We unfortunately do not have a word in our eleven languages that express such urgency…”

Dis een ding waarvan ons baie het in Afrika: tyd. Dis ons voorreg. Maar ons weet nie hoe om dit reg te gebruik nie. Oor ons vergeet ons is boorlinge hier, ware Afrikane, nie westerlinge nie. Oor ons vergeet van ons Afrika-son, en ons Afrika kleure en ons Afrika geure, oor ons vergeet om stil te staan en dit net in te neem. As ons, met ons wit gesiggies, soms wonder wat die doel was, dat ons vlugteling-voorvaders ons hier in ‘n godverlate land kom plant het, onthou dan van mañana.

Een minuut diekant toe en een minuut daaikant toe, is leeftyd. Mañana-tyd. Dit is die tyd wat jy kan waarneem wat om jou aangaan, kyk of jy in ander se harte kan insien, of om net bietjie binnekant toe te kyk. Dis altyd waardevolle tyd, enige plek in Afrika, enige tyd in Afrika…

Adem die vars seelug se sproei diep in. Proe die somer sweetdruppels op jou bolip. Voel die Bosveldson se bruin op jou vel. Ruik die besembossies se veldparfuum. Stap kaalvoet in ons rooi Kal’ari-sand. Sit net ‘n bietjie langer stil op een plek en hoor die boom-eekhoringkies se tandjies op krummels knars…
‘n Mañana-oomblik is goud werd.

Die afdak waar die my mansmense werskaf, is fluit-afstand van die spreekkamer af, net anderkant die groentebeddings. Manlief sweis so nou en dan, as dit ‘n stil dag is, wanneer ons tuinboukundige sy graaf of die grassnyer se lem of die sproeierkoppe gebreek het. Of ‘n skuinsplaat maak dat die Jack Russel en die eende nie onder die hekkie deurkruip nie. Sulke goed. En manlief het ‘n grinder, waarmee hy liewer versigtiger moet wees.

Niël het uit sy tienerklere gegroei, en uit sy tekkies uit, en uit sy krieketkolf, en uit sy fiets gegroei. Manlief en Martin “diens” toe die fiets, want dan kan Simson, die tuiningenieur, dit maar kry. Nog splinternuut, die ketting moet vervang word, check die brieke, so aan. Maar die manne se ratte krap so bietjie,dis warm, almal is nie altyd ewe geduldig nie, en Manlief weet ek gaan nou-nou weer vir hom wink, oor die mense al sit en wag.

Terwyl hulle twee stoei om die dinge reg te maak, kom die volgende pasiënt al aan en gaan sit. ‘Fall in line’. En wag. Hulle is op Afrika-tyd. Dis net, as die pasiënte te lank wag, dan skakel ek ongelukkig weer terug na Greenwich-tyd.

Die een windgat pasiënt maak heeltyd opmerkings oor hoe ek moet maak dat die blindings nie skeef hang nie, en oor die lugversorger en hoe ek dit moet en hoe ek dat moet. Klink na ‘n handige een. Hy’s eintlik net hier om gou sy bloeddruk te ‘check.’

“Mister Seseng, you are so clever about everything, do you know anything about bicycles?”

“Oh yeah… I can fix almost everything. Why?”

Nommer Een… om jou stil te kry. Nommer Twee…

“Then maybe, you can go and help the doctor and his son to fix Simson’s bicycle, and then all the patients do not have to wait…”

Ek wys hom waar die twee langs die afdak staan en sweet. Hy staan op, kom loer by die deur uit, kyk vir so ‘n sekonde of twee, en gaan sit toe weer ewe rustig. Hy sal liewer wag.

Almal kyk hom vraend aan. Hy trek net sy skouers op.

“No-o-o-o-o… let them bond…”
- filiola

Fortunata
“Wat het Pa dan gedink? Het hy ooit gedink… die goed is soos snot!”

Hy marsjeer kniediep deur die stinkende moddermoeras, swaai ritmies en oordadig soldaterig met sy tiener-arms.

“Seker: Ek… kan…hier…deur… Ek…kan…hier…deur… Ek… kan…hier…deur…”

Ons grinnik net oor Niël se grootbek. Dis net oor hyself tot by sy knieë in die gemors is.

So vyfuur se kant het Stoffel ons almal in vroulief se Toyota Fortuner genooi, hy gaan ons die plaas wys. Hy wil eintlik vir ons die ‘weir’ gaan wys. Ek’t maar later uitgevra, gehoor dis ‘n keerwal.

