Saturday, 10 October 2015

Ek is wie ek is


Net oor 'n jaar terug het ek hierdie boodskap ekstra nodig gehad. Te midde van chaos in my lewe moes ek besluit of ek my ergste vyand gaan wees of my beste vriendin.

Toe het ek seer gehad. Verraad is nie maklik om te aanvaar nie. Ek is verraai. Verraad is 'n skok. Meeste van ons het dit al beleef, die harde werklikheid van die gevoel van isolasie en verwarring wat volg. Mense sê "get over it", maar dis moeilik. Verraad behels kullery en gebroke beloftes en skending van vertroue.

Daar was 'n gevoel van onwerklikheid en ek het gewens ek kon weg hardloop. Ek was kalm maar het ook die verskriklikste woede gevoel. My gedagtes het heen en weer gemaal - skok, ongeloof, woede, vernedering, verwoesting, hartseer, redding en vergelding - alles deurmekaar.

Ek het hulpeloos en magteloos gevoel om iets daaromtrent te doen. Ek was ook hartseer en bedroef, want ek het nou iemand verloor wat ek gedog het ek ken. En ek was hartseer met die besef dat ek daai persoon NOOIT werklik geken het nie.

Ek kon ook maklik blaam op myself geneem het, maar ek weet ek was nog altyd eerlik, nog altyd oop, eties en liefdevol. En alhoewel ek gevoel het asof "dit aan my gedoen" was, het ek geweet dit gaan nie oor my nie, maar oor daardie persoon wat dit gedoen het. Ons kannie iemand maak leuens vertel nie. Ons kannie iemand maak kul nie. Dit is besluite wat hulle self neem nieteenstaande hoe sterk of swak hul geliefdes is nie. Verraad gaan omtrent die persoon wat dit gedoen het, nie oor die persoon aan wie dit gedoen is nie.

Ek wou praat daaroor. Ek wou dinge probeer red. Ek wou vra, "hoekom?", nie omdat ek daardie persoon wou regmaak nie, maar sodat ek kon weet wat was die les hierin vir my. Maar een ding wat ek besef het is dat dit nie help om die ander persoon te probeer oortuig dat hul verkeerd is nie. Dit is hul lewe en hulle kan dit lei soos hulle wil.

Ek het besef dat, as ek ongeskonde uit daardie situasie wou kom, ek keuses sou moes maak. 'n Keuse of ek sou wou voortgaan met die 'gebroke' verhouding of nie. 'n Keuse of ek sou vergewe of nie.

Maar ek sou moes vergewe. Wat ookal my besluit. Vergifnis is belangrik vir ons eie welvaart. Nie net vergifnis vir iemand anders nie, maar vergifnis vir onsself. ......

Lily Tomlin het gesê, "Unforgiveness is giving up all hope for a better future." En alleenlik deur te vergewe kan mens laat gaan met liefde. Onvergifnis affekteer niemand anders behalwe jouself nie. Ek kon nie reguit dink nie, ek kon partymaal nie 'n verfborsel optel nie, ek kon nie by my blogs uitkom nie, ek het alles verwaarloos. My tuin, my huis, myself. Alleenlik deur vergifnis kan jy weer op die regte paadjie kom.

Dis 'n jaar later en ek wil nie verskoning maak vir my gevoelens nie. Ek is wie ek is. Ek het nog steeds gevoelens oor die saak, as ek dit oopkrap, daaroor tob en dit dan holrug wil ry. Maar ek het besluit om te vergewe, en te vergeet. Nee, nie te vergeet nie, want dis onmoontlik, maar om nie aan te hou om die seer aanhoudend oop te krap nie en vrede daarmee te vind. Die vrede kom wanneer jy jouself vergewe dat jy so dom was, die vrede kom wanneer jy besef jou toekoms lê alleenlik in jou eie hande en jy kan besluit om jou ergste vyand te wees of jy beste vriendin.


Vergewe jouself eers, ek belowe jou dit is 'n wonderbaarlike ondervinding!

.

No comments:

Post a Comment