Ons het al met die landmeter se oopstootpaadjies gery. Hulle wil ‘n gedeelte langs die plaas aankoop, so 100 morg. Daar is ook ‘n spruit, wat goed sal wees. Stoffel sal graag wil weet hoeveel water is nou al agter die keerwalle opgedam, met die onlangse reën. Op die bestaande plaas is gevestigde macadamias en koejawels. Tussen-in bly hulle besig met broodbome kweek en hy maak unieke meubels van ‘sleeper’hout. Wil nog ‘n paar honderd vrugtebome aanplant. Soos wat die mark bepaal.

Soos ons deur die mini-dongas boendoe-bash, vul die veldparfuum van bloekom, wilde dagga, lantana en kakiebos die lug.

Die paddas begin krakerig kwaak.

Hulle wys ons waar die koedoes die jong boompies se groeipunte afeet. Dis skade.
Stoffel het voor die spruitjie stilgehou.

“Gaan kyk maar eers…”

Kom hier vanuit die agterste sitplekke. Hy gaan kyk. Loop tot anderkant en terug. Klim met sy modderstewels terug in vroulief se nuwe bakkie. Hy lyk tevrede. Vroulief lyk minder tevrede. Ons ry deur. Halfpad deur. Die Fortuner sak met ‘n sug in die borrelende modder van die bedompige rietspruit in. Tot gelyk met die trapplate aan die sykante van die bakkie…
“Reverse!”

Dit werk nie.

Dit begin skemer raak.

Ons stadsjapies gee allerhande wenke wat ons eens op 4×4-kursusse oor ‘recovery’ geleer het.
Dit werk nie.

Charmaine gee haar man se selfoon vorentoe aan. Die battery is pap. Sy gee haar foon vorentoe. Aan die einde van ‘n lang werksdag op die plaas, is haar foon se battery ook papperig. Hy kry nie antwoord nie. Stuur die foon weer terug agtertoe, sodat Charmaine kan kyk of sy vir Niël in die hande kan kry.
“Sê vir hom hy moet die bakkie bring, en drie biere en die boot se tou. Van die ‘Dos M’ wat ons van Mosambiek af gebring het.”

Die boer en sy stadsjapie-vriende durf die modderasie aan.

Steeds nie antwoord nie. Sy probeer vir Sussa bel sodat sy haar broer die boodskap kan gee. Die kinders is seker voor die TV of op die rekenaar. Of lê op die selfone. Koshuiskinders kan nie naweke sonder hulle vriende klaarkom nie. Toe probeer ons vir Willie bel sodat hy sy niggie in Witrivier kan Mxit van Pretoria af. Dat sy haar Ma moet bel.

Niël is ‘n uur later op pad met die bakkie. Die drie dorstige mans reken ons vroumense moet uitklim, en dan saam met die kind terugry huistoe. Ons sê ons sit net hier. Eerstens, daar is kniediepte moerasmodder. Ek sien al hoe abba hulle ons, soos Jan van Riebeeck se slawe die vrouens aan land gedra het. En tweedens, wie wil nou al hierdie sports mis?

Niël-kind kom in die skemer na ons toe aangestap. Die Toyota Hilux het net om die draai vasgeval. Presies daar waar hy laasweek met sy veldfiets vasgeval het. Al die manne pak ‘n tekkie. Kom later bedees terug. Hulle kry nie die bakkie uit nie. Dit het nou nog verder vasgeval, hang sommer so skuins.
Stoffel bel teen sy sin vir Danaman. Hy weet sy broer gaan nie beindruk wees as hy hom vra om die trekker te bring nie. Boet Danie blyk in ‘n goeie bui te wees. Ons hoor dofweg hoe hy iets sê soos, dat hy dit graag sal wil sien. Hy’s op pad.

Hy kom daar aan met die Ford Ranger.

Die manne haak die boot se tou en die enjins begin dreun. Blou rookwolke en stoom borrel.
“Dit was my nuwe ankertou!”

Die Fortuner het nie ‘n millimeter geroer nie.

“Kom ons gaan kry die trekker…”

Niël-kind ry saam met Danaman.

Toe is dit net ons, die blinde Laevelddonkerte, krieke en ‘n paddakoor.

Kobus shloff deur die modder, kom staan bakhand by Cristelle se venster en maak versigtig sy hand oop. David roep van anderkant die wal af, dat ons by die vensters moet uithang en bokant die voertuig kyk.
Vir enige mens, of dit kind of grysaard is, is die sig van vlamlyfies ‘n gedagteflits terug na ‘n wêreld van fantasie. Wat jou wegneem uit die werklikheid…

Hierdie kewertjies kom in die lente uit, bly ondergronds, onder boombas of in natterige, klam areas. Soos vleie, spruite, poele, bosse, woude en moerasse. Sommige spesies kan onderwater leef. Hulle is meestal jagters: eet wurms, slakke, miere, motte en selfs spinnekoppe. Ander leef slegs van stuifmeel en nektar.
‘n Volle 100% van ‘n vuurvliegie se lig word uitgeskei as lig. Dit is ‘koue lig’. As mens dit vergelyk met ‘n elektriese gloeilamp, is slegs 10% van die energie lig waarvan 90% van die energie verlore gaan in hitte.
Elke vuurvliegspesie het ‘n unieke flitspatroon. Dink net, daar is sowat 2000 spesies!

Die sirkeldans van die vuurvliegies, wat met hulle geheimsinnige morsekode ‘n boodskap uitstuur. Met ons in die magiese middel…

“You would not believe your eyes
If ten million fireflies
Lit up the world as I fell asleep
‘Cause they’d fill the open air
And leave teardrops everywhere
You’d think me rude
But I would just stand and stare…”

Die Ford-trekkertjie kom brullend oor die bult. Niël sit op die modderskerm en hou die ‘spotlight’ vas. Danaman het die trekker se hoofligte lankal afgehaal, hy sê ‘n boer werk in die dag.

Hulle stuur ons vroumense vooruit met die Fortuner om die aartappels in die oond te gaan red. Gaan gou die Hilux ook uitpluk. Dan sal hulle die braaivleis op die kole kom gooi en nog ‘n paar Dos M’s afsluk.
Plaasjapies vergeet soms baie belangrike belewings as hulle stadsjapies word. Soos die vrede van vuurvliegies.

En dat ‘n boer niks van ‘recovery’ hoef te weet as hy ‘n trekker het nie !
- filiola

Kersfees 1985
Kersmiddagstap in Eerstelaan…
met poeierpienk kreukelbome
donssag blare
van bome wat droom
denne wat ruisend praat
blink water
- ’n yl stroompie versteek in groen gras -
stapels grysblou wolke
voëlvlugte
wat by al die vredigheid pas
en die helder klanke
van gelukkigweeslag
saam met die son se dans
in die blink van jou oe"
vandag toe jy hier by my was!
- Santie Amery

Briewe aan buurvrou #1 – antionette
September sing ‘n lied – Elizabeth Kendall
Blou herinnering – Pieta Pieterse
Stom – Karen01


’n Grys hadeda by Elizabeth Kendall


Leucauge festiva by Rina Greeff

Spinnekop Opskop
Toe ek so salig stadig ontwaak,
val my vakerige, vrede-
met-die-wêreld-oog
vol op die harige homp
van agt, aaklige bene,
‘n lelike lyf en kop; so doodstil,
uitdagend vas daar teen die kas.
Dromend lê ek; sê ek sagstem: “Sa!”
in die oor van diegene
wat die ‘Sa!’ moet hoor;
en terwyl die honde doen wat
‘Vat hom; vang hom; vreet hom!’
vir honde laat doen met hulle ma
se hitsige sê van ‘Sa!’, droom ek
ewe vroom, vol vere op die oor
wat niks van niemand wil hoor,
die vroegmôre voort.
Later, toe die sonlig skyn daar
waar dit behoort te skyn
op dié vreedsaam vakansiedag,
voel ek effens skuldig,
‘n skrapsie, net ‘n bietjie swynagtig;
versamel maar stukkies vir stuk
in sneeuwit snesies, been vir been,
poot vir…; ag wat, halwe poot,
en dra dit dodemarstreë vir tree,
honde op die hakke,
uit na buite na die drom waar
die sagte gedruis van die muggies-
muskietgespuis en vlieë-vlerkies
die oorskot oordadig verwelkom
in hulle ga-gogga se heiligdom.
Ek klap dié kis van rus
se deksel dramaties toe;
sê sedig en sielvol
die tatta-gogga-begrafnisrympie op:
“Jy was gewaarsku…:
mý wêreld is jou woning nie!”
en spinnekop se been en ses, én
‘n halwe een
gee die heel laaste spartel-skop.
- Rina Greeff ©


Gebonde by Rina Greeff


Wintergedagtes en drome by Elizabeth Kendall


Sy duifie by Rina Greeff


Nostalgie by Elizabeth Kendall

.

No comments:

Post a Comment